is ’n baie vreemde ding,” sê Oupa Sallie geheimsinnig. Hy beduie met die toom na Andrew.
“Kom, Andries, jy het mos gisteraand gesien wat die perdjie se toertjies is, vang haar daar vir ons.”
Andrew klim deur die heining en neem die toom aan. Dit is ’n toom met ’n sagte stang. Andrew stap na Ratu toe. Ratu deins nie terug nie en bly rustig staan terwyl Andrew die toom saggies oor haar kop trek. Sy staan doodstil terwyl hy eers die neusband en dan die keelband vasgespe en haar lang wit maanhare onder die sterband uittrek. Ratu begin wel dadelik aan die stang kou en wikkel haar neus.
“Sy lyk nie gevoelig of oorsensitief op enige deel van haar kop nie,” merk Hein op. “Sy reageer eintlik soos ’n opgeleide ryperd.”
“Ja, jy’s reg,” sê Nell. “Oupa, hierdie merrie is hondmak, wat is dan die probleem?”
Andrew stap ’n paar maal in die rondte deur die kamp met Ratu en sy volg hom lewendig. Daar is geen sprake van nukke nie. Andrew gaan staan by die saal wat oor die boonste houtbalk hang en Ratu ruik-ruik aan die leersaal met die sagte skaapvel-saalkleedjie en die enkelbuikgord.
“Wel, nou sal julle sien wat gebeur,” glimlag Oupa Sallie. Hy haal die saal van die balk af en gaan staan aan die ponie se linkerkant met die saal oor sy arm. Andrew staan voor Ratu met die teuels in sy hand. Hein en Nell hou Oupa Sallie nuuskierig dop.
Hy vee ’n paar maal rustig met sy regterhand oor Ratu se rug. Sy wriemel die vel op haar rug, maar bly mooi stilstaan toe Oupa Sallie die saal oor haar rug skuif.
Sy trippel, trap of draai nie onder die saal uit nie. Oupa Sallie skuif die buikgord saggies onder haar blaaie deur en trek dit vas. Hein wag oorgehaal vir wat volgende gaan gebeur. Nell kou haar duimnael.
Andrew gee die toom se teuels skiet en tree weg van Ratu af. Hy weet wat om te verwag.
Oupa Sallie sit sy hande op die saal asof hy wil opklim en fluit versigtig vir Ratu, soos Oupa altyd maak as hy op ’n vreemde perd klim. Ratu se knieë knak skielik onder haar soos ’n kameel s’n asof sy flou word en sy gaan lê plat op haar regtersy.
“Tik my om met ’n veer! Ek het nog nooit so iets gesien nie.” Hein skud sy kop.
“Jip, dit is haar toertjie. Dit is wat sy dink sy moet doen wanneer sy ’n saal op haar rug kry,” verduidelik Oupa Sallie.
“Wel, dit is flippen weird!” Nell skud haar kop verdwaas.
“Ja, en jy kan haar nie roer nie, ek en Dok het probeer. Sy bly so lê tot jy die toom en saal aftrek, dan sal sy eers opstaan.” Oupa Sallie staan ’n tree terug en bekyk die merrie wat steeds roerloos op haar sy lê.
Hein staan nader en druk teen haar skouer, maar Ratu lê asof sy narkose gekry het. Sy maak haar oë toe, strek haar bene styf uit asof sy haar laaste asem uitgeblaas het en steun en kreun soos Huffel wanneer hy diep slaap.
Oupa Sallie maak die buikgord se gespe los en haal die saal van haar rug af, terwyl Andrew die toom van haar kop aftrek. Ratu kom rustig regop en skud haar af asof dit die normaalste ding op aarde is.
Sy spits haar ore en draai nuuskierig weg van hulle en kyk in die rigting van ’n groot trok wat in die verte aankom.
“Hier kom Colette en die besoekers nou,” merk Oupa Sallie op. Almal kyk in die rigting van die plaashek, waar die trok ingedreun kom.
Wat sou verkeerd wees met die palomino? Sy is ’n weird perdjie, sy is soos ek, dink Nell. Sy lyk oukei en heel normaal, maar sy ly ook aan weirdness-siekte in die ergste graad.
5
Die koms van die Stellenbossers
“Daar kom ma ook nou met Colette-hulle,” roep Hein opgewonde.
Die groot perdetrok is reeds deur die wit pilare en oor die sparre van die veehek toe die Land Rover ingery kom. Dit is ’n groot perdetrok wat agt perde kan vervoer. Die voertuig stop voor die stalle met die blougeverfde staldeure. Hierdie stalle is die naaste aan die oefenkampe en word die blou blok genoem. Dit is die ryperde se stalle en hulle name is op bordjies op die staldeure. Die teelmerries kom gewoonlik in die groen blok, nader aan die skuur, waar al die staldeure groen geverf is.
Oupa Sallie, Andrew en Hein drafstap na die blou blok toe. Die trok en die Land Rover het reeds stilgehou en drie modieus-geklede meisies klim saam met Heike, Colette en Hein se ma, uit.
Nell, wat ’n entjie agter die ander stap, wens dadelik sy het vanoggend meer moeite gedoen met haar voorkoms. Haar ma het juis vir haar nuwe klere gekoop vir die winter, dalk met die oog op die Stellenbossers se koms. Maar Nell is die meeste van die tyd min gepla oor wat sy aantrek. Dit is juis een van die dinge wat sy hierdie eerste kwartaal van haar tuisskoolprogram die meeste geniet het – dat sy in jeans, tekkies en truie kan leef. Party oggende loop sy sommer in haar pajamas en pantoffels rond tot sy klaar is met haar lesse.
Colette kom na hulle toe aangestap. Haar geruite swart-en-wit mini met die valle wip as sy stap. Daarby dra sy ’n wit langmouhemp wat onder haar kort swart leerbaadjie uithang, lang rooi kouse en kort swart stewels.
Reeds in graad 7 al het Colette se klerestyl begin verander. Sy het nie meer sommer met haar ryklere en blou oorpak en rubberstewels op die plaas rondgeloop soos Nell en Hein nie. Nee, sy het maklik drie keer op ’n dag aangetrek; ’n ander uitrusting vir elke geleentheid. Oom Sarel se gepla en geterg het geen verskil gemaak nie. Nou, in haar tweede jaar op kosskool, is sy ’n graad 9-leerder wat altyd sjiek en stylvol uitgevat is in amper te swierige klere. Nell trek ongemaklik aan haar verbleikte lospassende jeans wat by haar rubberstewels ingedruk is en loer spyt na haar ou oorgroot blou trui wat vanoggend vir haar die lekkerste gelyk het om aan te trek.
“Haai, Oups.” Colette gee vir Oupa ’n druk. Nell kan sien dat Colette grimering dra.
“En hoe gaan dit met my te-groot-vir-sy-skoene-broer?” Colette gee vir Hein ’n soen op sy kroontjie.
Sy wag nie vir ’n antwoord nie en wend haar tot Andrew. “Hallo, Andrew!” Hy kry ’n stywe druk. “Ek hoor jy gaan ook aan die springkompetisie deelneem met Wild Hero?” sê-vra sy. “Jy gaan lekker hard moet werk, nè? Kan hy ooit spring?” Colette haak by Andrew in en gaan staan styf teen hom.
“Ja, jy sal geskrik wees. Hein en Jenny het hom al ’n paar dinge geleer, Hero gaan gee julle nog a big surprise.”
Steeds ingehaak by Andrew trek Colette hom nader aan haar vriendinne. Die son blink op haar lang, bruin hare met die heuning-sonstrepies.
“Dit is Charni Meiring,” stel sy eerste vir Charni voor.
Charni beweeg onophoudelik: sy swaai haar blou-en-pers serp se punte en wikkel haar bene in die lang leerstewels heen en weer. Die serp pas mooi by haar hemp van pers breistof, wat ’n interessante kontras vorm met die swart mini, swart kouse en swart stewels. Sy steek haar hand uit na Andrew en kyk hom met groot blou oë aan van onder haar blonde krulle.
“Hey, hello,” glimlag Andrew.
“Haai!” waai Hein onseremonieel met sy hand.
“En ontmoet vir Ateeyah Ammani,” sê Colette. “She is of royal descent.”
Sy lyk regtig koninklik, dink Nell by haarself, maar Colette maak darem seker ’n grappie daaroor.
Ateeyah dra ’n styfpassende denim met ’n sagte seegroen geborduurde katoenhemp wat lank daaroor afhang. Sy het ’n donkerder groen syserp om haar nek. Ten spyte van haar gemaklike plat leerskoene is sy steeds ’n kop langer as Colette en net so lank soos Andrew. Haar lang, swart hare hang steil teen haar rug af. Sy is beeldskoon met haar groot, amandelvormige swartbruin oë.
“Hi, pleased to meet you. Is it princess Ateeyah?” verneem Andrew. “Wait, no, now I remember,” onderbreek Andrew homself. “I know this: it is Maha- … rani.” Andrew weet altyd iets van die regte manier van groet af. “Maharani Ateeyah,” gaan hy voort, “or is it Maharaj Kumari? My friend Benu is a great fan of Maha Rani, the