Marga Jonker

Sonder Chocolate Charlie


Скачать книгу

Hein uitkry.

      “Hein en Andrew gaan saam met ons oefen vir die SANEF-uitdunne,” verduidelik Colette aan haar twee vrien­dinne.

      Colette en haar twee kosskoolvriendinne gaan die ­eers­te vyf dae van die Aprilvakansie saam met hul perde op Solitaire deurbring vir hulle finale afronding vir die ­komende Suid-Afrikaanse Nasionale Ruiterkuns- en Springtoernooi.

      “Is Jenny al terug?” vra Colette.

      “Sy is al ’n week lank terug. Sy gaan julle baie hard laat werk,” waarsku Hein.

      Jenny Scott, Solitaire se spesialis-perdeafrigter, is landwyd bekend vir haar perd-en-ruiterafrondingskursusse wat hier op Solitaire gehou word. Sy is pas terug van ’n afrigtingskliniek by die baie bekende Camelot Riding School buite Londen.

      Andrew en Hein gaan ook die kursus bywoon – ­Andrew hoofsaaklik om te sien of hy sy perd, Wild Hero, afgerond genoeg kan kry om ook te kwalifiseer vir die springkompetisie. Hein, Nell en Colette is al drie verlede jaar vir die Westelike Provinsie-span gekies. Hein, op Super Sam, was die jongste lid wat nog ooit die span gehaal het.

      “En hier is my oulike, cute niggie, Nell, van wie ek julle vertel het.” Colette klink omtrent soos ’n TV-nuusleser wat ’n dramatiese gebeurtenis aankondig. ’n Tifoon het Haïti getref. ’n Orkaan is op pad na Amerika. Ontmoet dan nou ook vir Nell. Ernstig en amptelik.

      Katjies en hondjies is oulik en cute; fluister Nell se ge­dagtes vir haar.

      “Hallo, Nell, ek is Charni!” Charni praat hard en dui­delik, terwyl sy elke klank met haar mond vorm asof Nell nie mooi kan hoor nie. En net om seker te maak dat Nell verstaan, druk sy met haar hand teen haar lyf om te be­duie dat sy Charni is.

      “Pleased to meet you,” sê Ateeyah sag en simpatiek in ’n amperse fluisterstem, asof sy bang is om met Nell te praat.

      Nell kan nie help om te wonder wat Colette haar vrien­dinne van haar en haar probleme vertel het nie. Sy voel skielik soos Frankenstein se monster en die gillende binne­stem begin weer koggel. Sy voel hoe haar keel brand en haar hande sweet.

      “Nee, watse ginnegapery is dit? Julle is nie nou by die flieks in die malls nie, jonge dames,” kom oom Sarel tot haar redding. “Toe-toe, kom kry hierdie perde op stal!” Hy stop Duchess se haltertou in Colette se hande. “Hier, Colette.”

      “Ag, ek sal my helpvol hou, julle dames wil seker eers gaan opvars,” bied Andrew galant aan.

      “Dit is ‘behulpsaam’ en jy sê nie ‘opvars’ in Afrikaans nie,” wil Nell hom reghelp, maar daar kom geen klank by haar mond uit nie.

      “Dankie, Andrew, jy is ’n regte gentleman,” glimlag ­tan­nie Heike. “Kom, meisies, julle kan eers gaan uitpak en julle ryklere aantrek. Julle is seker ook baie honger. Die oom klink maar net so kwaai.”

      “Jenny wil julle al vanmiddag deur die nuwe baan neem,” roep oom Sarel nogtans agterna.

      “Sarel! A nee a!” raas Heike met hom. “Gee die meisies ’n kans. Onthou, hulle kom darem nou uit die koshuis uit!”

      “Nou vir wat dos hulle hulle dan so uit, hoe het hulle nou gedink gaan die perde op stal kom?” Oom Sarel klink nie te beïndruk nie. “Hierdie is nie ’n hotel nie, ­almal moet help met alles.”

      Charni en Ateeyah lyk effens verskrik en staan dadelik nader aan die perdetrok om te help, maar Colette steur haar nie aan haar pa nie.

      “Thanks, Andrew, you are so kind,” sê Colette op haar deftige Stellenbosch-Engels. Sy glimlag en gee dadelik Duchess se haltertou vir Andrew. “Kom, girls!” kommandeer sy haar vriendinne op.

      “Julle kry dié vakansie die gastewoonstel, Die Solder. Dit is ons huis se solder wat omskep is in ’n woonstel,” verduidelik Heike die slaapreëlings.

      “Ag, Ma, jy’s die beste,” koer Colette.

      “Vriendinne, kom nou,” roep Colette weer en klim ­te­­­­rug in die Land Rover.

      “Hein, Andrew, Pa Sallie, help daar met die kuiergaste se perde,” beveel Heike. “Ek gaan eers die meisies opneem Solder toe.”

      “Hein en Oups, ek is seker julle kan ook nie wag om vir Silver Max en Tango Girl te sien nie,” roep Colette deur die Land Rover se venster. “Dis nou julle kans.” Sy skud haar bruin hare oor haar skouers en sit terug in die sitplek soos ’n sepiester in ’n limousine.

      Hein en Oupa Sallie het al baie gehoor van die twee perde wat die vakansie kom kuier. Hulle is nogal nuus­kierig en klim gretig in die trok. Andrew stap intussen met Duchess aan na ’n stal waar haar naam in sierskrif op die blou-en-wit naambordjie pryk.

      Duchess is ’n fyngeboude vosmerrie, vyftien hand hoog, en met Colette in die saal is hulle twee ongetwyfeld die beste advertensie ooit vir die perde wat op Solitaire geteel en afgerig word. Sy en Colette is ’n wenspan as dit by ruiterkuns kom; altyd netjies en blink.

      Nell kyk hoe haar tannie Heike en die Stellenbosse meisies met die Land Rover wegry. Daar is ’n vrolikheid en opgewondenheid tussen hulle. Nell kan nie help om met haar hand op haar hart te druk nie, want dit voel skielik asof daar ’n skerp, helder pyn deur haar skiet net daar waar haar hart sit.

      Sy moes ook tussen hulle gewees het, maar nou word daar nie een keer met haar gepraat nie, want niemand kan haar vra om met iets te help nie. En wanneer die twee besoe­kers met haar praat, klink dit asof hulle dink sy is verstandelik gestrem.

      Watter nut het ’n mens op ’n perdeplaas of by ’n perde­telery as jy elke keer flou en bewerig voel wanneer ’n perd net aan jou ruik?

      Ek hoort nie meer hier nie, dink Nell en begin blinde­lings wegstap van die perde wat afgelaai word.

      Nie Oupa Sallie, Hein of Andrew kom eens agter sy stap weg nie; hulle is te besig met die kuiergaste se perde.

      6

      Die saalkamer se ver-kyk-stoel

      Nell drafstap verby Ratu wat nuuskierig na die veldperde staan en kyk wat in hulle kamp agter die skuur wei.

      “Daardie perde kan moeilik wees, hulle is nog jonk en baklei maklik, jy bly net hier,” sê Nell vir Ratu en stap haastig by die saalkamer se oop deur in. Die saal­kamer is ’n vertrek in die ou skuur. ’n Houtdeur met ’n veiligheids­hek voor verleen toegang tot die donker vertrek sonder vensters. Die hek en die deur staan altyd oop gedurende die dag. Gemonteerde hake teen die mure bied hangplek vir al die perde se saals en tooms, met gemerkte naam­plaatjies onder elke saal.

      Nell mik om op die klein stoeltjie wat teen die agterste muur staan, te gaan sit. Die stoeltjie staan reg onder een van die saals wat teen die muur hang. Sy druk met haar vinger teen die skroefgaatjies onderkant die saal waar ’n naamplaatjie afgehaal is. Drie maande gelede was haar en Chocolate Charlie se naamplaatjie nog daar vasgeskroef.

      Nell

      Chocolate Charlie

      Aan die haak bokant die leë skroefgaatjies hang die swart leersaal wat haar pa twee jaar gelede vir haar uit Duitsland gebring het toe sy vir die eerste keer vir die WP se junior springspan gekies is. Nell streel met haar hand oor die rand van die saal, waar daar nog net een diep skraap deur die leer loop. Oupa Sallie het die saal reggemaak. Hy het dit só goed gedoen dat selfs dié skraap skaars sigbaar is en die ander fyner skrape heeltemal weg is. Die verlore en gebreekte stiegrieme en stiebeuels is ook vervang. Die saal hang reg vir gebruik.

      Charlie se toom hang netjies aan die haak onder die saal, skoongemaak en met die stang blink opgevryf.

      Van waar sy met haar rug teen die muur geleun sit, het sy ’n uitsig oor al die bedrywighede by die stalle. Sy knyp haar oë styf toe en druk met haar hand teen haar bors waar die brandpyn nog steeds steek. Sy probeer om stadig en diep asem te haal.

      “Hoe het julle hom begrawe, oom Paul?” het sy een oggend gevra terwyl hulle in die stal besig was. Sy het geweet oom Paul sou nie vinnig ander praatjies maak nie.