Deon Meyer

Feniks


Скачать книгу

swem. Manne speel rugby. Dit gee jou knaters.’ Hy het nie gerook nie. Hy het gesê dit vat jou asem weg. Ek het begin rook. Hy het nie gelees nie, want die lewe is die enigste boek wat ’n mens nodig het. Lees is vir meisies. Ek het begin lees. Hy het op mense geskel. My ma, my suster. Ek het sag met hulle gepraat. Hy het ge-‘hotnot’ en ge-‘kaffer’. Ek het hulle almal `meneer’ genoem. En toe gaan staan hy en gaan dood.”

      Emosie druk van binne, in sy bors. Sy lyf het geskuif, onafhanklik, sodat sy elmboë op sy knieë is en sy kop tussen sy hande. Hy wonder hoe, wanneer hy só ...

      Hy wil haar skielik vertel van die dood. Die hunkering daarna sprei deur hom soos ’n koors. Hy kan dit proe, die verligting. Praat daaroor, Mat Joubert, en jy sal vry wees ...

      Hy beur orent en steek sy hand in sy sak. Hy haal die sigarette uit. Sy hande bewe. Hy steek een aan. Hy weet sy sal iets sê om die stilte te verbreek. Dit is haar werk.

      “Hoekom het jy dieselfde beroep as hy gevolg?”

      “Die speurders was apart van die uniforms by Goodwood. Daar was ’n luitenant Coombes. Hy het ’n hoed gedra, ’n swart hoed. En hy het sag gepraat. Met almal. En Mills uit ’n blikkie gerook. En altyd ’n onderbaadjie aangehad en hy het ’n Ford Fairlane gery. Almal het van Coombes geweet. Hy was ’n paar keer in die koerant, moorde wat hy opgelos het. Ons het langs die stasie gebly. Ek het op die stoep gesit en lees toe hy van die speurders se kantore in Voortrekkerweg omstap, seker om my pa te gaan sien. Hy het by die hekkie gaan stilstaan en na my gekyk. ‘Jy moet ’n speurder word,’ het hy gesê, uit die bloute. Ek het hom gevra hoekom. ‘Ons het slim mense nodig in die Mag.’ Toe loop hy. Hy het nooit weer met my gepraat nie. Ek weet nie eens wat van hom geword het nie.”

      Joubert druk die sigaret dood. Dit is halfgerook.

      “My pa het gesê geen kind van hom sal ooit vir die Mag werk nie. Coombes het gesê ek moet ’n speurder word. Hy was alles wat ek wou gehad het my pa moet wees.”

      Sê vir haar sy soek by die verkeerde plek. Dié spoor lei na nêrens. Dit is nie sy pa wat hom opgefok het nie. Dit is die dood. Die dood van Lara Joubert.

      “Geniet jy jou werk?”

      Nou raak jy warm, doktor.

      “Dit is ’n werk. Soms is dit lekker. Soms nie.”

      “Wanneer is dit lekker?”

      Wanneer die dood geklee is in waardigheid, doktor. Of wanneer dit heeltemal afwesig is.

      “Sukses is lekker.”

      “En wanneer is dit onaangenaam?”

      Dieng! Doktor het die jackpot geslaan. Maar sy gaan nie vandag ’n prys kry nie.

      “Wanneer hulle wegkom.”

      Besef sy dat hy skerm? Dat hy wegsteek, dat hy nou bang is om die sluise oop te maak, want hy het al vergeet hoe baie water opgedam het?

      “Hoe ontspan jy?”

      “Ek lees.” Sy wag. “Meestal wetenskapsfiksie.”

      “Is dit al?”

      “Ja.”

      “Jy bly alleen?”

      “Ja.”

      “Ek is nog nie lank hier nie,” sê sy en hy sien haar neus – lank en effens gepunt. Dit is asof die elemente van haar gesig nie saamhoort nie, maar dit vorm ’n skoonheid wat hom bekruip. Is dit haar tengerigheid ook? Hy hou daarvan om na haar te kyk. En dit gee hom genoegdoening om haar aantreklik te vind. Want sy weet dit nie. Dít is sy voorsprong. “En daar is nog baie dinge wat ek wil reël. Maar een ding wat al vorm aanneem, is ’n kuiergroep … as dit is wat jy dit kan noem. Van die mense wat my konsulteer …”

      “Nee dankie, doktor.”

      “Hoekom nie?”

      Dit kan nie te moeilik wees om ’n doktorsgraad in sielkunde te kry nie. Jy moet net weet hoe om alles in vrae te omskep. Veral vrae wat met “hoekom” begin.

      “Ek sien genoeg mal polisiemanne by die werk.”

      “Hulle is nie …” Dan glimlag sy, stadig. “Hulle is nie mal nie en hulle is nie almal mans nie en hulle is nie almal in die Polisie nie.”

      Hy reageer nie. Want hy het haar gesig gesien voor sy geglimlag het. Jý, doktor, is ook maar net ’n mens.

      “Ek sal jou laat weet van ons aktiwiteite. Dan kan jy besluit. Jy moet net saamkom as jy wil.”

      Vra haar of sy net saam met die groep “kuier”. En ’n deel van sy kop is in verwondering oor sy belangstelling. Meer as twee jaar lank het die lus hom net in vaag onthoude drome besoek, waarin hy met gesiglose vroue ongemaklike geslagsomgang gehad het. En die werklike, lewende vroue op sy pad was sedertdien niks meer nie as bronne van inligting sodat hy sy werk kan doen en kan huis toe gaan en gaan skuil tussen die blaaie van ’n boek.

      En nou het hy ’n … belangstelling in doktor Hanna. Wel, wel, wel, Mat Joubert. Die klein vroutjie met die skoonheid wat sluip, maak die man in jou wakker, die beskermingsdrang, die besittersdrang.

      “Ek sal daaroor dink.”

      Nege

      Hy ry op pad huis toe by die munisipale swembad langs. Die opsigter is ’n bruin man.

      “Meneer kan in die oggend kom swem, saam met die business club. Ek is al halfses hier in die somer.”

      “Die business club?”

      “Businessmen. Hulle het verlede jaar die Council gevra of hulle vroeg kan swem, voor werk. Werk seker te hard die res van die tyd. Toe sê die Council dis reg en gee die early birds ’n naam. Business club. From five thirty on weekdays, from six thirty on Saturdays, en die sewende dag is gemaak om te rus. Negentig rand ’n seisoen, September tot Mei. Meneer kan daar by die cashier betaal. Die lockers is twintig rand ekstra.”

      Hy gaan haal sy tjekboek uit die motor en betaal. Dan stap hy na die swembad. Hy staar na die blou water, onbewus van die jillende, plassende kindermassa. Hy kry die reuke, en onthou. Dan draai hy om. By die deur gooi hy die rooi pakkie Winstons in die asblik.

      Hy hou by die kafee stil. Die eienaar ken hom en haal solank Winstons van die rak af.

      “Nee,” sê Joubert. “Benson & Hedges. Special Mild.”

      By die huis is daar geen koevert onder die deur ingeskuif nie. Hy bak vir homself drie eiers. Die geel breek en loop oor die pan. Hy eet dit op roosterbrood. Dan gaan sit hy met die William Gibson in die sitkamer tot die boek klaar is.

      Voor hy gaan slaap, diep hy sy swembroek op uit die kas. Hy rol dit in ’n handdoek op en sit dit op die stoel by die deur.

      Hy het die afgelope paar jaar geleer om naweke te haat.

      Saterdae nie so erg nie, want dan kom Emily, sy Xhosa-huishulp, in en die geluide van die wasmasjien, skottelgoed en stofsuier verdryf die doodse stilte uit die huis.

      Om op diens te wees, help ook, want dit hou die verveling en doelloosheid van die naweek in toom.

      Wanneer die wekker om kwart oor ses afgaan, staan hy doelgerig op en besef nie eens dit is ’n mylpaal nie.

      Hy is die enigste lid van die sakeklub wat die Saterdagoggend benut. Die kleedkamer is stil en leeg en hy kan die groot swembad se pomp buite hoor. Hy trek sy Speedo aan en besef dit het te klein geword. Hy moet vanoggend nog ’n ander een gaan koop. Hy stap deur die voetbad na buite en die reuke en klanke maak herinneringe los, brokstukke uit sy jeug, en dit voel goed om terug te wees.

      Die water strek glad voor hom uit. Hy duik in en begin met vryslag. Dit verg net dertig meter om hom uit te put.

      ’n Ouer, meer ervare polisieman sou Hercules Jantjies by die stasie se voordeur uitgeboender het, bes moontlik met ’n stewige skop op die agterwêreld.

      Die probleem is dat bergies dikwels op