die onderbos gesnuffel.
“Ek neem aan meneer is nuut hier in die Bos?” het Joram Barnard gevra en vooroor op sy byl se steel geleun.
“Ja. Ek is van die houtdepot op George af oorgeplaas hierheen.”
“Dis dié lat meneer hier met ’n hond kom staan infoeter. Die grootvoete was vannag hier gewees, meneer kan daar anderkant om die skerm gaan kyk as meneer wil sien hoe lyk ’n behoorlike grootvoet se spoor. Hy sal ’n man net een trap gee.”
Maar die man wou hom nie sommer in ’n ompad laat inpraat nie. “Ons is besig met ’n opname,” sê hy dreigend belangrik. “Hierdie bos gaan in seksies opgedeel word, die kapbome sal gemerk word en julle dae van kap soos julle wil, is verby. Die Goewerment het ’n ekspert hier aangestel, mister Harison, en eerskomende Saterdag sal hy hierdie omgewing se kappers by Groot Eiland toespreek om julle in te lig oor die dinge.”
“Meneer sal nog so loop met daardie hond, dan sal meneer ook maar nie by die vergadering uitkom nie,” sê sy pa ewe ongeërg.
“Hoe sê oom?”
“’n Man wat met ’n hond deur hierdie bos loop, soek moeilikheid. Grootvoete hou nie van honde nie. Die hond sien kans om vir die grootvoet te kef, grootvoet jaag die hond, hond gooi platoor baas toe, grootvoet trap baas en hond hol weg. As meneer nou insig het.”
Die man het ’n oomblik op sy voete rondgeskuif. “Mister Harison verwag dat elkeen van julle daar sal wees. By Groot Eiland. Weet julle waar dit is?”
“Ons kap Saterdag,” lig sy pa hom weer eens ongeërg in.
“As my speke klaarkom, gaat ek dorp toe,” laat oom Anneries van agter die kalander hoor.
“Ek waarsku julle! Mister Harison is nie ’n man wat met hom gaan laat speel nie.” Die man het skielik begin gewig kry in sy stem. “Hierdie bos gaan geseksie en genommer word en mister Harison sal in die vervolg sy oë op julle byle hou!”
Joram Barnard het sy hoed op sy agterkop gestoot. “Ou vriend,” sê hy, “lat ons mekaar nou nie vandag verkeerd staan aankap nie. In die eerste plek sal mister Harison meer oë moet hê as waarvoor daar plek is op sy lyf, en in die tweede plek, ek het liksens vir kap in hierdie bos. ’n Betaalde liksens. Die Bos belang aan ons en ons kap waar die houte staan om gekap te word. Loop sê dit vir jou mister Harison en vat jou hond hier weg.”
“Die Bos behoort aan die Goewerment, oom!”
“Van wanneer af?”
“Maar die Bos behoort nog al die jare aan die Goewerment!”
“Dan moet die Goewerment sy bos kom vat.”
Toe vat Mostert vlam. “Oom speel nou met vuur! Die Bos behoort nie net aan die Goewerment nie, die Bos behoort aan Queen Victoria! En almal is bekommerd oor die Bos, want julle is besig om hom jaarin en jaaruit al meer dood te kap.”
“Dood? Lyk hy miskien vir jou afgesterwe?”
“Dit sal nie vandag vir oom help om verkeerd te wees nie, die Goewerment gaan teen julle optree!”
Sy pa het die byl tydsaam neergelê. “Ou vriend, ek het nog nooit aan ’n ding met honderd base geglo nie. Loop sê jy vir die Goewerment en vir Queen Victoria en vir mister Harison, Joram Barnard sê, hulle klink vir my soos ’n wind wat uit twee rigtings gelyk wil waai. Op die dorp hoor ons die Goewerment is ontevrede omlat ons nie genoeg houte werk vir die Goewerment se treinpaaie nie en hier kom staan meneer en sê die Goewerment sê ons kap die Bos af? ’n Wind wat in al die rigtings gelyk wil waai, waai net stof op, ou vriend. En as dit my hond is, dra ek hom verder om enige verdere moeilikheid te voorkom.”
Ná nog ’n paar dreigemente is die man met die hond oor sy skouer vort. Later het hulle gehoor dat daar niemand by die vergadering was nie. Net ou Sanna. En sy kon nie sê wat die man gepraat het nie, want hy het Engels gepraat.
Die derde dag het Saul die patats te lank in die as vergeet en al die olie laat uitbak.
“Wat het jy nou weer staan aanvang?” vra sy pa, sommer kwaad. “Hoe moet ’n moeë man nou in hierdie goed sit en wurg?”
“Pa het gesê ek moet gaan heuning soek.”
“Toe kom jy nie weer uit nie!”
“Ek sal ander bak, Pa.”
Sy pa was in ’n verkeerde bui. “Die kos moet uitkom tot ons klaar is, ons kan nie een patat mors nie! Jy sien self die kalander is taaier as wat ons gedink het, en die byle bly stoets.”
“Miskien wil die kalander maar net nie doodraak nie, Pa.” Agterna kon hy self nie dink wat hom bevlieg het om dit te sê nie.
“Hoe sê jy daar?”
“Oom Anneries sê hy is by die duisend jaar oud. Miskien wil hy maar net nie doodraak nie.”
“Van wanneer af leef hy?”
“Hy’t dan gegroei.” Hy het voor sy siel geweet hy tempteer sy pa, maar hy kon homself nie keer nie. Vandat hulle aan daardie kalander begin kap het, het ’n ergernis in hom kom lê wat nie langer wou binne bly nie. “Hy moes tog geleef het om so groot te kom.”
“Wat gaat met jou kop aan?”
“Niks, Pa. Dis net dat iets vir my sê daardie kalander leef. As hy dood was, kon hy nie gegroei het nie en as jy leef, kan jy voel en as jy kan voel, is jy bang vir doodraak!”
Sy pa het na oom Anneries toe gedraai. “Wat praat die kind, Anneries? Het jy dit gehoor?”
“Ek hoor hom, Joram. Dit lyk my jou Saul begin bas kry.”
Dit was halfdag. Die loeries was stil en die hele dag het daar nog nie ’n skoot in die Bos geklap nie. In Saul was daar ook ’n ander onrus: Hét Marais die vorige dag vir Oupoot geskiet? Hy was vroeg die môre op om te kyk of daar weer spore om die skerm lê, of die hopie patatskille wat hy eenkant op ’n klip bymekaar gesit het, weg is. Dit was. Maar die bosvarke se spore en mis het om die klip gelê.
“Nou maar goed.” Sy pa het skielik opgestaan. “As Saul dan begin bas kry, is hy seker hard genoeg om ’n man se byl te swaai?”
Saul het hom lam geskrik; hy het ineens geweet waarheen sy pa mik en ’n onbeheerbare koppigheid het in hom opgestoot. “Ek gaan nie aan daardie boom kap nie, Pa.”
Sy pa se oë was botstil in syne. “Gee vir hom ’n byl, Anneries!”
“Pa …”
“My byl, Anneries!”
Oom Anneries het die byle ’n laaste trek met die platvyl gegee en nader gekom. Jozef was by hom.
“Ek sal kap, Pa,” het Jozef aangebied. “Oom Anneries het gister self gesê ek kap goed.”
Sy pa se oë was nog altyd botstil in syne.
“Saul sal kap! Hy sal valkant kap en oom Anneries agter.”
“Pa het gesê ek en Jozef moet vanmiddag aan die oprolhoute begin kap,” het Saul probeer wegskram. Hy het ’n lelike ding begin …
“Julle kan gaat oprolhoute kap nadat jy gevoel het hoe ’n man se byl deur die lug swaai! Kom!” Sy pa was witkwaad.
“Ek kap nie aan daardie boom nie, Pa.” Wat in hom ingevaar het, kon hy nie verstaan nie; hy het net een ding geweet: hy sou sy hand nie lig om aan daardie kalander te kap nie.
Sy pa het in sy spore omgetol en die stuk assegaai langs die vuur gegryp. “Praat my vandag nog een keer teë!”
“Pa …”
“Solank jy in my span staan, sal jy kap waar ék sê jy moet kap!”
“Ek kap nie aan die kalander nie, Pa.”
Toe die stuk assegaai hom skuins oor die blaaie tref, keer hy met sy hande en gooi sy lyf eenkant toe, maar die tweede hou brand oor sy rug en die volgende een