Elza Rademeyer

Elza Rademeyer Omnibus 6


Скачать книгу

onnadenkend ’n suggie.

      “En dié sug?” vra sy met ’n ligte fronsie tussen haar twee besonderse groen kykers.

      “Hoe lank ken ons twee mekaar, suster Jo?” vra hy onverwags.

      Sy skrik toe sy sien op watter manier hy na haar kyk. Dit ook nog! Hoekom vra hy so ’n vraag? wonder sy verward.

      “Seker so twee jaar lank . . .” En om weg te kom van die loop wat die gesprek wil neem: “Wil dokter nie ’n koppie koffie drink nie? Ek sal gou vir ons gaan maak.”

      “Dankie, dit sal lekker smaak.” Maar toe sy haastig na die klein kombuisie loop, volg hy haar. En sy is oorbewus daarvan dat hy elke beweging van haar dophou. G’n wonder sy is skielik so onhandig me.

      Hy sien haar senuweeagtigheid raak en dit gee hom moed om te vra wat hy lankal dreig om te vra. “Wil jy nie saam met my gaan uiteet wanneer jy weer een nag vry het nie, Jo?”

      “Ek vertrek vanoggend ná diens met verlof, dokter. Dit sal dus nie vir my moontlik wees nie.”

      “Hm, ek het daarvan vergeet. Gaan jy ’n bietjie weg?”

      “Ja, ek gaan Durban toe.”

      “Alleen? Of gaan iemand saam met jou?”

      “Alleen,” sê sy sonder aarseling. Want niemand in die hospitaal weet dat sy ’n seuntjie het nie.

      “Ek hoop nie jy waag dit om per motor te ry nie?”

      “Nee, ek reis per vliegtuig,” jok sy sonder om te blik of te bloos.

      “Sal jy dan wanneer jy terugkom saam met my gaan uiteet?”

      Sy kyk anderpad en verwens sy moedswilligheid. “Miskien, ons sal maar sien.” En sy weet nie of sy bly of bang is nie toe Bossie vir hulle kom sê Mynhard soek hulle, want Rudolf begin allerhande vrae vra.

      Toe Rudolf wakker skrik, lê hy eers ’n lang ruk stil om te luister na die veraf vreemde geluide. Hy kan nie verstaan hoekom Katryn so vroeg aan die gang is nie. Eers toe hy sy hand wil oplig om die kombers van sy gesig te verwyder, kom hy agter daar skort iets. Iemand hou sy arm terug en waarsku hom om dit stil te hou, aangesien daar ’n naald in sy arm is. Eers tóé onthou hy dat iemand vir hom gesê het hy lê in ’n hospitaal omdat hy in ’n motorongeluk was.

      Hy wil die persoon hier langs sy bed uitvra, maar sy tong en lippe voel horingdroog. Hy voel ook so moeg . . . Tog flits die feite deur sy gedagtes. Van die ongeluk kan hy niks onthou nie, ook nie wat dit voorafgegaan het nie. Maar hy onthou dat iemand vir hom gesê het daar was glassplinters in sy oë. Hy onthou ook die onsimpatieke vrouestem wat hom gewaarsku het oor die aarvoedingsnaald in sy arm. Glassplinters in sy oë, ’n borsbesering, harsingskudding. Genade, wat nog? wonder hy en word yskoud toe die gedagte by hom opkom dat hy dalk blind kan wees!

      Angs dwing sy lippe van mekaar. “Is ek blind?” wil hy in ’n skor stem weet.

      “Nee, meneer Mulder,” sê Mynhard en loer benoud deur se kant toe om te kyk of suster Jo en dokter Simpson tog nie wil opdaag nie. Sy’t dan dadelik vir Bossie gestuur om hulle te gaan roep toe sy agtergekom het Rudolf raak rusteloos. “U het maar net ’n verband oor die oë omdat u ’n operasie moes ondergaan om glassplinters uit u oë te verwyder. Met u sig behoort daar niks te skort nie. Die verbande kan egter eers oor so vyf dae verwyder word.”

      Rudolf sug verlig. Sy sal darem seker nie vir hom lieg nie. “Wat het gebeur?” vra hy moeisaam.

      “U was in ’n motorongeluk in De Waalrylaan.”

      “Ja, iemand het so vir my gesê,” raak hy ongeduldig. “Maar ek wil weet hóé dit gebeur het. Ek kan niks daarvan onthou nie.”

      “Ek weet nie hoe die ongeluk gebeur het nie, maar oor u geheue hoef u nie bekommerd te wees nie. U behoort wel later alles te onthou wat gebeur het.”

      Rudolf raak stil. Hy doen sy uiterste bes om te onthou, maar dit is of daar ’n hap uit sy lewe gesny is waarvan hy niks weet nie. Die dokter het genoem van Julia wat ongedeerd is . . . Maar hy kan dan nie onthou dat hy en Julia al ooit saam in een motor gery het nie! Hy wens hy kan gemakliker lê. As hy in ’n sittende posisie kan kom . . .

      Toe hy egter sy bene wil optrek, kom hy agter dit voel leweloos. Dit voel amper asof hy glad nie ’n onderlyf het nie. Maar toe hy sy hand onder die kombers insteek, voel hy met verligting dat sy bene tog daar is. Hy lê seker so sleg dat die bloedtoevoer afgesny is. Dit het al voorheen gebeur dat sy arm so gevoelloos raak van verkeerd lê.

      Maar hoe hy ook al probeer, sy bene wil nie verroer nie. Hy knyp homself aan die bobeen . . . en voel niks nie! Hy knyp homself weer. Begin dan paniekerig raak. Hoekom voel hy niks nie? Sê nou . . . sy onderlyf is verlam? Nee, probeer hy die paniek in hom stuit. So iets kan nie met hom gebeur nie! Dit is dinge waarvan ’n mens net in koerante lees. Dit kán nie wees nie. God, gee dat dit nie so is nie! Dit mág nie!

      Toe dokter Simpson en suster Jo by sy bed kom staan, is hy waternat gesweet van angs. En toe sy ergste vrees bevestig word, dat sy rug gebreek is, raak sy verstand dof. Die dokter se verduideliking dat die hoofsenuwee tussen sy vierde en vyfde borskaswerwels geskeur is, dring nie werklik tot hom deur nie. Sy stem klink vir Rudolf soos hol simbale en ’n oorverdowende gesuis spoel deur sy ore. Allerhande drogbeelde verskyn in sy gesigsveld. Een van hulle breek weg en kom na hom aangerol. Toe dit by hom kom, eien hy die gedrog as hy self in ’n rolstoel!

      “Nee! O, God, nee!”

      Rudolf se kreet weergalm deur die gebou, klou aan die plafon en slaan met soveel geweld teen sy oortromme terug dat hy gil van pyn.

      ’n Rilling deur suster Jo se lyf laat haar ’n oomblik aarsel, maar dan hou sy die bakkie met die spuitnaald na dokter Simpson uit. En Rudolf is nie eens bewus van die prik in sy arm voordat ’n genadige duisternis oor hom toesak nie.

      3

      Dit is of alles in saal B4 ’n paar oomblikke lank tot stilstand kom na Rudolf se wanhoopskreet. Selfs die getjilp van die dagbrekertjie buite die saalvenster waar oom Thysie lê, het stil geraak.

      Oom Hansie Boonzaaier verbreek eerste die stilte. “Wie gil so nes ’n maervark?” vra hy.

      Oom Thysie antwoord hom. “Dit was daardie man in die private vertrek. Hy het voor ’n duwweltjiepad te staan gekom. Ons moet vir hom bid.”

      Bossie en Mynhard kyk stil na mekaar voordat hulle aarselend voortgaan om die laaste takies af te handel sodat die nagpersoneel van diens kan gaan.

      Suster Jo stap die dienskantoor binne om Rudolf se tante te gaan bel. Haar stem is effens hees toe sy vir tant Betta sê Rudolf het sy bewussyn herwin en die dokter het hom ingelig omtrent sy gebreekte rug. Sy is koorsagtig van haas om weg te kom van die hospitaal af, weg van die pyn en lyding, weg van die man wie se kind sy in die lewe gebring het!

      ’n Rukkie later glip haar motortjie dan ook ietwat onverskillig deur die uitgang van die hospitaaltuine om met die verkeersvloei na Pinelands saam te smelt. Rudolf se kreet weergalm steeds in haar ore. Dit is of sy nie helder kan dink nie. Een ding is seker – hy mag nooit weet van klein Anton nie. Hy mag nooit weet dat sy opname in Conradie-hospitaal haar enigsins raak nie. Anton glo sy pa is dood. Vir haar bestaan hy ook nie. Hy is maar net nóg ’n pasiënt.

      Haar kat kom haar bly tegemoet toe sy in die oprit van haar kothuisie stilhou, maar suster Jo sien hom skaars raak. Haar bewegings is stram en traag toe sy die huis oopsluit en binnegaan. Voor die vergroting van Anton teen die sitkamermuur steek sy vas. Haar blik gly soekend oor haar kind se laggende gesiggie. Oor die pikswart haartjies, lewendige donker ogies en laggende mond. Dit verstar op die kuiltjie in sy ken. Gaan hy net soos sy pa lyk wanneer hy groot is?

      Die kat kom skuur teen haar bene. Sy tel hom op en druk haar wang teen sy sagte warm pels. “Ai, Mattewis, hoekom is die lewe so ingewikkeld? Hoekom moes my pad weer met dié van Rudolf Mulder kruis? Was daardie één keer dan nie genoeg nie?”

      Sy sug liggies toe sy die kat neersit en agter hom aanloop kombuis