’n toebroodjie gemaak, kom eet gou.”
Hy hou nie daarvan as sy hom ’n “baasspeurder” noem nie. Hy het haar darem al oorreed om hom nie meer só aan haar vriende voor te stel nie.
“Baie dankie,” sê hy.
“Plesier. Ek hou die verrassing vir later, as jy klaar gestort het.”
* * *
Jou pickpocket-week het ’n baie specific pattern. Vrydae en Saterdae is prime time, die mense is op straat, hulle se koppe is los, het uncle Solly altyd gesê, en hulle is flush, kontant in die sak.
Dinsdag, Woensdag en Donderdag is O.K., no great shakes, ma’ jy kan werk. Veral noulat die clubs so kook in die aande in, lots of young people with lots of money, en jy kan sê jy help, want jy vat die geld wat vir die cocaine sou gegaan het.
Die sewende dag is om te rus, Tyrone, want Lord knows da’ ga’ niks aan nie, not even in the malls, behalwe voor Christmas, daai’s ’n ander storie.
En Maandae is ook maar kak, dankie.
Daarom gaan maak hy ’n draai by die Groentemarkplein, net om seker te maak daar is nie dalk ’n verlore toerbus vol Europeërs wat “oe” en “aa” oor al die cheap merchandise met African flavours wat eintlik uit die China uit kom nie.
Daar is nie.
Hy gaan koop ’n meat pie op die hoek van Lang en Wale, loop op met Longmarket, verby die homemade Frederickstraat-bordjie, seker nog nie hoog en grênd genoeg neighbourhood dat die DA government ’n official street sign wil hang nie. As bad as the ANC, hulle is ma’ ammal useless. Noordwester waai kwaai, dis ’n lang, steil trek na sy buitekamertjie toe, daar bo in Schotsche Kloof se Ellastraat, wat hy agter in die jaart van die ryk Muslims se grênd huis huur vir four-fifty in die maand. Een muur is kitchen counter en opwasbak. Een muur is built-in melamine cupboards. Hy’t ’n enkelbed en ’n bedside table. Klein badkamertjie. By die buitedeur hang die interkom, ’n reminder dat dié servants’ quarters was. En nou en dan sal die oudste twenty-something dogter van die ryk Muslims hom buzz. Vir hom nag oor die garbage, of oor hy nie die voorste security gate mooi toegemaak het nie. Sy hang heeldag by die huis uit. Sy’s ’n bietjie vet. En lonely.
Shame.
Hy sal na sy 32 Gig iPod Touch gaan luister, die een wat hy by ’n Duitse backpacker gesteel het in Desember, helfte van die musiek is death metal, ma’ die ander is O.K.
Time to ponder.
10
Dok Barkhuizen is een-en-sewentig jaar oud. Hy het ’n dik bril, wilde wenkbroue, en lang grys hare wat hy in ’n astrante poniestert vasbind, gewoonlik met ’n ligblou lint. Hy het ’n ondeunde gesig wat Bennie aan een van die sewe dwergies uit Sneeuwitjie herinner, en ’n spreekkamer in Boston waar hy – ná ’n kortstondige aftrede by Witsand op ouderdom vyf-en-sestig – steeds elke weeksdag as algemene praktisyn pasiënte sien.
En hy is ’n alkoholis.
“Ek is vierhonderd-twee-en-twintig dae skoon, Dok,” sê Griessel dadelik.
“Wil jy suip?”
“Ja, Dok. Maar nie meer as gewoonlik nie.”
“Nou vir wat kom hou jy my weg van Hot in Cleveland?”
“Hot in Cleveland?”
“Dis ’n sitkom, Bennie. Dis die soort van ding wat normale, bejaarde, rehabiliterende ouens in die aand saam met hulle vrouens kyk om hulle weg te hou van verveling en die versoeking van die bottel.”
“’Skuus, Dok,” sê hy, al weet hy Barkhuizen neuk net met hom.
“Hoe gaan dit met die kinders?”
Hy sal eers hier moet deur, dit help nie jy probeer vir Dok aanjaag nie. Sy borg soek wyd vir gevare en hy wil altyd besonderhede hê. “Goed, oor die algemeen. Fritz het nou besluit hy wil volgende jaar filmskool toe. Omdat hy ’n paar musiekvideo’s saam met Jack Parow geskiet het. Nou wil hy met alle geweld ‘moewies maak’. En AFDA se klasgelde, Dok … Ek sal ’n verband moet vat op ’n huis wat ek nie het nie. Maar dis seker beter as geen geleerdheid nie. Of polisie toe.”
“En Carla? Is sy en die Etzebeth-rugbyspeler nog bymekaar?”
“Ja, Dok. Vreeslik.”
“Ek kan hoor jy hou nog steeds nie van die kêreltjie nie.”
Dit is Etzebeth se tatoeëermerke wat Griessel die meeste pla – dit hoort by tronkbendes – maar hy weet Dok gaan sê hy’s bevooroordeeld. “Hy’s uit die span geskors oor bakleiery, Dok.”
“Ek het in die koerant gesien. Maar jy moet erken, nie sleg om op twintig al vir die Vodacomspan te speel nie.”
“Hy’s aggressief, Dok.”
“Met Carla?”
“Ek sluit die fokker toe as hy dít waag.”
“Jy bedoel op die veld?”
“Ja.”
“Dis sy jop, Bennie.”
Griessel skud net sy kop.
“Hoekom is jy hier?” vra Dok.
“Want my kollegas dink ek drink weer.”
“Wat gee hulle daardie idee?”
“Ek het gisteraand in my kantoor geslaap. Ook nie veel nie. Toe lyk ek sleg vandag.”
“Dis al?”
“Ek het verlede week ook twee aande in my kantoor geslaap.”
“Van werksdruk?”
“Nee, Dok.”
“Gaan jy vir my sê wat makeer, of moet ek dit uit jou uit trek?”
Griessel sug.
“Dis Alexa,” sê Dok Barkhuizen met sekerheid. Hy keur Griessel se verhouding met haar ten sterkste af – hy sê twee wankelende alkoholiste bymekaar is moeilikheid, “en as die een nog ’n arties ook is, het jy ’n resep vir ’n gemors”.
“Alexa is honderd-een-en-vyftig dae skoon, Dok.”
“Maar?”
“Ek het ingetrek.”
“By haar?”
“Ja, Dok.”
“Here, Bennie. Wanneer?”
“Drie weke gelede.”
“En?”
“En dis moeilik, Dok. Nie oor die drank nie, ek sweer. Ons … dis makliker, sy verstaan die lus, Dok, ons help mekaar.”
“Jy weet ek dink dis ’n pot stront. Maar gaan aan.”
Hy het die hele pad hiernatoe gedink hóé hy gaan lieg, want in die begindae van sy rehabilitasie het Barkhuizen hom elke keer uitgevang – hy ken al die jakkalsdraaie van ’n alkoholis. Griessel het besluit op halwe waarhede, dit is die veiligste. En nou wil die regte woorde nie kom nie. “Jissis, Dok …”
“Het jy ’n probleem met commitment, Bennie? Of verlang jy nog na Anna?”
“Nee, Dok. Dis net … Dis seker maar die commitment, soort van …”
“Soort van?”
“Dok, ek was gewoond om op my eie te wees. Twee jaar lank. Om te kom en gaan soos ek wou. As ek in die oggend lemoensap uit die bottel wil drink, as ek in die aand wil baskitaar speel, as ek net fokkol wil doen …”
“Nou vir wat het jy gaan staan en intrek? Wag, moenie vir my sê nie. Dit was háár idee.”
“Ja, Dok.”
“En toe voel jy te sleg om nee te sê.”
“Nee,