het: “’n Intelligensiediens wat uitmuntend is, Janina, dít is wat die Visepresident wil hê. ’n Intelligensiediens wat nuut begin, sonder ’n verlede. Aanstaande jaar is hy President en hy weet hy het nie Madiba se charisma nie. Hy weet dit gaan harde werk verg teen elke vorm van teenkanting en ondermyning wat jy nasionaal en internasionaal maar kan kry. Ek het carte blanche en ek het ’n begroting, Janina. En ek glo ek het die argitek vanmiddag hier voor my. Jy het die profiel, die breinkrag, jy het geen bagasie nie, jy het die lojaliteit, jy het die deursettingsvermoë. Maar die vraag is: Sien jy kans?”
O, sy het kans gesien, meer as wat hy besef het. Want dit was elf maande nadat haar man ’n jeuk vir jonggoed ontwikkel het en vir haar kom sê het “die huwelik werk nie meer vir my nie”, asof dit háár skuld is, asof dit sy en die kinders is wat hom nie vervulling gee nie. Terwyl die enigste vervulling ter sprake die ruimte tussen Cindy se bene was.
Cindy. Die vuilvoet-kwasikunstenaar wat haar lappies by ’n Groentemarkplein-stalletjie aan Duitse toeriste verkwansel het en haar groot bruin oë vir getroude mans gefladder het tot sy een in die strik van haar ferm, bralose borste gevang het. En toe trek die tweetjies Pelgrimsrus toe om “’n ateljee vir haar te gaan oopmaak”.
Dus sien ek kans, meneer die direkteur. Ek smag daarna. Want ek het ’n woede in my wat gevoed word deur die verwerping, o ja, laat daar nie twyfel wees nie. Wat gevoed word deur ambisie ook, moenie ’n fout maak nie, ek is die enkelkind van arm Afrikaners wat tot elke prys wil uitstyg bo my ouers se siellose, sinnelose bestaan. Wat gevoed word deur die frustrasie van ’n dekade in die Struggle en al wat ek daarvoor kan wys, ondanks my talente, is ’n adjunkdirekteursposisie. Ek kan soveel meer doen, ek ken die landskap van my psige, ek weet waar die afgronde lê en ek weet waar die pieke staan, ek is onbevange bewus. Ek kan vlieg; maak dit saak uit watter rigtings die winde onder my vlerke vandaan kom?
Sy het dit nie gesê nie. Sy het daardie middagete koel en kalm geluister en gepraat, en net met stille selfvertroue gesê: “Ja, ek sien kans”, en die volgende week begin werk aan hul visie: ’n Eerstewêreldse Intelligensiediens in ’n land wat homself aan die veters van Derdewêreldstewels probeer optrek, ’n nuwe, onafhanklike eenheid met ’n skoon lei.
En steeds sien sy kans. Maak nie saak wat die prys is wat betaal moet word nie.
Haar telefoon lui met die enkellui van ’n interne oproep. “Mentz.”
“Kom loer gou in, Janina, asseblief,” sê die direkteur.
* * * * *
Hy kry ’n minibustaxi Bellville toe – die eerste geleentheid wat hom voordoen. Sy drang is om afstand tussen hom en die lughawe te kry ongeag die rigting. Die implikasies dring mettertyd tot hom deur: Hy kan nie teruggaan na Monica Kleintjes nie, want hulle hou haar sekerlik dop. Hy kan haar nie bel nie. Hy kan nie nou terug huis toe nie. Hy kan nie terug lughawe toe nie – teen hierdie tyd is daar swerms van hulle. En as hulle enigsins wakker is, hou hulle al die stasie dop, dus is bus en trein Johannesburg toe ook buite die kwessie.
Wat hom met die groot vraag laat: Hoe kom hy in Lusaka?
Hy sit in die donker tussen medepassasiers, huishulpe en sekuriteitswagte en fabriekswerkers op pad huis toe wat die styging in die broodprys en sokkeruitslae en landspolitiek bespreek en hy wil een van hulle wees. Hy wil die hardeskyf op Monica se skoot gaan neersit en sê: “Daar is een ding wat jy nie in berekening gebring het nie,” en dan wil hy na Miriam en Pakamile toe en môre wil hy werk toe op sy Honda Benly en tydens sy middagete wil hy met St. Georges opstap na Immanuel die skoenskoonmaker en ’n potjie skaak speel tussen sy Zoeloe-vriend se selfoonpratende, rykdomnajagende kliënte deur, terwyl hulle in Xhosa goediglik met die wittes spot.
Maar nou het hy twee Z88-pistole en ’n plat hardeskyf in ’n blou sportsak wat tussen hom en sy lewe staan.
“En wat doen jy vir ’n lewe?” vra die vrou langs hom.
Hy sug. “Ek is op die oomblik reisend,” sê hy.
Hoe kom hy in Lusaka?
* * * * *
’n Mens sal nie sê hy kom al sesuur soggens kantoor toe nie – hier is dit al byna halfnege in die aand en die direkteur, iewers in sy vroeë vyftigerjare, lyk vars, uitgerus, waaksaam.
“Ek het ’n interessante oproep gehad, Janina. Onse Tiger het vanmiddag op Tempe ’n valskermsoldaat aangerand.”
“Aangerand?”
“Tot in die hospitaal geslaan, en die bevelvoerder het hoër op gebel. Hy wil geregtigheid hê.”
“Ek is seker daar was rede vir die baklei, meneer.”
“Ek ook, Janina. Ek wil jou net op die hoogte hou.”
“Ek waardeer dit, meneer.”
“Vra hom uit wanneer jy hom sien.”
“Ek sal.”
“Is dit al, meneer?”
“Dit is al, Janina. Ek weet jy is besig.” Hy glimlag vaderlik, besorg. Sy talm ’n oomblik voor sy omdraai. Sy wil hê hy moet iets sê oor die gebeure in die Opskamer, hy moet dit aanroer sodat sy hom kan verseker dat sy alles onder beheer het. Maar hy sit net daar met sy glimlag.
Sy klim die trappe, maar gaan staan halfpad.
Ek weet jy is besig.
Hy meet haar. Hy weeg haar, toets haar. Sy weet dit.
Sy lag sag. As hy maar geweet het. Sy haal diep asem, klim die laaste trappe afgemete, soos die numering van ’n strategiese plan.
Radebe begin rapporteer sodra sy in die Opskamer instap, sy stem sag-apologeties. Hy verduidelik die nuwe ontplooiing van spanne – ses van die bestes by die lughawe, ses by Kaapstadstasie, in twee spanne van drie elk ingedeel om treine en die busterminus dop te hou. Sy drie spanlede langs hom is besig om elke motorhuurmaatskappy in die stad te skakel met instruksies om te laat weet sodra iemand met Mpayipheli se beskrywing ’n kar probeer bekom. Hulle sal ook elke kontrakteerbare privaat lugdiens kontak. Nog drie spanne van twee elk sit in motors en wag vir instruksies hier onder in Waalstraat. Nog geen aktiwiteit by Monica Kleintjes of Miriam Nzululwazi nie.
Sy knik. Quinn bevestig meeluistering van die Nzululwazi-telefoon. Daar was nog geen oproepe nie.
Rajkumar, immer fyngevoelig, se liggaamshouding is een van gekrenkte eer wanneer hy verslag doen: “Daar is geen rekord van Tobela Mpayipheli in die Umkhonto weSizwe-rekords nie. Mpayipheli se geregistreerde huisadres in Mitchells Plain – die eiendom behoort aan ’n Orlando Arendse. Dit is skynbaar dieselfde Arendse vir wie Monica vroeër vanmiddag geskakel het op soek na Mpayipheli. Maar Arendse se geregistreerde huisadres is in Milnertonrif.” Die swaar lyf skuif subtiel, die selfvertroue keer terug. “Die interessante ding is Arendse se kriminele rekord – twee keer tronkstraf uitgedien vir handel in gesteelde goedere, 1975 en 1982 tot 1984, een keer aangekla en onskuldig bevind op handel in ongelisensieerde vuurwapens in 1989, twee keer in hegtenis geneem oor handel in dwelms, in 1992 en 1995, maar die sake is nooit hof toe nie. En een ding is seker: Orlando Arendse is georganiseerde misdaad. Dwelms. Groot. Prostitusie. Dobbelary. Gesteelde goedere. Die gewone beskermingsgeld-afpersing van sakeondernemings. En as ek die tekens reg lees, is die Skerpioene op die oomblik besig om baie geesdriftig na hom te kyk. En daardie Mitchells Plain-adres kan ’n dwelmhuis wees, lyk dit my.” Dan sit Rahjev Rajkumar met genoegdoening terug in sy stoel.
“Goeie werk,” sê sy. Sy loop langs die muur van die vertrek, op en af, haar arms gevou. Op en af.
Georganiseerde misdaad? Sy reik na moontlikhede, maar dit wil nie sin maak nie.
“Georganiseerde misdaad?” sê sy hardop. “Ek sien dit nie pas nie.”
“Geld sorg vir eienaardige bedmaats,” sê Rajkumar. “En as dit dwelms is, is dit geld. Groot geld.”
“Mpayipheli kan ’n handelaar wees,” sê Quinn.
“Hy’s ’n motorfietsmeganikus,” sê Radebe. “En dit wil nie sin maak nie.”
Mentz