Daar was dit: Mej. Annette Durandt. Soveel geluk darem. Sou sy nou al tuis wees vir middagete, of is sy een van dié wat toebroodjies werk toe vat? Dit was op daardie oomblik dat hy met ’n skok die ander bekende naam, laer af, gewaar het: Mnr. Jack Husselman. Lettie se man, wie anders? Dis ’n ongewone kombinasie van naam en van. Hy was oombliklik hoogs ontsteld. Jack is hier rond, op die loer, en nie een van hulle het dit eers geweet nie. Dus probeer hy na soveel jaar weer nader sluip, skelmpies. Waarom kom hy nie openlik na Die Drie nie? Hy is natuurlik doodbang vir Liefie, en tereg ook. Hier is ’n saak vir Liefie se aandag, het Laurie haastig besluit. En selfs nie die gedagte aan Annette Durandt wou hom die risiko laat loop om in Jack vas te loop nie.
Met die goedkoop pen dus veilig in sy hempsak, het hy die aftog geblaas. Na Liefie toe. Sy sal die beste raad weet. Hy maak vir hom soms ’n abstrakte voorstelling van haar waar sy met ’n paar toutjies in die hand op die oewer van ’n woelige meer staan. Aan elke toutjie is ’n dobberende bootjie vas, en dié manipuleer sy met oorleg en fyn kundigheid. Word die een te ver weggevoer, bring sy dit saggies terug terwyl sy aan ’n ander terselfdertyd ’n bietjie meer speling gee. Hy, Sjimmie en Lettie. Een van die dae seker Berdine ook. Sy bereik mos nou die “moeilike jare”. Tot dusver was sy op geen manier veeleisend nie, behalwe as sy dit baie goed wegsteek.
Liefie het klaar gelees, en hou haar blind vir die smekende blikke van Berdine se kant af. Berdine is baie erg oor Sjimmie. Miskien omdat hy die warmste, menslikste van hulle almal is, en haar soos ’n volwassene behandel. Liefie is die bekwaamste, mees pligsgetroue, standvastigste. Lettie is die kwesbaarste. Hy, Laurie, die bedorwe brokkie en daarom seker die selfsugtigste. Hy is eerlik genoeg om te erken dat hy bekonkeld raak sodra iets nie na sy sin geskied nie.
Op die oomblik koester hy ’n onredelike wrewel jeens Lettie, omdat dit indirek sy is wat ’n ontmoeting met Annette Durandt verhinder het. Al weet sy seker van g’n sout of water of Jack Husselman wat in die dorp is nie. Hy soek ’n skyf vir sy wrewel, en durf niks met Liefie waag nie. Sy sal hom gou genoeg soos ’n gogga vaspen. Dus gehoorsaam hy toe sy die taak aan hom opdra om vir Lettie kos kamer toe te neem. Dan kan hy vir Lettie met haar ipekonders bietjie onder hande neem.
Getrou aan sy aard om nooit te inskiklik te wees nie, protesteer hy egter eers ietwat. “Hoekom vat jy dit nie maar gou self in nie, Liefie? ’n Neurotiese vrou op die hitte van die middag is ’n man se moses.”
Liefie berispe hom met haar oë en beduie na Berdine, aan wie sy uiteindelik Sjimmie se brief gegee het. Die meisie het haar egter totaal afgesluit van die geselskap en lê behoorlik op die gekrabbelde lyne.
“Ek het gedink sy kry dalk lus om saam met ons te kom eet as sy ons so gesellig hoor verkeer,” sê Liefie.
“Gesellig? Met julle vroumense wat Sjim se brief lees of julle lewens daarvan afhang?”
“Moenie jaloers wees nie, Lau,” sê Liefie streng. “Sibling rivalry op jou ouderdom, a nee a. Vat, hier’s Lettie se kos.”
Hy gehoorsaam kastig traag, vat die bord na Lettie se kamer en smyt die deur onseremonieel wyd oop na ’n ligte tikkloppie.
“Dit was onnodig,” frons Lettie waar sy roerloos op haar bed lê. Haar gordyne is dig toegetrek.
“Tussen ons gesê, ek dink self jy kon in die eetkamer gaan eet het.”
“Ek praat van die deur se oopsmyt. Jy’s alte geneig om die deure te boelie; motordeure inkluis.”
“Aangesien ’n mens nie susters met hoofpyne mag boelie nie. Dè, vat, ek moet al amper weer ry.”
“Ek het vir Liefie gesê ek wil niks eet nie.”
“Niemand stel belang in jou slanke figuurtjie nie. Ek dink dis juis die moeilikheid. Jy kort ’n bewonderaar.” Hy sit die skinkbord op die bedtafeltjie neer. Hy kry haar opeens bitter jammer, maar maak hom wys skoktaktiek is beter as sagte handjies.
“Vat terug, man. Ek sê jou ek wil nie eet nie. En maak toe die deur. Die lig skyn in my oë.”
“Jammer, lief sussie. Ek sal jou meer sielkundig benader. Skuif op, dan sit ek langs jou en vertel jou ’n verhaaltjie oor waar die eerste molle vandaan kom. Daar was eenkeer ’n mooi donker vroutjie wat …”
Sy probeer hom wegstoot, maar hy sit soos ’n rots.
“Hartlik bedank, dokter Kwak, vir jou sielkunde; maar dit doen ewe min aan my as jou teenwoordigheid, om nie te sê jou bakkies nie.”
Die onverdraagsaamheid in haar stem skok hom tot erns en nadenke. Hy staan op en kyk op haar af. “Daar was ’n tyd,” sê hy, “lank gelede, toe jy soos ’n fontein geborrel het.” Dan, na ’n rukkie: “Hallo, ek is jou kleinboetie, en jy vrek oor my, onthou jy nie?”
Sonder waarskuwing begin sy huil en druk haar hande voor haar oë.
“Waarom skei jy nie die vent nie?” Hy voel hoe sy drif opnuut oplaai. Hy trek ’n snesie uit die boks en druk dit tussen haar vingers in.
“Hy’t nog nooit daarom gevra nie,” sê sy tussen snikke deur.
“Liewe genade, jy kan hóm mos dagvaar. Sê liewer dat vroumense nie graag afsien van ruwe, buffelagtige mans nie.”
“Loop,” huil sy en sit nou regop. “Wat weet jy, wat wéét jy?”
“Ek dag jou kop is te seer om regop te kom.”
“Loop!”
“Goed, ek loop. En ek is seker jou kop is tien keer beter na die bietjie aksie.”
Toe hy wel loop met die bord versmaaide kos waaronder die geurige skaapboudskyfies en gebraaide aartappels, is dit met ’n reeds knaende skuldgevoel oor sy ruwe optrede, en andersyds met ’n vae vrees: Lettie weet. Van Jack. Of weet sy nie? Berdine? Om die een of ander rede het die kind netnou yslik geskrik toe hy na haar beste maat uitvra, ofskoon hy nie ’n verband kan sien nie.
Hy hoop Liefie kry vir Jack uitgerysmier voordat hy nuwe skade kan aanrig. Terug in die eetkamer, kom hy agter dat Liefie en Berdine in sy afwesigheid Sjimmie se brief bespreek het. Daar is borrels in die lug.
“Enigiets wat ek behoort te weet?” vra hy nydig omdat hy uitgesluit voel.
“Ja,” sê Liefie. “Jy was reg, ek sal volgende keer self Lettie se kos inneem wanneer jy in ’n slegte bui is. Moes julle nou op mekaar skreeu? Magtie, word groot.”
“Wat skryf Sjimmie?” gee hy mompelend oor.
“Hy kom huis toe.”
“Wat? Kuier?” wil hy ongelowig weet.
“Oom Sjimmie kom vir goed huis toe,” werp Berdine in.
“Dit wil ek eers sien,” weerlê hy. Eenkeer ’n swerwer, altyd ’n swerwer.
“Sjimmie is seker oud genoeg om te weet wat hy praat,” wys Liefie hom koel tereg. Laurie voel aan dat sy besig is om hom terug te betaal vir sy opstootjie met Lettie.
“Of sou hy nuwe wonde hê wat hy kom lek?” wonder hy onderlangs.
“Jy weet, Laurie, ek het ’n klein draak grootgemaak in jou.”
“Dankie. Verder het jy nog ’n siek kalfie grootgemaak en ’n vlieënde kraai.”
“Dalk betaal dit my om ’n dieretuin met julle op te sit as ons weer voltallig is.”
“Dan vra jy toegangsgeld en sluit die stalletjie. Joos kan ons daagliks voer; vrot tamaties en ‘Liefie Specials’ besmet met salmonella.”
“Jy sal enige strooi praat net om die laaste sê te hê. Ek stel voor dat jy jou ry kry. Dis tien voor twee.”
“Toe maar, ek is op pad. Ek wens jy wil die hoofete liewer in die aand maak, Liefie. Dis heerlik, maar … dis een groot gejaag.”
“Ek wil nie heel namiddag voor die stoof staan nie. As ek ook nie kyk of Berdine se skoolwerk gedoen is en al die bedelbriefies beantwoord