Louisa du Toit

Louisa du Toit Omnibus 7


Скачать книгу

nou in die oë kyk? dink Irma verbysterd. Dis andersins ’n gulde geleentheid om dinge met Tillie te bespreek. Maar na wat so pas tussen haar en Deon gebeur het, kan sy nie. Sy huiwer voor die toe deur en klop dan baie saggies.

      “Kom binne,” is die onmiddellike uitnodiging wat gedemp van agter die toe deur opklink.

      Tillie se kers brand laag in die blaker.

      “Ek het jou hoor uitgaan,” sê sy. Haar oë is twee donker poele en stel die vraag wat haar lippe verswyg. “Toe het ek maar weer my lig opgesteek en gelê en lees. Maar nou is my kersie byna dood.”

      In die gevoelige gemoedstoestand waarin sy verkeer, bespeur Irma iets byna tragies in die laaste woorde. Sy is bly oor die skemer wat Tillie se kamer vul. Die pit van die kers het reeds skeef geval in die gesmelte was. Nou sal Tillie nie so maklik kan sien nie, dink sy met ’n mate van verligting. Kan sien wat tussen my en Deon gebeur het nie … want dit moet in my oë wys, vanaf my lippe uitroep, oor my gesig lê.

      “Hoekom slaap jy nie, sussie?” vra sy besorg. ’n Groot weemoed pak haar beet by die aanskoue van die hulpelose figuurtjie onder die laken. Sy het ook vir Deon lief, dink sy met diepe begrip. En sy weet dat ek nou by hom was; dan liewer maar oop kaarte speel.

      “Deon en ek wou sekere dinge ’n bietjie bespreek,” probeer sy so gelykmatig moontlik sê. “En bedags gee jou ma ons nie juis kans nie.”

      Tillie streel die nagvlegsel wat oor haar bors lê. “Dis vir my asof my ma erger word. Kom julle dit ook agter?”

      Irma gryp na die geleentheid. “Dis juis wat ons wou bespreek.”

      “Sy maak my so bitter ongelukkig, Irma.” Tillie leun op haar elmboog, sodat die skaduwee haar gesig omsluier. ‘‘Eers, na die ongeluk, het niks my geraak nie. En daar was buitendien Bennie oor wie ek nog getreur het.”

      Nou gaan sy praat oor Deon, haar gevoel vir hom bely, dink Irma terwyl die spanning soos ’n harde knop op haar maag saamtrek.

      “Irma, dink jy Ma weet?” Die dringende oë eis ’n antwoord.

      “Van jou … jou gevoel vir Deon?” pols Irma versigtig.

      “Is dit so opsigtelik? Ek het gedink dat dit my geheim is.” Verleë sak sy terug op die kussings.

      “Ek kon nie help om dit raak te sien nie, nou die aand op die grasperk, toe Deon jou opgetel het. En jou ma het dit ook gesien.”

      “Is dit daarom dat sy soveel erger is? So agterdogtig? En dis natuurlik ook daarom dat Deon my vermy; is dit nie so nie, Irma?”

      Die kring trek nouer om my, dink Irma. Nou, binnekort, sal ek haar moet probeer oortuig van ’n liefde wat nie bestaan nie. “Ek reken dis daarom dat Deon jou vermy, Tillie.”

      “Dan weet hy hoe ek oor hom voel?” Tillie se oë is donker van misterie, haar gesig straal in die sterwende lig.

      “Hy weet, ja,” Irma se vingers klem vaster in mekaar.

      “En hy, Irma? Ek is seker hy het jou vertel!”

      “Ja, hy het my vertel.”

      “En …?”

      Irma antwoord nie dadelik nie. Nou is die oomblik van beslissing, dink sy gejaag. Nou moet ek haar antwoord, terwyl die herinnering aan sy arms, aan sy eisende lippe, nog in my brand. Sy herleef haar verwondering by die besef dat hierdie gevoel deur jare besig was om te groei in hulle albei. Plotseling het sy die boodskap verstaan wat sy oë soveel keer na haar probeer deurstuur het. Hoe kon sy dink dat sy ware liefde vir Johan Jooneveld voel?

      Sy moet Tillie antwoord, haar gerusstel en sodoende die groot gawe van Deon se liefde, van haar eie liefde, verloën. “Deon is ook verlief,” sê sy eindelik.

      Die dubbelsinnige antwoord het geslaag. Tillie ontspan en haar oë blink van trane wat haar onverhoeds oorval.

      “Toe jy inkom, het ek ’n oomblik lank gedink … Ag, vergeet dit! Maar jy het so mooi gelyk. So gloeiend.”

      Nou moet sy deurdruk, die hele situasie met Tillie bespreek. “Jy sal baie versigtig moet optree, Tillie. Jou ma hou blykbaar glad nie van die idee nie.”

      “Sal dit dan elke keer so wees? Ek het gedink dat Deon haar goedkeuring sal wegdra.” Tillie se stem klink yl. “Sy ken hom tog, en hy pas in tussen ons.”

      “Niemand sal ooit haar goedkeuring wegdra nie, Tillie. Jy behoort dit te weet.”

      “Ek het tog gehoop. Wie anders sal ooit weer in my belangstel; ’n meisie in ’n rolstoel … wat is die woord wat die mense graag gebruik? Gekluister.” Verbittering lê in haar stem.

      “Dis geen beletsel nie, Tillie, en jy weet dit. Daar is honderde vroue in jou posisie wat ’n normale huwelik en gesin het. Maar om eerlik te wees, jou ma het gedreig om vir Deon weg te jaag as hy enige notisie van jou neem.” ’n Oomblik het sy dit oorweeg om die afgryslike waarheid te vertel: dat Matilda, waansinnig vasbeslote om die loop van sake te keer, met doodmaak gedreig het. Dan deins sy egter daarvoor terug. Sy sal nooit so wreed kan wees om daardie woord teenoor Tillie te noem nie.

      “Moet ek dan maar sonder slag of stoot van hom afsien, Irma?”

      “Nie noodwendig nie. Maar jy kan daarop let hoe jy optree waar sy by is.”

      “En dis byna altyd. Moet ek nou die res van my lewe …” Sy soek na haar sakdoek.

      “Daar moet ’n wending kom, Tillie. Daar sál. Dinge bly nooit dieselfde nie”

      “Ek kan nie sien hoe nie …”

      “Jou ma kan nie so aangaan nie; as sy enigsins erger word, sal ons optree.”

      “En as dit maar net so aangaan, jaar na jaar?” vra Tillie moedeloos.

      “Kan jy drie jaar vir Deon wag, sussie?” Irma se stem is skaars ’n fluistering, terwyl sy dink: as ek bereid is om vir altyd van hom afstand te doen, hoe kort is drie jaar in vergelyking daarmee.

      “Ek het hom so lief, Irma …” Tillie se stem bewe. Die laaste kerslig flikker en werp onseker skaduwees oor die intense gelaatstrekke. “Maar ek sal wag, as dit nie vergeefs is nie.”

      “Dan moet jy wag, Tillie. Die tyd sal verbygaan; en as jy eers baas is van jouself, kan jy ook werk laat maak van jou bene. Al voel jy nie nou daarna nie, later sal jy wel.”

      “By hom maak dit nie saak nie. Ek weet my bene sal by hom nie saak maak nie,” bely Tillie tranerig.

      “Ons moet slaap,” besluit Irma en staan op. Toe sy buk om haar te soen, klou Tillie se warm handjies haar stewig vas.

      “Ek voel nou soveel beter. En ek belowe jou en Deon om my bes te doen. Ek sal maak asof ek hom haat.” Sy lag gedemp. “Dit sal net nie so maklik wees nie.” ’n Snik ontsnap weer uit haar keel en toe hulle wange in die donker aan mekaar raak, voel Irma die klam, warm trane teen haar gesig. Sy vee met haar vingers oor Tillie se oë: “Van nou af kyk ons die lewe in die oë, nè?” troos sy.

      Die huis is doodstil toe Irma die gang in glip.

      Voel-voel met haar hand teen die muur, sluip sy die gang af na haar kamer. Dis ’n verlossing toe sy haar deur agter haar toedruk. Sy sak op haar bed neer.

      Ek het hom klaar verloor, dink sy oor en oor, ek het klaar gekies toe ek Tillie onder ’n valse indruk gebring het. Dat Deon ook verlief is. En Tillie het daarna gegryp sonder om eers oorweging te skenk aan ’n ander moontlike uitleg van die woorde.

      Op daardie oomblik het sy in haar hart vir Deon afgegee ter wille van Tillie. Dit moet tog uitwerk, redeneer sy. Dis in Deon se aard om aangenaam en hulpvaardig te wees; mettertyd sal hy ’n dieper gevoel vir Tillie ontwikkel. Dit sal onmoontlik vir hom wees om ongenaakbaar te bly onder haar warme toewyding. Selfs Matilda sal moet swig daarvoor. Sy self word oud, sy sal nie altyd vir Tillie kan versorg nie. Nee, dit sal uitwerk.

      Alleenlik, sy, Irma, sal nie daar wees om dit te aanskou nie. Onvermydelik weet sy nou