Louisa du Toit

Liefie


Скачать книгу

sy hempsak, “is kosbaarder as duisend van sy soort. Daarom dra ek dit teen my hart. Dit behoort aan ’n beeldskone jong meisie wat dit by my op die toonbank vergeet het. Aspris, natuurlik.”

      “Hoogs onwaarskynlik,” verklaar Liefie onbewoë. “ ’n Duur goue pen miskien nog, maar ek kan my geen swakker alibi vir ’n kennismaking voorstel as daai gemorsie nie.”

      Die waarheid van Liefie se woorde tref hom die eerste keer. Die meisie sal hom sowaar agter sy rug uitlag. Hy moet liewer daarsonder gaan as hy haar opsoek. Hy kry ’n blink idee, maar kyk eers oor sy skouer. Berdine is weg kamer toe, waarskynlik om dele van Sjim se brief uit die kop te leer.

      “Wanneer gaan jy vir Jack spreek?” vra hy gedemp vir Liefie.

      “Vanmiddag nog, natuurlik. Tref die weerlig voor hy jou tref.”

      Hy trek die pen saggies uit sy hempsak, vou dit ’n oomblik in sy hande toe en oorhandig dit dan aan haar. “Bewaar die knikkertjie. Jack is in die Nellita. Seker nie genoeg geld vir die hotel nie. En sy is ook daar. Annette Durandt.”

      “Dan sal ek na vyf eers moet gaan. Sy werk tog seker? En dis te laat vir my.”

      “Asseblief, Liefie. Ter wille van my?” Nou smeek hy, want hy weet sy vind hom dan onweerstaanbaar. “Gee haar die pen en kyk haar deur, sal jy?”

      “Asof jy jou aan my opinie sal steur.”

      “Ons doen dit tog, ons almal, al lyk dit nie altyd so nie. Dis vir my so belangrik om te weet wat jy dink.”

      “Dankie vir ’n heuningstropie na al jou buierigheid. Ek sal dit doen, hoewel ek nie juis groot dinge sien nie. Jy is te sentimenteel oor haar om ernstig te wees.”

      “Dis dalk net daar waar jou klein draak jou gaan verras,” sê hy opeens half ernstig.

      Sy draai betyds weg sodat die onrus en besorgdheid in haar oë net ’n vermoede is.

      2

      Liefie maak haar met sorg gereed vir die dubbele besoek wat sy haar op die hals gehaal het. Toe sy uit die bad kom, gaan sy eers in haar ligte kamerjas na Lettie toe. Lettie moet haar liewer nie sien as sy klaar aangetrek is nie. Netnou snap sy waarheen haar suster op pad is en kry lus om ook saam te gaan; wat onder normale omstandighede hoogs onwaar­skynlik is, maar ’n mens weet nooit hoeveel Lettie dalk oor Jack weet nie.

      Tot haar verbasing lê Lettie en lees. Berdine lê ook met ’n tydskrif by die voetenent van die enkelbed. “Is die kop soveel beter, Let?” vra Liefie versigtig.

      “Ek sal nie juis so sê nie.” Lettie klink bra onwillig om beterskap te erken. “Maar Laurie het my so de vieste in gemaak vanmiddag dat ek moet lees om my te kalmeer.”

      “Lê dan maar gerus nog,” praat Liefie die ontstemdheid dood. “Ek sal ’n rukkie uit die huis wees, maar is oor bietjie meer as ’n uur terug. Ons eet vanaand sommer brood met die oorskietboud. Moet ek nie die waaier vir jou bring nie?”

      “Nee dankie, die geluid werk op my senuwees.”

      “Ons sal een moet kry wat stiller werk,” besluit Liefie inskiklik.

      Voordat sy uitstap, werp sy nog een blik op moeder en dogter. Ten spyte van Jack se dreigende nabyheid, voel sy tog ’n warm dankbaarheid dat hulle so gemaklik by haar in die huis teenwoordig is. Vyf jaar reeds. Voor dit was hulle vir kort tydjies hier, tot so lank as drie maande eenkeer, sodat Berdine die skool hier moes bywoon.

      Tot Jack hulle dan ewe vriendelik en kruiperig kom terughaal, of Lettie uit haar eie besluit dat Jack se oortreding nie so erg was nie, dat sy net te fyngevoelig is. Toe bel Lettie een aand, huilerig terwyl sy hunkerend vra hoe dit op Die Drie gaan en wat hulle van Sjimmie hoor.

      “Iewers is daar weer groot fout,” het Liefie vir Laurie gesê na afloop van die gesprek. “Ek is seker Jack is seker weer oorhoeks gesuip en dreig hulle met allerlei moorddadighede.”

      “As hy liewer tot die daad wou oorgaan,” het Laurie sy mening gelug. “Dan kon Lettie ’n interdik teen hom kry. Nou bly dit ’n gedurige gedreig.”

      Dit was inderdaad so dat Jack, wanneer hy smoordronk was, ’n duiwelse behae daarin geskep het om Lettie en die kind te dreig. Om ’n peits of rewolwer langs hom neer te sit en hulle dan vir hoe lank na sy pype te laat dans. Een aand het hy Lettie ure laat wakker sit, spelend met ’n dosie vuurhoutjies in sy hand. Sy was te bang om in te sluimer … sê nou hy steek die huis aan die brand? En wat kon Lettie doen? ’n Onskuldige Jack sou net aan ’n polisieman kon sê: “Die wat, die vuurhoutjies? Sy het daarmee ’n probleem? Wat is ’n roker sonder sy vuurhoutjies?”

      Dis alles dinge wat Liefie stuk-stuk uit ’n onwillige Lettie moes trek wanneer sy op Die Drie “gekuier” het. Tot Liefie daardie aand, na Lettie se tranerige oproep, haar tassie gepak en dwarsdeur die nag gery het. Laurie moes maar dingetjies tuis regvat.

      Liefie was reg in haar aanvoeling: Jack was die vorige aand saam met “vriende” en was erg toe hy tuiskom. Hy het die kombuistafel omgekeer en vir Lettie gedwing om binne-in te sit totdat hy self deur sy roes oorval is.

      Toe Liefie teen voordag daar aankom, was dit om deur ’n moeë en verkreukelde Lettie binnegelaat te word. Jack het langs die omgekeerde tafel op die vloer lê en snork. Daar was ’n kussing onder sy kop en ’n ligte bokhaarkombers oor hom.

      “Anders kry hy koud,” het Lettie gesê.

      “Die vuilgoed kan verkluim wat my betref. Het jy al vannag geslaap, Let?”

      “Ek het sommer by Berdine ingekruip. Maar snaaks genoeg, ek het jou motor se dreuning herken en jou voetstappe buite.”

      “Waar is die tasse?” het Liefie gefluistervra toe hulle in Lettie se kamer kom waar die dubbelbed geen kreukel vertoon nie.

      Wesenloos het Lettie haar help inpak en die slapende Ber­dine gewek. Deur dit alles heen het Jack sy slaap geslaap.

      “Ek … ek wil darem ’n briefie vir hom los, net om te sê wanneer ons terugkom,” het Lettie gestamel voordat hulle gaan.

      “Skryf vir hom dat julle vir goed weggaan.” Liefie het ’n pen en notaboekie uit haar handsak gepluk.

      “Maar …”

      “Skryf so.”

      “As hy nugter is, is hy anders, Liefie. Regtig.”

      “Dit lyk vir my jy is aan vernedering reeds so gewoond soos ’n vark aan modder. Kom, ek sê julle gaan vir goed huis toe.”

      Sy het self van Die Drie af ’n kort brief aan Jack geskryf om te sê dat sy Lettie en Berdine vir altyd kom wegvat het, en dat sy hom nie sal aanraai om dit ooit weer naby hulle te waag nie. Van tyd tot tyd, tentatief, het sy die saak van egskeiding by Lettie aangeroer; om steeds afgewys te word met prewelinge van “te veel moeite” … “koste” … “later” … “sal maar sien”.

      Tog het Lettie en Berdine mettertyd weer heg aan Die Drie se huishouding begin behoort. Dis slegs met vlae dat die ou melankolie weer op Lettie toesak, soos tydens die laaste paar dae. Sou Lettie weet? Maar hoe? Sy, Liefie, is dikwels by die hoenderhok, groentebeddings, stalletjie. Sy kan nie die telefoon voltyds oppas nie. Ook nie die pos nie, Berdine haal dit soms uit.

      Lettie was selfs lank laas winkels toe, dalk bang vir die kleindorpse praatjies. As kontak nie intussen deur Berdine geskied het nie … Die meisiekind was vanmiddag hewig ontsteld oor ’n onbenullige aanmerking van Laurie.

      Liefie sug en staan voor haar klerekas. Die salmpienk rok. Haar hare is op vyf en veertig nog bruin, sonder die beduidenis van ’n grys haar. Sy laat dit gereeld versorg en laat ook nooit die basiese grimering na nie; al is dit net vog­room, wangblosser en lipstif. Sy gaan nooit slaap voordat haar vel deeglik gereinig en verfris is nie, bekerm altyd haar vel teen son, kom nooit soggens uit die kamer sonder dat sy ten volle geklee is nie, en kontroleer haar gewig twee keer per week.

      Toe haar ma enkele jare na haar pa oorlede is, het sy bewustelik