Скачать книгу

jou help. Tussen ons het ons deur die jare ’n bietjie geld bymekaargemaak vir hierdie dag. Jy moet dit neem en vir jou ’n passaat op ’n skip na die Kaap de Goede Hoop kry. Ek sou jou graag nog hier wou gehou het, maar jy hoort nie werklik hier nie. Jy het nog nooit werklik gelewe nie. Jy weet nog nie wat dit is om lief te hê nie. ’n Mens se geluk is nooit volkome voordat jy al die goeie gawes van God gesmaak het nie.”

      “Ek verstaan nie, Moeder.”

      “Jy sal … eendag. Gaan nou. Gaan maak jou gereed vir die lang reis.”

      Rozanne staan op en druk ’n soen op die natgeswete voor­kop. “U is die beste, Moeder. U gelyke bestaan nie.”

      ’n Traan biggel oor die verrimpelde wang toe Rozanne die deur sag agter haar toemaak.

      Die moederowerste sterf in die vroeë oggendure. Niemand weet dit voordat Gabrielle te voorskyn kom vir die vroeë mis nie. Eers dan besef hulle dat iets verkeerd is en dink iemand daaraan om die groot klokke te gaan lui.

      Rozanne luister met ’n krimpende hart na die gebeier van die massiewe klokke. Sy hoor die eggo uit die klowe terugkom en meng met die nuwe, suiwerder klanke, totdat dit voel asof die klokke in haar ore en in haar kop lui.

      Haar lewe hier in die klooster het tot ’n einde gekom. Sy begryp nou waarom die moederowerste haar nooit probeer oorreed het om ’n non te word nie. Sy kon nooit vergeet wat twintig jaar gelede gebeur het nie. Telkens wanneer ’n hooggeplaaste kerkamptenaar die klooster besoek het, is sy, Rozanne, buite die oog gehou. Die nonne het haar hier in die geheim grootgemaak en, wie weet, miskien het elkeen van hulle haar heimlik as hulle eie kind beskou.

      Met ’n ligte sug draai sy om en gaan weer by die deur in. Môre begin ’n nuwe lewe en sy moet vorentoe kyk.

      Gabrielle tel die goue muntstukke sorgvuldig af. Tevrede dat die bedrag korrek is, gooi sy dit terug in die leersakkie.

      “Vierhonderd is nie veel nie, maar dit sal jou aan die gang hou.” Haar oë versag toe sy die ongelukkige uitdrukking op Rozanne se gesig sien. “Kom nou, kind, dis tog nie só erg nie. Ons is almal lief vir jou en het jou verblyf hier baie geniet, maar aan alle goeie dinge kom daar ’n einde. Ons kan jou nie langer hier hou nie en dit was die moederowerste se laaste wens dat jy na jou eie moeder moet gaan soek.”

      “Ek weet, Gabrielle, maar ek ken geen ander tuiste as hierdie klooster nie. Miskien moet ek tog maar ’n non word. Dan kan ek vir altyd hier bly.”

      Gabrielle skud haar kop.

      “Nee, jy gaan nie. Jy ken nie die wêreld buite die klooster nie. Al man wat jy ooit gesien het, was ou Gaston van die dorp. Miskien sou jy juis daarom die ideale non gemaak het, maar dit sou nie reg teenoor jou wees nie.”

      “Wat ek hier gehad het, is vir my genoeg.”

      “Jy moet nie te vinnig praat nie. As jy eers in die Kaap is, kan jy vir ons skryf hoe jy dit daar buite vind. Ek sal graag wil weet hoe jy oor die weg kom.”

      Rozanne glimlag.

      “Natuurlik sal ek skryf.”

      “Gaaf.” Gabrielle maak ’n reissak oop. “Hier is ’n paar kledingstukke wat jy moet aanpas. Jy sal ongelukkig tot in Rotterdam in ’n nonnegewaad moet reis. Dit sal die veiligste so wees en jy sal geen probleme hê om oor die weg te kom nie.”

      Rozanne aarsel.

      “Ek gaan jou mis, Gabrielle.”

      Die ouer vrou glimlag skeef.

      “Die gevoel is wedersyds. As die moederowerste se opvolger sal ek genoeg hê om my besig te hou en jy sal jou nuwe toekoms hê. Moenie dat ons nou al aan die seer begin krap nie.”

      Hulle praat nie verder daaroor nie, maar tog bly die gedagte elkeen by. Die afskeid is onvermydelik en net om die draai. Daar sal geen uitstel wees nie.

      Rozanne reis in ’n toe koets en sy is dankbaar daarvoor omdat sy nou haar hart kan uithuil sonder om weg te koes vir starende blikke. Die mense sien haar egter skaars raak omdat sy maar net nog ’n non op reis is. Sy is voorwaar nie die enigste een wat dinge elders as in die klooster het om te doen nie.

      By die herberge waar sy moet oornag, word ’n tafeltjie eenkant vir haar ingeruim, of anders word haar kos in haar kamer bedien. Dis byna asof niemand juis graag haar geselskap wil opsoek nie en dit maak die reis nog eensamer as wat sy gedink het dit sou wees. Sy sou graag iemand wou gehad het om haar gedagtes mee te deel, iemand wat haar in hierdie eensame tyd steun kon gee.

      Op die Rotterdamse hawe staan sy ietwat bedremmeld eenkant. Sy het vir haar ’n passaat op die Spaanse skip die Almeida gekoop, en sy het geen benul van waarheen sy moet gaan nie. Eindelik skraap sy die moed bymekaar om een van die matrose te vra en glimlag amper toe hy vinnig die kruisteken oor sy bors slaan. Hy beduie omslagtig aan haar hoe sy moet loop om by die skip uit te kom en maak homself dan haastig uit die voete.

      Rozanne steek by die loopplank vas. Dis nou wel ’n groot skip, maar dit lyk vir haar taamlik onveilig en sy besluit om nog ’n bietjie te wag voordat sy aan boord gaan.

      ’n Halfuur later druk sy haar hooftooisel vasberade reg, tel haar reissak op en waag dit op die wiegende loopplank. Ná ’n paar treë gaan sy staan en loer benoud na die donkergroen water onder haar. Sy sluk hard en dwing haar voete vorentoe. Voetjie vir voetjie gaan sy op terwyl ’n paar nuuskierige matrose haar op die dek staan en beloer.

      “Laat ek u help, suster,” sê ’n diep manstem hier langs haar en sy verloor byna haar balans van skrik.

      Hy grinnik toe hy haar sak by haar neem en sy arm deur hare steek.

      “Is dit u eerste seereis?”

      “Oui, monsieur … merci, monsieur.”

      “Gaan u tot in Indië?”

      Sy skud haar kop.

      “Ek reis tot in die Kaap de Goede Hoop.”

      Hy kan sy verbasing kwalik verberg.

      “Die arm van die kerk reik ver,” sê hy en sy kan nie besluit of hy ’n grap maak of dit ernstig bedoel nie.

      “Ek reis privaat, monsieur.”

      Hierdie keer doen hy nie eens die moeite om sy verbasing te verberg nie.

      “Verskoon my, suster, maar dis sekerlik nie die nuutste gebruik onder nonne nie.”

      Sy lag klokhelder.

      “Nee, monsieur, dit is nie. Baie dankie vir u hulp. Ek dink ek sal nou verder alleen oor die weg kom.”

      Die man staan Rozanne ingedagte agterna en kyk. ’n Geamuseerde, raaiselagtige glimlaggie speel om sy mondhoeke. ’n Non op ’n privaatreis na ’n afgeleë land? In al die jare wat hy die wêreld deurreis het, is dit voorwaar een van die eienaardigste dinge wat hy nog teengekom het.

      Rozanne reis nie saam met die res van die passasiers nie. Die seelui is baie bygelowig en hoewel ’n non op ’n skip as ’n goeie teken beskou word, wil hulle haar nie in die groot ruim saam met die ander passasiers inbondel nie. Sy kry dus ’n klein kajuitjie heeltemal vir haar alleengebruik en sy is dankbaar daarvoor.

      Dis met verligting dat sy haar hooftooisel afhaal en van haar swart gewaad ontslae raak. Haar tabberds in die klooster was ook altyd óf swart óf van ’n growwe grys stof en sy kan nie wag om van die pastelkleurige tabberds aan te trek wat Gabrielle vir haar op die dorp gaan haal het nie. Die laaste paar dae het hulle albei hard gewerk om die middeltjies te verklein en plek-plek ’n soom uit te laat. Die klere is nou wel nie meer nuut nie, maar dis die mooistes wat Rozanne al ooit besit het.

      Sy kies ’n eenvoudige tabberd van salmpienk en glimlag toe sy sien hoe haar raafswart hare en groen oë bekoorlik teen die kleur vertoon. Met sulke klere kan sy die wêreld in die oë kyk en kan sy met ’n geruste hart na haar moeder gaan soek.

      Haar gedagtes dwaal na die vriendelike man wat haar teen die loopplank opgehelp