toe belowe dat hy die kaart wat ek gekies het, sou laat verdwyn.
Ek het ’n kaart gekies en toe die oog weer drie kaarte op die skerm geflits het, was myne die een wat weg was!
Ek het dit ’n paar maal probeer en het die rekenaar taamlik bewerig afgeskakel. Allerhande dinge het deur my brein gegaan – as iemand só iets kan regkry, wat nog? En hoe doen hulle dit? Kyk hulle nou vanuit ’n rekenaar in my brein?
“Wat pla jou?” vra Jevon na ’n paar blokke.
Ek vertel hom van die kaartspel.
“O, dis maklik,” reken hy.
“Ja?”
“Hulle gee jou vier kaarte, jy kies een, dan gee hulle jou drie ander kaarte. Dis net logies dat jou kaart nie daar sal wees nie.”
“Wat bedoel jy?”
“Skryf al vier die kaarte neer wat hulle jou volgende keer gee. Byvoorbeeld, King of Hearts, Ace of Spades, Jack of Clubs en Tien van Diamante. Nou kies jy ’n kaart, sê maar die Jack. Nou verdwyn die kaarte en hulle gee kamstig die drie oorblywende kaarte, maar as jy dit neerskryf, sal jy sien dis drie heeltemal ander kaarte. Dit lyk amper dieselfde as jy vinnig kyk, maar die King Of Hearts, die Ace of Spades en die Tien van Diamante het ook verdwyn. Dis net ’n truuk.”
“Cheeeeee …” kerm ek, vernederd.
“Jy moenie ’n duiwel agter elke bos uitskop nie, Dirk,” lag Jevon.
“Watter duiwel?” vra ek droog. “Ek dog hy bestaan nie.”
Dit ruk Jevon onmiddellik weer terug in sy propaganda-rat en hy sê vinnig: “Dis reg, hy bestaan nie. Ek het al voorheen gesê die duiwel is iets wat deur die Christene geskep is. Hy is deur hulle geskep om hulle god goed te laat lyk. As jy hulle Bybel lees, sal jy nie die duiwel in die Ou Testament vind nie. In daardie stadium het die Jode geglo hulle god is goed én sleg. Dis eers later dat hulle besluit het dat hulle god net goed kan wees, en dat die bose dinge van iemand of iets anders moet kom. En voilà! Die duiwel is gebore.”
Die vierde beweging van Mozart se Simfonie no. 39 is in sy kar se CD-speler aan die gang. Ek’s nie heeltemal lus vir ernstige diskussies oor die duiwel nie, en probeer sarkasties die onderwerp verander deur na die musiek te verwys.
“Jy is besig om die stereotipe te verbreek.”
“O, ek het heavy metal, maar ek is nie nou in die bui daarvoor nie.”
Ons praat bietjie oor musiek, oor hoe heavy metal deur baie mense as sataniese musiek beskou word.
“Duiwelsmusiek,” lag ek. “Oeps, het vergeet, hy bestaan nie.”
“Dis bisar,” mymer Jevon.
“Wat?”
“Hoe groot iets wat nie bestaan nie, geword het. Die duiwel. God.”
“Dis snaaks dat jy dit sê. Net voor jy my opgelaai het, het ek ’n e-mail van ’n vriend ontvang, en ek quote vir jou: Die Switserse filosoof Denis de Rougemont reken die duiwel se grootste truuk is om ons te laat glo dat hy nie bestaan nie.”
“So, jy het ons ontmoeting met iemand bespreek?”
“Ja.”
“En hierdie vriend van jou, is hy ’n foendi?”
“Soort van. Hy was al in die malhuis.”
“Dan is hy gekwalifiseerd!”
Ons lag. “Maar wat dink jy van die filosoof se statement?” vra ek dan.
“Ek dink hy is waarskynlik ’n Christen, of dalk werk hy vir die Christelike kerk. Die Christelike kerk stuur ook propaganda die wêreld in, onthou.”
“Jy laat dinge baie complicated klink.”
“Jy weet dit is. Baie invloede het oor die jare ineengevloei om die duiwel te laat ontstaan. Kyk na die duiwel vandag – jy kry hom in die movies en in boeke en in allerhande dinge, daar is ’n hele industrie wat floreer as gevolg van die duiwel.”
“Jy sê daar is nie ’n duiwel nie. Maar waarom is die duiwel dan so ’n integrale deel van satanisme?”
“Wie sê so? Nie die ware sataniste nie, my vriend.”
“Wat van die bok se kop … die horings en rituele wat algemeen in die satanistiese praktyk is?”
“Ek moet weer beklemtoon – jy kry verskillende kultusse in elke geloof. Ek kan net van my eie groep praat.”
Ons stop by ’n hek. ’n Sekuriteitsman stap na Jevon se kant toe. Jevon gee vir hom ’n kaartjie. Die elektroniese hek gly oop en ons word ingelaat.
“Lifestyles of the rich and famous …” koggel ek. “Wie se partytjie is dit?”
“Die een of ander internet-tycoon s’n. Haai, jy kan hom van daardie kaartspel vertel!”
“Baie snaaks …”
Terwyl Jevon die kar parkeer, trek hy weer los: “Nog iets oor die duiwel, en ek belowe jou dit is my laaste woorde oor die onderwerp vanaand aan jou, is dat hy baie goed was vir die Christelike geloof. Dink daaroor. Sendelinge en Christen-dominees gebruik hom al vir eeue om mense mee bang te maak. En soos die tyd verbygegaan het, en die Christelike kerk gegroei het, is elke ander geloof op aarde al deur die Christelike kerk, wat bang was en steeds bang is dat hy sy mag sal verloor, as van die duiwel gebrandmerk. Ek hoef nie aan jou te vertel hoeveel mense deur die jare weens die Christene se gekheid gesterf het nie.”
Ons gaan by die enorme huis – dit lyk meer soos ’n vakansieoord of hotel – in. Klassieke musiek. Dit volg my teen ’n trap op. Van bo af kyk ek op ’n binnehof neer en op ’n byna volle simfonie-orkes. ’n Bewerige oupa swaai die stokkie en ’n dik vrou sing “Die vlinder”, een van my gunsteling-stukke, geskryf deur Ernesto Köhler.
Ja, daar is kunsbome met stringe gedraaide liggies om en ’n regte spuitfontein. ’n Lekker buzz. Baie mense. Party mooi, ander nie. Almal in duur klere.
Nie ek nie. Ek het my kakie-langbroek, ’n groen poliësterhemp en my lang, verweerde bruin leerbaadjie aan. Ek het darem vir die eerste keer in weke my swart leerskoene gepolish.
Omdat ek al jare ’n joernalis is, voel ek nie onwelkom nie. Ek meng met die mense, luister na die skinderstories en geniet die versnaperinge en die drank. Dit is mos gratis.
Jevon, sien ek, is ietwat van ’n kuriositeit. ’n Klompie mense drom om hom saam en hang aan sy lippe. Maar hy het nie heeltemal dieselfde impak hier as die ander aand by die klub nie. Ons twee is nie ’n Siamese tweeling nie, dus los ek hom met ’n oogknip om sy satanistiese sales-pitch te doen.
Ek bevind my op die boonste vloer waar ek my verlustig in stille observasie. Dan sien ek haar. Sy is besig om met die trap op te kom. Alleen. Sy is kleiner as wat ek gedink het sy is, dun in ’n swart minirokkie – dankie tog vir verwarmers! Sy lyk baie wit, maar nie broos nie. Sy kom aangestryk soos ’n model op ’n loopplank, en koppe draai. Ek voel my are klop en warm bloed laat my vel opgewonde kriewel. Ek sien haar donkerblou oë, maar sy sien my skynbaar nie. My bene is wyd geplant in ’n vertoning van arrogansie, maar dis nie hoe ek voel nie. Ek het al met leiers van lande, bekroonde akteurs en aktrises – en erger – gepraat. Ek weet hoe om koelkop te bly.
Buitendien, ek is reg langs die kroeg, so ek het hulp. En dis die kroeg waarheen sy mik.
“Is jy reg?” vra ek myself. “Hierdie is dalk jou enigste kans. Moenie dit verbrou nie.”
Ek kyk in haar gesig terwyl sy by my verbystap. Sy ignoreer my.
“Vodka met lime en lemonade,” bestel sy by die kroegman.
Ek draai my kop asof ek haar vir die eerste keer sien. Sy kyk nou na my. Ons oë vind mekaar. Sy kyk weer weg, na die kroegman wat haar drankie meng. Ek hou aan om na haar te kyk en praat eers toe sy haar drankie vat.
“Jy was saam met ’n vriendin