vuur en Teka sit rustig en brei aan ’n stukkie vel. Die musiek borrel in Leia op en die melodie kom ongedwonge oor haar lippe. Dis ’n sagte lied wat vertel van geluk en liefde. Dis ’n mooi lied met ’n vreemde ritme en haar ietwat hees stem verleen ’n besonderse bekoring daaraan.
Die deuntjie draal deur die stil nag. Die ander slawe luister in stilte. Dis die lied van ’n jong meisie wat haar minnaar gevind het en dit roer aan hul harte. Dis ’n stukkie van die wêreld wat hulle verlaat het, en as hulle hul oë toemaak, dan is dit asof hulle terug is tussen al die bekende dinge.
Leia sing om haar eie hartseer te vergeet. Sy sing om ’n druppel van die geluk van die lied in haar eie lewe in te bring, maar toe sy die laaste noot huiwerend in die lug laat hang, breek die droom soos ’n seepbel. Die lied was ’n tydelike ontvlugting … dis die werklikheid wat saak maak.
In die herehuis draai die graaf van die venster af weg. Hy het die lied gehoor en dit het hom ontstel. Al kon hy haar nie sien nie, weet hy dat dit die wit slavin was wat gesing het. Die ryk weelde van haar stem was roerend mooi en noudat die lied verby is, is dit asof daar ’n leemte in die donker nag gelaat is.
Die bejaarde man oorkant hom kyk op.
“Sy het besonderse talente, senor.”
Die graaf se gesig verhard. “Selfs met haar talente sal sy nêrens inpas nie, monsieur. Ek het haar van Lantini probeer red, maar het ek nou juis ’n goeie daad gedoen?”
“ ’n Erger lot kon haar te beurt geval het.”
De la Fontaine skud sy kop. “Sy is ’n uitgeworpene, en ek kan daar niks aan doen nie.” Hy kyk na die ander man. “Ek wonder of u besef, monsieur Mendoza, dat daar iewers ’n moeder is wie se kind Leia was. Leia is nie tussen die inboorlinge gebore nie.”
Mendoza frons. “Dis tog moontlik, en jy weet dit. Baie van die swart vroue langs die kus van Afrika word deur die blanke matrose misbruik. Dis tog net moontlik dat jou Leia die gevolge van so iets kon wees.”
Die graaf skud sy kop heftig. “Dit kan ek vir geen oomblik glo nie. U mag vir my lag, maar dis amper asof daar iets adelliks in haar is. Selfs in haar uiters vernederende posisie is sy nog trots en uitdagend.”
Mendoza lag opgewek. “Jou verbeelding hardloop met jou weg, Jacques! As jy mý eerlike opinie wil hê, dink ek jy het vir jouself ’n hele klomp moeilikheid gekoop.” Hy kyk deur vernoude oë na die jonger man. “Jy moet minder aandag aan jou wit slavin gee en meer aan senorita De Boudelaire. Ek glo nie sy sal daarvan hou om jou aandag met ’n slavin te deel nie.”
De la Fontaine haal sy skouers op. “Beatrice is ’n baie nugter soort mens, monsieur. Sy stel self baie belang in Leia se herkoms.”
Mendoza skud sy kop stadig. “Die moeilikheid met nugter mense is dat hulle die belangrike dinge totaal miskyk. Julle loop nou al ’n lang pad saam, en nog is daar geen sprake van trou nie. Jy is al oor die dertig, as ek dit nie mis het nie. Jy word nie jonger nie, Jacques, en wanneer gaan daar nou uiteindelik ’n erfgenaam vir La Liberté wees?”
Die graaf haal sy skouers traak-my-nie-agtig op. “Dit sal kom, monsieur, dit sal kom.”
Mendoza snork hardop. “En wanneer, as ek mag vra? Ek word self nie jonger nie en ek sal darem nog die outjie wil sien aan wie ek my fortuin gaan bemaak.”
Die graaf glimlag effens. “Die outjie van wie u praat, monsieur, gaan oënskynlik gruwelik bederf word.”
“Gun ’n ou man tog sy plesiertjies, Jacques!” roep Mendoza uit. “Ek het geen kind of kraai meer nie, en jy was nog altyd vir my soos ’n eie seun … veral nadat Roberto verdwyn het.” Sy stem slaan deur, en hy haal diep asem voordat hy voortgaan: “Jy was toe maar ’n knaap van vyftien en so voortvarend as wat die jeug maar kan wees.”
“Het ek dan verander?” wil die graaf geamuseerd weet.
Die ou man aarsel. “Ja, jy het verander, Jacques. Ek is selfs partykeer bang vir jou. Jy het ’n harde man geword, maar miskien is dit juis die rede waarom jy so suksesvol is.” Hy sug effens. “Net soms verlang ek terug na die ou Jacques wat met blink oë die meisietjies die hof gemaak het.” Hy lag sag. “Ek kan jou beswaarlik nog in so ’n situasie indink.”
Die graaf gaan weer by die venster staan. “Ons word almal ouer en wyser, monsieur.”
“En ook kouer en moeiliker om te bereik,” voeg die ou man by. “Soms dink ek jou verhouding met senorina De Boudelaire is net ’n koelbloedige saketransaksie. Niks sal my groter genot verskaf as dat jy weer halsoorkop verlief raak op ’n meisie nie.”
Die graaf draai vinnig om en bars dan uit van die lag.
“Dit is hoogs onwaarskynlik, monsieur! My hart het ek behoorlik onder beheer. Dis die een deel van ’n mens se samestelling wat hom gedurig aan verraad skuldig maak.”
Mendoza staan op. “Dis jou hart wat jou menslik maak. As jy hom verontagsaam, verander jy in klip.” Hy staan deur se kant toe. “Ek gaan nou slaap. Dink maar na oor wat jy gesê het, Jacques. ’n Mens kan jou hart nie vir altyd ignoreer nie. Soos jy gesê het, hy maak hom dikwels skuldig aan verraad en hy het uiters geslepe metodes om uit ballingskap te ontsnap.”
Nadat Mendoza uit is, bly die graaf nog lank nadenkend staan. Sewe jaar gelede het hy gesweer dat hy sy hart nooit weer aan ’n vrou sal gee nie. Adelaide het hom seergemaak en verneder en hy het selfs vroue begin haat vir hul lis en nydigheid. Hy het koud teenoor hulle begin staan, maar dis tog asof daar nog altyd iets gehaper het. Hoe meer hy die gemis gevoel het, hoe kouer het hy geword. Dit is net een van daardie dinge wat hy nie kon verhelp nie. Beatrice begryp hom en sy aanvaar hom so. Sy verwag niks meer van hom as wat hy haar kan bied nie. Wie weet, miskien sal hy haar eendag leer liefkry en sal daardie vergete verlange gestil kan word.
Leia laat gedwee toe dat Bako haar leer hoe om die bossies tussen die wingerde uit te skoffel. Geduld, weet sy, is een ding wat sy nou sal moet hê. Sy sal nie hier weggaan voordat sy die man wat haar gekoop het, vermoor het nie. Dis die spil waarom haar hele bestaan nou draai. Sy dink aan niks anders nie en sien ook niks anders raak nie. Sy haat De la Fontaine met dieselfde intensiteit as waarmee sy na haar vaderland terugverlang.
Bako voel onrustig oor Leia se bedeesdheid. Intuïtief weet hy dat daar iewers ’n skroef los is, maar hy vra haar nie uit nie. Dalk is hy bang om die antwoord te hoor.
Leia is egter ook ’n geduldige en toegewyde leerling. Sy het haarself dit ten doel gestel om die graaf se taal te kan praat, en dit het Bako aangenaam verras. Wat hy egter nie weet nie, is dat Leia slegs die taal wil leer ingeval sy dit mag nodig kry die dag as sy die graaf wil vermoor. Sy wil hom kan vertel waarom sy dit doen. Sy wil hê hy moet weet hoe sý voel oor die feit dat sy soos ’n stuk vel verkoop en nou sy besitting is soos wat die huis en die grond sy besittings is.
Dit grief haar dat die slawe op die landgoed se aanwas getel word soos dit met die perde of beeste gedoen word. Elke nuwe siel beteken wins, en elkeen wat sterf, beteken verlies. Kinders word van hul ouers af weggeneem en aan ander eienaars verkoop.
Soggens vroeg gaan hulle die wingerde in, elkeen met sy of haar skoffel en teen die middaguur word hulle werk onderbreek sodat hulle iets kan eet. Dan val hulle weer in om teen sononder die werk te staak en na hul huisies terug te keer.
Leia luister afgetrokke na die geselsery van die ander slawe. Hulle klets oor alledaagse dingetjies en sy verwonder haar daaroor dat niemand oënskynlik enige wrok teen hul meester koester nie. Hoe kan mense daarmee tevrede wees om dag ná dag hier gebukkend in die son te staan en skoffel vir die res van hul lewens? Het hulle dan nie drome of ideale waarna hulle strewe nie?
Al haar aandag is ook nie gedurig by haar werk nie, en sy raak gou-gou agter by die ander. Niemand kom dit skynbaar agter nie, want hulle werk al geselsend verder van haar af weg. Die man wat oor hulle aangestel is, het ’n paar keer met Leia oor haar traagheid gepraat, maar sy het haar nie aan sy vermanings gesteur nie.
De la Fontaine besoek dikwels die wingerde om te sien hoe die druiwe vorder. Die vrugte moet op presies die regte tyd gepluk