voorkom nie. In die vuil ruim het die arme drommels geen kans nie.
Sy voel-voel aan die koue yster van die enkelringe, en die geluid van die rinkelende kettings maak haar hart swaar. Vir die eerste keer in ’n baie, baie lang tyd huil Leia. Die trane spoel wit strepe deur die vuil op haar wange. Sy gee haar oor aan haar verlange na die groen veld waar sy vandaan kom. Sy verlang na die koel, helder water van die rivier en die skoon, blou lug. Sy verlang na die laggende, babbelende, moddervet kindertjies waar hulle tussen die riete kleilat speel. Sy onthou die man met wie Teka sou gaan trou het. Die vrou wat gisternag gesterf het, het drie klein kindertjies gehad. Daar oorkant in die hoek is ’n vrou wat dalk nog op hierdie reis die lewe aan haar eersteling gaan skenk.
Elkeen van ons het ons drome gehad, dink sy terwyl snikke haar skouers ruk. Nou is daar net die verlange.
Teka skuif nader aan haar. “Ons moenie terugdink nie,” fluister sy.
“Daar is niks anders om aan te dink nie.”
Teka aarsel. “Ek het baie nagedink. Ons kan niks verander nie, maar ons kan probeer om die beste te maak van wat voorlê.”
Leia se hand sluit om die hangertjie. “Hulle gaan dit van my wegneem.”
“Jy moet dit wegsteek.”
“Waar?”
“In jou klere. Hulle sal dink dat dit gesteel is.”
Leia kyk weg. Miskien sal sy die hangertjie behou, maar wat gaan dit aan die saak verander? Voorheen het sy geglo dat dit haar geluk sal bring, maar daar is nie werklik enige mag in dié klein juweel nie.
Agttien jaar gelede het sy in ’n vaatjie op ’n wit strand aan die ooskus van Afrika uitgespoel nadat die skip waarmee sy en haar ouers gereis het, gestrand het. ’n Inboorlingvrou het haar gevind en soos haar eie grootgemaak. Die groot, goedige Tembisa het haar teen die ander beskerm, haar alles geleer wat ’n goeie inwoner van die stat moet weet. Aan die begin het hulle haar gevrees omdat hulle geglo het dat sy een van die mense is wat soveel ongeluk oor hulle gebring het, maar mettertyd het hulle haar aanvaar as net nog ’n kind. Hulle het hulle oor haar blonde hare en blou oë verwonder en haar selfs begin bederf.
Twee jaar gelede het Tembisa op haar sterfbed die hangertjie aan haar gegee. Die goeie ou vrou het haar vertel dat dit om haar nek was toe sy gevind is.
“Jy moet die pad loop waarheen dit jou neem,” het Tembisa gesê. “Jy hoort nie hier nie, al is dit al plek wat jy ken. Jy hoort waar daardie blink klippies en goud vandaan kom. Gaan soek jou land, Leia, en mag jy dan werklik gelukkig wees.”
My land, dink Leia en sluk. Ek hoort nêrens meer nie!
Die skip lê al geruime tyd doodstil en die gevangenes wonder wat nou aan die gebeur is. Reeds twee keer het Valdi Lantini na die ruim gekom en hulle deurgekyk. Dan is ’n paar van hulle van hul kettings bevry en na die dek geneem. Die ander sit stil en luister na die gepraat en geloop op die dek bokant hul koppe. Dié wat weggeneem word, keer nie terug nie.
Teen laatmiddag staan Lantini op die dek en wag sy belangrike besoeker in. Hy voel omgekrap oor die ontmoeting wat voorlê. De la Fontaine is nie iemand vir wie jy enigiets kan wegsteek nie.
Daar is ook ’n ander irritasie. Hy kan die hangertjie wat om Leia se nek was, nêrens vind nie. Dit het spoorloos verdwyn. Hy het elkeen van die gevangenes in die ruim laat deursoek, maar die hangertjie is weg. Hy moes dit liewer daardie eerste dag by haar afgeneem het, maar hy het soos ’n idioot gedink dat daar nog baie tyd daarvoor was. Dalk het dit saam met een van die dooie slawe oorboord verdwyn.
Hy vloek hardop en spuug woedend na die hoofmas.
“Nou toe nou, Valdi,” praat ’n bekende stem agter hom en hy swaai vinnig om. De la Fontaine lag. “Het die kopers jou te min vir jou ware betaal?”
Lantini ruk hom reg. Hy wens iemand wil die graaf versuip. Dis mans soos hy wat maak dat vroue nie eens na sy kant wil kyk nie. Die man is byna onbehoorlik aantreklik, en sy koue afsydigheid betower die stompsinnige vrouegeslag nog meer. Sulke onregverdigheid is genoeg om van te stik.
“A, signore! Ek het u verwag. Ek het reeds ’n paar slawe uitgesoek en ek verseker u dat hulle net die beste is.”
De la Fontaine se oë vernou effens.
“Ek verkies om dié keer self uit te soek.”
Lantini se moed sak in sy skoene. Hy moes die wit meisie versteek het. In Spanje is daar kopers wat nie oor die prys sal kibbel nie.
“My keuse sal u geval, signore.”
Die graaf stap na die luik.
“Natuurlik, Lantini, maar ek verkies nogtans om dié keer my eie ware uit te soek.”
“U kan nie daar ingaan nie, signore!” roep Lantini in ’n piepstemmetjie uit. “Hulle sal u verskeur!”
Die graaf skud sy kop spytig.
“Het jy hulle dan só sleg behandel?” Sonder om weer na die kaptein te kyk, gaan De la Fontaine met die trap af.
Lantini volg hom verskrik en vies. Hoe keer ’n mens ’n man wat daaraan gewoond is om te doen wat hy wil?
Dit duur ’n paar minute voordat Jacques de la Fontaine se oë aan die donker gewoond raak. Die reuk in die ruim walg hom, en hy is skielik spyt dat hy hierheen gekom het. Teruggaan wil hy ook nie, want dan sal Lantini die idee kry dat hy enige slaaf aan hom kan afsmeer.
Sy blik dwaal oor die armsalige skepsels wat nog in hul swaar kettings bly sit. Hul leë oë sit diep in die kasse en die meeste van hulle is feitlik heeltemal naak. Dis die eerste keer dat hy self na die ruim van so ’n slaweskip kom, en die toestand skok hom.
“Jy is laer as ’n vark, Lantini,” fluister hy vir die kaptein. “Mense soos jy behoort van honger te vrek.”
Lantini knip sy oë. “Signore …”
“Hierdie gat is ’n volmaakte spieëlbeeld van jou stink siel,” sis De la Fontaine. Hy het die jong vrou met die geswelde buik in die hoek opgemerk, en ’n koue woede kom lê in hom. “Bring daardie vrou uit. Ek sal haar by jou koop.”
Lantini skud sy kop stadig.
“Sy sal die geboorte nie oorleef nie, signore. Dis ’n slegte koop.”
“Doen soos ek sê!” blaf die graaf. Sy oë is koud soos graniet. Dan kyk hy na die ander skepsels. Hy kies nog drie van die mans wat lyk asof hulle nie nog ’n dag op see sal oorleef nie.
Lantini skud sy kop wanhopig. Vir daardie armsalige skepsels sal hy bitter min kan verwag. Die edelman wil hom hierdie keer ’n lelike streep trek.
“U doen ’n swak keuse, signore.”
“Dis my saak,” antwoord De la Fontaine kortaf.
’n Ou grysaard sit ineengekrimp teen die wand van die ruim. Hy vee telkens met sy knopperige ou hande oor sy gesig terwyl sy mond aanhoudend beweeg.
“Ek sal die ou man daar ook by jou oorneem.”
Lantini gooi sy hande wanhopig in die lug. Dit is die laaste strooi. Die graaf het die kluts kwytgeraak!
De la Fontaine draai om om weer met die trap op te klim, maar dan vang ’n beweging sy oog. Hy kyk vinnig in daardie rigting en ruk tot stilstand. Skielik draai hy om na Lantini en gryp hom voor sy bors.
“ ’n Blanke!” sis hy woedend. “Aan watter smerige ellendeling wou jy háár verkoop?”
Lantini verbleek. “Net aan die hoogste bieër, signore!” roep hy in ’n piepstemmetjie uit.
De la Fontaine se vuis plof teen sy neus, en hy val tussen die grinnikkende gevangenes in.
“Ek koop dié wat ek uitgesoek het en die meisie vir tweeduisend dukate – en mag die duiwel ’n spesiale plekkie vir jou in die hel bêre!”
De la Fontaine draf teen die trap uit met die beeld van die