kantoor af weg te wees nie. Daar is sake wat my aandag dringend vereis. Jy moet maar bel as hier iets onvoorsiens gebeur.”
Hy buk af en soen haar vlugtig. “Tot siens, Tina, mooi bly!”
“Tot siens, Pa, versigtig ry!” Met haar hande diep in haar duur pelsjas se sakke staan sy daar op die stoep totdat die motor uit haar gesigsveld verdwyn. Toe hoor sy Hettie van die voordeur af sê: “Mamma sê tannie moet kom tee drink.”
Tina merk nou eers dat daar ’n gesellige vuur in die sitkamerkaggel brand. Sy trek vir haar ’n stoel naby die kaggelvuur en neem plaas. Hettie maak haar op ’n lae bankie langs Tina tuis, dan kom Rita Jordaan die vertrek met die teegerei binne.
Gerhardus se motor en Tina se jas moet bepaald ’n groot indruk op Hettie gelaat het, want sy streel saggies met haar hand oor Tina se arm en sê kinderlik onskuldig: “Julle is seker baie ryk, nè, tannie?”
’n Weemoedige glimlaggie verskyn om Tina se sagte mond toe sy die kind se koue handjie in hare neem en met ’n tikkie hartseer in haar stem sê: “Dis nie geld wat ’n mens ryk maak nie, Hettie. Rykdom is hier binne-in ’n mens.” Sy wys na haar hart. “As dit binne-in jou hart mooi is en jy het baie liefde vir jou medemens, dan is jy ryk.”
Hettie drink haar tee in stilte, toe tref iets anders haar. Sy kyk Tina ernstig aan en vra dan weer: “Tannie, hoekom sê jy vir jou pappa Pa? Is jy nie lief vir jou pappa nie?”
“’n Mens vra nie sulke persoonlike vrae nie, Hettie,” bestraf haar ma haar goedig. Sy draai na Tina en vervolg verontskuldigend: “Jy moet haar asseblief verskoon, mevrou Dreyer. Sedert my man se afsterwe, lewe ek en Hettie baie na aan mekaar. Ons vreugde en ons probleme deel ons gewoonlik met mekaar, dus is sy daaraan gewoond om openhartig met my te praat.”
“Dan hoop ek dat sy met my ook openhartig sal praat,” stel Tina die ouer vrou dadelik gerus. “Trouens, ek beskou haar vraag van so ewe as gesonde belangstelling. Kinders van haar ouderdom is gewoonlik vol vrae; ek was ook so.”
Sy draai na Hettie en verduidelik gemoedelik: “Ek het my pa ook altyd Pappa genoem, Hettie, en ek was baie lief vir my pappa. Maar drie maande gelede het hy my vreeslik hartseer en ongelukkig gemaak, en van daardie tyd af sê ek vir hom Pa, en nie meer Pappa nie.”
“Voel jy nog hartseer en ongelukkig, tannie?” vra Hettie simpatiek. Dit klink vir haar ondenkbaar dat sulke skatryk mense ongelukkig kan wees. ’n Mens kan mos nie ongelukkig wees as jy alles kan koop wat jou hart begeer nie! As sy maar net daardie mooi kamera kon koop wat in die apteek se venster is . . .
“Ek sal bepaald baie, baie jare nog hartseer en ongelukkig voel, Hettie,” antwoord Tina weemoedig. “Dit is ’n soort seer wat net die tyd kan genees . . .”
Tina stuur die gesprek werktuiglik in ’n ander rigting deur Hettie uit te vra na haar skoolwerk en ander belangstellings. Op hierdie manier vind sy uit dat Hettie ’n goedkoop kamera het en baie belangstel in fotografie. Sy neem graag foto’s van voëls, velddiertjies en mooi natuurtonele.
Uit Rita Jordaan se gesprek lei sy af dat die ouer vrou vir die een of ander winkel naaldwerk doen om haar en Hettie aan die lewe te hou. Die huisie huur sy teen ’n lae prys.
Van haar en Renier se huwelik, die egskeiding en haar pa se aandeel daaraan sê Tina nie ’n woord nie. Sy luister simpatiek na hierdie moedige weduwee se stryd om kop bo water te hou.
Hettie het al nader aan Tina geskuif, en nou leun sy vertroulik teen die ouer meisie aan met haar wang liefkosend teen die sagtheid van die pelsjas.
Tina plaas haar arm om die kind se skouers en druk haar liggies teen haar vas.
“O, maar tannie se jas is so lekker warm en sag, net soos ’n Persiese katjie,” glimlag Hettie ingenome. “Wanneer ek eendag groot is, gaan ek al my geld spaar en vir my ook so ’n jas koop.”
“Wanneer jy eendag groot is en jy sien al die pragtige rokke in die boetieks, sal jy nie eens aan ’n pelsjas dink nie, Hettie,” gesels Tina gemoedelik. “Jy sal net aan die pragtige rokke en skoene dink, en die jas sal glad nie meer vir jou so belangrik wees nie.”
Hulle gesels voor die kaggel totdat dit tyd is vir aandete. Daarna gaan pak Tina haar tasse uit, met Hettie as toeskouer op die voetenent van die bed. Sy pak al haar tasse uit, behalwe die een waarin die baba se klere is. Dié laat sy eenkant teen die muur staan.
Nadat al die tasse uitgepak is, neem Tina haar breiwerk en stel voor dat hulle weer voor die kaggelvuur moet gaan sit. Dit het haar nog altyd ’n heerlike gevoel van rustigheid gegee om voor ’n lekker gesellige kaggel te sit terwyl die wind en reën buite hoogty vier. Hettie sê sy het nog ’n bietjie skoolwerk om te doen en sal haar later by Tina aansluit.
Terwyl Hettie se ma haar by die kombuistafel met haar werk help, sit Tina voor die vuur aan haar baba se baadjie en brei. Sy hoor die geloei van die wind en die reëndruppels wat teen die venster kletter, en dan wonder sy wat Renier nou doen. Woon hy nog in die woonstel, of het hy na haar vertrek in die hotel gaan loseer?
Noudat haar gedagtes weer koers gekry het na Renier toe, vind sy die koesterende warmte van die kaggel glad nie meer rustig en vreedsaam nie. Sy verlang na Renier, al dink hy miskien nie eens meer aan haar nie. Ja, vanaand verlang sy weer ontsettend baie na hom. As sy haar oë sluit, kan sy hom wesenlik voor haar sien soos wat sy hom daardie laaste môre gesien het. Sy wonder of haar kindjie eendag net so groot en aantreklik soos sy pa sal wees . . .
Sy sluit haar oë en voel hoe die trane stadig en warm oor haar wange rol.
Tina voel ’n hand op haar skouer en toe sy haar oë oopmaak, sien sy Rita Jordaan langs haar staan met ’n koppie koffie in haar hand.
Die ouer vrou is bewus van die trane op Tina se wange, daarom vra sy besorg: “Voel jy nie gesond nie, mevrou Dreyer?”
Tina vee die trane van haar wange af, neem die koppie koffie en sê met hartseer in haar stem: “Ek voel heeltemal gesond, dankie, mevrou. Ek verlang maar net na my man. Dit is so stil hier op jul dorpie dat ’n mens elke geluid van die wind, elke reëndruppel kan hoor. Dit . . . dit laat ’n mens so weerloos voel.”
Rita Jordaan trek vir haar ’n stoel nader, neem plaas en sê versigtig: “Jou pa het vir my gesê dat jy van jou man geskei is, mevrou –”
“Ek dink dit sal geselliger wees as jy my sommer net Tina noem, mevrou Jordaan,” help sy die ouer vrou vriendelik reg. “Ons moet nog lank hier saamwoon, en dit sal die lewe ietwat ongemakliker maak as ons mekaar voortdurend formeel aanspreek.”
“Dan moet jy maar vir my tannie Rita sê, Tina,” glimlag die ouer vrou. “Mag ek vra hoe oud jy is?”
“Ek sal volgende maand agttien wees.” Die hartseer trek om haar mond en in haar oë is nou baie opvallend. Dit laat Rita heimlik wonder hoe lank Tina getroud was en waarom hulle geskei het, juis noudat sy haar eersteling verwag. Sy is nog so bitter jonk en het reeds met die skadukant van die lewe kennis gemaak.
“Mag ek jou nog ’n persoonlike vraag vra, Tina?” Rita se stem is sag en vertroulik, vol simpatie en meegevoel.
“Vra maar, tannie Rita.” ’n Sweem van ’n glimlaggie verskyn om haar mond, maar dit kan nie die pyn in haar oë verdryf nie. Haar verlange na Renier brand vanaand weer soos ’n fisieke pyn in haar.
Maar dan hoor sy die ouer vrou ietwat huiwerig vra: “Is jy nog . . . baie lief vir jou gewese man?”
Tina se oë is weer dadelik mistig toe sy sê: “Ek sal hom altyd liefhê, tannie Rita. Ek sal hom nooit in my lewe vergeet nie. Ons sou nou nog gelukkig getroud gewees het as dit nie vir my hooghartige, snobistiese pa was nie.”
Sy vertel Rita van haar huwelik met Renier, van die drie wonderlike weke toe hulle net vir mekaar bestaan het, en daarna haar pa se onverwagte verskyning by die woonstel.
“Jou arme kind, dat die lewe so ’n duur prys van jou geëis het omdat jy ’n Eksteen is. Maar jul kindjie sal darem in ’n mate vir jou verlies vergoed, want ’n kind is immers deel van sy pa ook.