Annelize Morgan

Gister se verlange


Скачать книгу

kajuit ’n rukkie later verlaat. Die skip wieg reeds op die oop see en hulle lang reis het begin.

      Hulle staar mekaar ’n oomblik lank aan en dan frons hy liggies.

      “Ek glo nie ons het al ontmoet nie, mademoiselle,” sê hy dan, waardering duidelik in sy donker oë te lees.

      Sy bloos half ongemaklik en lag dan sag.

      “O, maar ons het, monsieur. U het my teen die loopplank opgehelp, onthou u?”

      Hy staar ’n oomblik lank onbegrypend na haar. Die non … dink hy skielik geamuseerd. Hierdie porseleinpoppie is jou waarlik dieselfde persoon as daardie verskrikte klein non.

      “En waarvoor was die vermomming?” vra hy.

      Haar oë rek effens.

      “Monsieur! Dit was nie ’n vermomming nie! Ek het in ’n klooster grootgeword en daardie klere is nie vir my vreemd nie.” Sy kyk af na die tabberd wat sy aanhet. “Dis hierdie klere waaraan ek gewoond sal moet raak. Dis styf en ongemaklik.”

      Hy bars skielik uit van die lag.

      “U word vir my ’n al hoe groter raaisel, mademoiselle … of moet ek u suster noem?”

      Sy glimlag en twee kuiltjies druk in haar wange.

      “Ek is nie ’n non nie, monsieur. Die moederowerste het besluit om my weg te stuur voordat ek een sou word.” ’n Klein fronsie verskyn tussen haar oë. “Sy was ’n goeie mens. Dalk word ek tóg eendag ’n non … net omdat ek so lief was vir daardie ou dame. Sy … was vir my soos ’n eie moeder.”

      Hy haal diep asem.

      “Jy beweeg ’n bietjie te vinnig vir my. Iewers het ons mekaar langs die pad verloor.”

      Sy knipper haar oë.

      “Pardon, monsieur, maar ek begryp nie wat u bedoel nie.”

      Hy skud sy kop stadig, maar die vrolike lig verdwyn nie uit sy oë nie. Hier het hy sowaar iemand voor hom wat nog nooit met die buitewêreld kennis gemaak het nie. Sy is onaangeraak deur ’n wêreld vol bedrog en gemeenheid. Wat sou sy sê as sy kon weet watter soort lewe hý tot dusver gelei het? Die gedagte laat hom sidder.

      “U het nog baie om te leer, mademoiselle.”

      Haar gesiggie helder op.

      “Ek weet dit, monsieur, maar ek is gewillig om te leer. As ek in die Kaap aankom, wil ek nie hê die mense moet dink ek is dom nie.”

      Hy onderdruk sy lag.

      “Tot dusver vaar jy glad nie sleg nie.” Hy kyk om hom rond. “Ek dink ons moet liewer na my kajuit toe gaan. Dit voel ’n bietjie vreemd om sommer hier in die gang te staan en gesels.”

      Sy volg hom onbekommerd na sy kajuit en haar oë glinster toe sy die weelde daarvan bemerk.

      “Dis pragtig … reis u altyd so in weelde?”

      Hy trek ’n gesig.

      “Dis maar ’n slegte gewoonte van mense wat geld het. Ons hou van gerief as ons dit kan koop.”

      Dit lyk egter asof sy hom skaars hoor.

      “Die moederowerste het gesê dat ek nie in die klooster mans leer ken het nie. Daar was net ou Gaston wat die voorrade van die dorp af soontoe vervoer het. Hoekom moet ek hulle leer ken?”

      Hy snak byna na sy asem en ’n oomblik lank kyk hy uit die veld geslaan na haar. Liewe deug! Sy is seker nog ’n kind! Maar dan frons hy liggies. Nee, dit is sy gewis nie meer nie. Dis net haar suiwer, goedgelowige onskuld wat haar soos ’n kind maak.

      “Wat is jou naam?” vra hy eindelik.

      “Rozanne de Savoye. En joune?”

      “Armand le Riche. Nou goed, nou kan ek jou vraag probeer beantwoord, Rozanne.” Vir die eerste keer in sy lewe bevind Armand hom in die onbenydenswaardige posisie om pa te speel. Hy hou nie van die rol nie … veral nie teenoor ’n pragtige meisie wat ongevraag diep onder sy vel ingekruip het nie. “Vir ’n begin is dit genoeg vir jou om te weet dat ’n meisie na ’n man soek om haar lewensmaat te wees. Hulle trou en het kinders en leef die res van hulle lewe saam.”

      “Dis sonde.” Die antwoord is eenvoudig en finaal.

      “Jy is ongelooflik,” sê hy kopskuddend. “Liefde is nie ’n sonde nie. Die Goeie Skepper het dit vir ons gegee om ons lewens draaglik te maak.”

      “ ’n Mens behoort net een liefde te hê … vir God en vir die kerk.”

      Armand weet nie of hy moet lag of huil nie. Rozanne is tog nie ’n non nie, maar sy is soos een grootgemaak. Dit sal ’n sonde wees as so ’n pragtige klein mensie verlore gaan wees vir die mansgeslag. Om met haar te praat gaan niks aan die saak verander nie. Baie min redenasies sal haar eenvoudige geloof skud.

      Met ’n skewe glimlaggie gaan hy voor haar staan.

      “Luister, Rozanne, jy kan my hierna maar haat, ek gee nie om nie. Dit is egter die enigste manier om te verduidelik wat ek bedoel.”

      Voordat sy besef wat gebeur, trek hy haar nader, lig haar kennetjie op en soen haar teer, vol op haar mond.

      Dit voel vir Rozanne asof daar iets in haar ontplof … iets soet en wonderlik, en sy maak haar oë toe. Sy lippe is sag en sy ruik die son in sy klere. Sy probeer nie hierdie nuwe gevoel ontleed nie, omdat sy nie kan nie. Sy wil net ervaar en geniet en weet dat dit bestaan.

      Hy lig sy kop skielik op en kyk fronsend na die gesiggie voor hom, met die oë gesluit. Hy byt op sy tande. Ek het ’n fout gemaak, dink hy ergerlik.

      Haar ooglede fladder oop.

      “Doen dit weer … asseblief?”

      Armand weet dat hy nóú moet kop uittrek, maar hy doen dit nie. Daar is soveel verwondering in haar oë dat hy dit nie oor sy hart kan kry om nee te sê nie.

      Toe hy haar eindelik die tweede keer los, staan sy effens tru. Haar oë glinster onnatuurlik en daar is ’n glimlaggie van geluk om haar mond.

      “Is dít wat jy met die ánder liefde bedoel het?”

      Nou, dink Armand vasberade, hy moet nóú in die kiem smoor wat hy deur sy onbesonnenheid begin het.

      “Daar steek veel meer in as net ’n soen, Rozanne,” sê hy ietwat gevoelloos. “ ’n Man soen baie meisies in sy lewe en ’n meisie word deur baie mans gesoen voordat sy of hy die regte lewensmaat raakloop.”

      “Dan was dit sommer net ’n speletjie?” vra sy skewekop.

      “Ja …”

      Sy lag sag.

      “Dit was lekker.”

      Hy snak na sy asem oor hierdie onbehoorlike uitlating en bars dan uit van die lag.

      “Ek herhaal myself, maar jy bly ongelooflik.” Hy maak die kajuitdeur oop. “Toe, weg is jy na jou eie kajuit. Ek het ’n hoop dinkwerk om te doen.”

      Rozanne verlaat hom glimlaggend. Dié nuwe lewe gaan glad nie so onaardig wees as wat sy gemeen het nie. Sy verstaan nou wat die moederowerste bedoel het toe sy gesê het dat Rozanne nog nie die lewe leer ken het nie. Maar hoekom word vroue dan nonne? Hoekom roep hulle hierdie wonderlike lewe vaarwel toe om opgesluit te word in ’n klooster? Dit is vrae waarop sy nog nie ’n antwoord het nie, maar miskien sal sy dit alles ook eendag weet.

      Dwarsdeur die lang reis na die Kaap de Goede Hoop hou Armand sy afstand. Hy en Rozanne gesels dikwels, maar hulle herhaal nie daardie toneel in sy kajuit op die eerste dag nie. Net om veilig te speel, praat hy ook nie weer oor die liefde nie. Dis iets wat hom nog net pyn gebring het en hy is steeds kwaad vir homself dat hy hom so maklik in die slaggat laat trap het. Wanneer hulle in die Kaap aankom, sal hulle paadjies vir goed uitmekaargaan.

      Teen