Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 6


Скачать книгу

se huis! As dit nou nie die belaglikste ding is wat ek al . . .”

      “Die seuntjie se naam is Anton Jordaan en hy is vyf jaar oud. Hy lyk net soos jy. As jy daardie foto van jou in die sitkamer by die huis neem en langs die een van suster Jo plaas, sou ’n mens glo dis presies dieselfde kind.”

      Rudolf gee ’n laggie. “Ai, tant Betta, jou verbeelding is darem . . .”

      “Dis g’n my verbeelding nie, Rudolf. Moenie maak of ek kinds raak nie. Daardie Anton Jordaan lyk presies net soos jy op daardie ouderdom gelyk het.”

      “Wel, ek het geen kind nie.”

      “Behoede my! Wil jy vir my vertel jy’t ’n kind gemaak en jy weet nie eens daarvan nie?”

      “Praat sagter, tante. Die mense kyk al hier na ons kant toe.”

      “O, nou is jy skaam dat jou dinge op die lappe moet kom, nè. Maar vyf, ses jaar gelede was jy nie skaam nie!”

      “Vir die laaste maal – ek weet nie waarvan tante praat nie. Ek het geen kind nie. As ek ’n kind gehad het, sou ek daarvan geweet het. Wat sê suster Jo, waar kom sy aan die foto?”

      “Volgens haar is dit glo vriende se kind van wie sy die peettante is. Maar toe ek haar invra na die kind se ouers, het sy so aan die hakkel geraak dat sy amper nie kon praat nie. Sy weet toe skielik vir my te vertel hy kan dalk ’n aangenome kind wees, want sy ouers se van is nie Jordaan nie.”

      “Wat het sy gesê, wie is die ouers?”

      “Nee, dié wou sy nie sê nie. Sy’t aanmekaar begin babbel en oor allerhande ander twak gepraat, duidelik om te keer dat ek verder uitvra.”

      “Ai, tante, ek dink jy oordryf. Het jy jou bril opgehad toe jy na die foto gekyk het?”

      “Nee, ek het nie, maar selfs sonder die bril kon ek sien daardie kind moet joue wees. My oë is nie só sleg nie.”

      “Vat môre tante se bril saam en gaan kyk weer,” raai Rudolf haar aan. “En tot dan moet tante liewer maar vergeet van die storie. Netnou lê dit die hele wêreld vol dat ek ’n kind het van wie ek nie weet nie. Ek is doodseker daar sal ’n logiese verklaring wees vir die hele storie.”

      “Hm, jou hele naam sal daarmee heen wees as die koerante van die spulletjie te hore moet kom.”

      “Hulle sal net daarvan hoor as tante sulke onsin aan hulle gaan vertel. En dan kan jy daarvan verseker wees ek sal met jou afreken!”

      “Gmf, asof ek nie weet wanneer ek my mond moet hou nie,” sê tant Betta vies. “Ek loop nou. Miskien val dit jou by waar jy destyds kwaad gedoen het as ek jou alleen laat.”

      Toe sy die saal verlaat, skud Rudolf sy kop ongelowig. Een ding is seker, dink hy: Waar tant Betta in die omtrek is, gebeur daar altyd snaakse dinge. En as daar die slag niks gebeur nie, span sy haar verbeelding in om aan die doodnatuurlikste ding iets geheimsinnigs te verleen. Dit is nou maar hoe sy is, en dit is te betwyfel of sy ooit sal verander.

      9

      Suster Jo is in ’n neerslagtige luim toe sy die aand aan diens gaan. Die dinge van die afgelope weke raak te veel vir haar. Darius het al wéér gebel om haar te dreig, Mattewis sit met katgriep, haar wasbak het verstop, en dan is dit nog die ding met tant Betta en klein Anton se foto ook.

      Haar grootste vrees is dat tant Betta vir Rudolf daarvan vertel het, want dan gaan hy bepaald onthou van ses jaar gelede se dinge. En hoe gaan sy aan hom verduidelik dat sy ’n aborsie ondergaan het terwyl daar ’n foto van die kind is?

      As sy net kon verdwyn, dadelik op die vlug kon slaan met Anton! Maar dit is nie net vir inklim en ry nie. Dit lê nie in haar aard om sommer soos ’n sleg hond van die werk af weg te loop nie. Sy sal darem ’n bedankingsbrief moet inhandig, maar om ’n kennismaand te werk gaan te lank duur. Daar is haar huis ook. Sy kon nog nie ’n huurder kry nie. Haar meubels moet ook verkoop word, maar nie voordat sy nuwe huurders gekry het nie. En dan is daar nog die vrees dat Darius en Sanet haar kan betrap wanneer sy Anton op die plaas gaan haal. As dit moet gebeur, weet sy nie wat sy gaan doen nie.

      Oom Thysie is weer die eerste om haar ongelukkigheid raak te sien. “Wat is dit dan tog met jou, sustertjie? Het jy op ’n duwweltjiepad beland, my kind?”

      Tot haar ontsteltenis kry sy ’n vogtigheid in die oë oor sy besorgdheid. Maar sy erg haar dadelik daaroor, want sy is baie bewus daarvan dat Rudolf hulle dalk kan hoor. Hy lê verniet so sedig in daardie boek en staar. Sy sal haar kop op ’n blok sit sy aandag is nie by die boek nie, want sy’t hom nog nie een keer sien omblaai vandat sy die saal binnegekom het nie.

      “Beland ons almal nie maar die een of ander tyd op ’n duwweltjiepad nie, oom Thysie?” antwoord sy hom met ’n teenvraag.

      “Jy wil my nie daarvan vertel nie?”

      “Nee wat, oom, dit sal tog niks aan die saak verander nie. Ek glo maar die son sal môre weer skyn. Hoe gaan dit met oom?”

      “Goed dankie, sustertjie. Dis net die ou asempie wat so kort is.”

      “Het oom pyn?”

      “Nie so erg dat dit ondraaglik is nie, kindjie. Oom hou maar uit. Dit sal darem seker nie nou meer lank wees voordat die Here sy engel stuur om my te kom haal nie.”

      Rudolf se boek val amper uit sy hand toe oom Thysie so gemaklik van die dood praat. ’n Oomblik wonder hy wat van hóm sou geword het as hy die motorongeluk nie oorleef het nie. Dit sou gewis nie ’n engel gewees het wat hóm sou kom haal het nie. Maar dan kom staan suster Jo by die voetenent van sy bed en ook hy sien dadelik raak dat sy moeg en tam lyk.

      “Het u ’n goeie dag gehad, meneer Mulder?” vra sy haar gebruiklike vraag, maar ooglopend sonder werklike belangstelling. Sy kyk nie eens in sy rigting nie.

      “Hoekom vra jy as jy nie werklik wil weet nie?”

      Haar groen oë flits verbaas. “Ekskuus?”

      “Jy het reg gehoor. Hoekom wil jy weet of ek ’n goeie dag gehad het? Jy stel tog nie werklik belang om te weet nie.”

      Haar mond gaan oop, en weer toe. Sy staar hom eers ’n lang ruk in stilte aan. Toe laat sak sy haar kop en vroetel kamtig met die verslae by sy bed se voetenent. “Ek stel wel belang, meneer Mulder, want ek moet vannag ’n verslag oor u skryf. As u oor iets ongelukkig voel, moet ek dit daarin meld.”

      “Jy kan daar skryf ek voel bitter ongelukkig oor ek gestremd is, want as ek nie was nie . . .” Hy byt vinnig sy tong vas en wonder wat hom besiel om sulke kaf kwyt te raak. Boonop raak sy wange gloeiend warm toe hy besef wat hy so byna kwytgeraak het – dat hy haar graag van nader sou wou leer ken.

      “Gaan voort, meneer Mulder?”

      “Nee, los dit maar. Vertel my liewer van die foto wat tant Betta daar in jou huis gesien het,” sê hy, onbedag daarop dat sy vraag daartoe sou lei dat sy gaan lyk soos iemand wat elke oomblik kan flou val!

      “Jo,” sê hy onrustig toe hy sien hoe sy met ’n bleek gesig begin waggel. “Jo, wat skort? Wag, ek druk my klokkie dat die verpleegsters . . .”

      “Nee, los,” sê sy vinnig. “Ek voel . . . reg. Dit was sommer ’n duiseligheid wat my oorval het.”

      “Kom sit eers hier op die stoel langs die bed. Jy lyk of jy enige tyd kan omkantel.”

      “Los my! Ek sê jou dan ek makeer niks nie!”

      Rudolf skud sy kop. “Jy lyk of jy ’n spook gesien het, maar daar slaan die koppigheid al weer deur. Wat de duiwel is dit met jou?”

      “Los haar, Rudolf,” praat oom Thysie skielik hier van langsaan. “Sy het begrip en simpatie nodig. Moenie nog meer distels op haar duwweltjiepad saai nie.”

      “Maar om begrip en simpatie te betoon, moet ek tog weet wat skort, oom Thysie. En sy’s te koppig om vir my te sê wat aan die gang is. Elkeen in hierdie saal kan oom vertel dat suster Jo my nie voor haar