hy by die hysbak uitkom op die sestiende verdieping van die kantoorgebou in Riebeeckstraat, sien hy wat Vaughn bedoel het met “grênd, pappie, big bucks”. Op die dubbel-glasdeure staan daar in sterk, manlike letters BODY ARMOUR. Daaronder, in slanke sans serif: Personal Executive Security.
Hy stoot die deur oop. Die mure en welige tapyte is grys, die minimalistiese meubels van swarthout, net hier en daar spatsels van grasgroen en chroom. Agter ’n swartblad-lessenaar, met daarop net ’n silwer Apple-skootrekenaar, ’n slanke groen telefoon en ’n klein aluminium-naambord wat sê Jolene Freylinck, sit ’n beeldskone vrou – lang, donker hare, dieprooi lipstiffie, swart bloes en romp, elegante bene wat eindig in swart hoë hakke.
“Jy moet een van die speurders wees,” sê sy ernstig en gedemp.
Hy besef hoe sy weet.
Hy knik en sê: “Bennie Griessel.”
Sy steek ’n gemanikuurde hand uit na die telefoon, druk ’n knoppie, wag ’n oomblik. “Speurder Bennie Griessel is hier.”
Sy luister, kyk met ’n effense frons na hom. “Jy kan maar ingaan,” sê sy en beduie na die swart deure met die chroomhandvatsels.
Hy kan sien sy is ontsteld oor die verlies. “Dankie.”
Jeanette Louw sit agter haar swarthoutlessenaar. Die baadjie hang aan ’n staander in die hoek, haar strepiesdas is losgetrek. Sy lyk ouer en moeër as vanoggend.
“Kaptein,” groet sy. “Kom in. Sit asseblief.”
Hy kan hoor sy onderdruk die antagonisme. Hy gaan sit in ’n swart leerstoel.
“Ek verstaan van jou kollega daar is nog geen leidrade nie.”
“Dis reg.”
“Jy weet hy is ’n doos. En dit het niks met ras te doene nie.”
Griessel sug. “Hy is ’n baie goeie speurder.”
Louw staar net na hom. Hy weet nie mooi hoe om haar aan te spreek nie. “Was jy in die Diens?” vra hy.
“Die polisie?”
“Ja.”
“Nee.” Met afkeer.
Hy is te moeg om te reageer.
“Ek was die regiment-sammajoor van die Vroueleërkollege op George,” sê Louw.
Hy knik net. Dit sou makliker gewees het as sy ’n oud-lid was. “Dit lyk of Morris ontvoer is,” sê hy.
“So verstaan ek.”
“Dit maak dinge moeilik met die media.”
“O?”
“Die probleem is … Ons neem aan hy is ’n ryk man …”
Sy snap gou. “Omdat hy my diens kan bekostig.”
“Dis reg. Dit kan wees dat hulle ’n losprys … Omdat ons nie weet of sy naasbestaandes al deur die ontvoerders gekontak is nie. Hulle sê gewoonlik daar mag niks in die media wees nie, en die polisie mag nie gekontak word nie, anders maak hulle die ontvoerde dood.”
“Ek verstaan.”
“As ons vir die media sê daar was twee lyfwagte, sal hulle wil weet wie opgepas is.”
“En vir wie hulle gewerk het.”
“Ja.”
“Jy wil eers niks sê nie.”
Sy’s slim. “Is dit moontlik om … Sal jou mense se naasbestaandes verstaan? As ons die name uit die media hou? Vir eers.”
Louw leun terug in haar stoel. Sy vryf met haar hand oor haar sterk ken, sê dan: “Soveel as wat dit my maatskappy se reputasie ook sal baat om nie in dié geval publisiteit te kry nie, sal ek dit aan die naasbestaandes moet oorlaat. Ek is dit aan hulle verskuldig.”
“Natuurlik.”
“B.J. Fikter het ’n vrou en ’n kind …”
Griessel sê niks.
“Ek sal probeer,” sê sy.
* * *
By die Valke se kantore op die hoek van Landdros- en Markstraat in Bellville klop hy aan die kosyn van Zola Nyathi se oop kantoordeur.
Die kolonel wink vir hom om in te kom, beduie hy moet sit.
Met Nyathi se oë stip op hom doen hy noukeurig en volledig verslag.
“Thank you, Bennie. Good work. But we have a media problem.”
“Yes, sir.”
“I’ve approved your strategy, but Cloete says they’re going nuts. The radio stations are already throwing around words like ‘massacre’ and ‘bloodbath’, and are speculating about drugs and gang violence. I don’t know how long we can keep this under wraps.”
“I’ll move as fast as I can, sir. The consulate … If we can get hold of Morris’s family …”
“The brigadier has spoken to our deputy national commissioner, who has asked Foreign Affairs to get involved. So we should soon see results.”
“Thank you, sir.”
Griessel staan op.
“Bennie, just a moment,” sê Nyathi baie ernstig.
Hy gaan sit weer. Hy weet wat kom.
“Bennie, I don’t want to pry. But you understand that your personal well-being is very important to me.”
“Yes, sir.”
“Can I ask you a favour?”
“Yes, sir.”
“You have a mentor, at the AA …”
“A sponsor, sir. But I can assure you …”
Hy bly stil toe Nyathi sy hand lig. “You don’t have to assure me of anything, Bennie. We have a few hours before the cellular data and consular information might come in. I want to ask you to go home, take a shower, and speak to your sponsor. Would you do that for me, Bennie?”
“Yes, sir. But I want to …”
“Please, Bennie, just do that for me.”
* * *
Hy wil nie huis toe gaan nie. In die ry bel hy eers vir Alexa.
“Jy is seker heeltemal gedaan,” antwoord sy met groot simpatie in haar stem.
“Ek kom net gou stort en aantrek,” sê hy.
“Ai, Bennie, ek verstaan. Is dit die Franschhoek-moorde?”
“Dit is.”
“Ek het oor die radio gehoor. Wil jy gou iets eet?”
“Dankie, Alexa, maar daar gaan nie tyd wees nie. Sien jou oor ’n halfuur …”
En dan bel hy vir Dok Barkhuizen, sy borg by Alkoholiste Anoniem.
“Dok, ek wil kom praat.”
“Nou?”
“So sesuur se kant, Dok.”
“Kom spreekkamer toe. Ek wag vir jou.”
Dok, wat nooit verwyt nie. Net altyd beskikbaar.
Maar hy sal vir hom ook moet lieg.
* * *
Die tuinhekkie van Alexa se groot Victoriaanse huis in Brownlowstraat, Tamboerskloof, raas nie meer nie. Amper sewe maande se restourasiewerk is afgehandel en die tuin is oorgedoen. Dit lyk nou na die woning van ’n veteraan-musiekster.
Sy moes die venster dopgehou het, want sy maak die deur vir hom oop en omhels hom.
“Ek ruik nie lekker nie,” sê hy.