op haar maag met haar kop op die arms.
Met drie treë is hy langs haar. “Tant Bets het plaas toe gebel en ek was gelukkig naby die huis om die foon te hoor lui. Sy het gesê ek moet kom. Wat is dit?” eis hy. Sy skud net haar kop, sodat hy haar gryp en omdraai. Toe sy verplig word om na hom op te kyk, is sy manlike gestalte byna dreigend oor haar gebuk.
“Tillie se bene is dood,” erken sy moeg. “Sy is verlam.”
’n Oomblik lyk hy onbegrypend. Dan, as die besef tot hom deurdring, is dit asof die bloed in sy gesig opstoot en dit nog donkerder kleur. “Is sy seker?” vra hy na ’n byna ademlose stilte.
“Ek sou dink ’n mens kan nogal seker wees van so iets,” kom die antwoord wrang.
Hy besef dat die bitterheid nie teen hom gemik is nie. “Miskien sal dit regkom?”
Sy besef eweneens dat die vraag nie aan haar gevra is nie. “Miskien.” Haar stem is skor, na aan trane. “Ek verstaan nou my gevoel van onheil, heeltyd vandat jy my op kantoor gebel het, al het jy gesê dat sy nie kritiek is nie.”
Eindelik sug hy diep en draai om. “Ek het gesien tant Bets skep op.”
Sy staan op en soek na haar skoene: “Laat ons eet en drink en vrolik wees,” sê sy toonloos.
“. . . want môre sterf ons,” voltooi hy. “Waar staan dit nou weer?” Sy laggie is kort en vreugdeloos toe hy by die deur uitstap. Sy woorde bly in haar ore náklink.
Toe sy in die eetkamer kom, weet sy met ’n onredelike gevoel van verligting dat Deon reeds die nuus oorgedra het. Dis asof sy glad nie daaroor wil praat nie, asof sy Tillie se smart diep binne wil wegsluit en dit ook haar eie smart maak.
Toe dokter Buys om tweeuur by sy spreekkamer aankom, wag Deon en Irma reeds. Hulle het met tant Bets se karretjie gery sodat daar ’n motor by die huis kan wees.
“Dit slaan my heeltemal dronk,” erken hy ruiterlik. “Ek het haar weer deeglik ondersoek, maar ek vind geen verband tussen haar redelik gevaarlose beserings en die … die verlamming nie. Ek wil ’n neuroloog-vriend van my raadpleeg, hy het ’n praktyk in Kaapstad. Maar juffrou Deysel … sy klink nie samewerkend nie. Dit sal gaaf wees as julle ook met haar praat.”
“Het ons dan u toestemming om haar te besoek wanneer sy behoefte daaraan het?” vra Deon versigtig. Irma het hom op pad vertel van die streng toesig oor Tillie.
Die bonkige, gryswordende man voor hulle swyg eers ’n rukkie terwyl hy ’n paar vorms voor hom op die lessenaar herrangskik. Toe hy eindelik opkyk, is daar pynlike verleentheid in sy oë: “U sal my moet vergewe as ek nou buite my perke gaan,” begin hy verskonend, “maar ek dink nie dit sal bevorderlik wees vir ons pasiënt se toestand as sy … as sy haar moeder te dikwels sien nie …”
“U kon dit maar korter gestel het,” sê Irma reguit.
“Die moeder is natuurlik ’n senuweelyer,” vervolg hy ongestoord en meer professioneel, “en ek probeer haar behandel. Nie dat sy saamwerk met die medikasie nie. Gelukkig of ongelukkig dus, het ek al agtergekom dat sy beskik oor ’n temperament wat … wel, geneig is om haar naasbestaandes te ontsenu …” Dis duidelik dat hy nie oor ’n pasiënt van hom wil uitpraat nie. Hy was nog altyd ’n formele, korrekte man, onthou Irma.
“Dis ’n baie bedagsame uitleg vir die feit dat die ‘moeder’ onder bespreking die lewe vir almal rondom haar hél maak, vergeet van ontsenu.” Onkeerbaar stoot die ontsteltenis in Irma op, die bittere, smeulende wrok van jare
“Irma,” skerm Deon, “het ons nie eenkeer ’n besluit geneem nie?”
Sy weet waarvan hy praat: die besluit wat hulle drie kinders een Sondagmiddag geneem het na die aanhoor van ’n treffende kinderpreek oor liefde en vergewensgesindheid, oor verdraagsaamheid. Dit was nadat Matilda hulle nie die oggend, soos op ander Sondae, brekfis wou gee nie, sodat hulle die Sondagmiddagete meer sal geniet. Tillie het ’n sny brood gegaps en in haar roksak versteek, waar Matilda dit ontdek het. Die duiwel was behoorlik los, en Tillie se oorlel is gewikkel tot sy soos ’n maer vark skree. Daarna, die trefffende preek, en die gesamentlike besluit.
“Asof ons nie probeer het nie …!” Weerloos is haar verdediging en toe sy na hom kyk, is hulle soos soveel keer in die verlede bondgenote teen die stiefheid van die lewe.
“U moet maar geduld hê,” betig die dokter.
“U ken haar as pasiënt. Ek ken haar as moeder.”
“Ek betreur dit dat u my daaraan moet herinner. In daardie opsig het ek ’n vaste reël oortree, naamlik om nie my pasiënte te bespreek nie.”
“Wees gerus. U het ons niks nuuts van u pasiënt vertel nie,” verseker Irma hom geamuseerd.
“U is heeltemal bekwaam om u eie standpunt te verdedig, juffrou,’” peins die geneesheer, beïndruk deur die verandering wat die meisie voor hom die afgelope jare ondergaan het. “Dit sou gaaf wees as mejuffrou Deysel meer van u selfstandigheid kon besit.”
“Enige eienskappe by my het eers baie onlangs begin ontwikkel, dokter. Dis nog nie te laat vir Tillie nie.”
“U is baie verbitterd, juffrou. Dis nie gesond nie.”
Die ontvangsdame loer in. “Daar wag heelwat pasiënte, dokter,” kondig sy taktvol aan.
“Soos ek gesê het,” hervat hy haastiger, “die toestand van u stiefsuster slaan my dronk. In hierdie stadium kan ons niks sê nie. Ek het al my plaaslike kollegas geraadpleeg en my handboeke gefynkam. Dis moeilik om te weet of die verlamming fisies van aard is. Dit kan natuurlik sielkundig wees. Psigosomaties. Ons wil begin met fisioterapie, maar sy is vol weerstand.”
Stil loop Irma en Deon motor toe.
“Daar is iets wat ek nie verstaan nie,” sê sy toe hy die motordeur vir haar oopmaak. Sy kyk hom reg in die oë en vra onomwonde: “Wat het jou besiel om jou lewe hier te kom slyt? Jy was immers onafhanklik en tog het jy teruggekom na hierdie verpestende atmosfeer.”
“Dis sterk gestel.” Hy maak die deur agter haar toe en stap om die motor. Hy skuif agter die stuurwiel in. “Ek kan jou baie antwoorde hierop gee,” vervolg hy dan, effens gespanne. “Eerstens kan ek vir jou sê dis om selfsugtige redes; dis ’n tuiste. En dit stem my geruster dat dit nie ’n volmaakte tuiste is nie. Anders kon ek dit dalk verloor … dit kan ook van my weggevat word, soos die volmaakte tuiste wat ek as seuntjie soms opgedroom het. Voorts kan ek sê dat ek wou wegvlug van ’n lastige meisie af, wat ’n leuen sal wees. Of dat my bene moeg geword het van al die stanery agter ’n winkeltoonbank …”
“Jy het my volkome oortuig; dis nie miskien omdat jy hou van tuisgebakte brood en plaasbotter nie?” Sy lê tergend haar hand op syne, maar met dodelike erns verontagsaam hy die ligte skerts; hy draai sy hand om en hou haar koue vingers vas. “Jy is nou meer verbitterd as ooit. Ek het dit anders verwag.”
“Ek het self gedink dat die dinge my nie meer sou raak nie,” gee sy toe. “Maar nou wil dit eerder vir my lyk asof ek my immuniteit daarteen verloor het. En ek kan nie ophou dink aan Tillie se lot nie.”
“Haar pad was nooit een van rose nie. En hoe dit in die toekoms gaan wees, hoef ons nie eens te raai nie.”
“Ek het die ongemaklike gevoel dat ek haar iewers in die steek gelaat het,” bely sy op die ingewing van die oomblik.
“ ’n Mens sou jou nie kon veroordeel daaroor nie,” stel hy haar gerus.
Sy laat toe dat hy haar hand hou totdat haar vingers warm word in syne.
“Wat ’n aangename tuiskoms vir jou,” sê hy na enkele minute.
“Dit lyk my nie een van ons sal ooit werklik tuiskom nie, Deon. Of anders talm dit nogal lank.”
“Wat my betref, glo ek lankal nie meer dat ek juis iewers tuishoort nie,” sê hy, so sag dat sy na hom opkyk en met bittere verleentheid gewaar dat daar trane in sy oë is. Dis so ongekend by hom wat altyd daarvan