huis, want hy is moeg vir die woonstellewe.
Toe tant Betta hoor wat die doel van sy besoek is, nooi sy hom eers vir tee, wat hulle sommer daar in die ontbythoekie van die kombuis sit en drink. Daarna stap sy saam met hom en Julia deur die huis. In die sitkamer aangekom, steek hy verbaas by die portret van Rudolf as kleuter vas.
“Wie is hierdie seuntjie?” vra hy vir tant Betta.
“Dis Rudolf, toe hy klein was.”
“Rudolf? Ek het nie besef hy en suster Jo is familie nie,” sê dokter Simpson verbaas.
“Ekskuus?” vra tant Betta. “Het u gesê suster Jo en Rudolf is familie?”
“Wel, ís hulle familie?”
“Nie sover ek weet nie. Het sý gesê hulle is familie?”
“Nee, maar . . .” Toe hy sien hoe nuuskierig tant Betta en Julia hom aankyk, sê hy vinnig: “ ’n Oomblik het ek gedink dis ’n replika van ’n foto wat in suster Jo se huis hang. Maar ek sien nou daar is wel ’n verskil.” Toe stap hy vinnig verder, hopende dat hulle sy opmerking sal vergeet, want miskien het hy uit sy beurt gepraat. As hulle nie weet daar hang ’n feitlik identiese foto in suster Jo se huis nie, beteken dit sy het hulle nie daaroor ingelig nie. Maar sy nuuskierigheid is geprikkel.
Teen die tyd dat dokter Simpson vertrek, het tant Betta skoon vergeet van die portretvoorval. “Ek het my so geskaam vir Julia Saunders,” vertel sy in die kombuis vir Katryn. “Jy moes net sien hoe skaamteloos gooi sy haar flikkers vir die doktertjie. Maar ook eers nadat hy laat val het hy sal nog geld oorhê vir die aanbou van ’n woonstel vir sy ou weduweemoeder! Katryn, ek sê jou, daardie Julia is op soek na ’n ryk man. Geld is al waaragter sy is. Rudolf sal in sy spoor moet trap of sy gooi vir hom aas uit wat hy gaan sluk. Ons moet haar uit hierdie huis uit spook, so gou moontlik.”
“Ag, mevrou, hoe gaan ons dit tog regkry?” wil Katryn weet.
“Ek weet hoe. Ons moet net ’n rolstoel en ’n winkelpop in die hande kry.”
“ ’n Rolstoel en ’n winkelpop,” aap Katryn haar na. “En dan, mevrou?”
“Dan trek ons Rudolf se klere vir die winkelpop aan en ons sit die pop binne-in die rolstoel.”
“En dan, mevrou?”
“Dan wag ons tot die maan vol is. En nes hy sy eerste strale so tussen die donker skaduwees van die bome deur gooi, gaan staan ek onder Julia se kamervenster. Intussen moet jy op die skuinstetjie bokant die swembad met die spookpop wag.”
“Wie, ék?” vra Katryn benoud. “Alleen daar bo in die donker?”
“Jy kan mos vir Moos saamvat as jy bang is.”
“En dan?”
“Dan gil ek reg onder Julia se kamervenster. Hiehohahie . . .”
“Ja, toe maar, ek verstaan,” keer Katryn vinnig. “En ek, wat doen ek dan?”
“Sodra ek begin gil, los jy die stoel sodat hy oor die werf in die rigting van haar kamervenster gery kom. Katryn, stel jou voor hoe gaan daardie vroumens skrik!”
“En as sy nie skrik nie, mevrou?”
“Sy móét skrik! Ek bedoel, sy sál mos skrik, man. Stel jou voor . . . die onaardse geluide buite haar kamervenster, en as sy bang deur die venster loer, sien sy nog hoe Rudolf in die maanlig oor die werf in sy rolstoel gery kom!”
“En as die stoel dalk in die swembad beland?”
“Ag, teen daardie tyd het Julia al lankal flou geval van die bangheid.”
“Klink vir my na tronksake as ons gevang word,” brom Katryn.
“Ag nee wat, man. Teen die tyd dat Julia bykom uit haar floute, het ons lankal ontslae geraak van die rolstoel en pop.”
“En waar gaan mevrou nogals die rolstoel en pop vandaan kry?”
“Dis maklik. Die matrone by die tehuis vir bejaardes sal vir my ’n rolstoel leen, en die pop kan ek by my vriendin Sarie kry. Sy het poppe in haar modewinkel daar in die stad.”
“Ek weet darem nie,” toon Katryn haar onsekerheid, maar tant Betta laat haar nie daardeur afskrik nie. Sommer dieselfde dag nog bel sy die matrone en haar vriendin Sarie. Maar dit is donkermaan. Hulle sal moet wag totdat dit weer volmaan raak.
En vroeg die volgende oggend is tant Betta weer agter die motor se stuur. Net toe sy begin dink sy weet nou alles van motorbestuur af, trap sy egter die brandstofpedaal in plaas van die rempedaal en daar skiet die motor vorentoe, rakelings verby die hoek van die huis, dwarsdeur die blombedding, rondom die swembad en terug tot waar dit was voordat sy die brandstofpedaal getrap het.
“Wat het mevrou dan nou aangevang?” vra Moos vaal geskrik.
“Nee, hoe vra jy dan nou vir my?” vra tant Betta, self bleek om die kiewe. “Die vervlakste ding kry dan sommer die wilde weghol in hom toe ek wou stilhou!”
Minute later bekyk hulle die skade aan die blombeddings. “Ek sal die beddings maar moet omspit,” sê Moos. “Dit lyk te aardig so met die motorspore dwarsdeur hulle.”
“Gits, en nou is Rudolf se bed al so omring van die blomme,” sug tant Betta. “Maar ek gaan dit mos nooit oor my hart kry om daardie orige blomme sommer weg te gooi nie, Moos. Ek dink jy moet dit maar pluk sodat ek dit kan weggee.”
“Vir wie gaan mevrou dit gee?”
“Ag, sommer vir een van die verpleegstertjies by die hospitaal. Dis beter as om dit weg te smyt. Ek wil tog vir Rudolf gaan besoek.”
’n Uur of wat later, toe tant Betta by die hospitaal opdaag, tref sy Rudolf buite op die grasperk aan waar hy en ’n paar ander parapleë ewe vrolik resies jaag met hul rolstoele. Sy staan eers ’n hele ruk vir hulle en kyk, ’n diep dankbaarheid in haar hart.
Dit lyk tog of Rudolf hom uiteindelik by sy nuwe lewenspatroon aanpas. Wat haar die meeste verbaas, is dat hy lag oor hy feitlik elke keer die verloorder is. Selfs vóór die ongeluk het hy nie daarvan gehou om te verloor nie. As sy rugbyspan of krieketspan die slag verloor het, was hy gou om te sê dit was die skeidsregter wat partydig opgetree het. Maar hier probeer hy nie verskonings soek nie. Hy aanvaar dat sy maats behendiger in hul rolstoele is as hy. Eers toe hulle moeg is en ophou met die spelery, stap tant Betta nader.
“Dis so warm,” sê Rudolf vir haar, “dat ons gerus sommer daar onder die boom kan gesels. Daar is ’n bankie waarop tante kan sit.”
“Ek kan ook nie lank bly nie, want ek het blomme in die motor,” sê tant Betta. “Dit sal verlep as dit lank in die kattebak moet bly.”
“Ek hoop nie dis nog blomme vir my nie,” sê Rudolf laggend. “Die verpleegsters weet nie meer waar om al die ruikers te pak nie. Die hele saal is al die ene blomme.”
“Nee, ek het gedink om dit maar sommer vir een van die verpleegsters te gee.”
“Hoekom gee tante dit nie vir suster Jo nie?”
“Ja, ek kan seker. Maar werk sy dan nie net in die nagte nie?”
“Ja . . . e, dit is so. Maar hoekom neem tante dit nie na haar huis toe nie? Bossie het nou die dag vir my gesê sy bly sommer hier naby die hospitaal in Pinelands. Die dametjie by ontvangs sal seker haar adres vir jou kan gee.”
“Nee, maar dan maak ek so. En sê vir my, hoe gaan dit nou met jou, Rudolf? Ek praat nie nou van jou liggaam nie, maar van jou gees. Sien jy al kans vir die toekoms, of . . .”
“Dit gaan wonderlik goed, dankie. Ek kry maar nog my oomblikke van swartgalligheid, maar ek besef dit sal nie help om daarin te versink nie. En, tant Betta, ek het tot inkeer gekom. Ek besef nou daar is ’n God wat groter is as ons almal.”
“Rudolf, wat vertel jy my!” roep tant Betta verras uit. “En wanneer het jy tot dié besef gekom?”
Hy