kan nie sê nie.”
“Dis reg,” sê inspekteur Jack Phatudi in Afrikaans. “’n Mens kan nie sê.”
Emma kyk verbaas na hom. “En hier sit ons en Engels praat, inspekteur,” sê sy.
Hy rol net sy skouers. “Ek praat ook sePedi, Tshivenda en isiZulu. Júlle het kom Engels praat.”
Emma plaas die foto’s op die tafel, sodat Phatudi daarna kan kyk.
“Kyk na die oë, inspekteur. En die vorm van die gesig. Vat hierdie foto en las twintig jaar by. Dis Jacobus … dis moontlik dat dit Jacobus is.”
Hy skud sy kop. “Watse woord is ‘moontlik’? Weet jy wat is my werk, mevrou? Ek moet ’n saak maak teen hierdie man.” Hy tik op die foto van die futlose Cobie de Villiers. “Ek moet hom kry en ek moet hom hof toe vat en my saak moet sê hy is skuldig bo redelike twyfel. Reasonable doubt. Daardie regters, hulle skree op jou. Hy sal skree as ek praat van ‘moontlik’. Verstaan jy dit?”
“Ek verstaan dit. Maar ek wil niemand hof toe vat nie.”
Hy raap sy foto op en plaas dit terug in die dossier.
“Is daar nog iets, mevrou?”
“Inspekteur, wat het gebeur met die mense wat dood is?”
Die frons verdiep. “Nee, mevrou, dit is sub judice. Ek kan nie vir jou sê nie.”
* * *
In die BMW bestudeer Emma haar kaart met groot konsentrasie. Ek rig die lugversorging se koue stroom op my voorkop. Die verligting is groot. Emma kyk op. “Kan ons by ’n vulstasie stilhou? Ek wil uitvind waar Mogale se rehabilitasiesentrum is.”
Ek trek weg. “Goed, mevrou,” eggo ek Phatudi se aanspreekvorm voor ek dit kan verhelp, en sy lag, verrassende, helder musieknote.
“Die inspekteur is ’n interessante man,” sê sy, en wanneer haar lag bedaar, voeg sy as ’n nagedagte by: “En jý ook.”
Ek en die speurder saam gekategoriseer ... Ek is nie seker of dit regverdig is nie, maar ek gaan nie daarop reageer nie.
“Daar – daar’s ’n Engen, kom ons vra daar …”
Ek sit die flikker aan en draai af.
10
Die sentrum lê onder teen die flank van Mariepskop, die berg met sy onheilspellende massa van rooibruin kranse is ’n streng gesagsfiguur wat oor die vlakte waak.
Mogale Rehabilitation Centre staan daar in groen sierletters, ’n kenteken met ’n roofvoël se kop daarop, ’n uitnodiging om in te kom. En ’n tydskedule:
Times of our rehab tours
Mondays to Saturdays:
* 1st Tour starts at 09h30
* 2nd Tour starts at 15h00
“Ons is net betyds,” sê Emma en klim uit om die hek oop te maak.
Ek ry deur. Anderkant die hek is nog ’n intruksie teen ’n paal. Wild Animals. Please remain in your vehicle. Emma klim weer in. Ná ’n kilometer sê sy: “Kyk,” en wys na ’n swerm aasvoëls wat by ’n karkas vergader. “Ek wonder of hulle die voëls hier voer?”
Die sentrum is uitgestrek – hokke en tuine en grasperke en ’n afdak vir motors. Visitors: Please park here. ’n Jong man in kakie en groen, klaarblyklik die uniform van die ganse Laeveld, wag ongeduldig by die hek. Ons klim uit.
“We’re about to start the tour,” sê hy, maar nie onvriendelik nie. Hy’s ’n kop langer as ek, breë skouers, atletiese selfvertroue. Emma se tipe.
Ons loop deur. Nog ’n grasdakstruktuur, ’n lesingsaal met houtbankies wat afdaal na ’n verhoog. Daar sit al mense, groot en klein, kameras om die nek, koeldrankblikkies in die hand. Teen die muur agter die verhoog is ’n veldtoneel geskilder: roofvoëls en aasvoëls in die lug, ’n luiperd, hiënas en wildsbokke in die lang gras tussen doringbome. Die jong man gaan staan in die middel van die verhoog. “Good morning, ladies and gentlemen, and welcome to the Mogale Rehabilitation Centre. My name is Donnie Branca, and I’ll be your guide this morning.”
Hy kyk na ons en hy sê: “Vultures.” Vir ’n ongemaklike oomblik dink ek hy praat van sy gehoor.
“They’re not cuddly, they’re not cute. As a matter of fact, we think of them as disgusting beasts – squabbling and squawking at a stinking carcass, fighting over decomposing meat. Carrion eaters with beady little eyes, scrawny necks and hooked beaks, often covered in blood and gore and guts up to their eyeballs. Pretty revolting. So most people don’t care much for vultures. Well, let me tell you, here at Mogale, we not only care for them – we love them. With a passion.”
Daar is iets aan die trant en toonhoogte van Donnie Branca se woorde wat vir my vaagweg bekend klink. Hy praat glad en gemaklik, geoefen en geolie, met oortuiging en geesdrif.
Hy sê aasvoëls is die grootwild van die geveerde wêreld, ’n onontbeerlike skakel tussen soogdiere en voëls in die breë spektrum van die natuur. Hulle is ekologies noodsaaklik, die skoonmakers van die veld wat verrottende karkasse van hoek tot kant verorber voor daar siektes kan uitbroei wat op en af teen die voedselketting onheil saai. Aasvoëls is deel van ’n balans, sê hy, ’n perfekte, delikate balans wat vir honderde duisende jare in Afrika die siklusse van lewe bepaal het.
“Until we humans disturbed the balance.”
Branca laat dit insink voor hy verder gaan: Die probleem met aasvoëls is dat nasionale en private wildparke se heinings hulle nie inhou nie. Baie van hulle patrolleer ’n gebied wat vier, vyf keer groter is as die Krugerwildtuin. En dit is waar die probleem begin. Hulle maak nes in berge en klowe, in bome en bosse waar hul voorvaders vir duisende jare al broei, maar die mens het dié gebiede oorgeneem. Daar’s die wanpersepsie dat aasvoëls boere se kleinvee en pluimvee vang. Daarom word hulle geskiet.
“And then there’s the belief amongst the local people that vultures have magic powers. They believe that vultures have supernatural eyes, which are not only able to find food over huge distances, but with which they can actually see tomorrow. In other words, see into the future. Since we started a national lottery in South Africa, witch doctors, or sangomas, as they prefer to be called, have been selling vulture heads to eager gamblers for a small fortune, because people believe it will be their lucky charm to see into the future, their talisman to predict the numbers.”
Langs my luister Emma met groot konsentrasie.
“The market for vulture parts has sky-rocketed in the past few years. And take a guess what a vulture head is now selling for. Five hundred rand? A thousand bucks? Let me tell you, up to ten thousand rand. But the sangomas buy the dead vultures from poachers for maybe two or three hundred rand a piece. And how do the poachers capture the vultures? They poison them. They set out a carcass laced with deadly poison and they kill a hundred or two hundred birds at once. But they are on foot and they can only carry off ten or twenty, so the others are just left there to rot.”
Die gehoor prewel hul misnoeë, maar Donnie Branca is nog lank nie klaar nie. Hy begin syfers aanhaal van verliese, elke spesie ’n geleerde rympie in Engels, Afrikaans en Latyn: Die manjifieke Bearded Vulture/lammergier/Gypaetus Barbatus wat in die verlede in die Lesothoberge gebroei het, is in daardie land heeltemal uitgewis. “Completely annihilated. Nothing left, not one, not a single bird.” Aan die Suid-Afrikaanse kant is net nege broeipare oor. “Nine, ladies and gentlemen. Nine.”
Ek besef waaraan die man my herinner. Daar was ’n lekeprediker in die tronk, ’n gewapende rower van die Kaapse Vlakte met die naam van Job Tieties wat saans, as wedergeborene, vir homself en ’n handjievol beamende broeders kerk gehou het, Bybel in die hand. Sy stem het deur die selle gedra met dieselfde dringende, evangelistiese stemtoon.
Die Cape Vulture/kransaasvoël/Gyps Coprotheres, eens so volop in Afrika, het heeltemal uitgesterf in Swaziland, is op die kritieke gevaarlys in Namibië