Elizabeth Wasserman

Anna Atoom en die seerower se dolk (skooluitgawe)


Скачать книгу

Amsterdam trek sy bolip vies op en verdwyn.

      “Wel!” sê die professor. “Nou kan ons ten minste aangaan met ons werk. Maks, het jy nog inligting vir my?”

      Die rekenaar bly ’n lang ruk stil. Professor Sabatina het ’n vermoede iets baie slegs is besig om te gebeur. Sy vryf haar silwer hare senuweeagtig deurmekaar.

      “Maks, wat dit ook al was, dit lyk of dit begin verdwyn!” roep sy dan uit. “Die skokgolwe het heeltemal verswak. As jy nie slim genoeg is om vir my te kan sê wat dit veroorsaak het nie, kan jy minstens vir my sê of hierdie golwe enige skade kon aanrig?”

      “Niks meer as om die vissies wat daar rondswems se kiewe te kielies nie,” antwoord Maks. “My berekeninge is dat die golwe nie sterks genoegs was om die rotsformasies en tektoniese plate in die aarde se kors te skuifs nie.”

      Die professor verwonder haar opnuut oor presies hoeveel inligting Maks kan verwerk in die bestek10 van ’n paar sekondes.

      “Ek is besig om deur my databank te gaan om te siene of daar al ooit voorheen so iets gebeurs het. Ek kyke ook of daar verslae is oor die effeks van hierdie frekwensie klankgolf op seelewe.”

      Maks gee ’n opsomming van die vreemde gebeure wat so pas in die Stille Oseaan plaasgevind het: die versteuring het presies drie minute en vyf sekondes geduur. Dit lyk nie asof daar enige nagevolge is nie. Maar die belang­rikste vrae bly onbeantwoord. Wat was dit? Wat het dit veroorsaak? Tot laat in die nag probeer professor Sabatina en haar rekenaar antwoorde kry op al dié vrae, maar niks maak sin nie.

      Dis amper middernag toe sy besef daar is niks wat sy nou meer kan doen nie. Maks sal die res van die nag alleen verder werk. Uitgeput trek sy die deur van die laboratorium agter haar toe. Sy stap die kort entjie huis toe deur die warm tropiese nag.

      Sy het al weer aandete misgeloop, en die kinders is lankal in die bed.

      3: MonPetit-eiland

      Admiraal Atoom en Sabatina het MonPetit-eiland dertien jaar gelede gekoop, net voor Anna gebore is. MonPetit is een van ’n pragtige groep eilande net suid van die ewenaar, amper reg in die middel van die Indiese Oseaan.

      Die hart van die eilande bestaan uit pienk graniet. Dis mettertyd bedek deur woude vol palmbome en eksotiese plante. Toringhoë takamaka-bome gooi diep skaduwees oor die strande. Broodvrugte, mango’s en avokadopere hang in oorvloed aan die bome rondom die Atoom-familie se huis.

      Die strand bestaan uit sagte sand, wit soos sneeu. Miljoene helderkleurige visse swem in die warm water van die koraalrif rondom die eiland, en snags kom lê seeskilpaaie hul eiers op die strand.

      In die middel van die eiland het admiraal Atoom ’n huis gebou in die tradisionele eilandstyl. Die dak is spits en stewig gepak van droë palmblare. Reg rondom die huis loop ’n stoep wat skadu bied teen die fel tropiese son. Die vensters het geen glas in nie, net houthortjies wat jy kan toetrek as dit reën. Binne roer groot dakwaaiers die lug en hou die vertrekke heerlik koel.

      Toe Anna agt jaar oud was, het ’n verskriklike ding gebeur. Haar pa het saam met sy vriend Uranus Draak aan ’n Tornado-Absorbeerder gewerk, toe ’n atoomverplasende straal hom per ongeluk vol in die bors getref het. Atoomverplasende strale word deur die Tornado-Absorbeerder gebruik om die energie van baie sterk storms te verminder. Dit was nuwe tegnologie wat nog nie voorheen uitgetoets is nie, en die effek van so ’n straal op ’n mens was totaal onvoor­spelbaar. Vir ’n paar oomblikke het die admiraal gevaarlik gebewe. Dit het gelyk asof hy gaan ontplof. Dit was asof sy molekules11 in miljoene submikro­skopiese deeltjies wou oplos. ’n Ruk lank het sy lyf so tussen verdamping en verdwyning gehuiwer, en hy het allerhande vreemde vorme begin aanneem.

      Gelukkig was hy omring deur slim wetenskaplikes. Hulle het hom in ’n spesiale tenk geprop om te keer dat stukke van hom nie heeltemal wegdryf nie. Weke lank het hulle hom probeer red, maar uiteindelik was dit duidelik dat sy molekules permanent hulle aantrekkingskrag vir mekaar verloor het. Die admiraal sou nie meer die swaartekrag van die aarde kon oorleef nie. Die enigste raad was dat hy in die ruimte moes gaan bly.

      Gelukkig was die wetenskaplikes van GROEN net mooi op daardie tydstip klaar met die bou van ’n nuwe ruimtestasie. In die ruimtestasie was die admiraal veilig, en hy kon aangaan met sy werk.

      Anna sien haar pa darem nog elke dag. Elke aand, en gewoonlik vroeg­oggend ook, wanneer sy ruimtestasie oor hulle kant van die aarde wentel, maak hulle met hom kontak. Sy beeld verskyn op ’n televisieskerm langs die eetkamertafel. Die ontvangs is nie altyd ewe goed nie: soms is sy gesig net ’n donker skadu in ’n sneeustorm van stratosferiese12 versteuring. Op ander tye is sy gesig en stem so helder dat Anna haar amper verbeel dat hy reg langs haar sit.

      Die eerste paar maande nadat haar pa hulle moes verlaat, was die treurigste ooit op MonPetit-eiland. Anna en haar ma was heeltemal alleen. Professor Sabatina het gedink dis ’n goeie idee om vir Anna ’n boetie te kry. Sy het die hulp van haar slim vriende ingeroep. Anna het ’n boetie gekry met die naam van Pip.

      Maar Pip is geen gewone seuntjie nie! Hy is ’n BioTron, half mens, half robot.

      Vir Anna is haar boetie net irriterend. Hy is amper vyf jaar oud, maar steeds kan hy nie ordentlik praat nie. Hy maak net snaakse brom- en borrel­geluide. Sy sou veel eerder die enigste kind wou wees en hom inruil vir ’n troeteldier, soos ’n mak vlermuis of ’n uil.

      Boeties is ’n pyn.

      4: Die wapen van die Hodoul-familie

      Die oggend ná Anna se benoude ontmoeting met die hamerkophaai is almal aan die ontbyttafel met hulle eie gedagtes besig.

      Pip probeer om ’n stuk gebraaide piesang aan Brak se stert te plak. Professor Sabatina sit en bekommer haar oor die vreemde elektromagnetiese golwe in die Stille Oseaan, en Anna prut van opgewondenheid oor die dolk wat sy in die see gevind het. Die vorige aand het sy dit geskrop totdat dit skoon is.

      Die hef van die dolk is veral mooi. Dit lyk asof dit uit soliede silwer gemaak is, met fyn goue insetsels en klein edelgesteentes wat in ’n patroon ingelê is. Daar is ’n storie agter hierdie dolk – sy weet dit! Vandag gaan sy uitvind aan wie dit behoort het, en hoe dit in die see by hulle eiland beland het. Sy weet presies waarheen om te gaan: die argief13 op die groot eiland. Haar plan is om ná skool daar ’n draai te gaan maak.

      Skielik verskyn admiraal Abraham Atoom se gesig op die skerm langs die tafel.

      “Dagsê, my aardse familie!” roep hy vrolik uit. Anna verstel die volumeknop op die luidspreker teen die muur.

      “Abraham,” sê haar ma. “Ek moet dringend iets met jou bespreek.”

      Sy loer onderlangs in die rigting van die twee kinders. Die admiraal verstaan dadelik dat dit werksake is.

      “Absoluut, geen probleem nie, engel!” glimlag hy vrolik. “Maar eers wil ek hoor wat julle kinders vir vandag beplan. Wat maak julle daar op die pragtige MonPetit?”

      “Skool,” brom Anna. Sy stoot haar vrugteslaai in haar bord rond. Sy sou so graag die dolk vir haar pa wou wys. Dit kan sy egter nie doen sonder om haar ma ook daarvan te vertel nie. Haar ma het duidelik haar eie probleme vanoggend, en boonop sal die hele storie met die haai uitkom as sy eers begin vrae vra.

      Die familie se geselsery word onderbreek deur ’n gekraak, gevolg deur Maks se stem.

      “Professor, ek dinks jy moet liewer dadelik laboratorium toe kome. Dinge is aan die gebeurs in die Stille Oseaan!”

      “Dankie, Maks. Ek kom dadelik!” Sy draai terug na die videokamera wat die huis met die ruimtestasie verbind. “Abraham, probeer asseblief in verbin­ding bly met my. Daar gaan iets vreemds aan en ek sal graag wil hoor wat jy daarvan dink.”

      Dis net die kans waarop Anna wag.

      “Pa!” sê sy toe haar ma weg is. “Kyk wat het ek gister gevind!” Sy trek die dolk uit haar skoolsak en hou dit voor die videokamera.

      Admiraal Atoom fluit saggies in sy baard. “Grote griet,