Die blou-ghwarrie se stam kan ’n mens weer uitrafel en soos ’n tandeborsel gebruik.” André haal sy knipmes uit en wys vir Buyi.
Buyi lag. “Ongelooflik!”
André wys ook vir Buyi die kandelaarnaboom met sy melkerige sap waarmee die mense destyds visse bedwelm het om hulle met die hand te vang, toe hy skielik vassteek. Sy oë is wydgerek van opwinding. “Voel jy dit?”
“Wat?” Buyi voel hoe sy kopvel kriewel.
Ghoo-oo-oo. Dis soos ’n stroom wind. Buyi se oë rek. Wat is dit?
“Dis oukei. Kyk, daar!” fluister André. Hy wys voor hom.
’n Reusagtige kameelperd kom verbygeloop. Haar lang nek swaai grasieus en haar hoewe stamp dof teen die grond. Doef, doef, doef!
Buyi wil wegtree, maar André stel hom gerus. “Dis ’n kameelperdkoei. Haar horings is nog oortrek met hare, sien jy?” Buyi knik. “Die bulle se horings is glad omdat hulle teen mekaar baklei.” Die kameelperd draai haar kop en kyk vir ’n ruk lank na hulle. “Mooi, nè?” sê André.
Buyi knik, steeds sprakeloos.
8
Die seuns bly vir die res van die oggend in die veld en gaan eers terug toe die hongerpyne begin knaag. Buyi se bene is dodelik moeg, sy voete seer en sy vel warm van die son. Hy drink die laaste druppel water uit sy bottel toe hulle met die grondpad langs terugloop na die hoofgebou.
Mama Unathi gee vir hulle elkeen ’n heerlike glas vrugtesap.
“Kom ons gaan swem,” sê André toe hy sy glas neersit en sy mond met die agterkant van sy hand afvee.
Buyi is eers bang hy bedoel in ’n rivier vol krokodille of goed.
André lag. “Vergeet van die krokodille, jy moet die seekoeie sien! Hulle maak meer mense dood as enige ander dier in Afrika …” Sy oë glim weer ondeund. “Natuurlik in ’n sewembad, Buyi.”
’n Land Rover hou voor die gebou stil net toe hulle op pad is om hulle swemklere te gaan haal. Dis hulle pa’s, saam met ’n spoorsnyer.
“Jy is seker Buyisiwe,” sê André se pa, ’n lang blonde man met ’n vriendelike, aantreklike gesig. “Ek is Johan.”
“Bly om jou te ontmoet, Meneer,” sê Buyi met ’n glimlag. Toe vang sy oë sy pa s’n. “Hallo,” sê hy.
Themba knik. “Ek hoop julle twee bly nog uit die moeilikheid?”
“Ja, meneer Ngonyama,” antwoord André vinnig.
“En bly vir ’n ruk weg uit die veld,” sê Buyi se pa. Dit klink amper soos ’n bevel. Buyi weet sommer hy moenie vertel hulle was alreeds vanoggend veld toe nie.
André verander die onderwerp. “Het julle die leeu gekry?”
“Nee.” Buyi se pa kyk weer na hom. “Die reën het die voetspore uitgewis.”
“Hy kan enige plek wees. Maar ons sal hom kry,” sê André se pa en kyk na sy geweer in die Land Rover.
’n Rilling trek langs Buyi se ruggraat af toe hy die houtkolf en swart metaalloop sien.
André loop saam met Buyi na hulle chalet toe. “Wie’s hierdie ou?” vra André toe hulle in Buyi se kamer kom. Hy kyk na die plakkaat wat Buyi die vorige aand opgeplak het.
“Sy naam is Amir Khan. Hy is ’n Britse bokser, maar hy kom oorspronklik van Pakistan af. ’n Gebore vegter. Hy het bekend geword nadat hy die silwer medalje in die liggewigafdeling gewen het by die 2004 Olimpiese Spele. En hy was net 17! Hy boks nou professioneel. O ja, en hy stam af van ’n hele rits kryger-konings.”
“So, wat maak hy teen jou muur?”
“Ek hou van boks, ek het jou mos gesê.”
André haal sy skouers op en draai na Buyi. “Kry jou swembroek en laat ons waai.”
Die swembad is naby die gastekamers. Buyi se mond hang oop oor die stylvolle geboue en luukse tente wat versprei staan deur die kamp. Dit voel baie rustig hier. ’n Paar rooibokke wei tussen die chalets en tente.
Buyi en André het die hele swembad vir hulleself. Hulle duik en swem en probeer mekaar se koppe onder die water druk. Uiteindelik klim hulle uit en gaan val uitgeput op hulle handdoeke neer.
“Jou pa het gesê ek sal julle hier kry.” Buyi lig sy kop en kyk reg in die son in, maar hy herken die stem. Dis Simoshile. “Ons kom nou net van die dorp af. Ons het my pa gaan haal.”
“Hoe gaan dit met hom?”
“Ag, jy ken hom mos. Hy is al weer reg om die wêreld aan te pak.”
“Kom ons gaan sê vir hom hallo,” stel André voor en spring op.
Hulle kry vir Lwazi in sy chalet. Mama Unathi is ook daar. Sy maak ’n vreeslike ophef van hom. Vra of hy gemaklik is en bied aan om vir hom kos te maak.
Lwazi lyk verlig toe hy vir Buyi-hulle sien. Dit gaan goed met hom. “Ek moet dit net vir ’n ruk kalm vat,” sê hy. “Die dokter wou my vir nog ’n aand daar hou, maar ek het geweier. Wie bly nou in die hospitaal oor ’n skrapie?” Toe Lwazi dit sê, byt hy die pyn weg en glimlag. “Buitendien, hulle het vir my ’n spul pille gegee …”
“Pille?” val Mama Unathi hom in die rede. “Jy het mý niks van pille gesê nie. Moenie dat ek jou uitvang dat jy hulle nie drink nie. Mans word ook nooit groot nie! Het altyd ’n vrou nodig om na hulle te kyk.”
Simoshile giggel en Lwazi haal sy skouers hulpeloos op.
“Vertel ons wat gebeur het,” sê André.
Lwazi bly vir ’n ruk lank stil, en toe begin hy vertel van die aand se gebeure. “Die nagsafari het goed verloop. Maar toe val ons vas in een van die modderpoele. Dis nou wat jy kry van al die reën.
“Ek kon die toeriste se oë op ons voel. Dis toe dat ons dit hoor … ’n Leeu se diep brul, donderend deur die nag. Ek gryp dadelik na die soeklig. En kry die ou kalant met die vodde maanhare doer in die veld. Die leeumannetjie was alleen. En hy hou ons dop!
“Die toeriste was opgewonde. Toe gebeur dit: een van die mans wou sy kamera se battery omruil, maar van opwinding glip dit uit sy hande en val uit die voertuig.
“‘Nee!’ roep Johan.
“Ek wil keer, maar die man is al uit die Land Rover om dit op te tel.
“Die leeu begin storm.
“Ek is blitsig uit die Land Rover. ‘Bly kalm, bly kalm!’ skree ek vir die toeriste.
“Ek weet mos leeus wil jou soms net skrikmaak sodat jy hulle in vrede moet laat. Hulle sal op jou afstorm met alles wat hulle het, net om kort voor jou in hulle spore vas te steek. Maar ek weet ook dat leeus totaal ander diere word in die nag. Die nag is hulle jagtyd …
“Ek trek my geweer vas teen my skouer, maar ek wil dit nie gebruik nie. En soos die leeu naderstorm, en die vrees in my groei, sien ek die letsel bokant sy linkeroog. Agter my skree die mense steeds. ‘Bly kalm,’ beveel ek weer. En toe, binne oomblikke, is alles verby.”
“Die toeris was terug op die Land Rover. Maar ek staan nog daar in die leeu se pad. Binne sekondes is die leeu op my en sink sy tande in my skouer. Die pyn!
“Toe klap die skoot.
Dit was Johan s’n. Die leeu se kop ruk om en hy slaan op vlug, en raak weg in die nag sonder ’n verdere geluid.”
“O, genade!” roep Mama Unathi nadat sy die hele storie gehoor het. “Angiphili neze!”
Simoshile lag, en toe sy sien Buyi verstaan nie, help sy gou. “Mama sê sy voel nou glad nie lekker nie.”
“Julle seuns bly uit die veld uit, hoor julle vir my?” roep Mama Unathi.