doen ons met Sally Smith as ons haar nie meer nodig het nie?” wonder ek hardop.
“Sy sal forever in die kuberruim bly sweef. As ’n mens eers ’n Facebook-karakter geskep het, is doodkry min. Jy kan die account sluit, maar dit verdwyn nooit werklik nie.”
“Eerie. You can check out any time you like, but you can never leave!”
“Wát?”
Sulke tye wys ons kultuurverskille.
“ ’n Classic song, man. The Eagles.” Ek trek los en sing vir Pulani van die ou wat die pad wou vind na waar hy eers was, en die deurwag se onheilspellende woorde: “We are programmed to receive. You can check out any time you like, but you can never leave!”
“Jy’t ’n baie vreemde stem,” merk Pulani op.
“Dis nie só vreemd nie, dis falsetto, net effens buite die normale register.”
“Tipies jy. Om effens buite die normale te wees.”
“In my prille jeug op laerskool wou ek vreeslik graag in die koor sing. Al die dogtertjies in die koor het wit rokkies gedra, met strikke in hul hare.”
“Hulle was seker die with-it girls van graad een en twee?”
“Ja. En ek was een van dié wat in die klas agtergebly het wanneer die koor gaan oefen het.” Ek sug. “Maar ek kon dans,” onthou ek. “Toe al het ek ritme in my lyf gehad. Ek was die voordanser, het die klomp koorkoekies onder die stof in gedans. Maar dinge wou net nie vir my reg uitwerk nie. Die flippen juffrou het gevra ek moet lip-sync wanneer die ander met hul suikersoet sopraanstemmetjies sing.”
“En het jy?” vra Pulani, wat my eintlik al te goed ken.
“Ja . . . Behalwe die laaste aand van die konsert, toe sy my nie meer kon uitskop nie en ek nie langer wou stilbly nie. Toe . . . wel, kom ons sê maar net daardie aand was die feetjies van Feetjieland ’n bietjie van hul wysie af.”
Teen huistoegaantyd sit die denkbeeldige Sally Smith behoorlik in my kop. Sy tuit ewe guitig haar roosrooi lippies en dring in ’n heserige, sexy stem by my aan om woorde in haar mond te lê, woorde wat sy op Gary se Facebook-blad wil post. Sally Smith wil my spreekbuis word, sy is ready, able and willing.
Maar drie dae lank peper Gary my met blogs wat ek oor nuwe boeke moet skryf en kom ek nie by Facebook uit nie. Ek trap in my spoor. Bang vir die baas, jy sien?
“Ons sal ten alle tye professioneel moet optree terwyl ons by die werk is,” het hy gewaarsku toe die ding tussen ons begin het. “Ek wil nie klagtes van nepotisme teen my hê nie.”
Wat het hy verwag? het ek toe gewonder. Dat ek moet bedank? Terwyl werk so skaars is? Alles wat ek hier het net so prysgee? Die lekker onthale, al die gratis kos en wyn, selfs die bottels wat oorbly? You must be joking. Soms dink ek ek sal eerder vir Gary koebaai sê as vir Die Boekhoek.
Maar intussen hou ek by sy reëls. Ek vly my nie teen hom aan as ons per ongeluk saam in die hysbak beland nie. Ek kyk skaars in sy rigting.
Dis net dat daar ’n duiweltjie in my woon, een wat soms op die onmoontlikste tye allerhande dinge in my oor fluister en nie weet wanneer om op te hou nie. Daardie Vrydag met die morning meeting is sy weer daar, pens en pootjies op my skouer, vol dinge.
Ons sit om ’n tafel, notaboekies en penne in die hand. Ek en Pulani langs mekaar aan die een kant en die mans-mense aan die ander kant. Gary het ’n lang lys grafieke voor hom waarmee hy ons bang maak: verkope wat gedaal het, boeke wat van die mark onttrek moet word, allerhande planne. Ek kyk hom so, my verloofde, ewe sedig, vroom en vroed in sy beste jeans en ’n hemp met lelike paisley-patrone op. ’n Regte meneertjie.
En daardie duiweltjie lig haar kop. “Hoekom speel jy nie ’n bietjie voetjie-voetjie met hom nie?” wil sy weet. “Toe, man! Dit sal pret wees!” Ek probeer haar ignoreer, maar wyfie-duiwels laat hulle nie ignoreer nie. “Of nee, wag! Voetjie-voetjie is te mak, dis vir kinders, nie vir verloofdes nie.”
Vrydae is anders as ander dae. Vroeg in die oggend val daar al ’n anderste gevoel oor jou, ’n waaghalsigheid wat die bloed in jou are laat bruis en amper oorverdowend in jou kop laat suis. Vandag is die dag dat ek die reëls oortree, behoorlik oortree! Maar ek gaan dit so kundig doen dat net ek en Gary daarvan weet. Ons twee se geheimpie, ’n heerlike ou geheimpie wat kleur aan die dag sal gee. Teen die tyd dat ek met hom klaar is, sal Gary die res van daardie grafieke opfrommel en in die vullisdrommetjie gooi.
Ek woel my voet uit my Jimmy Choos wat ek vir myself vir Kersfees gekoop het en oefen eers my tone. Toe lig ek my voet, baie stadig, baie versigtig. Net om eers te toets, net om te sien hoe Gary gaan reageer.
Ek wil hom nie in ’n verleentheid laat beland nie. Daarvoor is ek hopeloos te ordentlik. Wel, soort van. Ek wil hom net ’n bietjie terg, ’n bietjie laat rondskuif, ’n bietjie laat bloos. Sodat ons later daaroor kan lag agter toegetrekte gordyne. Opwinding is the spice of life.
Ek streel met my toon teen sy skeen op, knie se kant toe, my oë op sy gesig. Kyk, dié man is ’n pro. Hy’t sowaar semels waar ander mense senuwees het. Hy wys niks, hy skrik nie, kyk nie eens in my rigting nie, bloos nie, gaan net onverstoord voort met sy praatjie oor hierdie maand se grafiek en ander vervelige statistieke. Toe ek my voet in sy skoot laat sak, hou ek ’n oomblik lank asem op.
Maar ek is verniet bang. Gary stamp nie my voet weg nie, hy doen niks! Hy bly kalm en rustig, hopeloos té rustig na my smaak. Bliksem. Hy kan darem net wys hy leef en hy weet van my voet in die gevaarsone. Nie net daar sit soos ’n zombie met ys in sy are nie.
Knip nie ’n oog nie, slaan nie ’n bladsy oor nie, stotter nie en stamel nie. Ek moet hom seker bewonder vir sy selfbeheersing, maar eintlik is ek die dinges in daaroor. Dêmmit! Geen meisie wil ’n dooie stuk hout vir ’n verloofde hê nie, eerder iemand wat verkrummel as jy in sy rigting kyk. Met ’n gerek en ’n gestrek probeer ek hom in sy ribbes kielie, in die hoop om ten minste ’n giggellaggie uit hom te kry.
Hy sal kwaad wees, besef ek, maar dan weet ek darem hy het nog nie emosioneel afgesterf sonder dat iemand daarvan weet nie. Dit verg nogal ’n akrobatiese toertjie om by te kom en ek gly amper van my stoel af, alles verniet. Gary sit nog daar asof hy familie van ’n sfinks is. Dis genoeg om enige meisie mal te maak. My voet kramp later. Seer. Vrek seer. Ek wil tou opgooi en weer my stiletto’s aantrek. Maar dan wend ek ’n laaste poging aan – ek wikkel en woel vir oulaas my voet in sy skoot.
Nog niks! Zilch!
Dis toe Gary vir Harry ’n vraag vra dat ek vir die eerste keer onraad vermoed. Harry antwoord nie, staar net voor hom uit, sy oë glasig. Sy mond hang oop en sy asem jaag soos dié van ’n hond wat lank sy eie stert gejaag het. “What . . .” hyg-hyg “. . . what was the question?” kom dit hortend. Sy gesig is bloedrooi en daar is ’n lagie sweet op sy bolip. Amper soos iemand wat beroerte of ’n ander lewensgevaarlike aandoening kry.
Wat de hel gaan met die man aan? Hy lyk kompleet asof . . . My hart mis ’n slag, nog ’n slag – en gaan toe mal in my borskas. Oh no! Nee, nee, flippen NEE!
Dis ék wat my asem skerp intrek toe ek besef wat gebeur het, dis ék wat by ’n hartstilstand gaan omdraai, ék wat my voet wegruk asof uit die vuur, so vinnig dat ek Gary in die proses op sy maermerrie skop.
“Eina, dêmmit!” roep hy uit.
Great! Nóú tref my voet die regte lyf.
Ag, berge val op my! Of ten minste die dak van die gebou. Of ’n tafeldoek, of ’n gordyn, of enigiets wat my skaamte sal bedek. Ek voel hoe die vlamme op my wange uitslaan. Ek voel-voel na my skoen, maar dit is weg, my voet is kaal. Ontbloot. Alles aan my is kaal, skandalig ontbloot. Of so voel dit.
Ek sou verkies om dood neer te val, maar dit gebeur net in die movies. In stilprente waarin die vroue korsette dra. Wanneer jy die grootste moontlike dinges van jouself maak, val jy flou of dood neer en word jy grasieus weggedra. Nie in die regte lewe nie. In die regte lewe sít jy nog daar. Lewensgroot. Uitgelewer aan almal om die tafel wat óf wonder óf weet watter