staan hy vir haar en wag, arms gevou en leunend teen die ontvangstoonbank. Dis Sondag, die witkopsekretaresse is nie aan diens nie en in die plek van ’n formele pak het hy ’n roomkleurige sportbroek en loshangende syhemp aan. Die dun wit materiaal span oor sy skouers en die toutjies deur die boonste knoopsgate is nie toegeryg nie, sodat daar in die oop nekgleuf ’n driehoekige strook van sy borskas wys. Dis bruingebrand, met ’n paar goue borshare wat aan die onderpunt krul.
Cecilia het onthou hoe onweerstaanbaar aantreklik hy is, maar sy was nie voorbereid op die verwoestende impak van sy skielike teenwoordigheid nie. Haar hart begin bons teen haar ribbes en ’n warm sensasie kriewel onder haar midderif. Sy wonder of dit net sy is, en of hy hierdie effek op alle vrouens het – ’n sluimerende begeerte wat op al die geheime plekke in haar lyf wakker gemaak word . . .
“Hallo, Cecilia,” groet hy.
Waar kruip sy weg as hy agterkom waaraan sy dink?
“Goeiemiddag, meneer Meiring,” antwoord sy formeel, asof sy só ’n skans tussen hulle kan oprig.
Sy een wenkbrou lig en ’n glimlag trek aan sy mondhoek. “Ek sien jy het dit toe darem oorleef . . .”
Cecilia is nie op haar intelligentste nie. Sy is moeg en haar hormone funksioneer sterker as haar breinselle. “Die lang ent pad?” aarsel sy, onseker waarna hy verwys. Of bedoel hy die tien dae van naels kou?
Hy beduie na die hysbak. “Jou opvolgbesoek aan die leeukuil.”
Sy lag verleë. “Al die tweede keer. Dis nie meer ’n probleem nie. Daniël en die vleisvreters begin al vriende word.”
“Het jy nie laas ná die onderhoud met die trappe afgeklim nie?”
“Nee. Ek was bang dan sneeubal die neurose en ruk handuit. ’n Hysbak is soos ’n perd. As hy jou afgooi, is die beste raad om op te klim en weer te ry. Moenie vir hom wys jy’s bang nie.”
“Darem nie terwyl jy bloei nie,” keer hy, met ’n deernisvolle klank in sy stem wat haar week laat. “Ek kan raai wat dit jou gekos het, en ek het begrip vir jou probleem. My kleinsus ly ook aan engtevrees. Waar sy is, moet daar altyd ’n oop deur of venster wees. Sy klim nie in ’n motor nie, nie eens ’n bus of ’n trein nie. ’n Hysbak sal vir haar ’n nagmerrie wees. As daar dan boonop ’n kragonderbreking is, kan ons haar maar begrawe.”
Hy glimlag. “Jy is ’n meisie met pit in jou pype, Cecilia Louw. Nogtans wens ek dat ek by was om jou te help.”
Pit? Dis beter as jellie. Sy skud haar kop. “Dankie, maar verlede keer se misbruik van jou teenwoordigheid was erg genoeg.”
“Deel van Mlala se vyfsterdiens,” antwoord hy sedig.
Sy word rooi. “Ek is skaam oor my voorbarigheid.”
’n Oomblik lank blink sy oë van innerlike pret. Dit lyk of hy haar wil terg, maar dan bedink hy hom blykbaar.
“Was dit nou makliker as laas keer?” wil hy simpatiek weet.
Cecilia wil nie ’n groot storie daarvan maak nie. “Ek kyk nie in my truspieëltjie nie. Feit is: ek het die haaie besweer, die duiwels en die botsende sterre, en ek kan nou aangaan met die res van my lewe.”
Dit was ’n ongelukkige woordkeuse. Haar gedagtes is opeens terug in Pretoria, by Steve – wat teen hierdie tyd seker al geland het, deur doeane is en op pad is huis toe. Hy gaan ontplof en nadat hy deur die dak geklim het, op die foon klim . . . Dis hoekom sy haar selfoon al ’n uur gelede afgeskakel het. Voorkoming is beter as genesing.
Melt steek sy hand uit. “Welkom in die Mlala-familie. Ek hoop jy sal gou inskakel en gelukkig wees hier.”
Cecilia bêre Steve in ’n kompartement diep agter in haar geheue, by die seer van haar afskeid van Lugdiens, haar vriende, Lissabon en Algarve, Rome se hemelse cappuccino, Parys se winkels, en die towerkrag van ’n makrostraler so groot soos ’n rugbyveld met skreeuende motore volspoed op ’n aanloopbaan . . .
“Dankie, meneer Meiring. Ek sal probeer om julle nie teleur te stel nie.”
“My naam is Melt,” korrigeer hy terwyl sy hand om hare sluit. “Aangesien ons soos familie gaan wees, verkies ek ’n meer informele werksmilieu.”
Sy onthou hy het die personeelbeampte ook sommer Wessie genoem. En die adjunkbestuurder Arnold. Sy sou ’n meer formele verhouding verkies het, maar dit sal moedswillig lyk as sy aanhou “meneer”. Die beste sal wees om hom niks te noem nie, vriendelik te wees, sonder om sosiaal te meng.
Hy besef blykbaar nie die handdruk hou bietjie lank aan nie. Cecilia kan nie stry dis baie lekker dat daardie sterk vingers so styf om hare vou nie. Maar dit gooi haar hart uit ritme en doen duistere dinge aan haar wat sy liefs wil vermy. Sy maak haar hand taktvol los.
Hy kyk geamuseerd na haar. Sy kry die idee meneer Melt Meiring is nie ’n ingedagte soort man wat sal vergeet dat hy besig is om ’n meisie se hand vas te hou nie. Geniet hy dit om haar op die agtervoet te hou? Sy weet nie of hy haar terg en of hy met een of ander speletjie besig is nie. Steve is nog te rou in haar binneste, en sy wil nie betrokke raak nie.
Melt wys na ’n verbindingsdeur wat links uitloop. “Sal ons deurstap na my kantoor?”
In die pragtige ruim vertrek beduie hy haar na ’n stoel en neem plaas agter sy lessenaar.
“Ter inligting: die hotel bestaan uit ’n oos- en wesvleuel wat gesamentlik beskik oor negentig en suite-dubbelkamers, elk toegerus met lugreëling, DStv, ’n privaatkroeg en yskas, met deurnag-kamerdiens, valetdiens en faksgeriewe, asook breëband-internet. Daar is ook ’n wittebrood- en presidensiële suite. Die vyfde verdieping is, soos jy reeds weet, die administratiewe gedeelte. Dit bevat ook die beheerkamer waar die sekuriteitskameras gemonitor word. Die sesde verdieping staan bekend as die Indaba, met konferensiegeriewe vir honderd mense. Buite is twaalf selfsorgchalets, waarvan nommer 3 aan jou toegesê is.
“Jy het ’n assistent, Garth van Schalkwyk – toegewyd, bekwaam en baie aangenaam. Julle deel ’n groot kantoor op die grondvlak langs die sigaarkamer, die Induna – daar word die dag se markaanwysings, effektebeursuitslae en aandelepryse aangebied, hetsy elektronies of met die jongste koerante. Die casino beslaan die helfte van die oosvleuel, met sy eie restaurant en kroeg. Die hoofgebou het vier restaurante: die Impala à la carte, die Eland vir ontbyt, en in die buitelug die Boma en die Lapa, wat vir funksies en onthale gebruik word. Daar is vier kroeë en drie swembaddens, ’n sauna, skoonheidsalon, boetiek, gimnasium en gholfbaan. Ook toesluitparkering op aanvraag en ’n motorhawe. Hou jy by?”
Sjoe . . . Cecilia knip haar oë. “Gelukkig het albei my breinselle fotografiese geheues.”
Melt lag en skuif ’n leergebonde lêer na haar toe. “Binne-in is ’n brosjure met detail oor al die fasiliteite, ingeval jou kameras nie films in het nie. Jy hoef nie alles te papegaai nie en kan die inligting op jou eie tyd bestudeer. Jy het nie vaste werksure nie, wat daarop neerkom dat jy basies vier en twintig uur aan diens is om na gaste se behoeftes om te sien. Klagtes, probleme, navrae, ensovoorts . . . Troubleshooting, noem die Yanks dit.”
“Ek ken die term. Vure doodslaan – soos internetprobleme, stukkende lugreëling, yskas of koffiemasjien, luise in die bed of ’n mamba in die bad?”
Hy grinnik. “Jy het die bobbejaanspinnekop teen die plafon vergeet. Lekkerder gaan wees die Wildtuinritte: gewoonlik ’n groep van tien tot vyftien mense, in een van ons bussies. Soms oornag julle in een van die ruskampe, gewoonlik Skukuza of Berg-en-Dal. Jy sal verantwoordelik wees vir die besprekings, huisvesting en etes. Saam met jou werk ’n busbestuurder wat die roetes ken, vir die tegniese aspekte sal sorg en jou sal bystaan in geval van probleme. Ek neem aan jy was al in die Krugerwildtuin?”
“Sedert my kinderdae elke langnaweek en skoolvakansie. My pa was jare lank ’n ere-veldwagter.”
“Ekskuus, dom vraag gewees . . . En besienswaardighede in die omgewing? Ken jy Pelgrimsrus, Sudwala en Blydepoort?”
“Die Eggo-grotte, die Long Tom-pas, God’s Window,