is net agter julle om julle dop te hou. Festus vat die perde deur tot by Otjikango sodat ek en Klaus julle te voet kan volg, dan is daar minder kans dat hulle ons sal hoor.”
“Nee, dit is goed so. Nou weet ek darem julle is in die nabyheid as ek in die moeilikheid raak.”
“By wie? By die vrou? Jy sê dan sy is verlief op jou.”
“Natuurlik is sy! Dit lyk my sy sien nie juis veel mans daar op die plaas nie. Ek sê jou, ek gaan nog probleme hê om van haar ontslae te raak.”
“Jy moet liewer maar net sorg dat sy aan jou kant is totdat ons by die troepe verby is, want as sy iets moet agterkom, is dit verby met jou. Hoe gaan jy in elk geval aan haar verduidelik dat julle nie daar kan gaan hulp vra nie? Veral as sy reken jy wil haar help.”
“Nee, ek het ’n goeie storie wat ek haar kan vertel. Ek werk nog van die begin af na daardie punt toe. Sy dink ek is ’n goeie outjie. Sy sal die storie sluk soos botter, man! Ek het van die begin af daaraan gewerk dat sy my moet glo en vertrou.”
“Nee, dit is goed jy sê my, anders sou ek julle ’n bietjie gewantrou het. Ek het vanaand al gewonder toe jy haar so liefies van die perd afhelp.”
“Dit is beter om slim te wees, dan kom jy baie verder.”
“Ja, ’n mens kan sien jy is ’n slim mannetjie. Ek sê vir Klaus jy sal ’n goeie vennoot uitmaak, jy het ’n kop op jou lyf. Ek het dit van die begin af gesien.”
“Luister, julle sal vir my ’n ander geweer moet gee. Myne is saam met die ander perd oor die krans.”
“Hoe het dit gebeur? Dit was dan die vrou se perd en jou geweer.”
“Dit is ’n lang storie wat ek een aand vir julle om die kampvuur sal vertel wanneer alles eers verby is.”
“Vat dan vir eers myne. Die vrou se geweer is nog daar by Klaus, dan sal ek dit kry.”
“Dankie.”
Katrien besef die gesprek staan einde se kant toe en sy beweeg vinnig terug tot by die klip waar Dewald haar gelos het.
Sy sluk hard aan die trane in haar keel. So ’n vermetele, ongepoetste skurk! Wat staan haar nou te doen? Wat moet sy maak? Hulle gaan nou terugkom en wanneer die gemaskerde man weg is, sal hy wil hê hulle moet aangaan waar hulle netnou geëindig het. Sy het haar selfs netnou verbeel sy is lief vir hom, maar nou weet sy sy haat hom! Sy haat hom omdat hy so lieg en bedrieg en sy haat hom omdat sy vir hom lief was. Sy haat hom omdat sy bereid was om alles prys te gee om hom te vertrou en dit net sodat hy haar oupa kan besteel.
Dewald en die ander man kom agter die rots uit. Die ander man haal sy geweer uit die saalsak en oorhandig dit aan Dewald.
“Die beeste en die wa is ongeveer twee uur te perd hiervandaan. Reg suid.”
“Dankie, ons sal dit kry.”
“En onthou nou, jy is die man vir wie sy gaan kuier het. Julle het pas getrek en sy het jou toe by die ander plaas opgespoor. Dit was die storie wat hulle vir die ou voorman vertel het daar op Bloukrans. Maak maar die pap ’n bietjie dik aan voor die Herero’s, sodat hulle die storie sal sluk. Sê sommer julle is getroud, sodat jy by haar in die wa kan slaap.”
Katrien kan die knop in haar keel nie wegkry nie en is nie in staat om iets te sê nie. Sy moes dit seker geweet het! Sy moes van beter geweet het. ’n Ordentlike mens sal nooit met veediefstal iets te doen hê nie.
Die gemaskerde man klim op sy perd en verdwyn die donker nag in.
Dewald staan eers doodstil totdat die perdepote in die verte wegsterf, dan stap hy nader en hou sy hand na haar toe uit. “Kom, liefie!”
Onmagtig om iets te sê, stap sy gedwee nader om losgemaak te word. Sy wag dat hy haar moet ophelp, maar dan gaan sy arms om haar en druk hy haar baie styf teen hom vas. Sy lippe kom hongerig en eisend op hare neer en wild soen hy haar lippe en haar wange. Hy lig haar gesig met sy hand op toe sy haar kop wil wegdraai en soen weer haar lippe en haar wange om dan haar ooglede een vir een te vertroetel en dan weer luierend met haar wang al langs af te kom en fyn soentjies op haar mondhoek te druk.
Soos ’n slaapwandelaar staan sy in sy arms. Sy voel heeltemal dom en het geen plan in haar kop nie. Sy weet net nie wat om nou te doen nie. Dinge het te skielik gebeur. Moet sy hom wegstamp en hom vertel wat sy van hom dink, of moet sy doodgewoon aangaan en presies vasstel wat sy plan en strategie is?
Ja, ja! Dit is wat sy moet doen! Sy weet immers nou dat daar Beskermingstroepe op Otjimbingwe is. Sy sal haar kans afwag en by hulle probeer uitkom. Sy weet ook nou dat sy nie verder ’n woord moet glo wat Dewald sê nie. Wat sy ook nog weet, is dat hy nie een van hierdie liefkosings bedoel nie.
Sy sluit haar oë en stuur ’n vinnige dankgebedjie op dat sy gaan luister het waaroor hulle praat. Nou is sy ten minste voorbereid op wat gaan kom. Een ding word egter vir haar duidelik uit die warboel van uiteenlopende emosies wat so in haar saamkolk: sy sal moet saamspeel. Hy sal heeltemal gerus moet wees as sy ’n kans wil hê om weg te kom.
Sidderend trek sy haar asem in, slaan haar arms styf om sy lyf en druk haar kop teen sy bors vas.
“Liefie!”
“Hm?”
“Dinge het pragtig uitgewerk.”
“Hoekom sê jy so?”
“Kom klim op die perd, dan vertel ek jou terwyl ons ry.” Hy help haar op die perd en trek haar styf teen hom vas.
Sy wag dat die perd in beweging moet kom, maar Dewald draai eers haar gesig met sy hand na hom toe en soen haar liggies op die mond.
“Hulle wil hê ek moet nou verder saam met jou in die wa trek. Ons gaan ons nou weer by jou beeste aansluit. Ek is so dankbaar dat hulle nie besluit het om een van die ander saam met jou te laat ry nie.”
“Hoekom?” Katrien wurg die woordjie uit.
“Hulle sal jou leed aandoen, Katrientjie.” Hy druk haar styf teen hom vas en soek van agter af haar mond op deur al met haar wang langs soentjies te steel.
Katrien maak haar oë toe om die seer en die verlange, die hartseer en die verskriklike geskoktheid te probeer verwerk. So maklik kon sy in hierdie strik getrap het, so ver-skriklik maklik! Haar ontroue hart sou dit nog opgeslurp het en dorstig gedrink het by die fontein van liefde wat die eerste keer in haar lewe ontspring het.
Sy lippe is warm en hartstogtelik en Katrien moet haar inspan om nie haar kop weg te ruk en wild aan die huil te gaan nie. Met ’n ligte beweging druk sy hom weg. “Vertel eers vir my wat nou alles gaan gebeur.”
“O, my liefding, ek wou jou so graag van die begin af in my vertroue geneem het, maar hierdie gedeelte van die plan en die pad was te gevaarlik. Ek kon dit nie waag nie. Die kleinste dingetjie kan die hele plan nou laat verongeluk.”
Katrien leun agtertoe totdat sy styf teen sy bors sit, sodat sy elke woord kan hoor wat hy sê.
“Nou kan ek egter vir jou sê dat ek jou sal help om jou beeste terug te kry.”
“Wat sê jy?” Katrien hou haar vreeslik verbaas, maar haar hart is kliphard gestaal teen die tranetrekker wat nou gaan kom.
“Jy sien, my liefie, ek is nie regtig deel van hierdie bende nie. My pa boer hier. Ons is vroeër vanaand oor ons plaas. Ek het hier grootgeword. Die afgelope tien jaar was ek egter nog nie weer hier nie. Ek was ’n groot deel van my hoërskoolloopbaan weg, en daarna nog sewe jaar. My ouers het net so af en toe vir my kom kuier.”
“O.” Katrien onderdruk die woede en die lus om om te draai en hom ’n taai klap te gee. Hoe kan hy hier sit en so blatant vir haar lieg?
“Op ’n dag is my pa se beeste gesteel: die eerste keer twintig, daarna veertig en verlede jaar so ’n groot trop soos joune.”
“Wat is jou regte naam dan?”
“My naam is Dewald, maar ek het ’n ander