kla.
Sulke gedagtes kom by haar op, maar sy onderdruk dit met mening. Haar ma verkeer in pyn en het rede om te kla. Sy sorg vir haar, sy bly binne roepafstand, al gesels hulle nie, al dryf hulle verder en verder van mekaar af weg.
Was daar ’n tyd toe hulle na aan mekaar was, toe haar ma vir haar omgegee het? Nee, sy was haar pa se kind. Hy het haar verstaan. Hy was ’n sagte man, die soort op wie sy maklik haar hart sou verloor – soos Deon Swanepoel. Hoekom het hy gaan staan en verloof raak?
Amper vergeet sy die blou pilletjie!
Sy sit dit in haar voorskootsak en stap kombuis toe.
“My rug is seer,” kla haar ma. “Ek moet gaan lê.”
Marta se hart vermurwe. Dit kan nie maklik wees om hulpeloos te wees nie.
“Die bed is opgemaak, ek vat Moeder kamer toe.”
“Dink jy jou broers sal ooit weer van oorsee af hier aankom?” vra Hetta onverwags.
“Miskien, maar nie al drie tegelyk nie.”
“Waarvoor het ek hulle grootgemaak – om koers te vat en my alleen te los?”
“Moeder is nie alleen nie.”
“Ek verlang na my seuns en ek wil nie jaloers wees op Ciska Swanepoel nie.”
“Moeder is mos nie?”
“Jy kan nie wag om hulle te sien nie.”
“Ek sal vanmiddag oorstap,” neem Marta haar kans waar.
“Dan moet jy gaan.”
“Ek sal nie lank wegbly nie, ek sal net groet.”
“Hulle kuier nou lekker.”
Deon en Gunther sit saam met hul ouers om die ontbyttafel. Ciska is in haar rystoel, maar dit voel vir Gunther soos in die ou dae toe hulle voltallig was en sy ma gesond en lewenslustig.
Hy is stil, want hy het minder om mee te deel as sy broer. Deon is gelukkig en Gunther gun hom sy geluk. Hy was immers tot ’n paar maande gelede in dieselfde bootjie as Gunther – alleen en soekend na sy ander helfte. Aan mooi metgeselle het dit hulle nie ontbreek nie en dit was nie vir hulle ongewoon om soms ’n ruk lank in die arms van een of ander skoonheid tot rus te kom nie. Oor sulke los verhoudings word daar nie met jou ouers gepraat nie, jy noem dit hoogstens vir jou broer of vir ’n vriend. Julle skerts daaroor, julle oorweeg dit saam en kies dan daarteen. Uitlandse meisies is eksoties en interessant, maar as selfs die taal ’n probleem word, besluit jy met jou verstand, nie met jou hart nie. Jy maak jou bootjie los en dryf verder. Gunther dryf nou al maande so stoksielalleen.
Hy het ook ’n ander rede wat hy nie hier sal noem nie.
’n Stukkie van die gesprek dring tot hom deur toe sy pa die botter langs hom optel en vir Deon aangee.
“Ons is terug, Pa. Chanté se pa het haar nodig.”
Ou dokter Naudé is ’n bekende internis. Hy staan aan die hoof van ’n groot praktyk. Maar hy is twee en sewentig en sy gesondheid het hom in die steek gelaat. Ná dese sal hy rustiger moet leef.
“Dis goed, nou het ons ook ’n dokter in die familie.”
Deon grinnik. “Nog nie, Pa.”
Gunther let op dat sy ma haar kop lig en haar oë skreef asof sy nie mooi kan hoor nie. Die hand waarmee sy haar broodjie vashou, bewe liggies.
“Wanneer trou julle? Het julle besluit?”
“Chanté het my nog nie eens aan haar ouers voorgestel nie.”
“Jy sal moet ouers vra,” terg sy pa.
“Julle moet tog nie te lank uitstel nie,” vermaan sy ma.
Sy is vir Gunther so fyn en vroulik, selfs in haar ouderdom en met slegte gesondheid is sy mooi en afgerond. Vanoggend skyn die son van die groot vensters af op haar hare en verhelder die ligter strepe sodat dit lyk asof sy ’n ligkrans dra. Die blos op haar wange kan dalk van grimering wees, maar die lig in haar oë is van blydskap. Een van haar seuns het eindelik ’n maat gekry. Dit is, naas hul verrassende aankoms hier in die land, die grootste gebeurtenis in haar lewe.
Wat doen sy tog heeldag so vasgekluister aan die stoel? Luister musiek? Hy weet dat sy nie meer kan lees nie en selde televisie kyk. Sy hekel nog, maar dit doen sy so outomaties, sy hoef nie veel te kyk nie. Een van die dae sal sy glad nie meer kan sien nie.
Hy is lief vir sy ma. Sy was nog altyd sy heldin – bedrywig toe sy nog gesond was en aan die hardloop en woel en werk in en om die huis, by die skool en agter die klavier en orrel. Hoeveel kinders het sy geleer, hoeveel skoolkonserte en kore afgerig, hoeveel keer self opgetree? Hy wonder of iemand dit getel en neergeskryf het. Sy was elke dag by die skool en elke Sondag agter die orrel. Daar was Paasuitvoerings en Kerskonserte, optredes op buurdorpe tot selfs in Stellenbosch en die Nico Malan. Sy was bekend en bemind. Sy kon vandag wêreldberoemd gewees het. Maar sy het Gideon Swanepoel en die eenvoud van die Weskus gekies.
“Ek kan nie wag om haar te ontmoet nie.”
“Mamma, dit hang alles af van haar pa se gesondheid. Hy moet eers herstel voor ons alles finaliseer en weer hiernatoe kom. Mamma verstaan mos.”
“Ja, julle was landuit en as sy my dogter was – sy word nog my dogter – sou ek ook lang ure met haar wou beraadslaag oor alles wat met so ’n geleentheid gepaardgaan. Julle trou seker in Pretoria?”
“Dit is nog nie ’n uitgemaakte saak nie.”
“Wil julle hier kom trou?”
Deon skep kweperkonfyt op sy brood. “Hoekom nie?” vra hy geheimsinnig.
Hulle het dit genoem, Gunther onthou die gesprek.
“Haar pa het pas ’n groot operasie ondergaan. Hy kan nie so ver reis nie.”
Gunther het al vergeet hoe onselfsugtig hul ma kan wees. Sy is ook nie reisvaardig nie, maar sy dink al weer eerste aan iemand anders.
“Ons sal alles oorweeg,” sê Deon verstandig. “Die konfyt is wraggies lekker.”
“Julle het dit seker nie daar anderkant gekry nie?”
Hul pa het oud geword. Sy skouers hang, sy vingers is die ene artritis. Hy lyk vir Gunther verwaarloos. Hy kyk van sy pa na sy ma. Die koningin en die stalkneg, dis wat hulle is.
“Wat het julle daar oorkant geëet?”
“Alles wat ons wou hê en wat in potjies en blikkies van ander wêrelddele ingevoer kan word, maar nie sulke kweperkonfyt nie.”
Iets sal vir sy pa gedoen moet word en hy kan nie. Hulle het nog nie swaarde gekruis vandat hy tuis is nie, maar in die verlede was hulle dikwels haaks en hy durf nie persoonlik raak nie. Maar sien sy ma dit nie raak nie? Pla dit haar nie dat hy so verslete is nie? Of kyk sy by hom verby – by die ou man – en sien hom soos hy veertig jaar gelede was. Hul liefdesverhaal het Gunther nog altyd verstom. Dis ’n wonderwerk dat twee mense so verskillend van opvoeding en agtergrond tot mekaar aangetrokke kon raak en mekaar kon aanvul en opbou en liefhê tot in hul gryse ouderdom. Maar dit het gebeur en dit kan weer gebeur. Hang af wat jy in ’n maat soek, of wie?
“En jy, Gunther?”
Amper skrik hy toe hy sy naam hoor.
“Mamma?”
“Wanneer kom wys jý jou aanstaande bruid?”
“Ek wil Deon eers kans gee.”
“Is daar iemand?”
Sy ma se oë is so blou soos die see by Capri. En uit die bloute onthou hy die Italiaanse meisie wat hy soontoe geneem het. Haar naam was Lucinda. Hy het byna kop verloor daardie vakansie. Gunther bloos en kyk af. Vreeslik dat sy ma se oë hom aan Lucinda moet herinner.