Annelize Morgan

Gister se verlange


Скачать книгу

      ANNELIZE MORGAN

      Gister se verlange

      Jasmyn

      1

      Dit het pas begin skemer word toe die soldate onverwags by die deftige huis opdaag. Hulle hamer onophoudelik aan die voordeur totdat Gertrude met ’n onweersgesig soontoe draf om oop te maak.

      Aan die bopunt van die trap staan ’n jong vrou met ’n ligte frons en kyk na wat in die ruim portaal gebeur. Haar hand druk op haar bors asof sy die wilde klopping van haar hart wil stilmaak. Dis net asof sy dit nie kan aanvaar dat sy nie meer onaantasbaar is nie.

      Die prefek van die polisie kom stadig ingestap en steek dan vas toe hy die vrou op die trap gewaar. Hy glimlag en maak ’n diep buiging soos dit hoort.

      “Mag ek u ’n oomblik spreek, madame?” vra hy, maar Bérenice weet dat dit nie sal help om te weier nie. Sy vraag klink byna soos ’n bevel.

      “U mag, monsieur,” sê sy en gaan hom ietwat teësinnig tegemoet. Wat sou hierdie besoek van die polisie beteken?

      Hulle word alleen gelaat in die biblioteek, terwyl Gertrude brom en grom oor die ongepoetsheid van die polisie. Die vier mans wat die prefek vergesel het, bly grinnikend staan asof hulle haar woede terdeë geniet.

      In die biblioteek draai die prefek na die jong vrou.

      “Die koning se geduld is besig om op te raak, madame.” Sy stem is sag, maar Bérenice merk die dreigement daarin. “As sy kleinniggie het u nou genoeg geleentheid gehad om terug te keer na u ou geloof.”

      Bérenice sluk hard.

      “Ek het nog nooit gesê dat ek ’n Protestant is nie, monsieur.” Sy wurg die woorde uit en verag haarself oor haar swakheid. Dan gaan haar hande intuïtief na haar buik en sy weet dat sy dit doen net ter wille van Louis en hulle ongebore kind. Dit sal haar vergewe word …

      Die prefek glimlag half jammerhartig.

      “My liewe madame, u onderskat die polisie. Ons weet baie goed waar u sentimente lê en dit dra beslis nie die goedkeuring van die koning weg nie. Ons het al die bewyse wat ons nodig het om u man dood te maak en u na ’n klooster te stuur.”

      Bérenice se keel trek toe. Hulle hoef maar net die huis behoorlik te deursoek. Hier is nêrens ’n kruis of ’n madonna nie. Hulle brand lankal nie meer kerse nie en dis nou drie jaar laas dat hulle by ’n mis was …

      “Waarom doen julle dit dan nie?” vra sy hees.

      Sy mondhoeke krul na onder.

      “Omdat ons die situasie beter kan gebruik.” Hy haal ’n vel papier uit sy sak en vou dit oop. “Dis ’n brief wat deur die koning aan ons gestuur is. Hier staan dit swart op wit: Dit is my wens dat madame Bérenice de Savoye en monsieur Louis de Savoye met rus gelaat word mits my kleinniggie bereid is om my volgende bevel te gehoorsaam, naamlik dat sy aan die polisie die volledige lys van name verstrek van die ander lede van die groep Protestante waaraan sy behoort.”

      “Dit sal verraad wees,” sê Bérenice verskrik.

      “Dis nie al nie, madame.” Hy lees verder. “Sy moet die volledige lys binne vier dae aan die polisie gee sodat daar teen die ander verraaiers opgetree kan word. Indien sy in gebreke bly om hierdie bevel te gehoorsaam, sal sy en haar man dieselfde straf kry as hulle landgenote wat dit gewaag het om my bevele te verontagsaam.” Die prefek kyk na Bérenice. “U verstaan dus, madame, daar is geen uitweg nie.”

      Bérenice is baie bleek.

      “Ek verstaan …”

      Hy steek die brief terug in sy sak.

      “Oor vier dae sal ek weer hierheen kom, madame. Intussen sal u huis dag en nag bewaak word sodat ons seker kan wees dat u nog hier sal wees wanneer ons vir die lys name kom.”

      Dis verraad, dink Bérenice toe hy weg is. As sy maak soos die koning van haar verwag, sal sy Louis nog by haar hê, maar sal sy met haar gewete kan saamleef? Weier sy, sal Louis doodgemaak word en sal sy en haar ongebore kind na ’n klooster gaan. Daar sal sy wegkwyn in die koue, donker gange, sal sy die haat en jammerte van die nonne dag vir dag moet verduur.

      Louis keer ’n uur later terug en kry haar nog daar in die biblioteek voor die kaggelvuur. Sy sit ineengedoke, haar gesig die kleur van ou klei.

      “Bérenice!” roep hy verskrik uit en gaan hurk voor haar. “Wat is verkeerd? Moet ek die dokter laat kom?”

      Sy skud haar kop stadig en vertel hom van die besoek van die prefek. Haar oë glinster onnatuurlik toe sy na hom kyk.

      “Dis onmenslik, Louis … hoe kan ek ons vriende verraai? Ek wil jou ook nie verloor en my dae in eensame afsondering slyt nie. Wat gaan van ons kind word … ek wil nie eens daaraan dink nie.”

      Hy sit sy arm vertroostend om haar skraal skouers.

      “Ons sal aan ’n uitweg dink. Dalk kan ons tog ontsnap, en as ons gelukkig is, sal ons die grens haal.”

      Sy kyk op na hom.

      “Dit beteken ’n seker dood vir jou. Hulle hou die huis dop, en hoe kan ons hiervandaan wegkom? Ek wil jou nie verloor nie, Louis.”

      Hy glimlag effens en druk ’n soen op haar voorkop.

      “Jy sal nie, my liefste. Ek sal aan jou sy wees wanneer ons uit Frankryk weg is.”

      Hy klink so seker van homself dat dit haar vrese ’n oomblik verdryf. Sy slaan haar arms om sy nek en druk haar kop teen sy bors. “Ek het jou lief, Louis.”

      Hy streel haar hare sag.

      “En ek vir jou, meisie. Ons gaan nie toelaat dat iemand hierdie geluk vernietig nie.”

      Dieselfde nag begin dit sneeu. Dit val in groot vlokke uit ’n pikswart hemel, onophoudelik en geruisloos. Dit verdof alle klanke en die mense in die straat beweeg soos skimme onder die lanternligte verby.

      Bérenice staar onsiende by die venster uit. Haar kop is teen die koue ruit gedruk en haar asem maak klein wolkies teen die glas. Sy sien nie die sneeu wat teen die ruit opstapel aan die buitekant nie, sy sien nie die skoonheid van die reinwit sneeu op die dakke van die huis en op die bome nie. Haar gemoed is te swaar om nog enigiets te kan waardeer.

      Louis kom agter haar staan.

      “Alles is gereed, Bérenice.”

      Sy kyk vinnig om na hom.

      “Ek verstaan nie.”

      Sy gesig is somber.

      “Die hemele het die sneeu gestuur om ons te help. Op só ’n nag sal die soldate liewer in die warm kantiene wil gaan wegkruip.”

      Die skok ruk deur haar.

      “Louis … ons kan nie! Ons het dit nog nie eens bespreek nie!”

      “Daar is niks om te bespreek nie. Ons gaan nie ons vriende verraai nie. As ons hier bly, sal ek soos ’n slagskaap weggeneem word en sal ons mekaar in elk geval nooit weer sien nie. As ons probeer vlug, het ons nog ’n kans.”

      Sy weet dat dit nie sal help om teë te stribbel nie, maar haar verstand wil ook nie aanvaar dat die oomblik nou gekom het nie. Dit is net te skielik … Die baba skop in haar buik en sy pers haar lippe opmekaar. Louis het gelyk … dis die enigste uitweg. Daar ís nog ’n kans.

      Die sydeur van die huis is onbewaak en in hierdie gure weersomstandighede is dit ook nie eienaardig nie. Die wind sny deur die smal stegie en verys ’n mens se asem voordat dit behoorlik jou mond verlaat. Dit brand teen jou vel soos vuur en laat jou oë traan. Niemand kan dit vir ’n onbepaalde tyd in hierdie onbehoorlike koue uithou nie.

      Bérenice deins half terug toe die windvlaag haar tref. Dan skuif sy die pelskappie verder oor haar gesig, tel die klein bondeltjie klere en kos op en waag dit weer in die koue uit.

      Agter haar volg Louis met ’n groter bondel. Hulle praat nie en selfs hulle voetstappe word totaal verdoof in die dik, sagte laag sneeu.