jas aan in die hospitaal se ontvangslokaal staan.
“Is jy seker ek kan jou nie gou hotel toe neem nie, juffrou?” vra ’n besorgde dokter Retief. “My motor is naby. Dit sal net ’n paar minute duur.”
“Doodseker, dokter Retief,” antwoord Ila. “Ek het u alreeds te veel moeite en ergernis aangedoen. Die hotel is in elk geval net om die hoek van die hospitaal.”
“Moenie vergeet om daardie pilletjies elke drie uur te neem nie.”
“Ek sal nie vergeet nie, dokter Retief.”
“En as jy dalk weer duiselig voel of hoofpyn kry, skakel my onmiddellik.”
Johan Retief is daarvan bewus dat hy nog op die trap bly staan lank nadat die skraal geboude figuurtjie met die tas reeds verdwyn het. Hy is ook daarvan bewus dat suster Badenhorst hom nuuskierig aanstaar. Hy draai kortom, klap die voordeur agter hom toe en stap met lang treë in die gang af.
Vroumense! dink hy ergerlik. Net as ’n man dink jy het jou lewe netjies georden en jy het nie tyd om in hulle belang te stel nie, gooi die noodlot ’n snip van ’n vroumens in jou pad – letterlik reg voor jou voete in … en dan kan jy skielik met die beste ter wêreld nie op jou ander pasiënte konsentreer nie. Dan dwing jou voete kort-kort om ’n draai by privaatsaal drie te gaan maak en staan jy soos ’n verliefde standerdses-skoolseun op die trap om ’n blonde meisietjie agterna te staar en te wens sy het hierdie keer jou aanbod aanvaar om haar met haar tas te help en haar na ’n hotel toe te neem. Wat is dit met hom? wonder hy. En wat is dit wat maak dat hy Elizabeth Verster nie kan vergeet nie? Agt-en-twintig jaar lank was sy hart ongeskonde en was sy werk belangriker as vroumense. Nou is hy egter nie meer so seker dat daar nie ’n krakie in die muur gekom het nie. Kan dit werklik wees dat hy met die eerste oogopslag halsoorkop verlief op die blondine geraak het? Hy het geglo hy is immuun teen die vroulike geslag …
Die ontvangsklerk by die Hotel Alexander lyk verlig om Ila se naam in die register te sien.
“ ’n Meneer Niehaus was gisteraand twee keer hier en het vandag al ’n paar keer geskakel op soek na u, juffrou Verster,” stel hy Ila in kennis. “Dis glo uiters dringend. Hy het gevra ek moet u ’n boodskap gee as u by hierdie hotel ’n kamer bespreek.”
Ila neem die nota saam met haar sleutel, maar wag totdat sy in die privaatheid van haar kamer is voordat sy dit oopvou.
Dis van meneer Martin Niehaus – nie van die ryk ou oom Daniel Niehaus wat volgens verpleegster Nel so ’n moeilike oubaas is nie – en die boodskap klink dringend.
Skakel my dringend – Rietendal – 682, lees sy.
Martin Niehaus het natuurlik nie geweet by watter hotel sy tuisgaan nie, dink Ila. Hy het blykbaar baie moeite gedoen om haar op te spoor en seker by meer as een hotel op Nelspruit dieselfde dringende boodskap gelaat. Hoekom? Hy weet mos nou sy is nie sy stiefsuster nie. Waarom soek hy so naarstiglik na haar? Of glo hy nog steeds dat sy Daniela is?
Ila frommel die velletjie papier op en gooi dit in die snippermandjie. Teen haar slape kan sy die begin van ’n kloppende hoofpyn voel. Sy wonder of daardie wit pilletjies van die besorgde dokter Retief daarvoor sal help. Sy glo nie. Maar sy drink nietemin twee van hulle, bad, pak uit en trek ander klere aan. Dan gaan sit sy by die telefoon. Sy het ’n oproep om te maak, maar dis beslis nie na Rietendal 682 nie.
“Kan u my asseblief na die kantoor van Panorama-toere deurskakel?” versoek sy die telefoniste by die Hotel Alexander se skakelbord. “Ek is vreemd op Nelspruit en ken ongelukkig nie die nommer nie.”
Martin Niehaus voel ergerlik en ook ietwat bekommerd toe hy omtrent die twintigste keer dié dag die gehoorbuis oplig. Die Bosbok-motel is vol bespreek, maar daar is nie ’n mejuffrou Verster onder die gaste nie. Dit is ook die geval met die Toristo en die Montrosevalle. Die Drum Rock en die Bushman Rock-hotel sal hom terugskakel, hoewel hy nie dink dat Elizabeth so ver uit die dorp sal tuisgaan nie. Dieselfde geld vir die Pafuri Inn en Shonalanga. Moet hy dan maar weer die Alexander en die Paragon probeer? Sy moet tog iewers wees …
Martin tref dit gelukkig met sy eerste probeerslag.
“Mejuffrou Verster het ’n rukkie gelede opgedaag,” stel die ontvangklerk by die Alexander hom in kennis. Vir Martin is dit die soetste woorde wat hy nog ooit gehoor het.
“Hoe lank is ’n rukkie gelede?”
“Omtrent twee ure gelede, meneer Niehaus.”
Deksels, dink Martin. Die vroumens is moedswillig. Het sy nie gesien hy vra dat sy hom onmiddellik skakel nie?
Eers wil hy vra om na kamer tien deurgeskakel te word, dan besluit hy anders. Hy gooi die gehoorbuis neer, gryp sy motorsleutels en hardloop met die trap op na die boonste verdieping.
Daar is nie antwoord toe hy aan sy stiefvader se slaapkamerdeur klop nie. Martin maak die deur op ’n skrefie oop. Hy is verlig om te sien die ou man slaap. Hy is haastig, en hy is nie lus vir ’n gekerm en ’n getorring en ’n spul vrae oor hoekom hy al weer dorp toe moet gaan nie. As hy wakker word, kan die ou man maar dink hy is weg lemoenboorde toe of by die beeste se diptenks. Hoe minder die oukêrel van sy sake weet, hoe beter. Laat hy maar rustig slaap …
Ila ruk soos sy skrik toe haar telefoon skielik lui. Dis blykbaar die ontvangsklerk se etensuur, want dis ’n vreemde damestem wat haar meedeel dat daar ’n manspersoon in die hotel se voorportaal vir haar wag.
Ila se eerste gedagte is dat dit dokter Retief is wat kom verneem het hoe dit met haar gaan. Nie spesiaal die moeite gedoen om haar op te soek nie, maar dalk het hy ’n ander pasiënt in die hotel gehad en uit pligsbesef gou by haar ook ’n draai kom maak.
Sy spring van die bed af en soek naarstiglik ’n ander rok om aan te trek. Van haastigheid is haar vingers dom. Sy sukkel met die ritssluiter, en sy kan haar kam en lipstiffie nêrens kry nie. Sy kan ook nie haar geswelde voet in ’n skoen indwing nie … Dit voel asof die skoen twee nommers te klein is, en die persblou kneusplekke aan haar been lyk vreeslik lelik. Moet sy liewer ’n langbroek en sandale aantrek? En waar is haar lipstiffie en reukwater tog?
Toe Ila uiteindelik met die gang afsukkel, voel dit asof die telefoon ’n ewigheid gelede gelui het. Uit eie ondervinding weet sy dat dokter Johan Retief nie ’n baie geduldige man is nie. Hy is dalk al moeg gewag en het besluit om te ry.
Daar wag wel ’n jong man in die foyer van die Alexander, maar dis nie Johan Retief nie. Sy is vies vir haarself omdat sy so teleurgesteld is. Liewe land, die man het haar omgery en later met haar rusie gemaak. Hoekom wil sy hom weer sien? Net sodat hy haar verder kan beledig en haar weer ’n stiksiende dwaas kan noem?
“Middag, meneer Niehaus,” groet sy koel.
Hierdie een is ’n ander Martin Niehaus as die een wat op die stasie was, geklee in ’n verbleikte blou denimbroek, sy hare windverwaai en deurmekaar. Vandag het hy ’n donker pak klere aan. Die aggressiewe en agterdogtige houding is weg en hy glimlag sjarmant vir Ila.
“Groen . . “ sê hy goedkeurend terwyl hy haar van kop tot tone betrag. “Jy moet altyd liggroen dra. Dit pas by jou oë. Jy lyk soos ’n prentjie, my skat – soos ’n droom wat bewaarheid is.”
“Noem jy altyd ’n vreemde meisie ‘skat’ pas na jy haar ontmoet het?”
Martin grinnik, glad nie van stryk gebring deur die kille ontvangs nie. “Jy is nie ’n vreemde meisie nie. Dit voel of ek jou al jare lank ken. Ek het jou donkerbril gebring.”
“Is dit wat so uiters dringend was? Ek het ’n ander een, en ek sou hierdie bril nie eers gemis het nie.”
“Nee, daar is ’n ander rede. Ek wil vir jou middagete koop.”
“Al die boodskappe en telefoonoproepe net om vir my middagete te koop?” vra Ila fronsend. Nee, hy het ’n ander doel daarmee gehad. Hy is heel duidelik besig om die krane van sy sjarme vol oop te draai. Sy moenie naïef genoeg wees om haar deur sy komplimente en mooi praatjies te laat mislei en alles te glo wat hy sê nie.
“Jy sal nie goed veerpyltjies