daar kom, is dit ’n totaal verbeelde wêreld, ’n karnaval van die onwaarskynlike. Binne die tent gloei en dawer dit, met skitterende trompette wat toeter en blink perde wat op hul agterpote staan voor die swaaislurpe van olifante. Van buite bekyk, is dit ’n bruinvaal tent daar op die vlakte, jy sien net ligstrepies soos dit op die grond hurk, en rondom dit die vaalte van die Karoonag en die tentwande wat bult en verslap, bult en verslap soos die skare daar binne hul asem verbaas intrek vir die waaghals op die tou se agteroorsalto, en hul asem verlig uitblaas wanneer hy weer op sy voete tereg kom.
Dis waaraan sy pa in die moeilike jare vasgehou het, aan daardie twee menere wat daardie dag met sy oupa kom stry het, want sy oupa het gesê: “Daai perd sal nooit op sy agterpote klim vir ’n klontjie suiker nie. Hy’s te trots. Kyk die boog van sy nek.”
“Enige perd kan op sy agterpote klim,” het die hanswors in die bruin langbroek en wit hemp gesê.
“Jy sal hom nie kan inbreek nie. Ek het sy reun geken, en sy merrie. Hulle was trotse diere.” Sy oupa het na die berghang beduie. “Daar grootgeword, oor die kruin. Aan die agterkant, die skaduweekant. Jy moet gaan kyk hoe wild lyk die wêreld daar.”
Die man met die lipstiffie in sy mondhoek het sy kop geskud. “Nie inbreek nie!” het hy gekeer. “Ons breek nie ons diere in nie, ons oortuig hulle. Ons gaan die perd homself laat geniet. As hy die applous eers een maal gehoor het, is hy oortuig; dan wil hy elke aand op sy agterpote dans. Só is die perde wat aanskou wil word, nes party mense. En hier staan nou ene wat bekyk wil word. Kyk net daardie kop.”
Die skrywer se pa het die storie aangehoor, en hy het geweet sy pa weet die twee mans lieg oor die perd se geaardheid. Dit was sommer sirkuspraatjies, die soort ding wat jy in die dorpskoerant lees ’n week voordat die sirkus opdaag. Maar mens kon nie nee sê vir die kontantgeld nie; kontantgeld sien jy nie dikwels as jy boer nie.
Daardie aand het die skrywer se pa vir sy oupa gevra wat dit in ’n dier is wat breek. Die oupa het lank na hom gekyk. Hy was ’n streng man, ’n man geskool in die ou tradisies.
“Sy hart,” het hy oplaas gesê, en opgestaan om vroeg te gaan slaap.
Die skrywer onthou sy pa se woorde aan hom: “Dis hoekom die hanswors met sy huiloë en sy grappies die belangrikste man in die sirkus is – belangriker selfs as die seremoniemeester met sy pluiskeil. Die sirkus is die fees van gebroke harte; dis waar die treuriges gaan lag. Die mense wat kaartjies koop, weet dit meestal nie.
“Net hier en daar, in die voorste rye, kan jy mense sien sit wat dit weet. Jy sien dit in hulle oë. Jy sien hoe desperaat hulle wag.
“Waarop hulle wag, weet jy nie. En hulle ook nie.”
Die skrywer dink dikwels aan hoe sy pa die volgende dag, nadat die koop beklink was, die wilde, trippelende vosperd die kraal moes uitlei en help om hom op die sirkuslorrie te kry. Die dier mog nie beseer word nie; sy vel moes tot elke prys ongeskonde bly. Hy moet goed lyk onder die ligte, het die sirkusbaas gesê, mense hou nie daarvan om na diere met letsels te kyk nie. Hulle dink daar’s mishandeling, hulle dink daar is lyding. Hulle kom sirkus toe om te bewonder, om te sien wat jy nie normaalweg te siene kry nie: die wonderbaarlike.
Die vosperd, daar en dan deur die sirkusmenere The Count of Monte Cristo gedoop, het egter geweier om met die loopplank op te stap na die bak van die vragmotor. Die lipstiffieman het met suikerklontjies probeer verlei, maar die perd het sy lippe van sy tande teruggetrek asof hy wou byt, asof die suiker se soet suur was. Die skrywer se oupa het kom help, hand op die perd se boud gesit om hom te kalmeer, maar ure het verbygegaan. Dan sit die vos een hoef op die loopplank, dan trek hy dit weer terug.
“Hy koggel ons,” het die skrywer se oupa gesê. “Sien julle nou – hy wil nie weg van Nooitgedacht nie. Sy bloed hol in hierdie klowe rond.” Hy’t dit oorweeg om die kontantgeld terug te gee.
“Ag, nonsens,” het die hanswors geantwoord. “Hy’s sommer net skrikkerig vir die avonture wat voorlê. Ek ken dit ook – vlinders in die maag. Ek kry dit nou nog voor elke vertoning. Dis ’n goeie teken; dit wys hy gaan sy beste uithaal elke keer wanneer hy in die arena is. Sy senuwees gaan hom jaag.”
“As jy dink dis stage fright, maak jy ’n donnerse groot fout,” het die skrywer se oupa gesê. “Dis gewone hardegatgeit; ons kry dit in hierdie geweste saam met die fonteinwater in.”
The Count of Monte Cristo het laatmiddag nog geweier en die koop het byna deur die mat geval – totdat die skrywer se pa voorgestel het dat hulle die ou bruin man wat dierestories vertel, moet laat roep.
Almal het gaan slaap, en die sirkusmenere het die volgende oggend weer gekom, met nog ’n papiersak vol suikerklontjies. Die ou man van Toorberg het by The Count of Monte Cristo gaan staan en hom oor ’n saggiese uur heen die laaibak in gepraat.
Die seuntjie het die bruinpapiersak vol suikerklonte gekry. Die man met die lipstif het hom onder die ken gevat en sy kop gelig. “Wanneer jy groot is, moet jy in die sirkus kom werk,” het hy gesê. “Jou kop is te woelig om hier in die klowe te boer.”
Die seuntjie het weggehardloop asof hy sy pa kwaad aangedoen het, asof hy die vosperd verraai het. Sy pa het die woorde gehoor, op sy hakke omgeswaai en weggestap. Met sy hart wild aan die klop, so het die skrywer se pa vertel, het hy in die skuur gaan sit en die suikerklonte gesuig, een ná die ander, totdat hy later naar was van die soet. Hy het skoon gal gekry, maar hy het lewenslank sy fassinasie met die groot tent behou. In so ’n mate dat hy self daarin beland het, jare later toe die watertafel gesak en sake verloop het soos hul gewoonte is: heeltemal anders as beplan.
“Die lewe is tog ’n storie, nie waar nie?” het die skrywer se pa aan hom gesê nadat hy die hele verhaal vertel het. “ ’n Soort vertoning. ’n Sirkus.”
Die spieëls staar na mekaar, die handdoeke is pap en wit en nie altyd van die skoonste nie, die geluide uit die dorp klink ver weg, en hier sit hulle, soos op soveel middae, net die drie van hulle. Giuseppe laat die skrywer toe om te bly so lank as wat hy wil; so lank as wat nodig is om sy gemoed stil te maak en die ankertoue los te kry vir die vlug.
Veral Woensdag- en Donderdagmiddae is baie stil hier in die salon, en as hy so teen drie-uur opdaag, kan hy uitklok vir ’n uur of twee, ongehinderd – die prys bly dieselfde. Giuseppe geniet die teenwoordigheid van nog ’n asem in die salon; Maria sal dalk ’n paar dinge in die dorp gaan afhandel, terugkom, hier iets optel en daar iets versit, en weer uitglip om laer af in die arkade te gaan staan en skinder.
Sylvia, verveeld tot op die sadistiese droom na, is beslis dat dit beter is om ’n kop in die hande te hê as niks. Sy haat, het sy al gesê, die waggery. Sy’t per abuis laat glip dat dit is soos ’n “prossie wat op ’n straathoek staan en wag”.
So het die skrywer sy mees produktiewe ure deurgebring in die salon in daardie afgeremde arkade. Geen groot invalle tref hom ooit in sy kantoor op die bo-kampus nie; geen sprinkaanswerm idees neem daar van hom besit soos wat hier, in die salon, soms oor sy gemoed skuif nie. Op geen vergadering beleef hy ’n epifanie nie; universiteite is besig om wêreldwyd die dom weg in te slaan en gaan mettertyd worsfabrieke word, dit is sy opinie.
Hy wens hy kon anders wees. Hy verwens homself as hy sy kollegas opgewonde sien haas na die een of ander vergadering. Dalk hoort hy nie op ’n kampus nie. Dalk is ’n plek soos hierdie sy natuurlike tuiste – hier, waar hy na homself in ’n spieël kan sit en staar.
Hier is dit nie nodig om ’n vorm in te vul of vir ’n navorsingstoekenning aansoek te doen nie; geen kontakuur-logboek hoef gehou te word nie. Hier is sy laboratorium. A, die wetenskap van die lewe, so onkwantifiseerbaar, so morsig, so verrassend banaal! Hier kan hy postuleer en voortvaar die ongekaarte waters in. Hier is hy midde-in sy eintlike vakgebied: die lewe.
So is hy aan die mymer in die loop van daardie uur wat die kraaie sekerlik sou laat gaap, soos hulle altyd in die Sondagsriviervallei gesê het, toe Maria haar besem opeens terugpluk, Sylvia se nekwerwels kraak soos sy vorentoe leun om te loer en Giuseppe op sy voete spring. Die verskyning is plotseling, en lei tot ’n fladdering in die salon. ’n Teesakkie val van die skrywer se linkerooglid in sy skoot.
Hy