ANNELIZE MORGAN
Slavin van La Liberté
Jasmyn
1
Dit gebeur so skielik en onverwags dat daar nie kans is om weg te kom nie. Daar is ook geen wegkomplek nie. Aan die een kant is die rivier, en aan die ander kant die bosse waar die mans hul verskyning gemaak het.
Die besef dat hulle vasgekeer is, ruk deur Leia. Sy onthou die waarskuwings en die vrese van die ander, maar dis nou te laat om daaraan te dink. As sy en Teka hulleself nog wil red, sal hulle baie gou moet optree.
Leia gooi die kleipot neer en dit spat aan skerwe op ’n klip.
“Kom,” sê sy aan Teka, wat versteen na die naderende mans staar. “Ons moet hardloop!”
Dit ruk Teka tot die werklikheid terug. Sonder om ’n oomblik langer te aarsel, draai sy om en volg Leia, wat al met die riete teen die rivier langs hardloop.
Agter hulle skreeu die mans opgewonde, ’n paar lag en ander vloek.
Nie Leia of Teka kan verstaan wat hulle praat nie. Al wat hulle weet, is dat, as hulle in hierdie mans se hande val, dit die einde van hul vryheid beteken. Hulle sal hul land nooit weer sien nie. Niemand wat nog gevang en weggeneem is, het ooit teruggekeer nie.
Leia hardloop met die grasie van ’n luiperd. Dit lyk asof haar voete skaars grond raak, en agter haar moet Teka uithaal om by te bly. Haar asem brand al in haar keel, maar sy ignoreer dit. Dis vrees wat haar voete vlerke gee en haar soos ’n verskrikte wildsbokkie laat nael.
Skielik bereik hulle ’n skerp draai na regs in die rivier. Leia aarsel net ’n oomblik voordat sy in die donker water duik. Teka volg haar blindelings.
Op die wal van die rivier kom die mans hygend een vir een tot stilstand. Hulle staar na die twee meisies wat met kragtige hale na die oorkant swem. Die leier vloek hard en pluk sy hoed van sy kop af.
“Kry hulle!” skreeu hy hees.
’n Paar van die mans skop hul skoene uit en plons in die water. Die res aarsel steeds. Almal van hulle kan nie swem nie, en dis duidelik dat die rivier diep is.
Teka en Leia moet gedurig teen die stroom baklei. Dit dreig om hulle see toe mee te sleur. Teen hierdie tyd is Teka al uitgeput van die hardloop en neem haar kragte vinnig af.
“Ek kan nie meer nie!” snik sy en sluk groot mondevol van die rivierwater.
Leia steek haar hand uit en kry haar maat s’n beet.
“Kom, dis nog net ’n klein entjie.”
Teka loer oor haar skouer en sluk hard.
“Hulle swem te stadig … hulle sal ons nie kan inhaal nie.”
Op die wal van die rivier staan die leier van die groep wit mans met geklemde kake en kyk hoe die afstand tussen die twee meisies en sy manne ál groter rek. Hy wil nie hierdie vonds deur sy vingers laat glip nie, en dit vervul hom met magtelose woede om te sien hoe dit stadig maar seker gebeur.
Leia trek Teka teen die oorkantste wal uit. Teka kan skaars op haar voete staan. In die middel van die rivier spartel ’n vyftal mans nog om hulle te bereik.
Die twee meisies rus net ’n paar sekondes en dan glip hulle die bosse in. Hulle vorder nou stadiger omdat albei moeg is, maar hulle gaan nie vir ’n oomblik rus nie. Leia wil probeer om die grotte te bereik. Daar, weet sy, sal hulle veilig wees.
Die mans het intussen uit die water gekom en strompel ook die bosse in. Hulle weet wat op hulle wag as hulle die twee meisies nie kry nie. Dis lank laas dat hulle so ’n vonds kon raakloop.
Dis ook nie moeilik om die pad te volg wat die twee meisies geneem het nie. Hulle was te moeg om hul spore uit te wis en baie ver sal hulle ook nie meer kan hardloop nie. Dit gee die mans moed, en vir die oomblik vergeet hulle hul eie vermoeienis en stryk al op Leia en Teka se spoor aan.
Vir Leia is dit asof die grotte ál verder en verder van hulle af wyk. Sy het nooit besef dat dit so ’n lang pad soontoe is nie. Voorheen was dit net ’n lekker ent se stap, maar met die tyd wat nou teen hulle tel, besef sy dat hulle dit nie betyds gaan haal nie. Sy steek vas.
“Ons sal ’n ander plan moet maak,” sê sy vir Teka, wat uitgeput teen ’n skurwe boomstam leun.
“Ons moet elkeen ons eie koers kies,” fluister Teka. “As ons bymekaar bly, sal hulle ons albei vang.”
Leia aarsel. Sy weet dat Teka gelyk het, maar sy weet ook dat die meisie nie meer lank voor die mans kan bly nie.
“Ons vlug saam,” sê sy eindelik.
Teka skud haar kop.
“Dit sal dom wees.” Sy lig haar kop en hulle luister. Die geluid van naderende voetstappe klink in die stilte op. “Hulle kom hierheen!” fluister Teka dringend. “Toe, hardloop jy daardie kant toe. Ek sal kyk of ek hulle aan hierdie kant kan afskud.”
Leia knik en glip tussen die bosse in. Teka sal haar nie sommer maklik laat vang nie. Hier in die ruigtes het hulle nog ’n kans om hulle agtervolgers af te skud.
Die bosse word skielik yler, en plotseling is daar ’n grasvlakte voor Leia. Sy steek vas. Hierdie deel van die omgewing ken sy baie swak. Sy weet egter dat, as sy terugdraai, sy haar in haar agtervolgers gaan vasloop. Die gras is hoog, en as sy gou maak, kan sy daarin verdwyn voordat hulle haar sien.
Die grassade sny haar gesig en arms toe sy daardeur begin draf. Met haar oë half toe om hulle te beskerm, hardloop sy na waar die oorkantste plaat bome begin.
Op die rand van die grasvlakte steek die twee mans vas. Net aan die beweging van die grassade kan hulle Leia se pad bepaal. Met ’n lelike grinnik spring die eerste man weg met sy maat kort op sy hakke. Noudat hulle prooi binne hul bereik is, is hul eie vermoeienis vergete.
Leia se knieë begin onder haar knak. Die bome lyk nog ver en onbereikbaar. Die bloed suis in haar ore en sy het haar onderlip stukkend gebyt. Haar arms en bene brand waar die gras haar sny, maar sy gooi nie tou op nie. Sy hardloop uit vrees vir die onbekende lot wat haar te beurt sal val as sy deur die mans gevang word. As sy hulle nie kan ontsnap nie, sal sy hierdie blou berge en helder riviere nooit weer sien nie.
Sy struikel, en paniek druk haar keel toe as sy die mans hier agter haar deur die gras hoor aankom. Dan kom sy orent en hardloop verder, om net weer te val. Met ’n snik besef sy dat sy nie meer kan wegkom nie, dat sy soos so baie voor haar gevang en weggeneem gaan word.
Die mans kom op haar af waar sy ’n laaste poging aanwend om op te staan en weg te kom. Sy bly gehurk sit met ’n vlymskerp mes in haar hande. Haar bors deins op en neer van die hardloop, en haar helderblou oë bly agterdogtig op hulle gerig.
Hulle steek vas. Hulle moet haar ongedeerd na die kaptein terugneem, maar hoe doen ’n mens dit as sy met ’n mes in haar hand staan? Versigtig kring hulle om haar. Sy is egter op haar hoede soos ’n roofdier wat vasgekeer is.
Die een ril. Hy is daaraan gewoond om hierdie houding by die swart mense te sien, maar dis vreemd en ontstellend by ’n wit meisie. Sy is ’n beeldskone, wit barbaar, dink hy. Hoe op aarde het sy hier beland?
Leia beweeg so vinnig dat sy die twee mans heeltemal onverhoeds betrap. Die mes sink weg in die een man se maag en hy brul van pyn. Dan draai sy om en wag die ander in.
Hy kyk vol afgryse na sy maat wat sterwend tussen die gras inrol. Hy kners op sy tande. Beeldskoon ofte nie, jou tierwyfie, hiervoor gaan jy boet! Hy buk vinnig om ’n handvol sand op te tel en sien hoe sy hom geruisloos bespring. Dan duik hy blitssnel eenkant toe en die mes gly skadeloos by hom verby.
Toe Leia weer in sy rigting draai, skiet hy die sand in haar oë en met een haal bereik hy haar. Sy vingers sluit soos staal om haar pols. Sy byt op haar tande, maar stadig dwing hy haar vingers oop en die mes val op die grond.
Hy kyk af na sy maat wat stil in ’n plas bloed lê, en sy gesig verhard.
“Ek is jammer, ou maat,” sê hy hees en stamp Leia voor hom uit. Daar is niks wat hy meer vir sy makker