Dis ’n man se stem. Sy pa?
Buyi hoor hom in ’n kas krap. Die klank van metaal. ’n Klikgeluid. ’n Skadu val oor die deurkosyn. “Buyisiwe?” Dis sy pa. “Maak seker al die vensters en deure is deeglik toe.” Sy stem is gespanne. Hy het ’n geweer en ammunisie in sy hand. “Daar was ’n ongeluk. Die nagsafari waarop Lwazi was, het op ’n leeu afgekom.”
Buyi voel skielik lam. Maar toe hy die voordeur hoor toeklap, spring hy op en gaan maak seker al wat ’n deur is, is gesluit. Elke venster op knip.
Vir ure daarna lê hy na die donker plafon en staar en probeer luister na die musiek op sy iPod. Een oorproppie in sy oor, die ander een uit, vir ingeval …
Laat die aand kom sy pa eers terug, sy klere oortrek met bloed.
“Wat het gebeur?” Buyi se stem is hees van vrees.
Sy pa sug, skud sy kop moeg en gaan na sy kamer toe om die geweer weg te sluit in die kluis. “Ek gaan stort,” sê hy toe hy weer uit die kamer kom. “Hoekom is jy nie in die bed nie?”
“Ek kon nie … Jy is vol bloed. Is jy oukei?” vra Buyi.
“Ja, gaan na jou kamer toe!”
Buyi wil skree van frustrasie. Wie se bloed is dit? Het hy die leeu doodgemaak? Of het die leeu … Nee, hy wil nie eens daaraan dink nie.
6
Iewers in die loop van die nag begin dit reën. Maar teen die tyd dat sy pa opstaan, het dit weer opgeklaar. Vyfuur, sien hy op sy selfoon se horlosie. Wat doen hy so vroeg op? wonder Buyi deur die slaap. Hy bly in die bed lê en luister hoe sy pa deur die huis beweeg. Themba loop sonder om ’n woord te sê.
Buyi raak weer aan die slaap, en toe hy uiteindelik wakker word, staan hy op en stap kombuis toe. Ontbyt is net ’n appel en ’n glas melk. Toe hy later aantrek, hoor hy André se opgewonde stem buite die chalet.
“Het jy gehoor?” vra André toe hy by die chalet instorm. “Simoshile se pa is laas nag deur ’n leeu aangeval! Lwazi, jy weet?”
Dit vat ’n rukkie voor Buyi verstaan. “Is Lwazi Simoshile se pa?” vra hy uiteindelik, maar toe tref dit hom: dis nie wat André so opgewonde maak nie. “Deur ’n leeu aangeval?”
“Ja, hoe cool is dit!” André se helderblou oë blink.
“Dis glad nie cool nie … Is hy oukei?”
“Hy’s orraait. Hulle het hom hospitaal toe gevat. Hy sal later vandag terug wees. Hy’s nie ’n ou vir hospitale nie.”
“Wat presies het gebeur?” vra Buyi. “Ek weet Lwazi en jou pa het ’n klomp toeriste op ’n nagsafari gevat. En dat hulle op ’n leeu afgekom het. Themba het gaan help.”
“Hulle Land Rover het in modder vasgeval,” vertel André grootoog. “Toe sien hulle die losloper-leeumannetjie in die bos dwaal. Hy het hom met die soeklig vasgepen. Die mense het foto’s geneem, en dis tóé dat dit gebeur …”
“Wat?”
“Ek weet niks verder nie. Ek het gehoor hoe my pa dit vir my ma vertel toe hy terugkom. Maar hy het die slaapkamer se deur toegemaak net toe die storie interessant begin word.”
“Die bloed op Themba se klere … Dit was Lwazi s’n?”
“Jip … So wat doen ons vandag?” vra André.
“Ek bly nét hier,” sê Buyi. “Ek gaan nie uit as daar ’n mensvreter-leeu buite ronddwaal nie.”
André grinnik. “Die wildreservaat is so groot, ou, wat is die kans dat ons op die leeu gaan afkom? In elk geval, leeus is saans op hulle gevaarlikste. Deur die dag lê hulle rond in die skadu’s van die bosse.”
“Ek weet darem nie …” sê Buyi wantrouig.
Maar uiteindelik oortuig André hom tog. Hulle gaan maak eers ’n draai by Mama Unathi se kombuis. Sy kan nie glo dat Buyi net ’n appel vir ontbyt geëet het nie. “Dis nie genoeg nie! Ek sal met daardie man praat. Hy moet weet hy het nou ’n verantwoordelikheid.”
Mama Unathi lyk sommer lekker omgekrap. “Ungakhathazeki. Toemaar.” Sy wys die seuns moet haar volg. “Ek het heerlike, stomende warm pap op die stoof.”
Vir die eerste keer eet Buyi stomende “pap” met suiker, romerige botter en melk. Terwyl hulle smul, verduidelik André vir Buyi dat die wildreservaat opgedeel is in drie kampe: Izolo, Namhlanje en Kusasa. Gister, Vandag en Môre. Die Groot Vyf loop in twee van hulle: Izolo en Namhlanje.
“Dis die grootste Afrikadiere, reg?” Buyi probeer klink of hy darem ook iets weet.
“Nie eintlik nie,” sê André. “Die Groot Vyf is ’n ou jagterm vir die gevaarlikste diere wat ’n mens kan jag: leeus, luiperds, olifante, buffels en swartrenosters.”
“En julle het hulle almal hier?”
“Jip!”
“Die diere in die ander kamp is nie so gevaarlik nie, maar ’n mens moet steeds versigtig wees. Respekteer hulle, en hulle sal jou respekteer. Dis wat my pa altyd sê.” André skep die laaste lepel pap in sy mond. “O, en jy weet nooit wanneer jy dalk ’n olifant kan teëkom in die Kusasa-kamp nie. Daar is nie veel wat ’n olifant sal keer as hy dit eers in sy vet kop gekry het om oor te stap na die ander kant van die heining nie.”
Buyi se oë rek en André bars uit van die lag, maar Buyi is nie seker of hy besig is om die gek met hom te skeer nie.
7
Gewapen met net hulle waterbottels, loop die twee seuns met ’n stofpad langs. André ken die pad, Buyi volg net.
Die glimmende son beweeg stadig oor die kraakblou hemel. Buyi voel alreeds hoe die warm strale neerbrand en in sy nek steek.
André vertel vir Buyi van die skool waarheen hy en Simoshile gaan, maar gelukkig is dit nou vakansie. André hou nie vreeslik van skool nie. Net van die skolerugby en -krieket.
“Speel jy rugby?” vra Buyi.
“Ja, ek is linkervleuel. Vinnigste ou in ons graad.” André se oë helder op en blink sommer van trots. “En jy?”
“Ek hou nie juis van sport nie, maar ek hou daarvan om boks te kyk. En sokker.”
“Jy kan dit hier ook speel, Engelsman.”
Hy sê die “Engelsman” in Afrikaans. Buyi verstaan nie wat hy bedoel nie. “Engelsman?” vra hy en frons.
“Englishman,” vertaal André en glimlag stout. Buyi skud net sy kop en glimlag ook.
Toe hulle by ’n groot ysterhek kom waar draad oor die lengte gespan is, lees Buyi die naambord: Kusasa.
“Dis nie die een met die leeu nie, is dit?” vra hy versigtig.
“Natuurlik nie,” sê André en maak dit oop. Hulle glip in en André maak die hek weer toe agter hulle.
Voor die seuns krul die grondpad deur bome, bosse en gras. Maklik genoeg, dink Buyi, totdat André van die pad afwyk en koers kies bosse toe. Die grond is meestal gelyk en hulle kan gemaklik stap, maar plek-plek raak dit moeiliker.
“Soos jy nou aansukkel, sal ’n skilpad jou inhaal en verbygaan,” sê André. Hy staan voor Buyi met sy hande in sy sye. Wagtend.
Buyi versnel sy pas. Oral om hulle hoor hy voëls roep. Hy en André kyk hoe twee voëls ’n ander voël uit ’n boom te verjaag. Hulle roep skerp: zweezwer!
“Die twee voëls met die blougrys lywe en lang oranjebruin sterte is paradysvlieëvangers. Die ander een met die lang, krom bek is ’n rooibek-neushoringvoël,” verduidelik André.
’n Koel bries stoot oor die veld en bring tydelike verligting teen die warm son. Buyi kan sien André is tuis in die veld. Sy skerp oë bespied die omgewing. Hulle