het nog nie eens die elektriese ketel aangeskakel nie, toe daar aan die woonstel se voordeur geklop word.
Natuurlik weer iemand wat iets te kope aanbied, dink sy en stap na die voordeur toe om vir die persoon te gaan sê dat sy nie in sy ware belangstel nie. Sy maak die deur oop, en dan word sy skielik doodsbleek.
“Pappa . . .!” roep sy sag, geskok uit.
“Ja, ek, Tina!” sê hy. “Gaan jy my innooi, of moet ek hier op die drumpel staan en praat?”
Sy staan eenkant toe sodat hy kan verbykom, en dan voel sy meteens hoe ’n vreemde kalmte van haar besit neem. Sy is nie meer daardie skoolmeisie wat hy kan hiet en gebied soos hy wil nie. Sy is nou getroud, en hy het geen gesag meer oor haar nie.
Sy volg haar pa na die sitkamer toe en neem langs hom op die rusbank plaas. Sy merk hoe sy blik met afkeer deur die vertrek dwaal, maar sy steur haar nie aan sy snobisme nie. Sy en Renier is die gelukkigste mense wat leef, en dit is tog al wat vir haar van belang is.
“Hoe het Pappa geweet waar ons woon? Het oom At vir Pappa vertel?” vra sy toe hy nie dadelik die doel van sy besoek verduidelik nie. Sy weet immers dat sy besoek nie uit liefde spruit nie.
Maar dan sê hy ewe ongeërg asof hy die weer bespreek: “Jou oom At het twee weke gelede aan ’n aanval van beroerte beswyk. Maar dit was nie hy wat vir my gesê het waar ek my wegloperdogter sal vind nie, ek het my eie metode om dinge vas te stel wat ek wil weet. Ek het geen sinnigheid om ’n lang gesprek met jou te voer nie, Tina. Ek het jou kom haal.”
“My . . . kom haal?” Sy kyk hom geskok en verontwaardig aan.
“Ja,” sê hy. “Jou regmatige plek is aan Thys Joubert se sy, nie saam met hierdie man met wie jy op ’n skelm manier weggeloop het nie.”
“Ek en Renier is wettig getroud,” stel sy haar pa onomwonde in kennis.
“Jy sê wettig!” Hy pen haar met ’n koue blik vas. “Moenie dat ek lag nie. Hoe kan jou huwelik wettig wees as jy, ’n minderjarige, sonder my toestemming in die huwelik getree het? Besef jy dat ek die reg het om hierdie huwelik van jou tot niet te laat verklaar? En dit is nie al nie. Ek kan daardie vent, wat die vermetelheid gehad het om jou van jou ouerhuis af weg te lok, se lewe so ruïneer dat niemand hom ooit weer in diens sal neem nie.”
Haar pa se laaste dreigement laat haar meteens weer doodsbleek word. Sy het nie veel kennis van die reg nie, maar sy weet dat haar pa nie sal skroom om Renier leed aan te doen nie, veral noudat hul kampvegter, die liewe oom At, oorlede is.
Ja, sy weet haar pa is absoluut gevoelloos en heeltemal in staat daartoe om Renier te breek as sy hom vandag dwarsboom. Moet sy aan haar liefde vashou en sodoende toelaat dat haar pa die man wat sy liefhet se lewe ruïneer, of moet sy haar liefde op die altaar lê, haar hart verloën, om haar geliefde se loopbaan en toekoms te verseker?
Tina weet op die oomblik nie wat haar te doen staan nie. As sy na die stem van haar hart luister en by haar geliefde Renier bly, kan hy haar straks later haat vir die ongeluk wat sy oor hom gebring het. Maar as sy vandag uit sy lewe gaan, kan hulle weer trou sodra sy mondig is. Maar sal Renier verstaan, of sal hy haar kwalik neem omdat sy aan haar pa se dreigement toegegee het?
Dit voel vir Tina asof haar hart wil breek, maar sy wend nog ’n poging aan om haar pa van sy bose plan te laat afsien.
“Pappa, hoe kan jy so harteloos wees om my van my man af te wil wegneem? Ek het Renier liewer as enige ander mens op aarde. Ek het hom selfs liewer as my eie lewe –” begin sy. Maar haar pa val haar kil in die rede.
“Onsin,” sê hy, “liefde bestaan net in die mens se verbeelding. Sodra jy weer tuis is, sal jy hom en jou sogenaamde liefde gou vergeet.”
“Ek sal Renier nooit, nooit vergeet nie, ek sal hom altyd liefhê,” sê sy nou driftig en met trane in haar stem. “As Santi met Walter kon trou, sien ek geen rede waarom Pappa nie my en Renier se huwelik ook kan aanvaar nie –”
“Jou suster se huwelik met Walter het nog nooit my goedkeuring weggedra nie. Ek het uitsluitlik toegegee omdat jou ma so aan my getorring het, en kyk wat het Santi nou daarvan. As sy met die man getrou het wat ék vir haar in die oog gehad het . . .”
“Sou sy die ongelukkigste mens gewees het wat leef,” help sy haar pa reg. “Santi en Walter is baie gelukkig, al het hulle nie kinders nie, en ek sê nou vir Pappa, ek sal nooit in my lewe met Thys Joubert trou nie; ek wil hom nie eens sien nie. Tien van sy soort is nie Renier se ou skoene werd nie. Pappa mag dit miskien nou regkry om my en Renier se huwelik te verongeluk, maar sodra ek mondig is, sal ek weer met hom trou.”
“Jy sal met Thys trou, juffroutjie, en met niemand anders nie,” verseker haar pa haar, maar Tina is nou op die oorlogspad.
“Thys sal nooit met ’n vrou trou wat reeds getroud was nie,” sê sy effens uitdagend. “Dus kan Pappa gerus maar van hom vergeet.”
Tina merk die woede in haar pa se oë, maar sy steur haar nie aan sy grimmigheid nie.
“Thys het nie nodig om te weet dat jy drie weke lank getroud was nie, en as jy dit waag om hom in dié verband in te lig, sal jou geliefde Renier spyt wees dat hy ooit met jou getrou het,” verpletter haar pa meteens al haar hoop wat sy gekoester het om later weer met Renier in die huwelik te tree.
Sy kyk hom met ’n mengeling van skok en minagting aan, en op hierdie oomblik weet sy dat sy nooit weer die ou gevoel van kinderlike liefde vir hom sal kan koester nie, want hy is nie meer die pa wat sy as kind geken het nie. Sy gesmag na groter rykdom het van hom ’n monster gemaak wat nie sal skroom om sy eie kind se lewe te vernietig as hy daardeur sy rykdom kan aanvul nie.
Tina verkeer in ’n vreeslike tweestryd. Haar liefde vir Renier is so diep en innig, en tog kan sy nie toelaat dat haar pa alles vernietig waarvoor hy ses jaar lank gestudeer het nie. Sy voel so bitter hartseer en magteloos. Sy weet dat dit niks sal baat om langer by haar pa te pleit nie, want hy is so hard en gevoelloos soos graniet. Daar is ook niemand op wie sy haar kan beroep nie, want haar ma en oom At het nou albei die tydelike met die ewige verwissel.
Tina is so diep in haar eie gedagtes versonke dat sy ruk soos sy skrik toe haar pa bars en ongeduldig vra: “Mag ek weet wanneer jy van plan is om jou klere te gaan inpak, of dink jy ek is hier vir die hele dag?”
Haar gemoed skiet plotseling vol, en snikkend vlug sy na die skaapkamer. Sy val op die bed neer en snik asof haar hart wil breek. ’n Lang ruk lê sy op die bed en huil, en toe haar snikke later bedaar, begin sy haar persoonlike besittings met ’n bitter swaar gemoed inpak.
Dit voel vir haar asof sy nooit hierdie verskriklike dag sal kan oorleef nie. Sy wens sy was liewer dood, want sonder Renier hou die lewe vir haar geen geluk in nie.
Toe al haar persoonlike besittings eindelik ingepak is, besluit sy om gou vir Renier ’n paar woorde te skryf voordat haar pa haar tasse kom haal. Maar toe sy die skryfblok en pen uit die spieëltafel se laai neem, praat haar pa onverwags agter haar.
“As jy vir jou geliefde Renier ’n brief wil skryf,” sê hy kil, “sal jy dit baie kort moet maak, want ek is haastig om te ry.”
Tina voel hoe die wrewel teenoor haar pa hoër in haar oplaai, maar sy kry dit tog reg om haarself te beheer en kortaf te antwoord: “Pa kan solank die tasse neem.”
“So dan is dit nou Pa; nie meer Pappa nie,” sê hy fronsend.
“Heeltemal reg,” sê sy met ’n koue stem wat selfs vir haar vreemd klink. “Die Pappa wat ek altyd liefgehad het, geëer en gerespekteer het, is dood.”
Met die pen en skryfblok in die hand, stap sy na die sitkamer toe voordat haar pa weer ’n woord kan sê.
My dierbare Renier, begin sy haastig skryf, my pa het vanoggend hier opgedaag om my te kom haal. Ek weet jy sal nie verstaan nie, en ek kan ook nie nou verduidelik nie, maar ek sal vanaand vir jou skryf en alles breedvoerig aan jou verduidelik.
Vergewe my asseblief, Renier, maar sodra jy my brief gelees het, sal jy verstaan waarom ek ons liefde en ons huwelik