het nie die reg om my hier weg te neem nie, dink sy swyend. Hierdie is my tuiste, en ek is lief vir die mense, al lyk ek nie soos hulle nie.
Twee keer probeer sy weer ontsnap, maar die man hou haar baie fyn dop. By die rivier word hulle deur die ander ingewag.
Teka staan kop onderstebo tussen twee groot mans. Sy kyk op toe Leia aankom, en in haar swart oë is daar ’n koue woede. Die twee meisies staar net ’n sekonde lank na mekaar en elkeen weet dat alles verby is. Hul beurt het gekom.
Die leier van die groep mans se grynslag laat Leia sidder. Sy het hierdie mans nog slegs op ’n afstand agter ’n skuiling dopgehou en dan ook net uit nuuskierigheid. Noudat sy hulle van aangesig tot aangesig sien, is dit vir haar ’n skok. Hulle is wreed, gewetenloos en ru. Hul taal is vir haar onverstaanbaar, maar dis nie baie moeilik om af te lei wat daar van haar en Teka verwag word nie.
Hulle begin fluks aanstap in die rigting van die see. Leia en Teka word elkeen deur twee mans bewaak. Die res van die geselskap volg, en die twee meisies kan hoor hoe die klomp opgewonde praat.
Leia volg haar eie skaduwee. Agter hulle is die son stadig besig om water te trek, om die stat waar sy grootgeword het in skaduwees te hul. Vanaand sal dié wat nog om die vure sit, vergeefs op haar en Teka se terugkeer wag. Môre of oormôre sal hulle die stat opbreek en dieper die binneland in wyk. Maar dit maak nie meer saak nie. Sy weet dat sy dié land nooit weer sal sien nie.
Op die strand staan nog ’n klompie verskrikte swart mense saamgebondel. Leia sien die vrees en skok in hul oë, en haar hart krimp ineen. Ons word soos diere gejag, dink sy en byt op haar tande. Die swart mans met hul glimmende lywe was eenmaal trotse krygers. Die vroue het met gelukkige tevredenheid kinders grootgemaak en bedags om die kospotte gesels.
Hulle word in groepies in platboomskuite gelaai en na die wagtende skip geroei.
In Leia groei die vrees. Sy deel die ander se bygelowe oor die groot, vet monster met die wit vlerke wat op die blou water wieg. Daar is baie legendes oor daardie monster wat ’n mens se bloed laat stol. Vanaand dalk nog sal hy sy vlerke lig en môre sal hy nie meer hier in die stil baai lê en wieg nie.
Leia se keel word kurkdroog. Wat gaan van hulle word? Niemand het al ooit teruggekeer om te kom vertel nie. Miskien word hulle vir die monster gevoer, miskien kan hy net van mensebloed leef en is sy en die ander gevangenes sy slagoffers.
By die skip word hulle met swaarde teen die touleer opgejaag. Op die dek staan ’n vet mannetjie die gevangenes en inwag. Sy oë rek toe hy die wit meisie sien. Hy vloek.
“En waar kom dié een vandaan?” wil hy weet en stap na Leia. Hy bekyk haar met ’n kennersoog en niks ontgaan hom nie. Sy is net so lank soos hy, met die soepel grasie van ’n roofdier in haar bewegings. Haar blonde hare en blou oë is vir hom een te veel. Haar skamele klere bedek skaars die allernodigste, en die man voel vererg oor sy eie verleentheid. Onder die swart mense is hy hierdie kleredrag gewoond, maar aan ’n wit meisie lyk dit onbehoorlik.
“Trek vir haar iets aan!” bulder hy op een van die matrose.
Die man skarrel weg en kom met ’n mantel terug. Toe hy dit om Leia probeer hang, ruk sy los en probeer wegkom.
“Los my uit!” gil sy. “Ek wil nie hier wees nie! Los my net uit!”
Die vet mannetjie, Valdi Lantini, se gesig vertrek. Hy moes verwag het dat sy hierdie onverstaanbare brabbeltaal sal praat, maar dit verminder nie die skok nie.
“Los haar, Pedro, ons sal haar wel nog mak maak.” Sy blik val op ’n blink voorwerp om haar nek en hy staan nader.
Aan ’n dun, goue kettinkie om haar nek hang ’n kosbare juweel. Vyf smaragde en vyf diamante is op ’n ronde goudskyf gemonteer. In die middel daarvan is ’n embleem wat hy nie ken nie, maar dat dit Westers is, ly geen twyfel nie. Die juweel op sigself is baie werd en dit maak dié vonds nog waardevoller.
Leia volg sy blik, en haar hand gaan beskermend na haar hals. Die vrou wat haar grootgemaak het, het hierdie blink dingetjie vir haar bewaar. Dit is al wat sy nog het wat haar daaraan kan herinner dat sy van ’n ander land kom en nie werklik een van hierdie mense is nie.
Valdi se oë vernou. Hy is vasbeslote om die hangertjie by haar te kry, maar miskien moet hy net ’n rukkie wag. Hy sal haar eers mak maak en dan sal hy dit by haar vat. Dis duidelik dat sy geen benul van die waarde van die juweel het nie.
’n Doodse angs het Leia beetgepak toe sy met die trap af gedwing word na die skip se ruim. Die onbekende duisternis het die vrees in haar vererger, haar ore het gesuis en sy het gewag dat iets verskrikliks moet gebeur. Die afskuwelike stank in die ruim het haar gewalg, maar sy kon nie na die dek terugkeer nie. Agter haar was Teka en sy kon die meisie se swaar asemhaling hoor, haar angs aanvoel.
Leia het afgeklim en haar hande was nat van die sweet. Haar hele liggaam het gebewe. Sy was in die maag van die monster … ’n plek waarvandaan niemand ooit terugkeer nie.
Geleidelik het die vrees plek gemaak vir onsekerheid. Niks het gebeur nie. Hulle het iewers in die duisternis ’n lêplek gekry en gewag. Hulle het nie gepraat nie, hulle was bang vir hul eie stemme. Bang dat hulle hul die woede van die monster op die hals sou haal as hulle praat, en dus het hulle geswyg. Elkeen het aan haar eie vrese en verlangens herkou en die gees van elke moontlike voorvader opgeroep om te help.
Die duisternis en die doodse stilte duur voort. Dis net die stank en die beweging van die skip wat werklikheid is.
Leia lê met haar kop op haar arm. Sy probeer die hongerpyne in haar maag ignoreer. Iewers hoor sy iemand kreun, en die geluid laat haar ineenkrimp. Die sagte gekreun word ’n klaaglied. Dit vul die donker, stink ruim, trommel teen die ore van die arme wesens wat hul eie verlangens probeer vergeet.
’n Hand raak aan Leia, en sy ruk weg.
“Leia?” Teka se stem is hees en bewerig.
“Ek het geskrik,” sê Leia.
“Ons is nog nie dood nie.”
“Hierdie is erger … dis om lewend dood te wees!”
“Moenie so praat nie,” antwoord Teka met ’n snik in haar stem. Dan is dit weer stil, en hulle luister na die sagte gekerm wat weer byna opgehou het.
Die valdeur gaan skielik oop en ’n paar mans kom met die trap na onder. Hulle sit ’n mandjie muwwe brood op die vloer van die ruim neer en langsaan ’n kan water. Een hou ’n lantern omhoog terwyl die ander hul neuse in hul sakdoeke druk.
Daar kom ’n roering onder die gevangenes. Hul oë blink onnatuurlik wit in hul swart gesigte. Kos beteken lewe … hulle gaan nie hier gelos word om van honger te sterf nie. Dis nog nie die einde nie. Daar is nog hoop vir hulle!
’n Klomp storm op die mandjie brood af, maar een van die matrose laat sy sweep venynig oor die rûe van die hongeres streep. Hulle ruk vinnig terug en stuit hygend die uitroepe van pyn.
Leia draai haar kop weg. Hier is baie meer gevangenes as wat sy gedink het. Die meeste van hulle ken sy nie, en baie van hulle kom reeds ver. Hul oë sit diep in hul oogkasse, en hul liggame is al uitgeteer. Sy besef maar te goed dat dié lot ook op haar en haar vriende wag.
Die matroos by die mandjie tel die brode een vir een op, breek dit middeldeur en skiet dit tussen die gevangenes in. Hulle val oor mekaar om ’n stukkie te kry, hulle krap mekaar se oë as ’t ware uit om die honger in hul mae te kan stil. ’n Woedende gevloek en geskel breek onder die mense in die ruim uit. Vroue en mans neem albei aan die gevegte deel. Iewers gil ’n vrou hard en deurdringend, maar dit bring die ander nie tot bedaring nie.
Op die trap staan die matrose en lag asof hulle die situasie terdeë geniet. Die laaste van die brode word die lug ingeskiet, en een van die uitgehongerde mans lek die laaste krummels van die boom van die mandjie op.
’n Stuk brood beland tussen Teka en Leia. Leia tel dit op. Selfs in die flou lig van die lantern is dit swart van die muf. Vier uitgehongerde swart mans storm op haar af, maar dan steek hulle onseker vas toe hulle besef dat sy nie soos hulle is nie.
Leia