dop totdat hy die herehuis bereik en uit die saal klim. Dan gaan sy weer aan met pluk.
Die graaf ontvang die vreemdeling ietwat teësinnig. Daar is baie wat hy nog vandag op die landgoed gedoen moet kry en hierdie onderbreking kan hy nie eintlik bekostig nie.
“Bonjour, monsieur,” groet die man met sy hoed in sy hand. “Ek is Henri Gréville en ek is jammer dat ek u so ongenooid kom besoek.”
Die graaf verberg sy irritasie met moeite. “Wat is die doel van u besoek, monsieur?”
Gréville aarsel en sê dan: “Ek wil u wit slavin by u koop.”
De la Fontaine se oë vernou. “Om watter rede?”
“O, my redes is heeltemal edel, monsieur. U sien, ek is bereid om met haar te trou.”
Die graaf draai weg. Dit is een moontlikheid waaraan hy nog nie durf dink het nie. Die een of ander tyd sou iemand tog opgedaag het om hom om haar hand te kom vra. Met een van die slawe op die landgoed kan sy nie trou nie, en dus móés iemand soos hierdie monsieur Gréville opdaag. Leia se skoonheid is reeds wyd en syd bekend.
“En wat bied u vir haar aan, monsieur?” wil hy weet terwyl sy rug nog steeds na die man gedraai is.
“Sesduisend dukate.”
De la Fontaine frons. “Het u ’n huis waarheen u haar wil neem?” vra hy toe hy weer omdraai na die man.
“Ja, ek het ’n huis in die Wamakersvallei. Ek is egter nie dikwels daar nie omdat ek die meeste van die tyd in die wildernis is. U sien, ek is ’n grootwildjagter en maak my bestaan uit die verkoop van velle.”
“Ek is nie bereid om haar te verkoop nie.” Die graaf se stem is plat en sonder belangstelling.
Gréville frons onbegrypend. “Maar ek betaal ’n uitstekende prys, monsieur! Haar liggaamlike arbeid is tog nie vir u van soveel waarde nie?”
Die graaf se oë is koud. “Miskien nie, maar sy is blank en ek dra haar belange tog op die hart. In ’n saak soos hierdie sal ek haar moet vra of sy gewillig is.”
Gréville staar verbaas na die graaf. “Maar sy het tog nie werklik enige sê in die saak nie! Sy is ’n slavin en moet doen wat van haar verwag word!”
De la Fontaine se oë is soos stukkies ys. “Is dit hoe u die saak sien?”
“Natuurlik! Ek het hiernatoe gekom om vir my ’n onderdanige vrou te koop! Ek wil nie ’n herhaling van die vorige twee foute hê nie! ’n Man het die reg om een keer in sy lewe die regte ding te doen.”
“U was dus reeds twee keer getroud?”
Gréville grom vies. “En met onaangename gevolge, monsieur.”
“Wat laat jou dink dat jy met die wit slavin sal slaag?”
Hy haal sy skouers op. “Sy is gewoond aan gesag. Die slawe aanvaar dit omdat hulle dit so gewoond geraak het. Ek kon my goeie geluk nie glo toe ek van u slavin hoor nie. En dan is sy nog boonop besonder mooi.” Hy grinnik van oor tot oor, maar die glimlag verdwyn stadig toe hy die uitdrukking in die graaf se oë sien.
“Waarom wil jy hoegenaamd ’n vrou hê?” vra die graaf kil.
“Die nagte in die wildernis raak eensaam.” Gréville se gesig kry ’n jammerlike trek. “ ’n Man kan nie maande lank so alleen wees nie.”
De la Fontaine byt op sy tande. “Loop soek vir jou ’n ander vrou, Gréville. Die meisie is nie vir jou nie.”
Gréville se gesig verdonker. “Versmaai u sesduisend dukate?” vra hy ongelowig.
“Ja. Ek gaan nie aan jou verduidelik hoekom nie, omdat jy dit nie sal begryp nie.”
Gréville tel sy hoed ergerlik op. “Ek is nie iemand wat so maklik tou opgooi nie, monsieur!”
“Jy mors jou tyd.”
“Ons sal sien!” sê Gréville en stap by die vertrek uit. Dan draai hy om en sê: “Jy sal weer van my hoor!”
De la Fontaine kners op sy tande. Hy is nie bang vir Gréville se dreigemente nie, maar die man maak hom onrustig. Iemand soos Gréville kan enigiets probeer aanvang.
Die volgende dag word die baba van die swart slavin wat saam met Leia gekom het, gebore. In plaas van die vreugde wat ’n nuwe moeder gewoonlik voel, lê die jong vrou en huil. Hierdie kosbaarste van alle besittings het sy saam met haar uit haar land gebring net om hier dieselfde lot as sy moeder te beurt te val.
Leia probeer troos, maar sy weet dat haar woorde niks help nie. Die ou gravin het ’n paar doeke en kleertjies gestuur. Nou lê die baba styf toegedraai met net sy ronde swart gesiggie sigbaar.
Bako kyk by die deur in. “Dis ’n pragtige kind,” sê Leia. “Kom nader, Bako.”
Hy kom half skoorvoetend die hut binne en bly ’n lang ruk na die kind staar. Dan kyk hy na die snikkende moeder.
“Ndima sal regkom,” sê hy sag. “Sy het nou haar kind om voor te lewe.”
“Dit maak nie haar eensaamheid minder nie,” antwoord Leia fronsend.
Bako knik stadig. “Maar Silo sal bly wees dat dit ’n seun is. Hy wil Ndima vir hom vat. Hy is ’n goeie man, en as sy net eers van haar vaderland vergeet het, sal sy dit ook so sien.”
Leia verlaat die hut swyend. Sy wonder hoeveel keer Ndima in die stilte van die nag gelê en huil het. Sy het haar verlange en hartseer diep in haarself opgesluit.
Dis maar wat ons almal doen, dink Leia. Net mý verlange loop ver terug na ’n tyd wat ek nie eens geken het nie.
Sy gaan nie terug na die plukkery nie, maar kry sommer koers die veld in. Ndima se baba het haar hewig ontstel. Eendag sal sy self miskien trou, en haar kinders sal ook as slawe in die wêreld kom en as slawe sterf. Hulle sal nooit iets besit nie omdat hulle self besit word.
Haar gedagtes dwaal na haar hangertjie wat nog veilig in sy bêreplekkie is. Dit is nog haar eiendom omdat niemand daarvan weet nie … net die goeie monsieur Mendoza weet daarvan en hy het niemand nog vertel nie.
“Waarom is jy nie by die plukkery nie?”
Leia swaai verskrik om en sien Beatrice ’n paar treë van haar af staan. Haar hart voel swaar in haar binneste. Hierdie konfrontasie moes die een of ander tyd kom, maar noudat dit hier is, wil sy liewer op die vlug slaan. Sy draai ook om om weg te hardloop, maar Beatrice se stem skril deur die stilte.
“Bly staan as ek met jou praat!”
Leia gaan staan en draai versigtig om. “Wat is dit?”
“Waarom pluk jy nie druiwe nie?”
Leia sien hoe Beatrice die karwats aanhoudend teen haar been piets en sidder. As sy my slaan, sal ek nie verantwoordelik wees vir wat ek doen nie, dink sy.
“Ek het Ndima met die geboorte van haar kind gehelp.”
Beatrice verbleek ietwat by die gedagte aan só iets.
“Dis nog geen rede om sommer van die werk weg te bly nie.”
Opstand stoot in Leia op. “Jy doen nie juis moeite om ander mense se gevoelens te begryp nie,” sê sy geïrriteerd, maar is dadelik spyt dat sy so astrant was.
Beatrice kom stadig nader. “Ek sal nie toelaat dat enige slaaf só met my praat nie,” sis sy. “Allermins jy!” Sy slaan voordat Leia kan koes.
Net ’n oomblik lank is Leia onkant gevang, maar dan stoot die woede in haar op. Toe die tweede hou val, is sy by Beatrice. Sy gryp na die karwats en hulle verloor albei hul balans. Al stoeiende rol hulle oor die gras terwyl hulle na mekaar krap en slaan.
Beatrice se hart klop in haar keel. Die vroumens is baie sterker as wat sy gedink het, en vrees dam in haar op. Paniekbevange spartel sy om uit Leia se greep te kom en dan breek