sy kortaf op die onbeleefde vraag.
“Ila … ’n Afkorting waarvan?” Hy staar haar deurdringend aan.
“Van … van Elizabeth,” stamel Ila opnuut ontsenu.
Toe die man nie dadelik praat nie, kyk Ila vlugtig na hom. Sy aandag is egter nie by haar nie. Dis by haar tas. Op die deksel van die duur, egte leertas staan daar in goue lettertjies: Elizabeth M. Verster. Dis of die jong man effens ontspan.
Ila maak haar handsak oop, haal ’n brief uit en wys dit stilswyend vir hom, sodat hy die naam en adres op die koevert kan lees. In duidelike getikte letters staan daar: Mej Elizabeth Verster, Seringrylaan 6, De Wildt-tuine, Johannesburg.
“Ek het toevallig my dagboek ook byderhand.” Ila haal ’n klein, rooi boekie ook uit haar handsak en wys vir die jong man die naam wat voorin geskryf staan.
“Johannesburg … woon jy in Johannesburg, Ila?”
“Ek is in Johannesburg gebore en het daar grootgeword – ’n stadsjapie in murg en been. Om die waarheid te sê, ek was nog nooit tevore op Nelspruit nie.”
“Wat het jy dan hier kom maak?” vra Martin Niehaus skerp, asof Ila hom die geleentheid gegee het om haar op ’n ongerymdheid te betrap.
Ila het nie lus om vir hierdie onaangename jong man die hele hartseerstorie te vertel nie.
“Werk kom soek,” antwoord sy kortaf.
“Werk? Op Nelspruit?”
Hy klink skepties en Ila verduidelik onwillig: “Ek was moeg vir die stadslewe en toe ek die geleentheid gekry het, wou ek ’n verandering maak. Van kleins af was dit my ideaal om die wêreld te sien. Daarom het ek gehoop om by Panorama-toere ’n betrekking as toerleidster te kry.” Sy swyg ’n oomblik en voeg dan koel by: “Hulle hoofkwartier is op Nelspruit – nie in Johannesburg nie. Hulle onderneem hoofsaaklik toere na die Nasionale Krugerwildtuin en die Blyderivier-canyon.”
Martin Niehaus knik. Hy weet blykbaar van Panorama-toere. Hy hou Ila stip dop en vra dan onverwags: “Wanneer is jy gebore?”
Die vraag was vinnig gestel. Ila weet die bedoeling is om haar dalk te betrap. Hy wil sien of sy aarsel terwyl sy heel duidelik gou ’n fiktiewe geboortedatum uitdink of dalk op die verkeerde voet betrap word en verbouereerd genoeg is om die geboortedatum te verstrek wat hy blykbaar graag sou wou hoor.
Ila het genoeg van hierdie ongeskikte jong man verduur.
“Ek is een-en-twintig jaar oud,” sê sy kil. “Ek het ’n geboortesertifikaat om dit te staaf, as jy dit wil sien.”
“Daniela sou nou drie-en-twintig gewees het … Ek is jammer, meisie. Maar … maar ek kon sweer jy is Daniela. Selfs nou nog … Jy lyk wel ’n bietjie ouer en jou hare is kort geknip, maar sý sou ook na vyf jaar ouer gelyk het, en dis nie te sê dat sy nog steeds lang hare het wat oor haar skouers hang nie. En die donkerbril het my agterdogtig gemaak … Dit spyt my, astertjie. Regtigwaar, ek vra om verskoning oor die misverstand en agterdog.” Hy glimlag effens. “Ek het jou seker groot laat skrik. Storm uit die bloute op jou af, maak rusie en sê jy moet op die trein klim en teruggaan na die plek waarvandaan jy gekom het … Wat het jy van my gedink?”
“Ek moet erken – nie veel nie,” sê Ila reguit. “En ek het die indruk gekry dat jý ook nie veel van hierdie Daniela-meisie hou nie.”
“Inteendeel. Ek was verlief op haar.”
“Jy het ’n snaakse manier gehad om dit te wys,” sê Ila droogweg.
“Daar was ’n …” Martin aarsel. “By gebrek aan ’n beter benaming sal ek sê daar was ’n misverstand tussen ons twee.”
“Ek sien. Wel, noudat óns misverstand uit die weg geruim is, sal jy my verskoon, meneer Niehaus? Ek is haastig.”
“Ek dink ek skuld jou ’n koppie koffie – net om weer eens te sê hoe jammer ek is.”
Ila is honger en dors en baie lus vir koffie. Maar nie saam met Martin Niehaus nie. Miskien sou sy saam met daardie ander gawe jong man – die een wat so vriendelik aangebied het om haar tas te dra – gaan koffie drink het, maar hy het haar nie genooi nie. En op hierdie veelbewoë oggend is sy in elk geval meer lus vir haar eie geselskap.
“Dankie, maar ek wil liewer reguit hotel toe gaan.”
“By watter hotel is jy van plan om tuis te gaan?”
“Ek het nog nie besluit nie.”
“Regtig nie?” Martin se stem is tergend. “Of wil jy maar net nie vir my sê nie? Jy hoef nie vir my bang te wees nie. Toe, kom drink saam koffie. Ons twee het baie dinge om oor te gesels.”
“Ek glo nie. Dankie, maar ek wil by my hotel kom om te bad en uit te pak.”
“Nee, die risiko is te groot.”
Ila frons. “Watter risiko?”
“Dat jy nou gaan wegstap en dat ek jou miskien nooit weer sal kan opspoor nie.” Martin laat vaar sy tergende houding en hy klink peinsend. “Glo jy aan die noodlot, Elizabeth Verster?”
“Ek weet nie.”
“Ek glo vas daaraan. Ek glo dis die geluksgodin wat jou juis vanoggend van die trein laat afklim het, toevallig júis op die dag wat die besoekende rugbyspan vertrek het en ons almal op die stasie was om Suidoos-Transvaal se klinkende oorwinning in te vryf. Anders was ek op die plaas, salig onbewus daarvan dat Daniela ’n dubbelganger het. Ons kan nie uitmekaar gaan – jy na ’n hotel en ek terug plaas toe – sonder dat ons uitgevind het wat die noodlot se doel met hierdie ontmoeting was nie. Ek … ek het dit nog nie in my gedagtes mooi uitgewerk nie, maar daar is iets wat ek met jou wil bespreek, iets wat ek jou wil vra, of … e … ’n voorstel wat ek aan jou wil doen.”
“Kyk, meneer Niehaus,” sê Ila redelik, “ek begryp dat dit vir jou seker interessant was om onverwags die ewebeeld van jou stiefsuster raak te loop, veral aangesien jy haar lanklaas gesien het en blykbaar verlief op haar was. Maar vir my het hierdie ontmoeting geen spesiale betekenis nie, want jy is vir my ’n algehele vreemdeling, en ek glo nie ek hou van die gedagte dat daar iewers ’n ander meisie rondloop wat net soos ek lyk nie. Ek is reeds van gister af op die trein, ons kompartement was stampvol en ek kon verlede nag nie slaap nie. Ek voel moeg en verkreukeld en ek wil hotel toe gaan.”
“Dit was onbedagsaam van my,” maak Martin dadelik verskoning. “As jy my sal sê na watter hotel toe jy wil gaan, sal ek jou neem en dan in vrede laat om te bad en te rus en al die dinge te doen wat vroumense gewoonlik wil doen na hulle ’n nag op ’n trein deurgebring het.”
“Dankie, maar ek verkies om jou nie moeite aan te doen nie.”
Martin kyk ondersoekend na Ila, dan wil hy aarselend weet: “Jy is nie … bang vir my nie, is jy? Of het jy die indruk gekry dat my houding netnou dalk effens … e … dreigend was?”
Ila skuld haar kop.
“Of dat ek Daniela onwelkom sou laat voel het as dit regtig sý was wat na vyf jaar besluit het om terug te kom plaas toe?”
Die moegheid en die afgelope twee weke se spanning haal Ila skielik in. Sy het ’n kloppende hoofpyn en meteens is alles vir haar te veel – die vreemde ontmoeting met Martin Niehaus, die lang, uitputtende nag in ’n beknopte kompartement saam met drie woelige kleuters en ’n huilende baba, haar eie hartseer, die onsekerheid oor die toekoms, sommer alles …
“Ek … ek weet nie … wát ek gedink het nie. Ek het nie opgelet nie. Ek is so moeg dat ek nie my oë kan oophou nie. Asseblief, laat my alleen.”
Martin let nou eers op hoe bleek die hartvormige gesiggie is en dat daar donker skaduwees onder die mooi, groen oë lê. Op hierdie oomblik lyk sy nie meer soos die ewebeeld van Daniela nie. Daniela was altyd vrolik en vol grappe, uitbundig en vol lewe. Hy kan nie onthou dat hy Daniela ooit sien huil het nie – nie eers daardie laaste aand op Rietendal nie en nie eers toe sy Daniel Niehaus