lyk na ’n slang. Wat bakkop staan.”
“Verstommend,” sê Jimmy. “Dat hy enigiets deur daai rooi oë kan sien.”
“En wat staan onder die bakkopslang?” vra Arnold.
“Is dit letters?” Want die gravering is baie klein.
“Prys die Heer. Die Valke kan lees.”
“En ons kan bliksem ook,” sê Cupido. “Wat sê die letters?”
“N, punt, m, punt,” sê Arnold.
“So what does that mean? ‘Never mind’?”
“Waar kom jy daaraan?”
“NM. Never mind. Ken jy nie SMS-taal nie? Ek dog julle is so slim?”
“Gesofistikeerde mense gebruik nie SMS-taal nie. Hoofletter N, kleinletter m staan vir ‘newton-meter’. As al twee kleinletters is, staan dit vir ‘nanometer’. Maar in albei gevalle sonder die punte.”
“So waarvoor staan twee hoofletters met twee punte?”
“Ek dog julle is die speurders.”
“Want julle rocket scientists weet nie?” vra Cupido triomfantlik.
“Ons kan nie al julle werk vir julle doen nie.”
“Of dan minstens nie élke dag al julle werk vir julle doen nie.”
“Fokkof,” sê Griessel. “Ons moet die laaste kamer deursoek. Is julle klaar daar?”
“Nog nie eens begin nie.”
“Jissis,” sê Cupido.
* * *
Hulle gaan ondervra vir Scarlett January, die dogter van die vermoorde gasvryheidswerker Cyril.
Cupido sit langs haar op die ongemaklike rusbank in die moderne opstal se sitkamer. Hy hou haar hand vas, sy stem sag en simpatiek. Griessel en Christel de Haan sit elkeen in ’n stoel.
“I’m so sorry for your loss, sustertjie.”
Die mooi, tenger meisie knik tussen die trane deur.
“As ek kon, sou ek jou nie nou gepla het nie. Ma’ ons wil hierdie boosdoeners vang. Ons wil hulle lat betaal vir wat hulle aan jou daddy gedoen het.”
Nog ’n knik.
“Is jy O.K. om net ’n paar vragies te antwoord?”
Sy snuif en sy snuit en sy sê: “Ja, uncle.”
“Jy’s baie brave, sustertjie, jou daddy sou baie trots gewees het. Het jy elke dag saam met hom in die guesthouse gewerk?”
“Ja.”
“Die night shift, nè?”
Knik.
“Het jy die Engelse man gesien?”
“Ja.”
“Wat kan jy van hom sê?”
“Hy was baie vriendelik.”
“Het hy met jou gepraat?”
“Ja.”
“Wat het hy gesê?”
“My tafel lyk mooi. En die kos is baie lekker.”
“Is dit al?”
“En dis so mooi hier. Op die plaas. As hy so deur die venster kyk. Dis al.”
“O.K., sustertjie, daai is baie goed. Nou, die bodyguards. Het jy met hulle ook gesels?”
“Nie eintlik nie.”
“Was hulle mooi met jou?”
“Ja, uncle. Ma’ hulle was baie stil.”
“Nou, gisteraand, hoe laat is jy daar weg?”
Die herroep van die vorige aand laat Scarlett January se skouers ruk. Dit neem haar ’n rukkie om te sê: “Ek sal self nie kan sê nie.”
“Daai’s O.K., sustertjie. So more or less negeuur?”
Knik.
“En alles was O.K. daar in die guesthouse?”
Knik.
“Dieselfde as die ander aande?”
“Ja.”
“Die bodyguards was nie anders nie?”
“Nee, uncle.”
“Kan jy sê hoe jy daar uit is? Het een van hulle saam met jou geloop?”
“Ja. Die een wat hulle B.J. voor sê.”
“O.K., vertel vir my mooi.”
“Ek het vir B.J. gesê ek is klaar. Toe gaan sluit hy die voordeur oop. Toe loop hy uit en hy kyk, toe kom hy terug en hy sê als is reg. Toe roep ek vir Daddy, want hy moet my help met die trollie by daai trappies. Toe …”
“Watter trollie?”
“Die trollie met die leftovers en die skottelgoed.”
“O.K., en toe?”
“Toe gaan ons uit, toe help Daddy my by die trappies, toe stoot ek dit terug na die restaurant toe.”
“En toe sluit hulle weer?”
“Ek sal self nie kan sê nie.”
“Daai’s O.K. En jy het niks gesien nie, toe jy nou so terugstoot na die restaurant toe?”
“Ek het net …” En Scarlett January begin weer huil. Christel de Haan staan op, bring nog ’n paar snesies, en gaan sit weer.
Toe sy effens bedaar het, sê sy: “Uncle, ek … Ek is bietjie skaam, uncle …”
Cupido leun nader en fluister in haar oor. “Nou sê net vir my, I won’t tell a soul.”
Sy knik, snuit, en draai haar mond tot teen sy oor. “Daddy sê ek is met die helm gebore …”
“O.K.”
“Want ek kry gevoelentes.”
“Ek verstaan.”
“Toe ek so loop, toe kry ek ’n gevoelente, uncle.”
“Watse gevoelente, sustertjie?” fluister hy amper onhoorbaar.
“Evil, uncle. ’n Vreeslike evil. Daar by die bougainvillea.”
6
Tyrone sê vir sy suster van haar uitslae. Hy sit op die enigste gemakstoel in Nadia se eenslaapkamerwoonstel – die een met die gebreekte poot wat hy weggegooi gekry het voor ’n huis in die Bo-Kaap. Hy het dit gelas. Nie goeie vakmanskap nie, want hy weet nie veel van houtwerk nie. Maar dit is stewig, en dit sit gemaklik.
“So, I’m very proud of you,” sê hy.
Sy, met haar lang swart hare en haar fyn, amper breekbare skoonheid, sit by die groot werkstafel. Hy het dit by die tweedehandse winkel in Woodstock se Albertstraat vir ’n gesteelde iPhone geruil.
“Dankie, Boetie.”
“Jy hoef nie te worry nie, ek sal die geld hê by die einde van die maand,” sê hy. Hy haal sy beursie uit. “Hie’s die flat se rent.”
“Nee, ek het net ’n duisend nodig, ek het lekker tips gekry.”
“That’s what I want to talk about. Tips of te nie, jy’s hie’ om te leer.”
“Ma’ ek like van die werk, Boetie.”
“Daai verstaan ek, ma’ dis nou crunch time.”
“Ek kan nie heeldag net sit en swot nie.”
“So go for a walk.