Скачать книгу

op. “Hy was ’n broad strokes guy. Hy’t net gesê hy was daar.”

      “Wat het hy nog gesê?”

      Dis Wolhuter wat ná ’n ongemaklike stilte probeer verduidelik. “Emma, ek weet nie hoe julle dinge in die Kaap doen nie, maar hier respekteer ons nog ’n man se reg om sy besigheid vir homself te hou. Of nie. Ek en Donnie is anders. Ons is praters. Partykeer word ek moeg vir my eie stories. Ek was my lewe lank ’n wildbewaarder by die Natalse Parkeraad en as jy vanaand om die vuur saam met my kom sit, dan sal ek vir jou stories vertel tot die son opkom. Donnie se mense kom uit Portugese Mosambiek uit en dis ’n interessante geskiedenis en Donnie vertel dit mooi. Maar Cobie … Hy’s anders. Hy sal daar sit, en as ek dierestories vertel, dan sal hy só aandagtig luister, dit maak my partykeer ongemaklik. En dan vra hy vrae daaroor, aanhoudend, amper ongeskik. Dis asof hy my wil leegtap, asof hy elke ding wil hoor, wil leer. En as ons oor ander goed begin praat, dan skakel hy af, dan staan hy op en hy loop. Want hy stel net nie belang nie. Dit het my lank gevat om daaraan gewoond te raak. Ons vertel almal stories oor onsself – die meeste van ons. Dis die manier hoe ons vir die wêreld sê wie ons is … of wie ons graag wil wees. Maar nie Cobie nie. Hy gee nie regtig om hoe mense hom sien, of nie sien nie. Hy leef in ’n enger wêreld ... eendimensioneel … en mense is nie deel van daardie dimensie nie.”

      “Cobie doesn’t like the concept of people …” sê Branca.

      Emma wag vir hom om te verduidelik.

      “He calls humanity the greatest plague the planet has ever known. Hy sê daar’s te veel mense, but that’s not the real problem. Hy sê as ’n man moet kies tussen … my Afrikaans los my patykeer … wat is wealth …?”

      “Rykdom,” sê Wolhuter.

      “Rykdom, as mense moet kies tussen rykdom en konservasie, dan wen rykdom altyd. We will always overexploit, we will never be cured.”

      “Dis hoekom ons so min weet van Cobie. Ek kan vir jou sê hy’t in Swaziland iewers grootgeword, ek dink sy pa was ’n boer, want hy het nou en dan van ’n plaas gepraat. Ek weet hy’t net matriek. En hy het by Stef Moller gewerk voor hy hiernatoe gekom het. Dis wat ek weet van sy geskiedenis.”

      “En daar was ’n girlfriend …” sê Branca.

      Dit laat Emma regop sit. “’n Girlfriend? Waar?”

      “Toe hy by Stef gewerk het. Hy’t net eendag iets gesê …”

      “Hoe kom ek by Stef Moller uit?”

      13

      Dit is stil in die kar as ons by Wolhuter en Branca wegry. Ek oordink die feit dat Emma le Roux net voor ons vertrek so seepglad en behendig gepraat het toe sy vir hulle vertel het van hul groot posisioneringsfout – geen hortende, onvoltooide sinne, geen gebrek aan ritme nie. Met daardie mooi musikaliteit van haar stem en die lig van kennis in haar oë het sy vir hulle gesê Donnie Branca se lesing aan die publiek is uitstekend, maar daar is een groot leemte. Sou hulle dit regstel, sal die donasies aansienlik kan toeneem.

      Sy het dadelik hul aandag gehad.

      En toe verduidelik sy vir hulle hoe branding werk, handelsmerkposisionering. Elke produk het een “posisie” in ’n klant se kop. Soos met motorfabrikate: Een besit die posisie van “veiligheid” – Volvo. Een besit “bestuursplesier” – BMW. Een besit “betroubaarheid” – Toyota. Maar geen handelsmerk kan meer as een posisie besit nie. Mense se manier van dink laat dit nie toe nie. En wanneer ’n handelsmerk dit probeer, dan misluk dit, sonder uitsondering.

      Vir Mogale, het sy met soveel kundige geesdrif gesê, geld dieselfde. Aasvoël-rehabilitasie is perfek. Dis oorspronklik, uniek, sterk, vars, aweregs – alles wat sterk posisionering vereis. Branca se lesing is die perfekte toonhoogte, dit vermaak, dit voed op, dis emosioneel, dit spreek sterk tot mense se harte. Tot hy die ander diere noem – die jagluiperds, wildekatte, luiperds en wildehonde. Dan word Mogale maar net nóg ’n handelsmerk wat alles vir almal probeer wees.

      “Julle het twee keuses. Gee die soogdierprogramme ’n ander handelsmerk, of los dit heeltemal uit in die lesing. Julle maak die potensiële donateur sag vir aasvoëls. Hy sit daar en hy dink klaar hoeveel hy gaan gee vir dié fantastiese saak … en dan vermenigvuldig julle sy keuses skielik, sonder rede, en hy weet nie meer waarvoor sy geld gebruik gaan word nie. As dit mý plek was, het ek die ander diere uitgeskuif, weg van die roofvoëls af, dit ’n ander sentrum met ’n ander naam gemaak, waar die lesing en die toer net op daardie spesie fokus.”

      Ek het, op pad uit, gedink dit is bevestiging van my vermoede dat sy oor die ander dinge, die aanval, Jacobus … “lieg” is seker nie die regte woord nie. Dit was my werk, vir amper twee dekades lank, om mense te lees vir bedreigende gedrag. En die beste rigtingwyser daarna is ’n verbreking van ritmes. Iemand wat uit pas is met ’n skare se vloei, mense wie se asemhaling, liggaamsbewegings of gesigspiertjies vreemde danse dans. En die ritmes van spraak – elkeen het sy eie, maar wanneer daar skielike en groot veranderings is, beteken dit spanning en stres, die boesemvriende van die leuen.

      Waarom en waaroor sy lieg, kan ek maar net spekuleer. Mense fabriseer vir soveel onverklaarbare, ingewikkelde of eenvoudige redes. Soms net omdat hulle kan. Maar Emma moet ’n motivering hê. Dis wat ek dink op pad uit. Die volgende item op die oordenkingslys sou die formulering van ’n nuwe Lemmer-wet gewees het oor dierefanatici, maar ek kom nooit daarby uit nie, want toe ons uitry by Mogale se hek, staan die silwer Opel Astra oorkant die pad en wag, blatant en opvallend.

      Swart man agter die stuur, wit passasier.

      Maar dit is die geweerloop wat die adrenalien aan die gang kry. Dit staan vertikaal voor die passasier, die loop sigbaar voor sy gesig, die vorm van die visier en blitsbreker identifiseer dit as ’n R4, of een van sy boeties.

      Emma is met haar padkaart besig. Sy sien dit nie. Ek sê niks.

      Die vuurwapen is die lyfwag se grootste enkele probleem, die ongewapende lyfwag se diepste vrees. Maar dit is nie my enigste bekommernis nie. Daar’s ook die moontlikheid dat ek verkeerd is oor Emma, oor haar bedreiging, oor haar interaksie met die waarheid. Dit sal moet wag.

      Ek draai in die teerpad in en ry. In die truspieël sien ek die Astra kom. Geen diskresie nie. Tweehonderd meter agter ons. Slegte teken.

      Ek versnel stadig, ek wil nog nie hê Emma moet weet nie.

      Die pad Klaserie toe is breed en reguit. Verby 130, die Astra raak vir ’n oomblik kleiner en dan vernou dit weer die gaping. Verby 150 en dit sit steeds daar.

      “Ons sal deur Nelspruit moet ry, Barberton toe, en dan die R38 vat,” sê Emma ingedagte. “Dit lyk na die kortste …” En dan kyk sy op en sê: “Ons is nie so haastig nie …”

      Ek haal my voet van die versneller af. Ek weet wat ek wil weet. Sy kyk na my. “Is jy O.K., Lemmer?”

      “Ek wou net sien wat die BMW kan doen.”

      Sy knik, goedgelowig, en begin die kaart opvou.

      “Wat dink jy van Wolhuter-hulle?”

      Selfs al was daar nie ’n gewapende bedreiging kort op ons hakke nie, sou dit nie nou my gunstelingonderwerp wees nie. Ek hou nie van Wolhuter-hulle nie. Daar’s ’n Lemmer-wet wat konstateer dat hy wat moet sê: “Ek is nie ’n rassis nie, maar …” júis een is. Daar’s die vaste wete dat Wolhuter en Branca nie vir haar alles vertel het wat hulle weet nie, en ek wil nie die een wees wat die nuus aan haar breek nie. Daar’s my beskeie mening dat die Mogale-rehabilitasiesentrum ’n ekologiese herrangskikking van die dekstoele op die Titanic is, soos die meeste groen inisiatiewe, maar nie een van dié dinge is nou baie belangrik nie.

      Ek sal die Astra-probleem moet oplos. Ek hou my stem egalig, lig wanneer ek sê: “Emma, ek gaan netnou iets moet doen en ek het twee goed van jou nodig.”

      “O?”

      “Die eerste is dat jy presies moet doen wat ek sê, sonder om te twyfel en sonder om vrae te vra. Verstaan jy dit?”

      Sy