om dit te drink. Dit staan nog net so op die bedtafeltjie.
Marta gryp dit so vinnig, een skiet uit en val op die vloer.
Waar om nou daarvoor te soek? Sy skakel die lig aan en kruip op haar knieë rond toe die telefoon lui. Haar ma sal nie antwoord nie en sy moet haar soektog staak en studeerkamer toe hardloop.
“Hallo!” sê sy voor sy die gehoorbuis behoorlik gelig het.
“Marta, dis Emma hier.”
Nog ’n afspraak. Die Maandag gaan besig raak. Of dalk moet sy help bak vir een of ander funksie of toebroodjies maak vir ’n begrafnis, hoewel sy niks weet van ’n sterfgeval die afgelope week nie.
“Hallo, Emma.”
“Jy klink uitasem. Hoe gaan dit?”
“Goed en met julle?”
“Uitstekend, maar Dora het my nou weer so ’n gewete gegee oor ons mense wat honger ly – en hulle is hier om ons, kindertjies wat van honger by die skool omkap en die voedingskema kom nie in werking nie. Pastoor Willemse-hulle gee wat hulle kan, maar ons?”
Marta het ’n vermoede wat aan die kom is. “Ek weet nie,” sê sy vaag.
“Ons moet dringend plan maak om die sopkombuis weer aan die gang te kry. Is dit moontlik dat jy vanaand of môreaand kan oorstap pastorie toe vir ’n vergadering?”
Hulle het dit verlede jaar probeer en hulle was ’n paar maande aan die gang, maar van die ander helpers wat aan die begin so entoesiasties was, het hulle een na die ander in die steek gelaat. Ons gaan weer alleen werk, wil Marta beswaar maak, maar sy het nie die hart nie.
“Ek sal iemand vir Moeder moet kry.”
“Ek sal Dora vra of Dania vry is. Kom versterk ons getalle, asseblief.”
“Wie almal?” vra sy versigtig.
“Jy en Tienke en Ciska se Eva. Yvonne en Gerda en Sandra. Ek wil Ragel, ek bedoel Marinda, vra of sy kans sien. Dis die vroutjie wat mevrou Visser se huis huur.”
“Sy kuier glo net.”
“Sy het vir drie maande vooruit betaal.”
Drie maande se haarafsprake! Marta tel die pen op en maak gou ’n som in haar afspraakboek. “Sy kom netnou hiernatoe vir haar hare.”
“Goed dat jy sê, dan bel ek haar vanmiddag.”
“Moet ek haar solank pols?”
“Laat dit liewer aan my oor. En Marta, sy is deur ’n moeilike tyd.”
“Ek het gehoor van haar man.”
“Sê maar niks.”
“Emma, hoe ken jy my?”
“Ek is jammer – ek wou net seker maak. Watter dag dan, vir die vergadering?”
“Maak dit liewer Dinsdag vir my en Dania. Ek moes Moeder Sondag ook alleen los om Ciska se hare te kam. Het jy gehoor Deon-hulle is terug?”
“Ek was vanoggend daar vir haar voet. Toe sien ek hulle.”
Dit voel vir Marta of haar hart by haar keel wil uitspring.
“Hoe lyk hulle?”
“Aantreklik en gaaf soos altyd. Deon is verloof, Gunther is nog los.”
“Is sy mooi – die verloofde? Hoe lyk sy?”
“Sy’s nie hier nie. Sy’t van Bahrein af saamgevlieg Kaapstad toe, maar dadelik ’n aansluitingsvlug Johannesburg toe geneem. Dis terwille van haar ouers, eintlik haar pa, wat pas ’n hartomleiding gehad het. Deon sal haar later kom voorstel. Hy bly ook net ’n paar dae en dan vlieg hy om haar by te staan.”
Marta kan skaars die woorde uitkry: “Wanneer … trou hulle?”
“Ek het nie gevra nie. Is dit nou reg vir Dinsdag?”
Sy sluk. “Hang af … van my ma.”
“Ek sal met haar praat – as dit nodig is.”
“Ek dink ek hoor haar. Totsiens solank.”
Dit is so, haar ma roep. Maar Marta staan. Dis asof haar kop en skouers al swaarder word, haar hande slap, haar knieë lam. Die sopkombuis beteken ure in die kombuis, want sy kan net kook, terwyl die ander beurte maak om op te skep. Dit pla Marta dat sy altyd teruggedwing word kombuis toe, dat net sy nie kan uitkom en wegkom wanneer sy wil nie. Ja, Emma is ook hardwerkend. Dalk het hulle twee – wat geaardheid betref – baie gemeen, hoewel hul omstandighede hemelsbreed verskil. Emma is nie vier en twintig uur en sewe dae van die week in diens van ’n invalide nie. Rosie en Valery is in háár diens. Sy is getroud met ’n goeie, liefdevolle man – ’n predikant. Sy kan elke vraag wat in haar gemoed opkom, met hom bespreek. Sy antwoorde is betroubaar en waar. Saans kan sy in sy arms tot rus kom. Sy wat Marta is, slaap alleen. Soms huil sy in haar kussing, soms verlang sy, soms wonder sy en dan is daar niemand om na haar te luister nie. Sy kan nie die Vrouebybelstudies bywoon nie, sy kom selde in die kerk. As sy inkopies doen, moet sy hardloop. Sy het nie juis vriende van haar eie ouderdom nie. Sy smag na liefde. En nou het Deon iemand anders.
“Marta! Martaaa!”
Ja, sy het nog haar ma – elke oomblik van die dag.
“Ek kom, ek kom.”
Marta het geleer om haar ma nie te ontstel nie en sy hét. Sy het haar nou te lank laat wag. Dus hou sy haar stem lig, gaan haal die houertjie met pille en stap flink kombuis toe.
Hetta gryp dit sonder om dankie te sê: “Wat lê jy vandag op die foon?”
“Dit was mevrou Van Velden.”
Marta verwys nooit voor haar ma na die dominee se vrou op haar voornaam nie. Hetta glo nie daaraan om so eie met hul meerderes te wees nie, sy glo aan respek vir mense soos die dominee en sy vrou.
“Wil Mevrou jou weer in die werk steek?” Sy haal die pille een vir een uit en pak hulle in ’n rytjie voor haar op die tafel.
“Sy wil die sopkombuis laat herleef.”
“Dis nie al my pille nie!”
Marta het gedink sy sal nie agterkom nie en sy hou haar dom: “Moeder?”
“Die blou pilletjie, daai klein blou pilletjie.”
“Miskien het ek vergeet.”
“Miskien?”
“Ja, ek het vergeet.”
“As ek ook nie wakker sit nie …”
Marta haal die botteltjie blou pilletjies uit die medisynekas in die hoek, skud een uit, bêre die botteltjie en maak besems en stoflappe bymekaar.
“Ek gaan Moeder se kamer aan die kant maak,” sê sy en maak dat sy wegkom.
Hetta brom iets en sluk haar pille.
Drie tellings en Marta staan in die middel van die slaapkamer.
Asseblief! Waar is daardie blou pil! Wys my voor my ma dit kry.
Dis een van haar skietgebedjies wat sy nie so kras bedoel het nie. Maar sy is moeg en die dag het skaars begin. Toe sien sy die pil reg langs die spieëlkas se een poot.
Dankie, Here! Dankie, dankie!
Sy buk, tel dit op en sit dit op die spieëlkas onder een van haar ma se glaspotjies. Dan stoot sy die venster oop, maak die bed op, vee en stof af. Hetta se kamer moet elke dag skoongemaak word en Marta doen dit, soos sy alles doen wat van haar verwag word. Sy gaan binnekort weer potte vol sopkombuiskos kook. Die elektrisiteitsrekening sal gevaarlik styg. Sy sal oral afknyp om by te hou en stories vertel om haar ma gerus te stel – soos dat die kerk vir die elektrisiteit betaal – wat hulle nie doen nie.
“Jy kla, maar jy sal meer vrye tyd hê as jy minder vir die kerk werk,” het haar ma eendag geskimp.
Vrye