steek sy hand na haar uit om haar op te help. Sy staar na sy hand en dit neem ’n rukkie om tot haar deur te dring wat hy van haar verlang. Dan buk hy skielik en trek haar op haar voete.
Die warm aanraking van sy hand gloei deur haar. Dit bring ook die vrees terug.
“Meester …”
Ek behoort haar soos ’n kind te troos, maar ek mag nie, dink hy. Ek behoort haar toe te laat om haar hart teen my skouer uit te huil, maar dit kan nooit so wees nie.
“Ek verstaan hoe jy voel.” Sy stem is diep en sag en kalmerend. “Om my dood te maak sal vir jou net ongeluk bring. My lewe is dit nie werd nie.”
Leia staar swyend na hom. Haar haat het haar finaal verlaat.
Hy vee haar hare versigtig uit haar oë en ’n glimlag raak aan sy mond.
“Gaan haal die mes uit die boom. Ek glo nie dit behoort aan jou nie.”
Leia gehoorsaam, sonder teenstribbeling. Sy sukkel om die mes uit die boom te kry en hy kom help haar. Dan hou hy die mes na haar uit.
“Jy mag dit dalk weer nodig kry,” sê hy toe sy dit by hom neem.
“Meester …” fluister sy en dan val sy op haar knieë neer en soen sy hand.
De la Fontaine frons diep toe hy haar weer orent help. Hierdie gebaar van dankbaarheid ontstel hom.
“Gaan nou … Ons vergeet van wat vanaand gebeur het.”
Sy glimlag deur haar trane en dan draai sy om en hardloop die donker in.
Op die stoep van die herehuis staan Beatrice. Sy het die hele toneeltjie gesien en die woede stoot in haar op. Sy wou die wit slavin se wil gebreek hê, maar nou weet sy dat sy dit nooit sal kan doen nie. Sy sal Leia eers moet vermoor voordat sy Jacques weer vir haarself sal hê.
Bako kyk verbaas na die meisie toe sy met blink, nat oë by die vuur aankom. Haar geluk word byna tasbaar en hy wonder wat daar in die donker gebeur het wat haar so uitgelate maak.
“Kom, Silo, laat ons musiek maak!” roep sy na die man oorkant die vuurtjie.
Hy tel sy instrument op en lag kopskuddend.
“Waarvan sal jy vanaand sing?”
“Iets moois,” sê sy.
By die herehuis steek die graaf op die stoep vas en luister ’n oomblik lank na die klanke wat die stil nag vul. Dan loop hy met ’n glimlag die huis binne.
Die gravin sit nog steeds by die klavesimbel, maar sy speel nie meer nie. Sy en Beatrice voer ’n ernstige gesprek en hulle kyk albei vinnig op toe hy inkom.
“Was jy alleen in die tuin?” vra die ou vrou.
De la Fontaine se een wenkbrou lig.
“Dit klink asof iemand afgeloer het,” sê hy dan onbekommerd, maar wonder tog hoeveel van sy ontmoeting met Leia gesien is.
Beatrice lyk ongelukkig. “Ek wou nie … Ek het uitgegaan om by jou aan te sluit en toe sien ek julle daar … sommer so oop en bloot in die maanskyn.”
Die graaf se gesig verstrak. “Wat het jy presies gesien?”
Beatrice is heeltemal kalm. Haar bruin oë kyk reguit in dié van die graaf.
“Alles wat nodig was. Dit was ’n besonder teer toneeltjie, Jacques.”
Sy gesig verdonker. “Ek hou nie van jou insinuasies nie, Beatrice,” sis hy, en sy deins ietwat verskrik terug. “Leia is ’n verwarde mens, en ’n bietjie vriendelikheid kan geen skade doen nie.”
Die ou gravin lyk geskok. “Leia … dan was dit weer Leia. Jacques, dit kan nie so voortgaan nie. Sy is ’n slavin en jy moet dit nooit vergeet nie!”
Hy kyk vinnig na sy moeder. “Beskuldig u my ook van ongehoorde gedrag?” vra hy ysig. “Ek ken my plek, en Leia is vir my niks anders as ’n verwarde, ongelukkige mens nie! Ek weet waar ek die streep moet trek!”
Beatrice het haarself weer onder beheer.
“Ek hoop van harte so, Jacques. Die probleem is net dat sý jou optrede dalk anders mag vertolk. Ek het gesien hoe sy op haar knieë gaan en jou hand soen.”
Sy groen oë skiet vuur. “Dis die manier waarop die slawe dankbaarheid bewys, Beatrice, maar ek glo nie dis iets wat jy al voorheen gesien … óf beleef het nie.”
Sy knip haar oë. “Dit was gemeen!”
Hy draai sy rug na die twee vroue toe hy ’n glas wyn inskink. Dan kyk hy weer om.
“Die waarheid kan soms seermaak,” antwoord hy kil.
Die gravin sug. “Dis belaglik van julle om ’n slavin toe te laat om jul vriendskap te bederf.” Sy kyk na haar seun. “Ek verwag van jou om Leia te verkoop aan enigiemand wat belangstel. Dit behoort nie te moeilik te wees om so iemand te kry nie.”
Hy kyk na sy moeder met koue, groen oë.
“Ek is jammer, madame, maar ek gaan dit nie doen nie. Leia bly op La Liberté.”
Nicole snak na haar asem. Dit gebeur al hoe meer dat Jacques haar uitdruklike wense verontagsaam.
“Jy stel my diep teleur, Jacques.”
“Dit spyt my, madame.”
Sy staan op. Haar gesig lyk skielik oud en moeg.
“Dan is daar niks verder te sê nie.”
Beatrice kyk die ou vrou fronsend agterna toe sy die vertrek verlaat. Dan draai sy terug na Jacques.
“Wat het in jou gevaar?” roep sy omgekrap uit. “Hoe kan jy só teenoor jou eie moeder optree?”
Hy gaan by die venster staan. “My moeder is ’n liewe, gawe mens, maar ek kry die idee dat jy haar vol gif pomp. Jou wrewel teenoor Leia is ongegrond en ongevraag.”
Sy snak na haar asem. “Jacques!”
Hy kyk om na haar. “Hoekom so ontsteld, Beatrice? As jy met my wil kragte meet, sal jy moet kan verdra wat jou kant toe kom. Hier op La Liberté is ék die baas en niemand anders nie. Jy kan nie aan my voorskryf wat ek moet doen nie.”
Sy skud haar kop ongelowig. “Jy het voorwaar baie verander. Voorheen sou jy nooit daarvan gedroom het om my so te beledig nie.”
Hy glimlag sinies. “Voorheen het jy my nie uitgedaag nie.”
Sy aarsel. “Nou goed, as dit is hoe jy voel, sal ek nie meer so dikwels hierheen kom nie.” Haar stem klink onseker en bewerig. “Ek is jammer as ek jou kwaad gemaak het.”
Hy lag skielik. “Dis beter. Ek hou van onderdanige vroue. Mooi, vriendelike vroue.”
Beatrice bloos teen haar sin. Sy wou nie op hierdie manier kop gee nie, maar as dit hom gelukkig maak, is dit goed so.
Jacques voel tevrede. Die ongemaklike situasie is gered en sy gewone lewe is nie versteur deur wat vannag gebeur het nie. Nie Beatrice óf sy moeder sal ooit weet dat hy vanaand baie amper deur die wit slavin vermoor is nie.
Al waaroor hy wonder, is hoekom sy in daardie breukdeel van ’n sekonde van plan verander het. En hoekom het hy nie sy kop weggeruk nie? Was daar diep binne-in hom die wete dat sy dit nie werklik sou doen nie?
Teen die middel van Desember begin die eerste druiwepluk. Die trosse hang deurskynend aan die stingels. Op hul dun skille lê die skimmel soos ’n fyn poeier. Nie al die trosse is al gereed om gepluk te word nie, en oor twee weke sal die hele proses van voor af herhaal word. Soms moet die slawe tot drie keer die wingerde ingaan voordat die laat oes gepluk word. Dan eers is dit verby en is daar ’n blaaskansie voordat die wingerde vir die volgende jaar gereedgemaak moet word.
Terwyl die slawe in die wingerde werk, kom ’n man te perd by hulle verby. Hy hou sy