sy bors gebrand het toe sy weerloos slaap nadat die wit pilletjie sy werk gedoen het. Die talle kere wat sy soos ’n opgejaagde bokkie voor Matilda gestaan het sodat hy wou nader gaan om haar fisies te beskerm …
Al hierdie weke van innerlike stryd toe hy moes sien hoe sy wegkwyn in haar verlange na die ander man, totdat hy in beskermende liefde bereid was om haar na die vent te sien teruggaan, solank dit haar net gelukkig maak. En nou, die arms om sy lyf en die gesig teen sy rug in ’n gebaar wat dreig om hom al sy moeilik verwerfde selfbeheersing te laat kwytraak, om hom besit te laat neem van die een persoon na wie sy hele wese uitgaan.
Sedert hy hom bewus begin word het van sy onvernietigbare liefde vir Irma, stry hy hierdie stryd teen homself. Die liefde vir haar het ’n krag geword wat die hunkering na eie mense, ’n eie huis, op die agtergrond gestel het. Saam met haar sal hy sy eie huis kan bou.
“Dit lyk my nie een van ons sal ooit werklik tuiskom nie, Deon,” was haar woorde die oggend na haar koms. Hoe kon hy toe aan haar sê dat daar vir hom voortaan net een moontlike tuiskoms kan wees; dat al sy ander soeke minderwaardig geword het in die aangesig van sy dieper hunkering na haar? Dat dit ook die enigste rede is waarom hy ’n onafhanklike bestaan prysgegee en hom hier kom vestig het waar Matilda se hooghartige aanvaarding van sy teenwoordigheid hom gedurig wil dwing tot ontvlugting? Hy moes tot sy ontnugtering agterkom dat Irma byna nooit huis toe kom nie.
Deur al die maande het hy gehoop, deur al die jare verlang, dat sy eendag uit haar eie aan hom dit sal gee wat hy huiwer om aan haar voete te lê uit vrees dat sy offer versmaai sal word. En nou is haar verlof byna weer om, sal sy oor twee weke van hom af weggaan met die verlange na ’n ander man in haar oë. Mettertyd sal dieselfde ring weer aan haar vinger pryk, omdat haar liefde die oortreding sal uitwis. En hy sal agterbly, die vanselfsprekende, altyd teenwoordige Deon Barnard wat hier bly, soos sy meen, omdat hy geen ander dak het nie. Nou sal hy nog die ekstra verantwoordelikheid vir Tillie moet dra, en as bres tussen haar en haar ma optree.
Nadat hy stilgehou en Irma afgeklim het, bly hy nog sit met sy hande op die handvatsels.
“Klim jy nie af nie?” vra sy en verlustig haar in die toneel van dreunende trekkers en rooigeploegde grond, gereed vir genoeg reën om te plant.
Sy kyk om na Deon wat nog bly sit, merk dan die vreemde uitdrukking op sy gesig. Hy klim langsaam af en kom nader. “ ’n Mooi toneel, nè?” vra hy en wys na vore.
Sy knik net, van diep binne uit stil. Hy wonder wat sy dink. “Iets wat ’n mens nie in die stad sien nie,” vervolg hy. “Wanneer gaan jy terug?” vra hy dan skynbaar terloops en buk om ’n kluit op te tel en in sy hand te krummel.
“Ek gaan nie terug nie,” sê sy.
Hy kyk vinnig op, maar sy kyk nie na hom nie. Nougetrek teen die laatson, kyk haar bruin oë ver oor die landerye heen.
“Ek het my werk bedank,” vervolg sy en begin voor hom uitstap.
7
Die winter stuiptrek.
Die warmer dae word verwelkom, veral ter wille van Tillie, wat neerslagtig bly en nou veel baat daarby vind om son en buitelug te geniet. Heeltemal aangesterk wat betref haar beserings in die ongeluk, is dit glad nie meer nodig dat sy in die bed bly nie.
Maar haar bene rem nog aan haar liggaam soos dooie takke aan ’n boom. Aanvanllik het sy hulle gehaat, die gevoellose ledemate waarteen sy gedurig moes vaskyk as sy in haar stoel sit. Later het sy haar daarmee begin versoen soos ’n mens sou doen met ’n vreemde gesig. As dit koud genoeg was, het sy hulle met ’n kombers bedek. En toe die dae eers begin warmer word, was sy meer gewoond aan hulle voorkoms. Hulle is tog mooi gevorm en die vel is soos suiwer marmer.
Nou sit sy dikwels op die agterstoep waar een toegeboude dwarsmuur ’n warm hoekie verseker. ’n Entjie van die stoep af weg, half onder die groot seringboom, staan die wit rondawel waar Deon tuis is, en die pers bougainvillea maak ’n kleurige vlek op ’n andersins kaal agtergrond. Sy dink nog baie aan Bennie, hoewel nie meer met die felle telleurstelling van vroeër nie. Nou is sy bly dat alles gebeur het met die maksimum skok. So kan sy in een proses van alles herstel.
Vir niks ter wêreld sou sy die herinneringe aan daardie bykans twee maande saam met Bennie uitgewis wou hê nie. Dis ’n ondervinding wat die poorte van geluksaligheid vir haar ontsluit het, wat die magiese begrip “liefde” deur eie ondervinding by haar tuisgebring het. Om vir een mens op aarde so spesiaal te voel, die warmte daarvan. Agterna bekyk, staan sy verstom oor haar eie onverskrokkenheid teenoor Matilda se strenge oorheersing, waardeur sy die geheime ontmoetings met Bennie bewerkstellig het. Sy het hom die eerste keer by Hannah Thirion ontmoet.
“Kan ek u terugneem, juffrou?” het hy aangebied toe sy teen skemer aanstaltes maak om huis toe te gaan.
“Dis nie nodig nie,” het sy byna oorhaastig gekeer. “Ek het te perd gekom, dankie.”
“Dis interessant. Is dit nog ’n gewoonte hier rond?”
“Nie eintlik nie, maar ek is lief vir perdry.” Haar stiefpa het dié liefde raakgesien en gesorg dat sy ’n perd kry. Nou hoor sy dat, terwyl sy in die hospitaal was, Matilda stilweg die perd na ’n buurplaas gestuur het.
Maar daardie dag het hy en Hannah saam met haar uitgestap en sy het geweet dat Hannah hom alles omtrent haar sou vertel sodra sy weg is. Haar huislike omstandighede.
Drie dae later het Hannah haar kom besoek. “Ek is hier op ’n sending,” het sy spoedig gebieg. “Bennie wil jou beter leer ken.”
“Sê maar vir hom dis onmoontlik,” het Tillie skynbaar onverskillig geantwoord. “As my ma so iets agterkom, is die duiwel los.” Maar haar hart het woes geklop.
“Ek het hom reeds gewaarsku,” het Hannah volgehou. “En dis glad nie so onmoontlik nie. Julle ontmoet by ons plek.” Hulle het ook, en enkele kere selfs by sy woonwa, waar hulle warm geliefkoos maar nie te ver gegaan het nie. Nie dat dit maklik was nie. Tillie se hande roer in haar skoot.
So het alles dan gekom en verbygegaan. Nou is sy terug in die groef van onderworpenheid en slaafse navolging. Uiterlik beoordeel is sy slegter daaraan toe as voorheen, maar tog vir altyd ryker. En wat onmoontlik gelyk het, begin gebeur: sy kry weer belangstelling in die lewe. So amuseer dit haar byvoorbeeld om te sien hoe Irma en Matilda keer op keer teen mekaar afgespeel word. Sy is ’n toeskouer by ’n stiergeveg en Irma die toreador wat telkens koel opsystap met die rooi doek, terwyl Matilda die verwoede aanstormer is. Eienaardig genoeg, steur haar ma haar nie so veel aan Deon en vererg sy haar nie so maklik vir hom nie. Dalk probeer sy hom op dié manier doelbewus die buitestander hou.
Deon … as Bennie soos Deon kon wees, sou daar nooit ’n probleem gewees het nie. Intuïtief weet sy dat die hulpeloosheid van haar toestand nooit vir Deon hinder nie. Dis moeilik om te verklaar; miskien is dit die feit dat hy sy lewe lank liefde ontbeer het, en daarom die waarde van uiterlikhede gering ag. Ook oor Irma se teenwoordigheid voel sy innig dankbaar. Met gemengde gevoelens het sy daarvan kennis geneem dat Irma haar werk bedank het en vir ’n onbepaalde tyd op die plaas sal bly. Aan die een kant het sy met volkome begrip besef dat die verbreking van die verlowing regstreeks hiertoe gelei het. Aan die ander kant vermoed sy met ’n vae skuldgevoel dat haar toestand iets met die beslissing te doen het.
Tog is daar ’n onderliggende gevoel van dankbaarheid in haar hart omdat die stiefsussie wat vir haar so baie beteken, nou weer binne haar bereik is. Doelbewus probeer Deon en Irma haar ophef uit die toestand van willoosheid waarin sy verval het. Hulle het selfs vir haar ingeteken op oorsese tydskrifte, omdat sy lief vir lees is en Matilda weinig Afrikaanse tydskrifte goedkeur. Naaldwerk trek haar nie en van die huislike pligte het sy met graagte afstand gedoen.
Die steeds lang aande van nawinter bring hulle deur met speletjies wat selfs haar stiefpa se belangstelling prikkel. Wanneer Matilda haar dan gewoonlik uit die voete maak om te ontkom aan die “ledige tydmorsery”, word dit meestal ’n gesellige aandjie.
Totdat Matilda wel ingryp, een aand toe Deon en Irma ’n pak kaarte te voorskyn bring. Matilda was in die badkamer doenig. Toe sy die vrolike gelag uit