’n boks sjokolade aan Cecilia. “Vir jou, met komplimente van jou eks.”
“Vera!” raas Cecilia. “Jy kan nie arme Steve se geld so mors nie.”
“Hoekom nie? Hy het nie gesê hy wil kleingeld hê nie. ‘Arme’ Steve het baie geld om te brand. Soos hy rubber gebrand het netnou hier in die pad af, snelweg toe. Hy het my nie eens by die verkeerslig sien staan nie. Daai Porsche gaan ’n nuwe rekord opstel: twintig spoedkaartjies op ’n streep tot by die lughawe. Môre is hy in die koerant. Of in die tronk.”
Sy begin sit borde, messe en vurke reg. “Daardie bloed by die voordeur – is dit joune of syne?”
“Bloed?” vra Cecilia verward.
“Spatsels, teen die kosyn. Wat het gebeur? Wie het vir wie bloedneus geslaan?”
“Ek wou, maar ek het my bedwing. Ek dink dit was sy hand, die kneukels was stukkend. Ek wou dit ontsmet, maar hy was te ongeduldig.”
“Frustrasie, befoeterdgeit of om simpatie te wen?” Vera is min gepla. “Toemaar, jou held sal nie doodgaan nie. En hopelik leer hy daaruit om in die toekoms sy hande van ander vroumense af te hou. Het hy uitgevra na die ander kêrel, die een standvastiger en met meer integriteit as hy?”
“Hy was haastig, en hy’t te veel ander dinge gehad om aan te dink,” skerm Cecilia.
“Het hy gevra of jy bereid is om jou bedanking terug te trek?”
“Nee.”
“Het hy verduidelik hoekom hy Nadine nie na een van die ander lugwaardinne se kamers geneem het nie? Daar was nege ander waardinne. Dit was mos nie nodig dat juis hý haar moes lawe nie.”
Nee, dink Cecilia. Hy het nie regtig verduidelik nie. Ook nie waarom hy blykbaar nie haastig was om Nadine se arms om sy skouers los te maak en vir die flerrie klere aan te kry nie . . .
“Steve is te seker van jou, en van homself. Hy dink seker jy is ’n pampoen.” Vera haal ’n kurktrekker en glase uit terwyl sy Cecilia krities beskou.
“Ek hoop nie jy gaan weer ’n jellievis wees wat na sy pype begin dans die oomblik wat kaptein Hot Pants sy vingers klap nie,” sê sy. “Jy het jou les geleer, vriendin. Moenie sy stories sluk en hom jammer kry of toelaat dat hy op jou gevoel speel nie. Anders was al jou opofferings verniet en gaan jy net weer van vooraf seerkry. Mans is almal dieselfde – al rede hoekom hulle verskillende gesigte het, is sodat jy hulle uitmekaar kan ken.”
Teen haar sin kry Cecilia lag. Vera is goed met salf smeer en pleisters plak.
“Dis nie meer die Middeleeue nie,” vermaan sy. “Die tyd toe ’n vrou onderdanig ja en amen geantwoord het op alles wat haar heer en meester sê, is verby. ’n Vrou is ’n volwaardige individu met ’n eie mening, ’n brein wat kan dink en ’n stem wat gehoor moet word.”
“Ek stem!” Cecilia neem ’n hap pizza en lig haar glas. “Op die moderne, geëmansipeerde vrou!”
6
Cecilia is weer besig om pasta te maak, dié keer vir haar en Melanie, toe die telefoon ’n paar dae later lui.
“Sal jy antwoord?” skree Melanie vanuit die kamer. “Ek is besig om my naels te verf.”
Seker weer Wikus of Robert of Charl, vir Vera, dink Cecilia. Mans hou blykbaar van hardgebakte, bevryde vroue. Steve was reg: hulle staan tou om Vera fliek toe te nooi, Kyalami toe, Drakensberge toe; vir ’n braai, ’n sokkie, ’n swem, of wat hulle ook al kan bedink.
“Juffrou Louw?” verneem ’n vrouestem wat vaagweg bekend klink, saaklik en nie juis vriendelik nie.
“Cecilia Louw wat praat, ja,” antwoord sy. Is dit die Vrystaatse dagblad wat vir ’n proefleser geadverteer het? Of die werwingskantoor vir au pairs in Amerika? Sy is so desperaat, sy sal enigeen van die twee aanvaar.
“Hou aan vir meneer Meiring,” versoek die stem. Die assosiasie skop skielik in: witkop, halfmaan-wenkbroue, pêrel-oorbelle.
Cecilia klem die gehoorbuis vas. Hy sal nie bel net om te sê haar aansoek het nie geslaag nie . . . Of sal hy? Dalk soek hy ’n getuigskrif, of ’n verklaring van Binnelandse Sake dat sy nie ’n tronkrekord het nie en dat haar belasting betaal is.
“Hallo, Cecilia?” klink sy stem in haar oor, warmer en dieper as wat sy dit onthou. ’n Tinteling spiraal teen haar ruggraat af, sodat haar knieë skielik soos gesmelte kerswas word en sy ’n stoel moet naderhaak om te gaan sit.
“Ja?” Sy is vies omdat sy so uitasem klink, asof sy pas die Comrades gehardloop het.
“Melt Meiring hier, van Mlala Lodge.”
“Goeiemiddag, meneer Meiring.”
“Hoe gaan dit met jou?” vra hy vriendelik.
“Dit hang af . . .” antwoord sy eerlik.
“Waarvan?”
Sy byt op haar onderlip. “Van die . . . e . . . rede waarom u gebel het.”
Hy lag, en nog ’n assosiasie vorm in haar gedagtes. Strepiesgebleikte blonde hare, effe langer as Steve s’n, kuiltjie in die ken en blink sjampanje-oë. Sy bloos opnuut by die gedagte aan haar arms om sy nek en haar lyf teen syne. Hoe op aarde kon sy haar verbeel het hy is haar broer? Die man smokkel met haar kop.
“Ek weet nie of dit goeie of slegte nuus is nie. Die rede hoekom ek bel, is om te sê ons sal jou graag wil aanstel as jy nog in die pos belangstel. Of het jy reeds ander werk aanvaar?”
Cecilia is terug in die Comrades, behalwe dat sy nou genoeg krag het om Polly Shorts volspoed uit te hardloop. Sy moet haarself maan om rustig te reageer.
“Dis goeie nuus. Baie dankie vir die vertroue in my. Ek stel steeds belang, ja, en ek het nog nie ander werk aanvaar nie.”
“Wanneer kan jy begin?”
“Enige tyd wat geleë is.”
“Maandag?”
Dis bietjie gou . . . Sy maak ’n paar vinnige somme. Daar is nie veel om te pak nie, ’n paar briewe om te skryf, ’n klompie banksake om af te handel en rekeninge om te betaal.
Haar motor moet versien word, en sy sal moet reël vir veilige stoorplek vir haar meubels, veral die klavier. Die Bechstein is ’n familie-erfstuk, ’n kosbaarheid na aan haar hart; dit mag nie skade kry nie. Sy kan Saterdag haar skilderye, boeke en los goed by Steve se huis gaan haal en Sondag ry – voor hy terug is van sy vlug.
Vera kom eers Maandagaand van Mauritius af en hulle sal mekaar misloop, maar dis nie die ergste nie. Sy kan later by die Lodge kom kuier as sy ’n paar dae vry het.
“Maandag sal reg wees, meneer Meiring.”
Die koerantadvertensie het gemeld dat salaris onderhandelbaar is, maar hy noem ’n bedrag wat haar verwagting oortref.
“Die vergoedingspakket sluit in ’n mediese en pensioenfonds, ’n dertiende tjek en vyftien werksdae verlof per jaar, asook losies in die vorm van ’n gemeubileerde eenslaapkamer-chalet. Dis selfsorg, maar etes is beskikbaar in enige van die restaurante, met afslag vir die personeel. Dit geld ook vir die skoonheidsalon en klereboetiek.”
Laasgenoemde sal welkom wees, mits die boetiek nie astronomiese pryse vra nie. Vyf jaar van uniform dra het haar bederf. Sy het ’n hand vol baadjiepakke en ’n klompie meng-en-pas-stukke van goeie gehalte, maar verder bestaan haar klerekas uit denims, kortbroeke, tops en tekkies. Nie eintlik geskik vir die skakelbeampte van ’n vyfsterhotel nie.
Onverwags trek haar keel toe. Waarvoor op aarde laat sy haar in? Is sy oorversekerd en voortvarend, of gewoon domastrant?
“Enige vrae?” wil hy weet. “Dinge waaroor jy uitsluitsel wil hê?”
“E . . . nee.”
Dit hoef nie vir altyd te wees nie, troos sy haarself. Sy kan ’n maand kennis gee as die werk haar