vrolik saamgetrippel.
Kyk ook hoe die plantegroei verander. Aan die seekant is dit nog proteawêreld, maar oorkant die kruin word dit karoobos.
En dan: Die mooiste uitsig van die hele dag is wanneer jy aan die Calitzdorp-kant afdaal. Dit is nie net die breë groen baan van die Gamkariviervallei wat jou asem gaan laat wegslaan nie, maar ook die uitsig op die berge daaragter – die Klein-Swartberge ver links, waar jy die Seweweekspoort se skeure op ’n helder dag kan sien. En die Groot-Swartberge daar doer agter Calitzdorp. Selfs Oudtshoorn is sigbaar in die dynserigheid.
Onder in die pas ry jy oor Rietvlei se werf en dan raak die pad plat en mak totdat jy links hou by Rose Villa vir die laaste paar kilo’s Calitzdorp toe. Hier is gewoonlik letterlik duisende volstruise in die een vetmaakkamp ná die ander. Hulle hardloop soos klokslag saam met die motorfietse, asof daar die een of ander obskure familieband is.
Die laaste verrassing wat dié roete oplewer, is Calitzdorp se wingerde. Mense wat gewoonlik die R62-teerpad ry, is kwalik bewus van die uitgestrekte, besproeide druiwe wat in oorvloed langs die Gamka gekweek word. Ons was laas met oestyd daar en kon ’n tros of wat van ’n swaargelaaide trekker-en-sleepwa bedel. Dit is suiwer, eetbare sonskyn.
2
Barrydale
146 km
4 uur
Groenfontein
Dit klink na die soort bestemming waaroor die Campbells sal swymel:
Gedaan en moeg
Vir die stad se pyn?
Vat jou bokkie
Vir ’n sokkie
op Groenfontein
Of dalk sal dit selfs meer pret wees om jou bokkie op jou avontuurtoer-fiets te laai en een van die Klein-Karoo se mooiste grondpaaie te gaan verken – dié tussen Calitzdorp en die R328 by die Swartbergpas oor Groenfontein en Kruisrivier.
Die afdraai na links is plotseling in die middel van Calitzdorp se R62-hoofstraat, so ’n blok of twee anderkant die pragtige klipkerk. Nog voordat jy behoorlik uit die dorp is, hou die teer op en begin die plesier.
Die lekker van hierdie roete is veelvuldig. Eerstens is die padoppervlak gewoonlik uitstekend, wat beteken jy kan ’n passasier saamneem en selfs beginners kan dit lag-lag baasraak. Tweedens gaan jy sukkel om ’n reguit stuk van langer as ’n paar honderd meter te kry. Jy’s nog skaars uit die dorp, of die kronkels begin en dit hou nie op voordat jy weer die teer by Matjiesrivier tref nie.
Derdens is daar die argitektuur. Jy ry telkens dig verby en dikwels sommer óór plaaswerwe met van die mooiste Karoo-boustyle wat jy in die Wes-Kaap sal sien. Buitegeboue waarvan die verwaarloosde mure pragtige teksture vorm, opstalle wat onlangs histories getrou opgeknap is – dis alles daar. Die plaasname vertel ook gesamentlik en afsonderlik stories van baie water, voorspoed en dalk ’n gatslag of twee: Groenkloof, Welgevonden, Witfontein, Vinknesrivier, Voorbedacht en, les bes, Gatplaas.
Dan is daar die landskap.
Eers kry jy aan jou linkerkant die Calitzdorp-dam, wat sekere tye van die jaar amper gitswart van die bergwater is. Dan begin jy die koppe sonder naam aan jou regterkant sien, terwyl die pad plek-plek byna tussen hemelhoë riet en palmiet wegraak.
Soms wink die Swartberge daar ver voor en jy kan maar weet: Reg noord van jou, oorkant Boesmansnek, lê Gamkaskloof, minder as 15 km ver soos die kraai vlieg. Ry tog ook stadig genoeg om die aalwyn-prag te kan waardeer. Toe ons in Junie daar was, het die rooi massas ons asem laat wegslaan.
By Kruisrivier, sowat 28 km anderkant Calitzdorp, maak die vallei die eerste keer oop, maar moenie die versneller te veel draai nie, want hier moet jy links draai, Matjiesrivier toe. Die pad swaai en draai nou minder, maar dit is op en af oor die een rug ná die ander, elkeen bring ’n nuwe lus vir die oog. Selfs al is die laaste stuk pad geteer voordat jy by die R328 se T-aansluiting kom, bly die omgewing ’n skouspel.
Die ideale ding om te doen, is om die roete heen en weer te ry – hoofsaaklik omdat die landskap uit die verskillende hoeke so dramaties anders is. Een rigting stal net die helfte van die skouspel uit.
Die enigste ding waarvoor motorfietsryers versigtig moet wees, is die wydte van die pad. Hier en daar is dit net breed genoeg vir een ongeskikte vierwielvoertuig en as ’n mens skielik verkeer van voor af kry, gaan jy dalk in die sop wees. Met die baie blinde draaie en hoogtes is dit ook slim om jou snelheid dop te hou.
Oorweeg gerus om by Marie en Grant Burton se Victoriaanse plaas-gastehuis te gaan oornag. Dit heet The Retreat at Groenfontein en jy kan daar gaan wegkruip in ’n bewaargebied wat aan die Swartberg-natuurreservaat grens. Die etes is uit ’n ander wêreld, maar daar is helaas geen sokkie vir jou bokkie nie.
1
Calitzdorp
Waar jy afdraai van die R62 in Calitzdorp tot by die R328 net suid van die Swartbergpas is dit net meer as 50 km.
Jy kan dit in net meer as ’n uur ry as jy haastig is, maar ruim liewer drie uur in en ry dit heen en weer.
Cloetespas-verrassing
My padkaart verklap nie of dit ’n mooi roete is nie.
Dit lyk plat. Eendimensioneel. Die lyne wat soos aartjies die lewensnoodsaaklike organe van stede en dorpe met mekaar verbind, vloei klaarblyklik sonder raad of rede herwaarts en derwaarts.
Maar as ’n mens die sesde keer in drie weke van Kaapstad na George (of weer terug) per motorfiets moet reis, begin jy desperaat raak vir ’n nuwe ervaring. Selfs roete 62 begin sy bekoring verloor – dis deesdae die ene toerbusse vol Duitse en Nederlandse besoekers. En die besige N2 is ook maar net tot by Hermanus se afdraai skouspelagtig. Daarna droog die skoonheid op, asof Moeder Natuur se stoom anderkant Houwhoek opgeraak het.
Buitendien: As jy ’n avontuurtoer-motorfiets ry, wil jy grond onder die wiele hê – obskure paadjies en geheime spoortjies wat jou laat voel jy’s die eerste wat ’n nuwe vista sien. Dis daarom dat ek die padkaart nader getrek en begin wonder het oor die strepie wat by Lemoenshoek – nagenoeg