Joan Hambidge

Meditasies


Скачать книгу

ek my hart in San Francisco

      verloor of agtergelaat. In my dagboek genoteer:

      “’n Worstelbed van slapeloosheid,

      ’n enkelkussing,

      Time is on your side.”

      Dis eers by nabaat dat ek wis:

      hierdie reis was ’n vaarwel

      aan jou, skimmige geliefde.

      Nooit behoort aan my,

      geliefde van die tussenstaat,

      van jou vorige geringde staat

      op pad na jou nuwe okkupasie:

      hartelose liefhebber van die entre nous,

      ek staan op die Divisadero.

      7 Stad van Engele

      In hierdie stad verskyn hulle aan my,

      die engele afgestaan aan die dood.

      Die een se gesig staan op ’n uithangbord,

      die ander een afgeflets op ’n winkelvenster.

      Maar dis jy, vader, wat my wakkermaak

      op ’n Sondagoggend so teen kerktoegaantyd.

      Ek hoor jou woordeloos roep na my

      in die Stad van Engele én Illusies.

      Terwyl ek hierdie vers skryf, hoop ek dat jy

      weer aan my sal raak, voor toemaaktyd.

      8 Hotelbed, ’n meditasie

      Alleenbed smeulende bed

      slapelose bed bed van onthou en droom

      lakens uitdeel jou bed opmaak en dit opdoek

      hotelbed tydelike bed klip onder die kop

      Jakob se leer op na die Engele wat afklim

      en aan my raak stukkende bed helende bed

      vryf heuning op die lyf van ’n dooie geliefde

      astrale bed meditasie bed nou Bethel

      my siel opwaarts erbarming beweeg afwaarts

      onrustige bed troostende bed

      Los Angeles

      9 Los Angeles, ’n meditasie

      Soos ’n spoorsnyer in die digte bos snuffelend

      aan klein tekens stap ek in hierdie stad verby

      ’n hotel waar ek as jongeling met ’n leerbaadjie vertoef.

      Hollywood en al die klatergoud het toe bekoor.

      James Dean en Marilyn Monroe my gode.

      Sien die modelle vir Jaws en vele rillerfilms.

      Framing the sign, aldus Culler en ek, die woordsnyer

      wandel verby die handtekeninge in sement.

      Dean en Monroe is vort, maar lewe steeds;

      nes die mens wat ek was: selfgerig, vreesloos

      en ja, voortvlugtend oor pynlike insidente én verlies:

      die herinneringe, bloedig, maak steeds jag op my.

      Die teken as teiken? Alles hier vir die semioot.

      My hotel die Wilshire Grand word later vanjaar gesloop.

      Leser, wees haar genadig, sy was in wese weerloos.

      10 Chicago, ’n meditasie

      Godin Ceres staan hier op ’n gebou,

      ’n handelsgebou nogal,

      en Lake Point Tower ’n huldeblyk

      van Mies van der Rohe se studente

      aan die meester en op 333 N. Wabash

      wys Onse Mies hoe mens dit nou eintlik doen.

      This is the American saga writ large.

      Vertrou geen stad sonder ’n ferriswiel,

      ’n wiel vir geluk, selfs te vinde in die tarot.

      Chicago verwys so na Wenen en Tokio.

      Maar geld praat deesdae harder as geluk:

      Donald Trump troon met sy toring,

      maak van alle wandel handel . . .

      Less is more, meen onse Mies,

      in ’n stad van oorvloed, oordaad

      en die Tweede Stad is een van oorwinning

      na verwoestende aanslae en vuur:

      Godin Ceres vervang deur ’n feniks.

      11 Keerweer

      Op die hoek van Dunbarton

      en Wisconsin, Washington

      verloor ek ’n gedig oor Chicago.

      Daardie gedig, dit weet ek,

      sal my agtervolg soos ’n slegte gewete

      of ’n droom van iemand, iewers op ’n hoë gebou

      wat val en woordeloos roep om hulp.

      Dit sal terugkeer (soos Eliot waarsku)

      in ’n ander vorm, langs ’n ander roete,

      kopsku die opwagting maak: “Hier’s ek.”

      Dalk het daardie vers

      beland op ’n ander busroete

      of dalk gaan asiel soek by die ambassade?

      Of vermoeid en rooi-oog

      ’n naam op die waglys geplaas:

      Ek was in Chicago,

      ’n bootvaart meegemaak,

      bewonderend gestaar na Mies van der Rohe

      se tuimelende geboue,

      die koue waters voel rinkel

      soos ys in ’n glas, verby die Chicago Tribune,

      die speakeasies,

      van die boot afgeklim,

      na links gestaar na ’n standbeeld

      van Marilyn Monroe in haar bekende pose,

      my glas gelig op Chicago:

      “my kind of town”.

      12 Digkuns, ’n meditasie

      Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry

      en sy worsteling met die groot stiltes.

      Hoe verwoord ’n mens dit, die grootste Abstraksie?

      Vir bykans twintig jaar, word vertel, geen woord

      op papier na die dood van sy mentor, Mallarmé.

      Stilte en dood sou my mentor waarsku,

      is die vyand van hierdie gedig; dus, wis uit.

      Laatnag in Chicago lees ek Paul Valéry

      se worsteling met sy sonderlinge stilstuipe.

      Die groot beoefenaar van die Simbolisme

      se kondisie word ’n skelm, sikkeneurige stillewe.

      Stilaan begin die vers uit stilte stoel,

      ’n stolrots ontspruit immer uit ’n stimulans.

      In Louis Eksteen se Afrikaanse Sinoniem-

      woordeboek (met antonieme) sketter ’n motto:

      “All that lives must die

      passing through nature to eternity.”