weg onder Sylvia se hande. Sy begin hom vertel van haar liefde vir die dwerg wat die kostuumwinkel bestuur. Hulle het ’n affair aan die gang, maar hulle baklei baie en is nou weer uitmekaar. Maar vandag verlang sy na hom. Hy het die oulikste vet armpies en sy kan hom maklik tot op die bed tel (dit word sonder die vaagste satire gesê). Hy is veral gek na haar in ’n Halloween-masker.
Alhoewel die skrywer nie daarna vra nie, bied sy verder die inligting aan dat wat die res betref, hy ’n man is soos enige man. Selfs meer so. Sy knipoog, en Maria kom binne met koffie. Hulle lag en terwyl hy so teruglê, dink hy: Hoeveel meer het die biljoenêr om te verloor wanneer hy sterf as hierdie eenvoudige man of vrou. Die ou magnaat wat jaloers is op diegene wat gaan agterbly.
Sy vader het op sy manier ook agtergebly, al moes hy weer saam met die stoet vertrek – heel voor die rooi-en-geel Jeep met die ballonne aan sy kantspieëltjies en buffers gebind. Dis deur die sirkus-eienaar bestuur, en net voor ’n dorp het hy stilgehou en dan moes een van die narre, gewoonlik Tiekie, langs hom kom sit.
Die intog in die dorp, gelei deur ’n verkeerskonstabel op ’n motorfiets, was altyd ’n affêre. Al die artieste moes aangetrek wees en posisie inneem deur te hang aan die relings of te staan bo-op die voertuie wat gevolg het. Die John Deere-trekker wat die wa getrek het waarop die twee suwwe ou leeus in hokke was, sweefstokartieste met wye glimlagge daarom gedrapeer. Die kameelperde se koppies het ver bo die optog uitgesteek; hulle was nuuskierig en daar moes uitgekyk word vir lae brûe, waarvan daar nie veel in die Karoo was nie, of ’n slap kraglyn wat te laag oor die straat druip.
Sy vader het hul gesin verseker dat sy hart by hulle was en daar op Nooitgedacht agtergebly het. Hy het gewoonlik verlof gekry om hom in sy karavaan terug te trek tydens die intog in ’n nuwe dorp. Eers die aand met die vertoning sou hy, met ’n vuurbestande vals baard in plek, die petroleumsproei in sy mond neem en uitspuug om ’n vlamboog te vorm wat die skares verstom het.
Wanneer hulle op Nooitgedacht berigte van hom gekry het soos die sirkus oor die platteland geskuif het, was dit nuus van uitverkoopte tente, ’n ou leeu wat olik was en deur ’n plaaslike veearts na die beste van sy vermoë behandel is, drie nuwe apies wat afgerig moes word om op maat van konsertinamusiek te dans, ’n tuimelaar wat geval en sy skouer gebreek het. Net soms het hy vertel van sy verlange na die klowe en landerye van Nooitgedacht.
Reënbuie het gekom en gegaan. Eenkeer was daar in die pos ’n glansfoto van sy vader wat, met op die agtergrond ’n bewonderende skare, ’n vlam voor hom uitblaas wat alle vuurvreters uit die voorgeslagte beskaamd sou gelaat het.
Wat het hy en sy moeder geweet van só ’n troep se lewe in tente en karavane? Wanneer jy die sirkus sien, is dit ’n onwaarskynlike gesig: die orkes raas, die ligte flits, die vlamboë spu. Die perde is vol blinkertjies en die leeus grom, die narre tuimel en die dansmeisies wip hul boude. Die hokke is leeg, in skemerte verlaat die diere die arena, agter ’n gordyn huppel die narre weg.
As seuntjie het hy vermoed dat die onsigbare kant van die sirkus ’n wêreld was van suur kos, tralies, suwwe artieste en argumente; van whisky en depressiewe, ingehokte diere; van sigarette en gesmeerde grimering. Van bedompige karavaantjies wat in die hitte van die Karoo oonde was, bedompig aan die broei, met trae kalenderdae wat teen die karavaanmuur afgemerk word: sy vader, die elfde geslag op Nooitgedacht, op toer.
Dis iets wat die skrywer onthou het tydens sy buitelandse toere: die alewige hotelkamers, die paneelbesprekings, die voorlesings onder ligte, die koerantonderhoude. Die vry aande waarin hy alleen en verlig in ’n wildvreemde stad kon uitstap, waarin hy in die dae voordat die onderhoude gepubliseer is ’n gesig was soos enige ander gesig op straat: ’n man alleen by ’n restauranttafeltjie, ’n skaduwee op ’n brug wat oor ’n groot rivier boog, iemand wat in ’n galery tob voor ’n skildery.
Hy het gedroom van agterbly in daardie karavaanlewe, van ’n nuwe identiteit, ’n aangeplakte baard, die skemer gordyn agter die tent waarin jy kon verdwyn en nooit weer terugkom nie.
’n Man wat nie woorde voortbring nie, maar ’n sproeivlam, ’n fakkel voor die mond. ’n Toertjie, eintlik nie eens gevaarlik nie, blote oëverblindery.
Giuseppe haas hom in ’n trog lug binne, triomfantlik soos hy altyd is nadat hy in die skadu van grootsheid geloop het.
“Doktor is baie siek,” verklaar hy en vryf sy hande. “Baie terneergedruk. Wil nie meer lewe nie. Maar hy’s beter nou, ek het vir hom ’n paar olywe en ’n blaartjie basil gevat.”
Hy vryf weer sy hande en kom skud die skrywer se hand. “Ek is so jammer, Professore, maar ’n koning is op pad en die Doktor . . .”
“Alles reg, Giuseppe,” antwoord hy. “Die vroumense kyk baie goed na my. Sylvia was selfs besig om my van die dwerg in haar bed te vertel.”
Dis algemene praktyk: wanneer Giuseppe die salon verlaat, verander die twee vroue in kokette. Hulle werk met groter teerheid met die skrywer se kopvel, doen navraag oor watertemperatuur en velsensitiwiteit, pronk voor die spieëls, doen hul oë en lippe, bespreek met mekaar moontlike haarstyle en hoe dit hul voorkoms sal verander. Hy word genooi om sy mening te gee en voorstelle te maak wat betref kleur, lengte en styl. Erotika broei daar tussen die stoomdampe en die klam geure, die brommende haardroërs en die geplas van water.
Hy het afgelei dat dit hul klein ontsnapping is. Soms vertel hy hulle van sy reise as skrywer, van fotosessies, televisie-onderhoude. Dan en wan hoor hulle sy stem oor die radio, of hulle sien hom in ’n tydskrif – hoewel hy en die twee vroue helaas nie dieselfde mediavorme verbruik nie. Hulle is versot op praatradio, daardie onophoudelike stroom verontwaardighede en onderdrukte woede en jaloesie. Of People Magazine, met sy parade sepiesterre en porn queens.
Maria sien in hom die skrywer van gelukkige eindes. Sylvia, vermoed hy, huiwer op die rand van desperaatheid. Enige man wat uitgestrek voor haar lê, sal haar blikke oor sy lyf ervaar en die honger wat in haar groei soos haar hande hom al deegliker inseep. Dis die wet van die natuur wat broei in warm water en skuim, stilte en sensualiteit. Wie weet watter donker begeertes deur Sylvia spoel terwyl hy daar in die skemerwêreld tussen wakker wees en wegdommel lê tot sy hom ’n ligte stampie gee en triomfantlik vir hom knipoog asof hulle saam ’n heerlike orgasme bereik het.
Maar wanneer Giuseppe binnekom, verander die atmosfeer. Soel winde word ’n trek, wat in kombinasie met ’n nat kop tot verkoue kan lei; stoom is ’n praktiese probleem wat opgelos word deur ’n venster oop te gooi; en tere massering word ’n verpligting eerder as bederf.
Giuseppe bring die skrywer en die twee vroue abrup terug uit hul spel van subtiliteite en infantiele erotika. Dis nie dat hy, met sy romantisering van tenore en wandelinge op die Seepuntse promenade en sy liefde vir goeie motors en wyn, hierdie dinge nie verstaan nie. Dis net dat hy hier op sy terrein ’n klein Napoleon is wat absolute lojaliteit van sy Josephines eis.
Nou is hy terug van die Doktor, en die skrywer word leepoog en nat en deur die slaap na sy stoel gelei. Giuseppe is opgewerk; hy gooi vensters oop en skuif meubels terwyl Sylvia ’n handdoek oor die skrywer se hare hou en Maria die vloer met ’n besem takel. Die skrywer gaan sit en word genoop om hulle tot fokus te roep – sulke tye moet Giuseppe versigtig gelei word om sy oog op die bal te hou.
“Net ’n trim, Giuseppe. Onthou, net ’n trim.”
Giuseppe begin afgetrokke kliek.
“So, hoe gaan dit met die Doktor?” vra die skrywer.
“Haai, siestog,” antwoord Giuseppe, “hy is nou ’n ou man, en hy is hartseer oor die lewe.”
“Hy het ’n lang en vrugbare lewe gehad.”
“En Professore, hy is stinkryk. As hy maar net voordat hy sterwe vir ons ’n bietjie geld kan gee.”
“Net ’n ou snapsie,” voeg Maria by. In die spieël, bo die besem, blink haar oë.
Sylvia verskyn vanaf die wasbakke in die spieël voor hom; sy stap die raam binne asof sy ’n karakter in ’n toneelstuk is. Daar is nou emosie in Sylvia, haar hande is rooi nadat sy die skrywer se kop so deeglik ingeseep het.
“Dis