sê Griessel.
“What’s next, Bennie?” vra Ndabeni.
“I need you to walk the farm perimeter,” sê hy. “The perpetrators did not enter at the main gate, so there might be signs somewhere …”
“O.K., Bennie.”
“I’m really sorry, but I don’t trust the station uniforms to do a thorough job in this weather. And if we wait until the rain stops, there might be nothing left. Ask Christel de Haan, the hospitality manager, if you can borrow umbrellas.”
“O.K., Bennie, no problem.”
En dan is hy weer alleen, en hy draai die omgekeerde lessenaarstoel regop, gaan sit sodat hy kan dink en die gewig van sy voete af kan kry.
Jissis, hy word oud. Twee, drie jaar gelede sou hy nie só poegaai gewees het na ’n nag van …
Laat hy hom by die saak bepaal.
Hy probeer dit sien, die hele ding: Gisteraand. Net ná nege. Die verdagtes skuil hier iewers, hulle kyk hoe Scarlett January en haar pa Cyril die trollie by die stoep se trappe afdra, en hoe Scarlett dit wegstoot.
Een skieter vir al twee slagoffers, het Dik en Dun gesê. Maar om ’n man te ontvoer gaan moeilik wees vir net een mens.
Een skieter, met handlangers?
Hulle skuil, tot die lyfwagte weer die deur oopmaak, die terrein bespied, en vir Cyril laat uitkom.
Hulle wag tot die deur weer toe is. Hulle sak op Cyril toe. Pistool teen die kop. Hulle neem hom terug na die voorstoep. Bel hulle daar binne. Sê jy het iets vergeet.
Cyril bel.
Hulle het hom van agter af geskiet. Bloedsproei teen die buitekant van die voordeur. Met ’n knaldemper? Waarskynlik, want niemand op die plaas het enigiets gehoor nie, en ’n skoot sou die lyfwagte binne gewaarsku het.
Waarom het Cyril nie die alarmkode oor die telefoon gegee nie?
As hulle nie oopmaak nie, as enigiets verkeerd gaan, is jy dood.
Skiet vir Cyril toe die deur oopgaan. Stamp die deur sodat die lyfwag terugsteier. Skiet die lyfwag. Hy val terug, in die voorportaal.
Die tweede lyfwag is in sy kamer, diep in die huis. Hy hoor iets, gryp sy pistool, kom in die gang af gehardloop. Die verdagtes is al in die sitkamer. Die laksman skiet die tweede lyfwag, eers deur die hand, dan in die kop.
Waar is Morris? In die eetkamer besig met sy rekenaar? In sy slaapkamer? Laasgenoemde is meer waarskynlik, hier is die enigste tekens van ’n gestoei.
Die laksman kry vir Morris. Pistool teen die kop, maar dit help nie, hy sit hom teë. Stoei hom grond toe. Laat hom lê. Boei sy polse met kabelbinders.
Hoekom een kabelbinder weer afknip? Was dit te styf?
Morris se beursie is soek. Morris se rekenaar en iPad is soek. Dalk ook ’n selfoon, al het die lyfwagte dit nooit gesien nie. Die klere is verstrooi, die kas versteur.
Het hulle eers vir Morris met ’n ekstra kabelbinder aan die bed – of iets anders – vasgebind, terwyl hulle iets gesoek het? En dit losgeknip toe hulle hom wegvat uit die huis uit?
Hoekom die beursie, rekenaar en iPad saamvat?
Wat anders is weg?
Waarna het hulle gesoek?
Waarom nie vir Morris ook skiet nie, maar hom ontvoer?
Daar is net een mens wat die antwoorde kan verskaf: Paul Anthony Morris. En hulle het nie die vaagste benul wie hy is nie.
Griessel se selfoon lui meteens in sy sak, die outydse lui waarop Alexa dit gestel het. Hy haal dit uit.
“Vaughn?”
“Benna, die foto’s van die paspoort is nou in die hande van Deputy Consul General van die British Empire, madam Carlisle. Sy sê dit gaan ’n dag of wat vat.”
“Ek sal Die Giraffe bel, Vaughn. Miskien kan hy iets doen.”
“Waar soek jy my?”
Hy huiwer voor hy vra: “Sien jy kans om weer na Louw toe te gaan?”
“Of course. Ek skrik nie vir koue lesbetariër nie,” sê hy met groot gretigheid.
Griessel wonder of dit nie ’n groot fout is nie. “Vaughn, ons moet mooi werk. Sy’t van haar mense verloor.”
“Sure, Benna, ek’s cool.”
“Kry Morris se e-posadres en al die dokumentasie wat hy ingevul het. En ons soek ’n selnommer, Vaughn. Vra of sy rekords gehou het van die oproepe verlede week. En die selnommers van die twee oorledenes ook.”
“I’m all over it. Like a rash.”
8
Op die trein terug Kaap toe skakel Tyrone Kleinbooi af, leun terug, wieg saam met die wa. Hy like van trein ry. Dis ’n escape van sy industry, hier in die derde klas. Almal arm, maar daar’s so ’n smaak van hoop, as if you’re on your way to something better. As hy down is, as hy ’n harde dag in die office gehad het, vat hy baie keer die trein en hy ry iewers heen. Lentegeur, Bellville, Simonstad, hy het al twee keer met Metrorail al die pad Worcester toe gery, en dan droom hy van Europe by rail, eendag. Na Barcelona toe, the Holy Grail of pickpocketing, soos uncle Solly dit altyd genoem het.
Hy weet hoekom hy vandag so knaend aan uncle Solly dink. Dis oor die pressure. Hy’t daar vir sy suster sit en lieg – O.K., dis ’n ding wat hy nou al jare lank oor sy job doen, maar hy’t nog bygelieg vandag, by Desember is daar genoeg vir die helfte van volgende jaar se study fees ook, wat natuurlik a blatant lie is. Dat toerisme sewentien persent op is, dat die Cape economy boom, that’s all true. Maar vir ’n pickpocket help dit net mooi fokkol.
Why? Die kameras, that’s why.
Toe uncle Solly hom nege jaar gelede begin coach het, was alles anders. Hier en daar ’n CCTV cam in ’n shop, ma’ hy’s nie ’n shoplifter nie, shoplifting is vir amateurs en teenagers, Ty, too easy to get caught, want da’s net een exit, en jy soek altyd meer as een, áltyd. Maak nie saak dat hy wat Tyrone is nege jaar gelede ma’ twaalf jaar oud was, nog nie eens ’n teenager nie, ma’ dis uncle Solly vir jou.
Vat nou ma’ die postcard trick – daai dae kon jy dit nog doen. Suiker in by Café Mozart se buitetafels, da’ in die Church Street mall, loep na die tourist toe met jou twelve year old even features en jou charming smile, en die postcards, almal deur uncle Solly met die hand uitgesoek, mooi goed, Table Mountain, Table Bay, cute Boulders Beach penguins, en so ’n paar met Madiba op. Nuut en blink.
“Madam, have you sent your loved ones a Cape Town postcard yet?” vra jy in jou sweetste ou kinderstemmetjie.
“Oh, aren’t you just the cutest. That’s a great idea. George, we should send Shirley a postcard … Oh, aren’t the penguins adorable …”
En hy sit die postcards neer bo-op die wallet of die selfoon of die paspoorte wat daar op die rand van die tafel lê, sy vingers wat hulle uitfan, vinnig en getrain soos ’n card sharp, terwyl hy die wallet vat en onder die postcards vasdruk. En die husband vra: “How much?” en hy sê: “Just five rand, it’s for my school fees,” en die auntie sê: “We’ll take two,” en sy vat met haar vet, beringde vingers van die poskaarte, en die husband begin sy wallet soek. “I’m sure I had it …”
Daai trick kan jy lankal nie meer traai nie, want nou’s daar kameras om elke hoek en draai in die stad, and somewhere ’n bloubaadjie wat vir screens sit en kyk en met die radio vir die Metro cops laat weet jy steel die tourists kaal. Nou moet jy vier keer per dag terugloop na jou kamertjie in die Bo-Kaap en ’n ander kleur hemp en ’n ander cap of beanie of hoedjie gaan aantrek, solat die bloubaadjie voor die screens nie vir jou begin notice nie.
So what’s a girl to do?
In dié