Malene Breytenbach

Eiland van drome


Скачать книгу

“Wel, dit kom seker so voor. Ek hoop julle sal die omgewing inspirerend vind. Nou kan julle ontspan. Ek gaan na my huis aan die ander kant van die eiland. Indien julle my dringend soek, vra die ontvangspersoneel om my te skakel. Ek verwag egter dat dit slegs in uiterste noodgevalle sal gebeur. Dankie, dames en here, geniet julle verblyf op Manos. Ek vertrou dat ons lekker sal saamwerk.”

      Irene verbeel haar sy blik talm op haar.

      Sy besef sy frons. Vinnig glimlag sy. “Baie dankie, ek is seker ons sal goed saamwerk,” sê sy.

      Toe hy terugglimlag, voel sy skoon week.

       5

      Daar is ’n klop aan Irene se deur. Toe sy oopmaak, staan Roelof Schutte daar.

      “Ek het by ontvangs gereël dat ons een van hulle poelvoertuie kan gebruik om die eiland te verken,” glimlag hy.

      “O, dit klink lekker. Kan Suzette saamkom? Ek het belowe dat ek en sy dit saam sal doen.”

      “Nou goed. Sal ons sommer nou gaan?”

      “Ja, voordat die son ondergaan.”

      Hy het in ’n bussie gekom en sy klim langs hom in. Hulle gaan tel Suzette op wat ’n entjie van die dokters af by die ander verpleegsters woon.

      “My plek is nie heeltemal so snazzy soos joune nie, dokter,” sê sy vir Irene. “Maar ek kan nie kla nie. Dis veel beter as waaraan ek gewoond is.”

      Irene draai om en kyk kastig streng na haar. “Kyk, ek dink regtig jy moet my liewer Irene noem. Ons ken mekaar mos darem al ’n geruime tyd.”

      Suzette grinnik. “Oukei, maar in die kliniek sal ek professioneel wees.”

      Roelof ry op ’n pad wat om die eiland gaan, tussen bosse deur en verby ’n strandjie waar die see kalm en helderblou teen die wit sand klots.

      “Hoe idillies,” sê Irene. Dit sal lekker wees om hier te kom swem, dink sy.

      “Ons moet sommer binnekort kom swem,” sê Roelof, asof hy haar gedagtes lees. “Dis jammer ons het nie nou tyd nie. Netnou is dit donker en ek wil darem die hele eiland sien. Ek wil veral sien waar ons grootbaas woon. Dalk bly hy in ’n paleis, soos dié op Corfu. Dalk is dit nog vol mooi meisies wat sit en wag dat hy huis toe kom.”

      Suzette lag. “Soos mens in die flieks sien. Almal lê om die swembad in einaklein bikini’s en deurtrekkers, of bostukloos, en bruin van kop tot tone.”

      “Ek glo nie dis hoe hy lewe nie,” mymer Irene.

      Hulle ry verby die hawe, wat nou redelik stil is, en aan met ’n pad wat na die oorkant van die eiland loop. Dit kom onontwikkel en wild voor. Voor hulle verskyn ’n heining en ’n oop hek, maar op ’n bord staan in Engels en Griekse letters: Privaat. Oortreders sal vervolg word. Daar is ’n onbemande waghokkie.

      “Dis natuurlik dokter Barton se plek dié,” sê Roelof. “Dink julle ons durf ingaan, want van hier af sien ek niks van die huis nie. Die bome is te groot.”

      “Snaaks,” merk Suzette op. “Ek sou dink ons baas is so veilig­heidsbewus dat hy agter slot en grendel wil bly. Daar was dan tot twee kragmanne saam op die vliegtuig. Waar is die wagte met gewere, of minstens uniforms?”

      “Ek dink darem regtig nie hy voel so bedreig dat dit nodig is om gewapende wagte hier te hê nie,” lag Irene. “Dis so afgesonder en met net die personeel op die eiland. Die pasiënte het nog nie eens aangekom nie.”

      “Ry net ’n entjie in tot ons die huis kan sien, toe,” smeek Suzette. “Dan kan ons mos omdraai. Niemand sal weet ons het oortree nie.”

      Irene is teensinnig. “Ek dink nie ons moet nie. Netnou sien iemand ons.”

      Die ander twee dring egter so sterk aan dat sy toegee en hulle ry tot hulle ’n pragtige tuin teëkom. Die groot wit huis met meer as een verdieping is in ’n ander boustyl as die kliniek.

      “So ’n kasteel vir net een mens,” sê Suzette. “Maar ons weet mos dié lot is ryk.”

      “Dit ís groot, maar hy moet seker gaste en familie ook akkommodeer,” reken Irene. “Jy het my mos vertel hy het ’n groot familie. As hulle kom kuier, sal hulle nie in die kliniek gaan bly nie.”

      Roelof ry al te naby aan die huis en Irene keer hom. “Nee, nou moet jy omdraai.” Sy hoor iemand roep, en kreun. “Ag, nee, dis nou te laat! Ek wás bang hulle sien ons.”

      ’n Seun wat sy in sy laat tienerjare skat, kom armswaaiend aangedraf. “Wat soek julle hier? Kom julle my haal?” skree hy ontsteld.

      Irene kan sien dat hy aantreklik is – blond, goed gebou, met ’n mooi gesig en wydgesperde blou oë.

      “Hallo, nee, ons kom nie vir jou haal nie … ” begin Roelof deur sy oop venster verduidelik.

      “Nou wat kom maak julle dan hier?”

      ’n Groot, fris man kom aangedraf. Irene herken die sogenaamde skim wat saam met hulle gevlieg het: Yannis. Sy is verleë dat hulle betrap is en klim uit die motor.

      “Hallo, Yannis, ons is jammer as ons oortree het, maar ons verken net bietjie … Toe ry ons te ver in.”

      Die seun storm om die motor en bekyk haar, vuiste op die heupe. “Wie’s jy?” Toe laat sak hy sy arms. “Jy’s mooi, maar dalk is jy … ”

      Yannis neem sy arm stewig vas. “Kom, meneer Gary, die mense het net verdwaal. Hulle kom nie regtig na ons toe nie. Kom ons gaan huis toe.”

      Die seun lyk onwillig maar gaan tog saam met die lyfwag. Hy kyk heeltyd terug oor sy skouer terwyl hulle wegstap. Irene wil net terugklim in die motor toe sy iemand anders sien aankom. Sy kreun kliphard. Dié slag is dit Nicholas Barton wat met lang treë oor ’n graspek en tussen hoë struike deur aangestap kom.

      Sy spring terug in die motor. “Ry tog, voordat hy by ons kom,” sis sy.

      “Te laat, hy waai vir ons,” sê Roelof, wat ook verleë lyk.

      “O jinne! Nou’s ons in die moeilikheid,” prewel Suzette, wat grootoog na die naderende figuur kyk.

      Irene klim weer uit toe hy by die motor kom en voel tot haar ontsteltenis dat haar gesig vuurrooi is.

      “Dokter Barton, ons is so jammer … ” begin sy weer verduidelik.

      “Het julle nie die kennisgewing by die hek gesien nie?” vra hy, sy gesig streng.

      Sy wens sy kan in die aarde wegsink. “Ons het, maar ver­skoon ons tog, ons was so nuuskierig om jou huis te sien. Ons was nie van plan om nader te gaan nie. Die hek was oop en daar is geen wag nie.”

      “O, ek sal hom moet … ” Hy bly stil.

      “Ek was op die punt om om te draai, dokter,” sê Roelof wat ook uit die motor geklim het.

      Nicholas lyk effens vriendeliker. “As julle die huis wil sien, nooi ek julle op ’n ander dag, maar vandag is dit ongeleë.”

      Roelof is vriendelik onderdanig. “Natuurlik, ons ry dadelik. Baie jammer oor die oortreding, dokter Barton.”

      Hy en Irene klim terug in die motor. Nicholas Barton staan hulle en dophou, terwyl hulle omdraai en weer by die hek uitry. Irene was lanklaas so verleë, en so vies dat sy in dié ongemaklike posisie is.

      Haar wange bly vuurwarm.

      “In die vervolg gaan ons, of ek altans, nooit weer waar ek onwelkom is nie,” sê sy kwaai. “Wat moet dokter Barton van ons dink? Ons drie Suid-Afrikaners het waaragtig die vermetelheid om na sy huis te gaan, die verbod te ignoreer en sommer in te ry. En dit op ons eerste dag! Dit lyk so asof ons onbedagsaam is, en nie gewoond aan reëls nie.”

      Suzette se stemmetjie is klein. “Ek het groot geskrik. Hy was darem nie lelik met ons nie, maar hy was kwaad oor die wag nie daar was nie. Maar … dink julle nie daardie seun is vreemd