Elizabeth Wasserman

Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe)


Скачать книгу

      

      Anna Atoom en die seerower se dolk

      Skooluitgawe

      Elizabeth Wasserman

      Tafelberg

      Vir William Travis, die seesklipad en al die haaie in die Indiese Oseaan

      1: Die seerower se dolk

      Die wrak van die seerowerskip Chivonne sou sekerlik vir ewig verlore gewees het as ’n honger hamerkophaai nie een middag op die rif rondom MonPetit-eiland gaan kos soek het nie.

      Anna swem in die see. Die vlak water rondom die eiland waar sy en haar familie woon vorm ’n natuurlike akwarium1 waarin sy haar seeslakke hou. Anna versamel hulle van oral op die eilande om hier te kom bly.

      Die son begin sak. Die dag se hitte talm2 nog en die see is aanloklik. Anna skop luiweg met haar swemvinne en gly so glad soos ’n vis deur die water. Sy het leer swem nog voor sy kon loop. Sy weet presies hoe om haar asemhaling te reguleer3 en hoe om soos ’n vis op die rustige seestrome te dryf, maar sy gebruik geen snorkel of ander duiktoerusting nie.

      Anna byt ’n klein toestel tussen haar tande vas. Dis ’n Waterlong, ’n vernuftige stuk toerusting wat haar pa jare gelede ontwerp het. Dit werk op dieselfde manier as die kieue4 van ’n vis, en daarmee kan sy suurstof direk uit die seewater suig.

      Almal weet dat mens liewer uit die see moet bly ná sononder. Dis die jagtyd van honger haaie wat dikwels vanaf die oop see oor die rif kom vir aandete in die vlakker water.

      Anna weet dit ook. Maar wanneer anders kry sy kans om te swem? Weeks­dae sit sy heeldag in die skool.

      Skielik begin haar ArmAlarm skree. Net toe vang haar oog iets blinks op die bodem van die see. Haar nuuskierigheid kry die oorhand.

      Sy sien ’n stuk metaal wat uitsteek onder dooie koraal. Sy probeer dit loswoel. Dit lyk baie oud; korale en skulpvissies groei daarop. Ewe skielik kom dit los. Die deel wat onder die sand gelê het, is skoner, en sonder alge en roes. ’n Lang, plat lem kom te voorskyn. Dit is die hef van ’n dolk!

      Een van die laaste strale van die ondergaande son glim dof op die silwer lem. En dis dié weerkaatsing van lig wat waarskynlik Anna se lewe red.

      ’n Reusagtige hamerkophaai pyl op haar af. Maar toe hy amper by haar is, trek die blink ligflits sy aandag af en hy swem bo Anna verby.

      Anna se bloed raak yswater. Bly kalm, bly kalm! maan sy haarself. Gelukkig vir haar is die haai se honger veel groter as sy brein, en die blink voorwerp lyk vir hom na die lekkerste deel van hierdie aandete.

      Die haai sirkel terug en hap na die dolk. Van pure skrik verloor Anna haar greep op die hef en die haai ruk dit uit haar hand. Die skerp lem sny sy bek en hy laat dit dadelik los. Die dolk sink na die bodem van die see.

      Dan begin haar ArmAlarm opnuut skree. Sy kyk op die skermpie. Die bloed in die water trek nog meer haaie aan! Daar is geen tyd om te mors nie. Ten spyte van die vrees wat haar hart soos ’n koue vuis omklem, bly Anna kalm. Sy verspil5 slegs ’n breukdeel van ’n sekonde deur af te duik en die dolk van die seebodem op te tel. So vinnig as wat sy kan en sonder om een keer om te kyk, swem sy terug strand toe.

      Haar hart klop soos ’n tamboer toe sy op die sand uitstrompel. Sy trek haar swemvinne met bewerige vingers uit.

      Iets kouds druk teen haar been: dis Brak se snoet. “Volgende keer vat ek jou sowaar saam!” sê Anna.

      Brak spring op en af van opgewondenheid. Hy swaai sy stert terwyl hy aan die dolk snuif.

      Sy elektroniese sensors registreer seewater, die reuk van Anna se hande en ’n titseltjie haai.

      Anna gaan sit uitasem op die strand, die dolk lê langs haar op die sand. Dis die beste ding wat sy nog ooit in die see gevind het!

      2: Die AardWag

      Terwyl Anna nog op die strand sit en droom, is haar ma besig in haar laboratorium naby hulle huis.

      Professor Sabatina leun vooroor en loer oor haar silwer halfmaanbril. Sy sit op ’n stoel wat om ’n reusagtige hologram6 van die aarde gly. Op die holo­gram-aardbol is MonPetit maar so groot soos ’n muntstuk. As jy baie mooi kyk, sien jy die donker vierkant van die Atoom-familie se huis in die middel van die eiland.

      Professor Sabatina bring die grootste gedeelte van haar tyd in hierdie laboratorium deur. Sy werk vir die Geografiese en Ruimtelike Organisasie vir Eko­logiese Navorsing, ’n groot internasionale organisasie beter bekend as GROEN. Die AardWag is een van hul heel belangrikste projekte. Met behulp van die AardWag monitor7 sy die weerpatrone. Sy waarsku die wêreld as rampe soos ’n tsoenami of ’n vulkaniese uitbarsting dreig.

      Professor Sabatina geniet elke oomblik van haar werk. Sy is gelukkig om die beste toerusting in die wêreld tot haar beskikking te hê.

      Die super-rekenaar wat die AardWag beheer is so slim dat professor Sabatina dikwels vergeet dat dit net ’n masjien is. Sy het vir hom ’n naam gegee: Maks.

      Maks se stem vanuit die versteekte luidsprekers verbreek professor Sabatina se konsentrasie.

      “Kyke ’n bietjie na 25°02”S 130°09”W!”

      Vir die professor maak die string koördinate dadelik sin. “Dis naby Pitcairn-eiland, of hoe?”

      Haar stoel zoem op die glybaan om totdat sy oor die Stille Oseaan hang.

      “Jy siene wat ek sien?”

      “Ek SIEN, Maks. Ek kan egter niks SIENE nie, selfs al kyk ek met twee oë. Ons moet regtig jou taalprogram oorskryf! Jy’s die slimste rekenaar in die hele wêreld, maar jy klink soos ’n ongeletterde8 swaap!”

      Sy ignoreer die lang sug wat uit Maks se luidsprekers opklink. Maks kry homself altyd jammer as die professor met hom raas. Om aandag en simpatie te kry, maak hy ’n geluid wat klink soos die geroeste rat van ’n ou trapfiets.

      “Hou op om die gek te skeer en doen jou werk, Maks. Wat is dit wat die see hier so ’n snaakse kleur gee? Hier’s ’n vreemde versteuring, en die tempera­tuur van die water is ook te hoog.”

      Die professor druk haar neus nog nader aan die hologram. ’n Donker kring is nou duidelik sigbaar in die see. Skielik begin ’n rooi lig teen die plafon van die laboratorium flikker. ’n Alarm skree skril.

      Die volgende oomblik verskyn ’n ou man in ’n gestoffeerde leunstoel reg langs professor Sabatina. Hy hang half skeef soos wat hy omtrent ’n meter en ’n half bokant die vloer dryf. Dis natuurlik onmoontlik vir iemand van vlees en bloed om só te verskyn – die beeld van die ou man is ’n hologram. Dis meneer Amsterdam, die direkteur van GROEN.

      Die professor is nie bly om hom te sien nie. Sy gunstelingtydverdryf is om sy neus in ander se sake te steek.

      “Sabatina, daar is ’n probleem wes van Suid-Amerika!” sê Meneer Amsterdam. “Ek het nog nie jou verslag daaroor gekry nie.”

      As meneer Amsterdam tog net in GROEN se hoofkantoor in Holland wil bly en haar uitlos!

      “Ja, meneer Amsterdam, ek en Maks is bewus daarvan. Ek dink net u verwag my verslag ’n bietjie te vinnig, aangesien die versteuring in die suidelike deel van die Stille Oseaan maar skaars ’n halfuur gelede begin het.”

      Meneer Amsterdam trek sy gesig op ’n lang plooi. “Sabatina, Sabatina!” sug hy. “Jy het die mees gesofistikeerde toerusting op aarde. Wat sal van ons word as ons nie op jou kan vertrou om ons betyds in te lig oor probleme nie?”

      Die professor probeer hard om haar nie te vererg nie.

      “Ek kan u reeds sê dat dit lyk asof die versteuring vanaf die seevloer kom. Dit veroorsaak hoëfrekwensie-klankgolwe wat oor ’n radius van sowat 10 000 kilometer versprei.”

      Sy kyk ’n oomblik af na haar rekenaarskerm.

      “Gelukkig is daar op die oomblik baie min skepe in daardie omgewing. Ek stel voor dat u eerder u kosbare aandag aan moontlike skeepvaartprobleme gee. Dit sal my en Maks die nodige tyd gun9 om hierdie saak uit te sorteer.”