As hy net eers een keer op sy bene staan . . .
Hy is later natgesweet van sukkel om sy bene van die bed af te kry. Maar hy het dit reggekry, ondanks die verskriklike pyne van sy borsbesering. Nou moet hy net die bedstyl los en orent kom. Maar dit is hier waar hy vashaak en nie sonder hulp verder kan vorder nie. Oplaas is hy genoodsaak om sy bedklokkie te druk.
Suster Jo kyk gesteurd op van die nagverslag toe sy ’n rooi liggie op die paneelbord sien flits. Dan sien sy van waar die noodsein kom en kyk hulpsoekend rond. Nee, die nuwe verpleegster is iewers in die groot mansaal doenig, val dit haar by. Die ander is met ete. Sy sal self moet gaan hoor wat Rudolf wil hê. Daar is niemand anders om te stuur nie.
In die deur van sy private vertrek steek sy geskok vas toe sy hom aan die bedstyl sien klou, sy onderlyf heeltemal van die bed af. “Meneer Mulder, wat gaan hier aan?” roep sy ontsteld uit. Toe storm sy nader en beur haar bolyf onder hom in. “Lê terug met jou bolyf dat ek jou bene op die bed kan tel!”
Maar Rudolf se begrip van werklikheid het vervaag in sy doelgerigtheid om te kan loop. “Gee pad hier onder my. Hou net my bolyf vas sodat ek orent kan kom.”
“Jy kan nie. Jy wéét mos jy kan nie staan nie!”
“Moenie vir my kom voorskryf wat ek kan en nie kan nie, vroumens. Ek sal self besluit of ek kan staan of nie. Help my net dat ek op my voete kom!”
“Is jy gek? Laat sak dadelik jou bolyf terug en los die bedstyl sodat ek jou bene kan optel. Toe, ek raak moeg!”
“Gee dan pad as jy moeg raak. Ek sal self regkom.”
“Meneer Mulder, asseblief, jy gaan val as ek padgee.”
“Luister, ek gaan nou die bedstyl los, want my arms raak moeg. Gee pad hier onder my.”
“Ek sal nie!”
“As jy nie padgee nie, gaan jy seerkry. Toe, gee nou pad.”
“Ek kan nie toelaat dat jy op die vloer beland nie. Lê nou dadelik terug sodat . . .”
“As jy dan nie wil hoor nie, moet jy voel.” Toe los hy die bedstyl en albei plof op die vloer neer, sy stewig vasgevang onder sy fors liggaam.
4
“Gee pad hier van my af!” gil suster Jo verskrik. Maar Rudolf is te moeg en verslae om ’n poging aan te wend om haar te bevry. Sy kyk na sy gesig en dink vlietend aan ’n ander aand, lank gelede . . . Dit gee haar krag om hom met hernude woede met die vuiste by te dam.
Hy kon nie op sy voete bly nie, sink dit by hom in. Hy is werklik verlam. Haar vuishoue teen sy skouers voel hy skaars. Hy, Rudolf Mulder, sal nooit weer kan loop nie. Hy sal nooit weer sport kan beoefen nie. Nooit weer tennis, krieket of rugby kan speel nie . . .
“As jy nie padgee nie, byt ek jou!” dring haar gespartel tot sy benewelde verstand deur.
“Dis jou eie skuld dat jy hier vasgevang lê,” sê hy. “As jy my gehelp het soos ek gevra het, was ek nou op my voete. Ek wéét ek kan loop. My bene is nie leweloos nie. Hulle het vroeër vanaand vanself beweeg.”
“Dit was ’n spierspasma, jou aap!” snou sy hom buite haarself van skone skrik toe, en roep beangs: “Bossie . . . Mynhard!”
Maar sy weet dit is nodeloos. Hulle sal nog nie terug wees van ete af nie, en die nuwe verpleegster sal ook nie hoor nie, tensy sy gil. Sy begin van nuut af spartel om haarself te bevry, sonder enige tekens van dankbaarheid dat hy sy gewig op haar probeer verlig deur met sy hande weerskante van haar op die vloer te druk, en so stadigaan vererg Rudolf hom.
“Wat de drommel wriemel jy so, vroumens? Dink jy dalk ek wil jou verkrag?”
Sy woorde skok haar tjoepstil. Sy staar hom verbyster aan. Deur haar benewelde verstand dring dit tot haar deur dat sy moesie verdwyn het. Op sy linkerwang was daar ’n moesie. Dieselfde moesie as dié van Anton. Hoekom het hy syne laat verwyder?
Rudolf kry ’n bekommerde fronsie tussen sy oë toe hy sien hoe sy hom aanstaar. Die geskokte uitdrukking op haar gesig het plek gemaak vir vertwyfeling en sy lyk nou verwonderd.
Hy lyk skielik vir haar anders. Hy is nog bekend, maar hy’t beslis vinnig ouer geword. Daar is selfs al ’n teken van grysheid langs sy slape.
Die besonderse groen kleur van haar kykers val hom op. Hy sien nou van naby hoe mooi sy werklik is. Haar lang swart hare het los geraak van haar gespook om los te kom. Dit val krullerig en sag om haar gesig. Sy blik beweeg na haar mond. Dit is ’n mond wat vra om gesoen te word . . .
Saam met die onsinnige gedagte dring die besef van sy magteloosheid weer tot hom deur. Dit wat hy gedink het lewe is, was toe maar net ’n spierspasma. Die fisioterapeut het wel verduidelik dat hy spierspasmas sal kry, maar hy’t so gehoop . . .
Suster Jo sien met verbasing hoe hy sluk en sluk. Sy moet uitkom onder hom! flits dit weer eens deur haar gedagtes. Haar verraderlike hart moet hom nie nou staan en jammer kry nie. Hy was nie vir haar jammer toe . . .
Hy byt magteloos op sy tande om die golf van selfbejammering te stuit. “Ek is jammer,” mompel hy gesmoord. “Ek sal my probeer omrol, kyk of jy kan loskom.”
“Lê net stil,” sê sy vervaard die oomblik toe sy bevry is. “Ek gaan hulp soek.”
Sy verdwyn in ’n oogwenk by die deur uit en ander verpleegsters kom plaas hom terug op die bed. Vir suster Jo sien hy nie weer met ’n oog daardie nag nie.
Die volgende oggend breek daar vir hom ’n nuwe era aan, soos een van die verpleegsters dit stel. Hy gaan sy eerste treetjie na onafhanklikheid betree deur in ’n rolstoel te klim. Sy beseerde ribbekas se herstel was sodanig dat hy dit nou kan waag.
Maar Rudolf sien geen vreugde daarin om in ’n rolstoel te sit nie. Sedert hy van die bed afgeval het, vier swartgalligheid en bitterheid hoogty in sy gemoed. Hy weier om uit die private vertrek te gaan en sit net by die venster en uitstaar sonder om enigiets werklik raak te sien.
En toe Julia hom kom besoek, is hy skaam-kwaad omdat hulle haar by hom toegelaat het. Hy wou nie gehad het sy moet hom só sien nie. Die rolstoel is net ’n toonbeeld van sy onvolmaaktheid.
Maar Julia het met ’n doel by hom besoek kom aflê. Sy besef dat hy heel waarskynlik nooit weer volledig man sal wees nie, maar hy het geld. Sy sal steeds nie omgee om mevrou Mulder te word nie. Om met Rudolf te trou kan vir haar baie voordele inhou. Sy sal in die kollig kom, des te meer omdat sy bereid is om met ’n gestremde te trou. Sy sal alles kan koop wat haar hart begeer en haar finansiële bekommernisse sal iets van die verlede wees. Maar om dit te bereik, weet sy, sal sy baie subtiel te werk moet gaan.
Later sou Rudolf nie meer mooi kon onthou hoe hul gesprek daartoe gelei het nie, maar toe sy hom inlig dat sy aan die einde van die maand haar woonstel moet ontruim, is dit hy wat aanbied dat sy haar intrek in sy huis neem tot tyd en wyl sy weer met ’n woonstel geholpe raak. Dit is vir Julia voorlopig genoeg. Sy beskou dit as die eerste tree om ingewortel te raak in sy lewe. Stap vir stap sal sy haar onmisbaar maak. Die dag dat hy uit die hospitaal ontslaan word, sal hy agterkom hy het ’n ware steunpilaar in haar.
Suster Jo se dag by die huis verloop ook nie te goed nie. Sy kan om die dood nie aan die slaap raak nie. Haar gedagtes bly by daardie oomblikke toe sy vasgeval onder Rudolf gelê het, en sy verag haarself omdat sy hom ’n oomblik jammer gekry het. Daar mag nie ’n weekheid oor haar kom teenoor die vervlakste mansmens nie. Sy mag nie vergeet wie en wat hy is nie!
Dit is nie al wat haar pla nie. Die Van Zyls se eienaardige gedrag die dag toe sy Anton weer na haar verlof by hulle gaan aflaai het, slaan haar ook dronk. Sy kan haar vinger op niks spesifieks lê nie . . . dit is net dat hulle so agterdogtig voorgekom het. Amper asof hulle haar glad nie vertrou nie. Asof hulle glo sy sal dalk met Rudolf Mulder versoen raak. Wat ’n onsinnigheid! Sy haat die man!
Nee, dink sy, nie haat nie. Haat is ’n lelike ding. Sy voel net niks vir hom nie. Hy is vir haar soos ’n vreemdeling. Sy kan amper nie glo dat sy ooit op hom verlief was nie. Kyk net sy weerbarstige