“Ek het nie geweet jy het al gepubliseer nie.”
“Ek het nie. Dis net vir my.”
“Kan ek dit lees?”
“Nee. Ek sal dit vir jou voordra.”
Die musiek eindig. Dis stil in die woonstel. Net ’n lampie in die een hoek wat lig maak. Maria lek oor haar lippe. Sy kyk na my met haar donkerblou oë. Dit lyk nou swart. Dan fluister sy haar gedig.
Uit die antieke tye, die volgende:
Seth was soms ’n slang
Soms ’n swart vark
Sy bols is uitgesny deur Horus
Seth het Horus se oog uitgepluk
En hom probeer verkrag
Daar is nie een beskrywing in die Bybel
Van hoe die man wat Jesus genoem is
Gelyk het nie
Paulus het die Woord versprei
Asof hy op kokaïen was
Sy energievlakke het nie ’n einde gehad nie
Satan word vir duisend jaar vasgeketting
En in ’n abyss gesmyt
Dan word hy vir ’n kort tydjie
Vrygelaat, en hy sal weer moeilikheid maak
Maar vuur uit die lug sal sy weermag vernietig
Hy sal dan self in ’n poel vuur gegooi word
Saam met die ander valse profete
Die dood en Hades ook in die vuur
Die duiwel word lewendig vir die
Gelowige of bang mense
In Islam is die duiwel ’n triviale,
Dom karaktertjie
Ook genoem Iblis of Shaytan
In die Koran word alles aan Allah toegeskryf
Selfs die onaangename, soos hongersnood
Ek staar steeds in haar oë, toe besef ek sy is klaar. “Jy maak nie grappies nie,” mompel ek. Wat anders kan ek sê?
“Jy hoor, ek en jy lees dieselfde soort boeke. Ons dink oor dieselfde soort dinge. Dis waarom ons so vinnig gekliek het.”
“Het ons gekliek?”
“Het ons nie?”
“In die Anderwêreld,” sê ek. “Waar kom jy aan die naam?”
“Ek het op ’n keer ’n boek gelees oor ’n doktor Konstantin Raudive van Letland wat eksperimente met opnames van stemme van die Anderwêreld – die doderyk – gedoen het. Dit het vir my dié treffende reël opgelewer: ‘In die Anderwêreld is dit nag, broers. Hier brand die voëls.’ ”
“Wat sou dit beteken?”
“Ek het al baie daaroor gedink, maar ek kan nie sê nie.”
“Dalk het doktor Raudive hom verbeel. Dis dalk soos daai ouens wat jare gelede plate agteruit gespeel het, dan ontdek hulle kamstig geheime boodskappe?”
“Nee, nee, ek glo in spoke,” fluister Maria dromerig.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.